Wednesday, 26 November 2014

DIE VADER SE PLAN WERK DEUR GELOOF

“Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.” Joh. 16:7


Terwyl Jesus op aarde was, moes mense fisies by Hom wees om Sy heerlikheid te sien.  Die skares kon net van ‘n afstand Sy werke, woorde en teenwoordigheid in hulle midde aanskou en waardeer.  Al het Hy tog ook baie mense aangeraak, genees en verlos in die tyd van Sy bediening op aarde was Hy beperk tot een liggaam.  Vandag leef ons egter in die era van die Gees (2 Kor. 3:8) en kan elkeen wat wil onmiddellike toegang kry tot die heerlikheid van Jesus.  Elke dissipel van Jesus het die Gees van Christus in hulle en daarom is daar geen afstand of verwydering tussen ons en Jesus nie.  Dit is egter ‘n waarheid waarvan ons net in geloof voordeel kan trek.  Die Gees is uitgestort, die afstand is oorbrug, die Seun is teenwoordig, die lewe is nou in jou!  Dit is net met die geloofsoog wat die werklikheid daarvan vir jou tasbaar word.  Terwyl jy nog steun op jou eie menslike pogings om jou verhouding met God te verbeter, staan jy in die pad van die openbaring van Christus in jou.  Terwyl jy nog vertroue het in jou eie wilskrag (gewilligheid is iets anders) om lojaliteit aan Jesus te verseker, misken jy die krag van jou eenheid met Christus in die era van die Gees.  Die Vader se plan werk net deur geloof. 

Monday, 24 November 2014

SY GEES ROEP 'ABBA VADER' IN JOU!

"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!" Gal. 4:6

Al die kinders van Adam dwaal Vaderloos rond op 'n gevalle planeet.  Die woorde van God aan Adam eggo deur die eeue 'die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe' (Gen. 2:17).  Om sonder verhouding met die Vader te leef is om verlore en sonder enige hoop te wees.  Dit is om geestelik dood te wees.  Die dag wat jy egter uit jou diepe verlorenheid en Godsverwydering die naam van Jesus aanroep, word jy oombliklik in Hom geplaas en Hy in jou en ontvang jy die ewige Seun se tydlose verhouding met die Vader as jou grootste geskenk.  Hierdie Seun was altyd by die Vader en Hy leef in Sy boesem (Joh. 1:18).  Hierdie Seun leef in onbeperkte intimiteit met die ewige Vader. Hierdie Seun se Gees is met die wedergeboorte in jou hart uitgestuur en Hy roep binne-in jou 'Abba, Vader!'.  Jy is nie meer Vaderloos nie.  Jy hoef nie te leef soos 'n geestelike weeskind nie.

Moenie as dissipel van Jesus probeer om jou eie verhouding met die Vader na te jaag onafhanklik van die Seun nie.  Dit is futiel!  Jou verhouding met die Vader is in en deur die ewige Seun.  Glo dit en verbly jou daarin!  Kyk weg van jouself na Jesus en jy sal die 'Abba Vader' in jou binneste begin hoor.  Eers saggies en vaag, maar dan al hoe duideliker, totdat dit die refrein van jou hele lewe word.

Wednesday, 19 November 2014

AS JY DINK JY WEET, WEET JY NIKS

“As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie.” 1 Kor. 8:2


Hierdie vers sny diep en konfronteer ons met ons inherente begeerte om altyd op hoogte te wees en tog net nooit in ‘n posisie waar ons moet erken ons het nie kennis, of voldoende kennis, oor iets nie.  W.E. Vine parafraseer die teks as volg: “If a man imagines he has fully acquired knowledge, he has not even begun to know how it ought to be gained.”  In hierdie sin kan die gevaarlikste kennis, vreemd genoeg, Bybelkennis wees.  Dit is hoekom Paulus in die vorige vers sê ‘die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.’  Die skrifgeleerdes en Fariseërs het tonne kennis van die Bybel gehad, maar met al hulle kennis het hulle nie raakgesien dat Jesus hulle Messias was nie.  Hoekom nie?  Want God het die ware geestelike kennis en insig oor Sy Seun vir hulle verberg.  Is hierdie waarheid dan van toepassing op mense wat reeds wedergebore is?  Sekerlik!  Die Nuwe Testament is propvol waarskuwings oor die gevare van ‘n kopkennis wat nie deur die Heilige Gees geopenbaar is nie.  Ons teks in 1 Korinthiërs 8 is ‘n goeie voorbeeld.  Pasop vir die afdraaipaadjies van die verstand as hy onafhanklik van die Gees begin funksioneer.  Die Here wil ons vir seker baie dinge leer, maar dit is maklik om ‘n Slimjan te raak met ‘n kop soos ‘n waatlemoen en ‘n hart soos ‘n grondboontjie.  Ons kennis moet ons dieper neem in verhouding met God en laat groei in liefde vir mekaar.  Die beste moontlike kennis is om te weet dat jy niks weet, in terme van die Bybel se definisie van ‘weet’, solank as wat jy dink jy kan alles met jou kop uitredeneer nie.  Dan alleen is jou voete stewig op die pad na die ware kennis van God soos geopenbaar deur die Heilige Gees.  Op hierdie pad is daar baie openbaringe en ‘n vaste sekerheid wat net kom deur die insig wat God gee aan ‘n nederige en leerbare hart.

Monday, 17 November 2014

DIE 'KERKMASJIEN'

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” Openb. 3:1 (OAV)

“…Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” Openb. 3:1 (NAV)


Hy soek sy petrol, sy olie, en sy dienste.  Hoe groter hy word, hoe meer tyd neem hy in beslag.  Hy het nie lewe nie en gee nie lewe nie, maar hy belowe so baie.  Hy is gemaak om in gery te word, maar voor jy jou kom kry is hy in beheer en doen hý die rywerk.  Sy slagoffers tel in die duisende.  Sy wiele het al baie dissipels van Jesus raakgetrap.  Pasop vir die 'kerkmasjien'!  Die gemeente van Jesus is ‘n organisme wat gebruik maak van organisasie.  Wanneer die organisasie mense begin misbruik om homself te bevoordeel en laat groei, het dit ‘n gruwel en ‘n onding geword.

Wednesday, 12 November 2014

FONTEINE WAT NIE BEVREDIG NIE

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11


Dawid het ontdek dat niks op hierdie aarde 'n mens finaal kan versadig nie.  Geen aardse water kan die dieper dors les nie.  Dit is net die water wat Jesus gee wat die dors van die menslike hart totaal kan bevredig (Joh. 4:13-14). Dit is net voor die aangesig van God wat 'n mens se hart werklik kan stilraak en begin rus in volkome tevredenheid en onbeperkte vreugde.  Hoe tragies dat mensekinders by soveel verskillende fonteine drink om finale bevrediging te vind terwyl dit net by God te vinde is.  Hy nooi alle mense uit om verniet te kom drink van die fonteine van heil in Christus.  "En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Openb. 22:17).

Monday, 10 November 2014

OORWINNING SLEGS OP DIE WEG VAN DIE LIEFDE

"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie." 1 Joh. 5:3 (OAV)

"Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." 1 Joh. 5:3 (NAV)


Ons voel soms oorweldig deur die gevallenheid bo ons, rondom ons, en selfs in ons en boonop die ewige gesukkel om dinge en verhoudings te laat werk in die ou wêreld waar alles so maklik uitmekaar val en ten gronde gaan.  Sulke tye kan die pad van 'n dissipel van Jesus vir ons onmoontlik steil voorkom. Jy het net-net die vorige bult gemaak, dan lê daar nog 'n steiler een voor jou.  Om dan te lees dat God se gebooie 'nie swaar is nie' laat 'n mens se mond oophang en jy wonder heimlik of Johannes op dieselfde planeet as ons geleef het. Let wel, hy sê nie 'die lewe is maklik, want God sorteer alles sommerso in 'n japtrap vir ons uit' nie.  Dit sou op sigself verstommend wees.  Hy sê in teendeel elders jy gaan baie téénkanting kry in die wêreld én dan moet jy nog te midde van alles gehoorsaam wees aan alles wat God van jou vra. Sjoe!  Hoe dan?  Johannes praat van die oorwinning op die weg van die liefde.  As mens iemand liefhet is dit 'n vreugde om hulle hartsbegeertes te bevredig, selfs al verg dit baie opofferings.  Deur die wedergeboorte het ons die bonatuurlike liefde van God ín ons. Ons neem egter so maklik sypaadjies wat ook belowe om ons by gehoorsaamheid uit te bring, maar Johannes sê in effek daar is net een pad wat werk. Dit is die pad van die bonatuurlike liefde van God ín my wat lei tot die bonatuurlike liefde vír God gedemonstreer deur my gewillige gehoorsaamheid aan die begeertes van Sy Vaderhart.

Wednesday, 5 November 2014

NET EEN LEWE

 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol. 3:2-3

 “As ons dan saam met Christus gesterf het...” Rom. 6:8


Solank as wat ons die dood en opstanding van Jesus net sien as historiese gebeure wat iets vír ons moontlik gemaak het, mis ons steeds die groter krag van die evangelie.  Dit is inderdaad ‘n wonderlike dag wanneer ek kan bely Jesus het vír my gesterf en opgestaan.  Die dag wat ek egter sien ek het sáám met Hom gesterf en opgestaan is die dag wat ek besef ek het net een lewe voor God.  Dit verander álles!  Ek is in Christus ‘n nuwe mens wat nog leef in ‘n sterflike liggaam op ‘n gevalle planeet waar daar steeds bose magte en kragte opereer.  Ek is nie ‘n vergeefde “ou mens” wat besig is om ‘n “nuwe mens” te word nie.  Ek is nie een dag ‘n “ou mens” en die volgende dag ‘n “nuwe mens” nie.  Selfs al tree ek soms nog so op!  As dit waar is (en dit is) plaas dit my onder verpligting om anders te begin dink.  Ek moet my “ou mens-nuwe mens” gedagtes eens en vir altyd laat vaar en gló dat my hemelse identiteit nou en vir altyd my onveranderlike “in Christus” werklikheid voor God is, en dan begin lééf daaruit.

Monday, 3 November 2014

DIE GROOT TRAGEDIE

"As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is." 2 Kor. 4:3-4 (NAV)


Is die heerlikheid van die evangelie bedoel vir hierdie 'ongelowiges' wat blind is in en deur hulle onkunde?  Ja vir seker!  Anders sou dit nie eers nodig gewees het om hulle te verblind nie, want die evangelie sou t.o.v. hulle eenvoudig irrelevant wees.  Beide godsdienstige ongelowiges (sien 2 Kor. 3) en sekulêre ongelowiges weier om hulle eie 'wysheid' en self-ontwikkelde lewensfilosofie te verloën sodat God die sluier wat oor hulle verstand is, kan lig.  Die Vader het niks anders as heerlikheid in Sy geliefde Seun vir hulle in gedagte nie (1 Tim. 2:3-4), maar hulle verkies die leuen.  Wat 'n enorme tragedie!  Soveel te meer dan die onus op ons om te bid dat mense se oë sal oopgaan om die heerlike afgehandelde werk van Jesus te sien en hulle knie te buig voor Sy heerskappy.