Thursday, 24 December 2015

WANNEER GENADE SIGBAAR WORD



Genade is baie meer as net ‘n lekker warm gevoel in my binneste dat God my liefhet.  Genade loop altyd uit in waarneembare vrug! Wat is die “uitloopsels” van genade wat Paulus in Titus 2 vir ons neerpen?

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”  Titus 2:11-14 (OAV)

Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef. Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word. Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.”  Titus 2:11-14 (NLV)

Die gedeelte ontsluit vir ons die ryk inhoud van die evangelie en gee vir ons glashelder instruksies oor die inhoud van ‘n ware oorgawe aan hierdie heerlike evangelie.  Dit wys vir ons dat ‘n ware verstaan van die genade van God áltyd ‘n bepaalde en kenmerkende effek op mense het.  

Hoe lyk ons generasie van gelowiges in die lig van hierdie apostoliese openbaring van genade?  Sien ons die duidelike verband tussen genade en heiligheid, tussen genade en ‘n veranderde leefstyl, tussen genade en die uitsien na Jesus se wederkoms?

Thursday, 17 December 2015

WANNEER GOD MET ONS PRAAT IN DIE NAG



“Verder is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.”  Job 4:12-13

Die manier wat die Bybel die openbaringe en insig beskryf wat 'n mens soms in die nagure kry wanneer alles stil is en jy meer innerlik gefokus is, is aangrypend!  God kommunikeer voortdurend met ons, ons moet net seker maak dat ons luister.  Selfs in die nagure wil Hy ons leer en lei.

“Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.”  Psalm 16:7 

Monday, 7 December 2015

DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 4: EENHEID



In Sy gebed in Johannes 17 bid Jesus baie spesifiek vir die eenheid van Sy gemeente. Paulus sê in Efesiërs 4 vers 3 ons moet "ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar".  In 1 Korinthiers 1 vermaan hy die gemeente om "almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe" onder hulle moet wees nie (v10).  Jesus het gesterf vir die eenheid van Sy gemeente en nou leef Hy om Sy heerlikheid bekend te maak deur die eenheid van Sy gemeente.  Gemeente-eenheid is 'n ernstige saak en skeuring is ongetwyfeld 'n sonde en iets wat ons nooit ligtelik mag opneem nie.  Maar daar is ook 'n ander kant van die saak, naamlik die reinheid van die gemeente.  Die gemeente van Jesus Christus is bedoel om beide verenig én suiwer te wees.  Daarom sê Paulus net 'n paar hoofstukke later in dieselfde 1 Korinthiers (5:11): "maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie." Mense wat volhard in sonde en weier om hulle te bekeer nadat hulle pastoraal bedien en genoegsaam daaroor aangespreek is, moet volgens die Nuwe Testament afgesny word van die gemeenskap van die dissipels van Jesus met die doel om hulle te bring by bekering.  In Efesiërs 5 vers 11 word ons vermaan om nie "gemeenskap te hou met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar" om dit te "bestraf". (Sien die lys van teksgedeeltes hier onder vir soortgelyke instruksies in die Skrif).  Nou wat dan as 'n hele gemeente of denominasie die sonde herdefinieer, die "goddelose regverdig verklaar” en die wat hierdie gruwelike verdraaiinge uitwys as boos, “skuldig verklaar” (Spreuke 17:15)?  Hoe moet 'n mens dán onderskei tussen rein en onrein, suiwer en onsuiwer?  Is ons onder verpligting om so 'n eenheid te "bewaar"?  Geensins.  Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons, ons moet afskei van sulke boosheid.  Ons word beveel in 2 Tim. 2 vers 22 om geregtigheid na te jaag saam met mense wat “die Here aanroep uit 'n rein hart".  Skaar jou by mense wat beide die eenheid én die suiwerheid van die gemeente bewaar.  Eenheid sonder suiwerheid, of nog erger eenheid in onsuiwerheid, is 'n gruwel in die oë van God en dit is net 'n kwessie van tyd voor Sy oordeel sal losbreek oor so 'n onheilige verbintenis, as dit nie al klaar begin het nie. 

"En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Openbaring 18:4).

Mag God ons die moed gee om die regte ding te doen en die wysheid om dit reg te doen.

2 Kor. 6:14-18; Gal. 1:8-9; Rom. 16:17; 2 Joh. verse 6-11; 2 Thess. 3:6 en 14; Titus 3:10; 1 Tim. 1:18-20, 5:22, 6:3-5; 2 Tim. 2:16-21 en 3.5.

Wednesday, 2 December 2015

MOENIE DIE STRYD OPGEE NIE!



Aan die einde van sy lewe skryf Paulus soos ‘n ou generaal wat deur baie bloedige gevegte geworstel het ‘n laaste brief aan sy jong luitenant Timotheüs en hy gee vir hom krities-belangrike instruksies vir die stryd om waarheid.  Ons ken daardie brief as 2 Timotheüs.  Die stryd is ‘n saak van lewe en dood, want dit het te doen met mense se siele en ewige bestemming.  Satan en sy leër van demone doen alles in hulle vermoë om mense weg te hou van die waarheid van die evangelie.  Sy mees subtiele aanslag is om soos ‘n “engel van die lig” (2 Kor. 11:14) reg binne-in die linies van die dissipels in te kom en daar die waarheid te kom verdraai.  Sy teiken is dan ook gewoonlik die denke en harte van slim geleerdes of sterk leiers in gemeentes of die akademie wat nie wedergebore is nie en daarom geen vermoë het om geestelik te onderskei tussen die leuen en die waarheid nie.  Diesulkes gebruik hy dan om die Skrifte te verdraai (2 Pet. 3:16) sodat hulle aan die een kant dissipels kan verwar en aan die ander kant die evangelie kan versluier sodat ongelowige mense nie tot wedergeboorte kan kom nie.  Dit is teen hierdie aanslag wat ons sterk moet staan en nie die stryd moet opgee nie.  Iemand het gesê “some have not given up the faith, but they have given up the fight”.  As jy die “swaard van die Gees” (Efes. 6:17) laat sak het, neem dit in Jesus naam weer op.  Ek is vas oortuig dat die onderstaande uittreksel uit 2 Timotheüs in staat is om jou te bemoedig en versterk.   Lees dit biddend en met verwagting dat die Here jou weer moed en krag sal gee vir die stryd.  Die stryd is fel en alle dissipels van Jesus word opgeroep, nie net leiers in die liggaam van Christus nie!

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.  Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:  verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”  2 Tim. 3:14-4:4 

Monday, 30 November 2015

GÉÉN SEËN BUITE CHRISTUS NIE



Die heil en verlossing, identiteit en bestemming van alle nasies en alle mense is slegs in Jesus.  Daar is geen verlossing, geen vrede, geen ware blydskap of vervulling buite Hom nie.  Ons boodskap as dissipels van Jesus is nie dat mense deur ‘n soort van ‘n algemene geloof in die Bybel geseën kan word as onafhanklike individue of families nie.  Dit is eerder dat hulle slegs IN CHRISTUS geseën kan word deur vergifnis, heil, verlossing en identiteit IN HOM te vind!  Net so is jou verdere pad na versoening met Jesus nie ‘n onafhanklike bestaan waar jy probeer om op ‘n manier seën vir jou eie lewe, omstandighede en familie by God te kry nie.  Jou seën kan net gevind word in ‘n groeiende en lewende kennis van Jesus en jou vereniging met Hom.  

“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.”  2 Pet. 3:18  

Dit is nie nodig vir jou om lang ompaaie in ‘n geestelike woestyn te stap deur iewers hierdie ontwykende geseënde lewe te soek nie.  Fokus liewer jou hele hart op Jesus en verhouding met Hom en selfs al lyk jou lewe dan uiterlik asof alles nie altyd klopdisselboom is nie, sal jy in jou binneste weet dat jy weet dat jy ‘n geseënde mens is, ryk in genade!