Wednesday, 31 December 2014

EEN DING BLY KONSTANT

Tot 'n sekere mate sal ons altyd vanuit die natuurlike perspektief in hierdie tydelike bestel net die helfte van die prentjie van ons lewens sien. Dit is hoekom dit soms so moeilik is om sin te maak van oënskynlik sinnelose dinge wat met ons gebeur.  Vanuit die geestelike, die geloofsperspektief, is daar egter een oorweldigende faktor wat die hele prentjie radikaal verander: God het sy Seun vir ons gegee! Daarom mag jy wéét dat God jou liefhet, ongeag gevoelens of onverklaarbare gebeurtenisse.  Een ding bly konstant en sal in 2015, net soos al die ander jare, rotsvas bly staan; dat 'geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie' (Rom. 8:38-39). 

Saturday, 27 December 2014

CHRISTUS, WAT ONS LEWE IS

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word..." Kol. 3:4


Christus is nie soos 'n wonderlike bestanddeel in 'n bredie wat jy by al die ander bestanddele kan voeg om dit nog lekkerder te maak nie. Hy is ook nie enigsins beïndruk daarmee dat ons op 'spesiale dae' in die jaar of een dag 'n week baie godsdienstig raak en dan vir 'n rukkie aan Hom dink nie. Hy is eerder soos die suurstof in ons atmosfeer wat oomblik-vir-oomblik vir ons lewe gee en waarsonder ons nie kán leef nie. Christus ís ons lewe, Hy is nie 'n deel van ons lewe of selfs net die beste deel nie. "Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape" en "in Hom hou alle dinge stand" (Kol. 1:16-17).

Thursday, 18 December 2014

DIE GROOT OORLOOP

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Joh. 5:24


Jesus beklemtoon die gewigtigheid en finaliteit van hierdie verstommende stelling deur dit in te lui met die woorde 'voorwaar, voorwaar'.  Daar is 'n menslik-onoorbrugbare kloof tussen twee groepe in hierdie wêreld. Aan die een kant is die verhoor-afwagtendes wat gedurig leef met 'n swaard oor hulle koppe.  Vir hulle is daar aan die einde van die reis net 'n doodloopstraat wat Jesus 'die oordeel' noem.  Aan die ander kant is diegene wat die knie gebuig het voor Jesus met openlike erkenning dat dit inderdaad die Vader was wat Hom na hierdie aarde gestuur het om te 'soek en te red wat verlore was' (Luk. 19:10).  Die Vader het in Jesus vir ons 'n brug gebou tussen 'die oordeel' en 'n onuitspreeklike saligheid.  Almal wat daardie brug vertrou het en gevolglik oorgeloop het na die ander kant kan reeds in hierdie lewe wéét dat daar nie meer 'n oordeel wag aan die einde van die aardse reis nie, maar 'n Vader met ope arms.  Wat 'n vrede!  Wat 'n vreugde!

Thursday, 11 December 2014

SALIGE AFHANKLIKHEID

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Matt. 5:3 (OAV)

 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Matt. 5:3 (NAV)


Jesus skroom nie vir ‘n oomblik om die kernprobleem van die gevalle mensdom direk aan te spreek nie.  Sy woorde is soos ‘n pyl wat reguit en sekuur na die teiken beweeg en dan diep penetreer.  Hy wil dit uit die staanspoor baie duidelik maak dat die gesindheid van ons harte radikaal moet skuif van ‘n sondige ónafhanklikheid na ‘n kinderlike áfhanklikheid wat in alles en in elke situasie instinktief na die Vader gaan om Sy wysheid en krag te verkry.  Later in Sy bediening (Joh. 13-17) maak Jesus dit duidelik dat hierdie afhanklike lewe slegs geleef kan word in ‘n wesenlike eenheid met Hom deur die krag van die Gees.  Sonder Hom kan ons nie ‘n enkele tree in die regte rigting gee nie (Joh. 15:5)!  Hy gee ook nie net hulp en krag nie, Hy ís die krag, lewe en wysheid binne-in ons (1 Kor. 1:30).  

Wednesday, 10 December 2014

BLIND VIR ONS EIE BLINDEKOLLE


"Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Ps. 36:10

"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense." Joh. 1:4

"En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê." Joh. 8:12


Ons is almal met dubbele blindheid gebore. Nie net het ons blindekolle wat hardnekkig saam met ons loop op die lewenspad nie, maar ons is ook sonder uitsondering blind vir ons eie blindekolle. Ja sekerlik kan ons in oomblikke van ongewone eerlikheid en deursigtigheid met 'n kwalik verskanste self-bewustheid 'n mate van erkenning gee aan die areas van ons karakter wat so onverklaarbaar ons 'perfekte self-oordeel' onstnap het. Maar wanneer die lig van Christus deur die krag van die Gees 'n slag ons binnewêreld ordentlik verlig, moet ons erken dat ons eintlik maar amper totaal blind is vir ons eie blindekolle. Op die grond en sterkte van die nuwe geboorte in Christus bring ons hemelse Vader stadig maar seker deur die Gees van Christus vir ons 'n ware visie van ons inherente blindheid vir ons eie blindekolle? Hoekom is dit nodig? Kan ons nie maar net leer van ons nuwe identiteit in Christus nie? Nee. Ons Vader is te lief vir ons om ons te laat leef in die waan van self-misleiding wat kleef aan alle vlees op hierdie gevalle planeet. Hy wil ons speen van álle self-vertroue sodat ons in wérklikheid kan leef uit ons nuwe identiteit in Christus, sonder 'n vermenging van die ou en die nuwe. Slegs dan breek die krag van die nuwe skepping volledig deur in die helder lig van God se heerlikheid en kan ons al die kosbare beloftes van God in Sy Seun waarlik in besit neem.  As ons hierdie waarheid glo en onvoorwaardelik omhels, sal dit nie net in ons eie lewe en verhoudings radikale veranderings inlui nie, maar dit sal ook 'n rewolusie in ons gemeentes teweeg bring.

Thursday, 4 December 2014

GOSPEL PLUS LAW EQUALS LAW!

When we add law works, law programs, and law initiatives to the gospel we do not enhance the gospel, we destroy it.  The end result is not a stronger gospel, but no gospel at all.  Jesus plus law makes of the gospel just another human program, driven by individuals and glorifying man’s efforts to build man’s empires. The gospel is more than sufficient in and of itself to not only justify us, but also to sanctify and glorify us.  The gospel is the sole motivation needed to create strong and healthy disciples and churches.   We do not need more incentives and brilliant strategies engineered by human ingenuity.  We need a more resplendent view of who Jesus is and what we have already received in Him.

Monday, 1 December 2014

JY IS NIE MEER WAT JY WAS NIE

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig." Efes. 5:8


Voor die dag wat ons reageer het op die heerlike evangelie van Jesus Christus was ons 'sonder hoop en sonder God in die wêreld' (Efes. 2:12). Ons was 'dood deur die misdade en die sondes' (Efes. 2:1). Ons het gewandel 'in die begeerlikhede van ons vlees', het 'die wil van die vlees en van die sinne gedoen' en 'ons was van nature kinders van die toorn' (Efes. 2:3).  Ons was 'onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.' (Titus 3:3). Maar ons is nie meer wat ons was nie! Ons is nou 'lig in die Here' en die appél op ons lewens is om te wandel ooreenkomstig die nuwe lewe wat in ons is. Vroeër kon ons lewe as geheel beskryf word as 'duisternis', maar nou as 'lig', en dit alles as gevolg van ons eenheid met Christus.  As jou wandel nog tekens toon van die duisternis van jou vorige lewe, begin dit aan te spreek vanuit die lig van jou núwe lewe in Christus.