Wednesday, 22 January 2014

DRIE TOETSE VIR WARE CHRISTENSKAP EN GEMEENTELEWE

"Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie." Filippense 3:3


Hier gee Paulus vir ons 'n wonderlike maatstaf om ware Christenskap en ook dan ware gemeentelewe mee te meet. Ons het so nodig vandag om tekste soos hierdie ernstig op te neem en die nodige aanpassings te maak. Dien ons God werklik in totale afhanklikheid van die Heilige Gees met die varsheid van Sy lewe of dien ons Hom grotendeels met meganiese roetine en slaafse toewyding aan ons menslike tradisies en historiese sentimente? Roem ons in Christus alleen of vind ons nog ons waarde en sekuriteit in ons assosiasie met groot name, belangrike mense, uitstaande akademiese kwalifikasies, wonderlike reputasies, en sekulêre gewildheid? Het ons werklik al ons vertroue oorgeplaas op die algenoegsame wysheid, krag en lewe van Christus in ons of steun ons nog op ons eie intellek, gawes, talente, sterk persoonlikheid, welsprekendheid, en  leierseienskappe? Hoe lyk ons lewens in hierdie lig? Hoe lyk ons gemeentes?

Sunday, 19 January 2014

VEEL VRUG IS JOU VOORLAND IN JESUS!

Die krag van die evangelie in die hart van ‘n ware dissipel van Jesus bring sy eie vrug voort.  Dissipels van Jesus is mense wat hulle rug gekeer het op hulle eie vermoëns om vrug te dra.  Jesus is ons krag, ons bron en ons vermoë.  Ons hoef nie angstig rond te kyk of onsself met ander te vergelyk nie.  Ons verantwoordelikheid is maar net om die grond van ons hart te kultiveer en seker te maak dat die kosbare evangelie van Jesus Christus plek het om te groei.  Die nuwe lewe in ons vind altyd sy eie weg en breek deur menslike beperkinge wanneer daar kinderlike geloof in ‘n dissipel se hart is.  Maak maar net seker dat daai innerlike akker skoon is.  Die goeie saad sal wel vrug dra op sy tyd.

“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.  5  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Jn. 15:4-5

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;  2  maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.  3  En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ps. 1:1-3

Tuesday, 14 January 2014

DIE GROOT GENEESHEER VAN VERBRYSELDE HARTE

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees.” Lukas 4:18

Hier in Lukas 4 maak Jesus, die Koning van die konings en die Prins van vrede, die wonderlike uitspraak dat Hy spesifiek gestuur is om mense met verbryselde harte te genees.  Die sondeval het die mens gedompel in die verwoestende siklus van sonde en dood.  Daar is soveel tragedie en hartseer in hierdie lewe.  Soveel stukkende lewens wat langs die pad lê.  Baie mense bevind hulleself in ‘n doodloopstraat en sien geen uitkoms na enige kant nie.  Party hou maar net uit en probeer deurdruk tot die einde toe.  Ander leef saam met moedeloosheid en verslaentheid soos ‘n metgesel waaraan mens al gewoond geraak het en wat jou oral vergesel.  Die genesing en hoop van die evangelie word egter gevind in die Één oor wie die evangelie gaan!   Hy is die groot geneesheer van verbryselde harte.  As jy voel jou hart is aan skerwe en daar is nie vir jou genesing nie, want dit voel of jy al alles probeer het en orals gaan aanklop het, raak net bietjie stil en dink mooi na oor wat Jesus sê van Sy eie roeping en koms na hierdie aarde.  Die evangelies is vol van kosbare verhale wat vertel hoe Jesus keer op keer die wat in oorgawe en geloof na Hom kom optel en genees en dan plaas op ‘n nuwe pad, altyd sáám met Hom.  Moenie die enigste Een wat jou werklik kan help as vanselfsprekend aanvaar en net sien as jou Verlosser wat jou sonde vergewe het en jou op die pad na die hemel geplaas het, maar wat jou nie kan help in die hier-en-nou van jou lewe nie.  Hy is ook die geneesheer van verbyselde harte.  Kry albei jou oë op Hom.  Hy is nog dieselfde Jesus wat hopeloosheid en moedeloosheid laat wyk die oomblik wat Hy met Goddelike heerskappy in ‘n situasie instap.  Duisternis kan nie bestaan waar Jesus heers nie!  Maak net seker dat jy heeltemal oorgee aan Hom en luister na Sý oplossings sonder om vir Hom te probeer voorskryf.

Wednesday, 8 January 2014

GELOOF IN GELOOF OF GELOOF IN GOD?

Daar is ‘n massiewe aanslag op Bybelse geloof in ons tyd, en hierdie aanslag kom nie uit die sekulêre wêreld nie maar van binne die kerk.  Bybelse geloof is geloof in God, nie geloof in geloof nie.  Ons geloof kan volgens die Bybel net in werklikheid sterker word namate ons in Christus meer sien van Gód se Vaderskap, karakter, liefde en betroubaarheid.  Derduisende gelowiges vandag het die leuen gesluk dat God van ons verwag om te visualiseer, “positief” te dink en “positief” te bely en dat ons sodoende ‘n realiteit kan skep op hierdie aarde wat God se wil ‘n werklikheid sal maak.  Volgens hierdie valse benadering staan God magteloos en wag dat óns outoriteit moet neem en begin dink en praat wat ons wil sien gebeur in ons lewens.  Sukses, gesondheid, finansies, of wat ek ookal nodig het lê binne my bereik as ek dit maar net lank genoeg visualiseer, bedink, en aanhou bely.  Dít is nie Christenskap nie, maar eerder “Christian Science”.  Skakel maar net die televisie aan op een van die godsdienskanale en jy sal hierdie leuen in een of ander vorm iewers in die meeste van die boodskappe vind.  Die waarheid is dat God die mens geskep het as ‘n afhanklike wese!  Jesus het na hierdie aarde gekom en aan ‘n kruis gesterf om ons terug te bring na ‘n plek van absolute afhanklikheid van God, nie om ons in ons eie droomwêreld te plaas waar óns God begin speel nie.  Jesus is dié Seun van God en Hy het gesê toe Hy op aarde was “die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so” (Jn. 5:19).  Daar is nog talle sulke stellings van afhanklikheid in die evangelie van Johannes waar Jesus, die Leidsman van ons geloof, vir ons demonstreer hoe ons veronderstel is om te leef op hierdie aarde.  Ware dissipels van Jesus groei in afhanklikheid van God, en hulle denke en woorde is in alles onderworpe aan die Vader se wil.  Die Vader soek ‘n gesindheid van afhanklikheid by ons.  Hy wil hê ons moet in verhouding leef met Hom.  Verhouding is die sleutelwoord!  Hierdie verhouding vind ons net in Christus.  Hy het eens en vir altyd vir ons kom wys dat net ‘n lewe van absolute afhanklikheid van die Vader en onderwerping aan Sý wil ‘n werklik geseënde lewe is.  “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mt. 5:3).

Sunday, 5 January 2014

GOD SÉLF IS DIE BELONING

“Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.”  2 Kor. 4:6   (OAV)

“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” 2 Kor. 4:6  (NAV)


Ware dissipels van Jesus het in Sy aangesig die heerlikheid van God ontdek!  Dit beteken, onder andere, dat ons nou weet en verstaan dat daar niks meer heerlik is in hierdie heelal as God self nie.  Dit is so maklik om opgewonde te raak (en ons moet) oor al die lieflike gawes van die evangelie en te vergeet dat God self die groot beloning van die evangelie is.  Die Persoon van God is ons grootste vreugde en om Hom te ken ons grootste doelwit (Fil. 3:8).  In die finale analise het verlossing alles te doen daarmee om ons totaal God-gerig en God-bewus te maak.  Die Vader, die Seun, en die Heilige Gees; God drie-enig, ons beloning, ons vreugde, ons heil.  Hoe bevoorreg is ons nie!  Om Hom te verheerlik en geniet tot in alle ewigheid is ons voorland, roeping (1 Kor. 1:9) en bestemming.  As jy fokus verloor het, draai jou oë opnuut na die aangesig van Jesus en ontdek weer dat God jou groot beloning is.

“Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.”  Gen 15:1 

“After these things the word of the LORD came to Abram in a vision, saying, Do not be afraid, Abram. I am your shield, your exceedingly great reward.”  Gen 15:1  (NKJV)


Lees ook Ps. 16:5, 6, 11; Ps. 27:4; Lukas 10:38-42, en 2 Kor. 3:18.

Thursday, 2 January 2014

GOD SOEK MINNAARS

God soek soms een persoon, net een persoon in ‘n dorp, ‘n gemeente of ‘n familie, wat werklik ‘n minnaar van Hom is.  Een persoon wat wil bid en dien en sing net omdat hy God lief het, net omdat God vir hom of haar meer kosbaar is as alles wat hierdie wêreld kan bied, net omdat God is wie Hy is.  Ons is dikwels so besorg en besig met al ons tydelike probleme en ons besef nie dat God in een oomblik ons omstandighede totaal kan verander nie.  Dit is nie vir God ‘n probleem om in een sekonde ‘n wonderwerk te laat plaasvind in jou omstandighede nie.  Dit vat egter dikwels baie jare om van ‘n Christen ‘n konstante minnaar te maak, want God gaan jou nie dwing om Hom lief te hê nie.  Is dit nie veel beter om liewer van die begin af die één prioriteit van jou lewe te vestig en dan te aanskou hoe God die ander dinge in plek laat val nie (Mt. 6:33)?