Baie praat, baie woorde, baie verduidelikings en slim
stellings is nie noodwendig kommunikasie nie. Slegs die goeie nuus van God se liefde vir ons in
Christus bring ons by 'n plek van sekuriteit waar ons werklik ons ware gevoelens
met mekaar kan begin deel. Eerlikheid
(waarheid) sonder liefde is egter steeds nie kommunikasie nie, maar toon
dikwels ernstige disrespek teenoor ander mense wat na God se beeld geskape is. Liefde sonder waarheid is ook nie kommunikasie
nie, maar eerder 'n droomwêreld van fantasie wat weier om die bestaande
probleme aan te spreek. Christus alleen
kan ons in staat stel om die balans tussen waarheid en liefde reg te kry. Sonder Sy wysheid en krag maak ons altyd 'n
gemors daarvan en dit lei net tot meer pyn en misverstande, of frustrasie en
onopgeloste probleme. A.g.v. die
sondeval is menslike kommunikasie vir die meeste van ons eerder ‘menslike frustrasie’! Plaas die probleem in Christus se hande en
vertrou die Heilige Gees om jou te lei na die plek van wyse en volwasse
kommunikasie.
Thursday, 31 July 2014
Tuesday, 29 July 2014
VERGIFNIS: DIE DEUR TOT VOLKOME GENESING
Genade is 'n kosbare woord vir gebroke mense. Vir mense wat werklik by die einde van
hulleself en al hulle slim planne en projekte vir self-verbetering gekom het. Vir mense wat geleer het dat niks op hierdie
aarde werklik herstel kan word sonder die ontvang van die gawe van vergifnis
uit die hart en hand van 'n barmhartige Vader wat Sy Seun in ons plek gestraf
het nie. Dit is eers in die oomblik van
'n totaal afhanklike geloof in vergifnis op grond van die bloed van Jesus
alleen wat jou voete stewig geplaas word op die pad na volkome genesing vir jou
siel. Nie voor dan nie, en op geen ander
manier nie.
Monday, 21 July 2014
WATTER DAG WAG JÝ VOOR?
“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is,
en julle in My, en Ek in julle.” Joh.
14:20
‘Dié dag’ wat Jesus hier
van praat het reeds aangebreek amper 2 000 jaar gelede met Sy opstanding
en meer spesifiek op die dag van Pinkster (Hand. 2:1-2), maar het hierdie dag
al ten volle in jou bewussyn aangebreek?
Weet jy dat jy weet dat jy in Christus is (1 Kor. 1:30) en dat Hy in jou
is (Gal. 2:20) en dat jou ware lewe daarom saam met Hom verborge is in die
Vader (Kol. 3:3)? Leef jy VANUIT
vereniging met en volheid in Jesus of wag jy steeds vir een of ander dag
vorentoe wat hierdie dinge vir jou ‘n werklikheid gaan maak?
Tuesday, 15 July 2014
TOTALE VERLOSSING: VERGIFNIS ÉN BEVRYDING
Ons hemelse Vader het nie net voorsiening gemaak vir
die skuldlas van ons sondedade nie, maar ook vir bevryding van die mag van
sonde. Soos met elke aspek van ons
verlossing is God se antwoord altyd om vir ons meer van Sy Seun te
openbaar. Ons het in die evangelie alles
ontvang “wat tot die lewe en godsvrug dien” (2 Pet. 1:3). Jesus het as plaasvervanger die straf vir ons
sondes op Hom geneem toe Hy gesterf het aan die kruis. Ons moet egter nie dink dat dit die somtotaal
van die evangelie is en dat die res nou maar net ons verantwoordelikheid is om
uit dankbaarheid te streef om ‘n heilige lewe te lei nie. Allermins!
Die ander kant van die evangelie is dat God Sy Seun in ons geplaas het
met die wedergeboorte en dat Hy nou in en deur ons die enigste lewe leef wat
God kan behaag, naamlik die lewe van Jesus self (Gal. 2:20). Watchman Nee het gesê “The Son of God died instead of us
for our forgiveness: [now] He lives instead of us for our deliverance.”
Tuesday, 8 July 2014
SO NABY SOOS SUURSTOF
"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken..."
Joh. 17:3
Jesus Christus het nie na hierdie aarde gekom om van ons
godsdienstige mense te maak wat net op sekere tye en plekke en slegs deur middel
van ons onderskeie unieke kerktradisies se rites en rituele tot God nader nie.
Jesus het vlees geword, gesterf, en opgestaan om ons in 'n lewende,
oomblik-vir-oomblik, egte, spontane en intieme liefdesverhouding te stel met
ons hemelse Vader. Hy is nie ver van ons nie. Hy is nie iewers toegesluit in 'n
'heilige gebou' nie. Hy is so naby soos die suurstof wat ons inasem en waarvan
ons elke oomblik leef. Hy praat gedurig met ons harte. Al wat Hy vra is dat ons
in geloof die deur oophou vir die werking van Sy Gees in ons binneste.
Tuesday, 1 July 2014
MOET HOM NIE VERVANG NIE!
"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly
in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie..." 1 Joh. 2:27
"En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete,
ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus
vir hulle dienswerk..." Efes. 4:11-12
Elke ware dissipel van Jesus het met wedergeboorte 'n
inwonende Leraar, die Heilige Gees, ontvang. Geen mens op aarde kan, of mag,
die intens persoonlike lering van die Heilige Gees vervang nie. Aan die ander
kant het God tog ook menslike leraars gegee wat saamwerk met die Heilige Gees
om die gemeente van Jesus tot volwassenheid te bring. Daarom moet ons aan die
een kant waak dat ons nie die heerlike, persoonlike bediening van die Gees
vervang deur te swaar te leun op menslike leraars nie, en aan die ander kant
dat ons leerbaar bly en nie die gawes wat God vir Sy gemeente gegee het minag
nie. En leraars/bedienaars moet waak dat hulle nie begin dink dat alles in die
gemeente staan en val by hulle persoonlike salwing en bediening nie. Daardie
plek behoort aan die Heilige Gees alleen!
Subscribe to:
Posts (Atom)