Monday, 27 April 2015

DIE REALITEIT WAT AL DIE SKADUBEELDE VERVUL EN VERVANG

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”   Hebreërs 1:1-2   


Die karakter van die Ou Testamentiese openbaring word duidelik verklaar in ons teks.  Dit was ‘n openbaring wat tot God se mense gekom het in verskillende fragmente en stukke, soos ‘n legkaart wat stadig vorm aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang.  Op hierdie wyse het God verkies om verwagtinge in die mens wakker te maak vir die volheid van Sy openbaring aan ons.   Al die profete en manne van God in die Ou Testament het vooruitgesien na die volledige manifestasie waarvan hulle tot op daardie tydstip slegs ‘n skadubeeld gesien het.  En toe, in die volheid van die tyd, “het God sy Seun uitgestuur” (Gal. 4:4).  Die Vleeswording van Christus het ‘n nuwe era ingelui.   Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het aangebreek en die engele het van vreugde gejubel:  "Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!’  (Luk. 2:14).  Híerdie openbaring van God was nie net nog ‘n diepsinnige waarheid nie.  Dit was nie net ‘n beginsel om ywerig toegepas te word nie.  Dit was meer as ‘n diep profetiese insig.  Dit was eintlik nie iets nie, maar Iemand, naamlik die Seun van God Self!   "Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon" (Kol. 1:19).   Die Ou Testament was ‘n skadubeeld - hierdie was die realiteit.  God het Homself aan ons openbaar in die Persoon van sy Seun.  “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." (Joh. 1:16).

Wednesday, 22 April 2015

GEBED OP HEILIGE GROND

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood…” Matt. 6:9-11


Die mees basiese betekenis van die woord “heilig” in die Bybel is om volkome afgesonder te wees vir God en Sý doelwitte.  Wanneer Jesus vir Sy dissipels leer om te bid in Mattheüs 6 maak Hy dit baie duidelik dat alle gebed moet plaasvind op heilige grond.  Hy doen dit deur die gebed daar te begín met die Vader se naam, koninkryk en wil.  Eers dan kom die petisie gee ons vandag ons daaglikse brood”.  Al ons gebedsversoeke moet dus op afgesonderde grond voor God gebring word, oorgegee en uitgegiet voor Sy aangesig.  Hoe dikwels storm ons net in die troonkamer in met ons lysie van petisies?  Veel beter om eers stil te raak en te fokus op die Vader met nederige belydenis dat ons in alles wil hê dat Sy naam, koninkryk en wil die voorrang moet geniet.  Hierdie beginsel word weereens duidelik deur Jesus onderstreep ‘n bietjie verder aan in Mattheüs 6, “maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (vers 33).   Daar kan daarom geen verwarring wees op hierdie punt nie; God verwag van ons om in ons gedagtes en woorde op hemelse grond te kom voor ons aardse versoeke begin uitspreek.

Monday, 20 April 2015

DIE VRUG VOLG VANSELF

"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie." Joh. 15:4

"Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus..." 2 Pet. 3:18


Ons hemelse Vader is die landbouer (Joh. 15:1) en soos enige goeie boer verwag Hy 'n oes.  Sy doel in alles is om vrug te sien in ons lewens wat Hom as landbouer verheerlik.  Daar is 'n vreugde in die oes wat niks anders kan bring nie.  Ons probleem is egter dat ons so dikwels probeer om uit onsself vrug te dra.  Jesus maak dit baie duidelik dat ons net vrug kan dra as ons in Hom bly.  D.w.s. as ons toeneem en groei in ons afhanklikheid van Hom in elke aspek van ons lewens soos wat ons harte al hoe meer gevul word met die kennis van Sy heerlikheid.  Ons verantwoordelikheid is om ons rykdom in Christus in die Bybel te ontgin en geniet.  Die Vader sal sorg vir die groei.  Ek hoef nie te probeer om groei te bewerkstellig nie.  Soos wat ek op Jesus fokus en in verhouding met Hom leef vind die groei vanself plaas en die vrug volg vir seker!  O wat 'n salige rus bring dit wanneer ons hierdie waarheid begin ontdek. 

Thursday, 16 April 2015

DIE “ONVERNIETIGBARE LEWE” VAN GOD IN ONS

Die plan van God is nie net dat ons gered word en hemel toe gaan nie, maar dat Sy heerlikheid in en deur ons gesien moet kan word in die hier en nou van ons lewens!  Dit kan net gebeur as die lewe van God self bínne-in ons (Gal. 2:20) groei soos wat ‘n saad wortel skiet en dan ‘n boom word wat vrug dra.  Ons vertroue moet radikaal wegskuif van ons eie pogings om soos Christus te wees en dan enkelvoudig fokus op die Váder se verwagting, naamlik Christus ín ons geopenbaar en gerealiseer deur die “goddelike groei” (Kol. 2:19) van dit wat alreeds teenwoordig is binne-in ons.

“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Gen. 3:15 

 “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”  Gal. 3:16 

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.” Kol. 1:27 (NAV)


Jesus het deur Sy kruisdood en opstanding die satan oorwin en sy “kop vermorsel”, maar die Vader se meesterplan was nog altyd dat die lewe van Sy Seun ín ons gestalte  moet kry sodat Sy heerlikheid die aarde kan vul.  Daarom skryf Paulus in Romeine 5 vers 10 “want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”  Die “onvernietigbare lewe” van God (Heb. 7:16) is in ons deur die wedergeboorte, maar ons moet groei in daardie lewe sodat daar ‘n realisering van die karakter van God kan wees in ons daaglikse handel en wandel (Gal. 5:22).  Paulus sê vir die Christene in Galate hy is “in barensnood totdat Christus in” hulle “‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19).   

Monday, 13 April 2015

WAARAAN DINK JY AS DIT STIL RAAK?

“As ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.”  Psalms 63:7


Op watter paaie loop jou gedagtes snags wanneer die dag se geluide stil geraak het?   Loop hulle terug op die pad van die verlede na mislukkings en verwyte wat jou hede versuur en waaraan jy in elk geval niks kan verander nie?  Loop hulle vooruit op die pad van die toekoms na skimbeelde en vrese van alles wat verkeerd kan loop?  Waar gaan staan jou gedagtes stil in die oggend voordat die geraas van ‘n nuwe dag begin?  Hardloop hulle sommer dadelik na al die probleme wat die nuwe dag kan bring en die bekommernisse wat so maklik in ‘n bondel vergader om jou vrede te verstoor?  God nooi jou en my uit om soos Dawid van ouds in ons harte en denke by Hom te kom rus.  Daar is ‘n onbeperkte, onsienlike wêreld van vrede en heerlikheid in die wese van God en ons het die onuitspreeklike voorreg om te mag dink oor Hom.  In elk geval lê al die antwoorde van die verlede, hede en toekoms net in Hom, die tydlose, ewige God.  

Wednesday, 8 April 2015

MÝ NAAM, MÝ KONINKRYK, MÝ WIL

‘n Christenskap wat my naam, my koninkryk en my wil onaangeraak los terwyl ek Jesus se naam baie vroom en godsdienstig bely is ‘n vals en dodelik misleidende Christenskap.  Jesus is nie die Verlosser vir sommige dissipels en die Here vir ander nie.  Hy is altyd beide Verlosser én Here.   Om Hom dus op ‘n Sondag te bely as Koning en op ‘n Maandag my eie naam en eer te bevorder, my eie koninkryk te probeer uitbrei en my eie wil na te jaag, is die hoogtepunt van huigelary.  Of nog erger, om dit op ‘n Sondag te doen wanneer ons eiesinnig poog om ons eie bedieninge en gemeentes te bou met die doel om óns naam en koninkryk  te bevorder!  Die inhoud van ons gebede is gewoonlik ‘n onfeilbare toets van hoe ons dink oor God, die gemeente, die koninkryk en ons lewens op aarde.  Hoe en waarvoor bid jy gewoonlik?  Jesus leer Sy dissipels om te bid “onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied…” (Matt. 6:9-10).  Daarmee stel Hy dit eens en vir altyd onomwonde en onaanvegbaar dat daar vir outentieke dissipels van Hom net een agenda op hierdie aarde kán wees en dit is om die Vader se naam, koninkryk en wil in alles te bevorder.  Al kry ons dit nie altyd reg nie bly dit die groot begeerte in die hart van elke ware dissipel van Jesus.

Monday, 6 April 2015

MY PLANNE OF SY PLANNE?

Spreuke 3 vers 6 lees "ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak".  'n Pragtige belofte, solank ons onthou dat ons "paaie" alles te doen het met Jesus se paaie, Sý kruis en Sý koninkryk. Dit is so maklik om die beloftes van die Bybel te gebruik om 'my lewe' uit te sorteer en dan vergeet ek dat ek as dissipel van Jesus reeds 'my lewe' as 'n aardse bestaan onafhanklik van die koninkryk vaarwel toegeroep het. Ons durf dus nie meer dink oor ons bestaan op hierdie aarde as iets wat los staan van die koninkryk van God nie. Die heel eerste tree wat jy agter Jesus aangegee het was alreeds 'n tree op die pad van die kruis. Daar ís geen ander pad agter Hom aan nie. Die Vader het 'n meesterplan in Sy Seun vir hierdie aarde en die mense op aarde. Hy het ons gered "met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig" (Efes. 1:10). Daar bestaan nie so iets soos wedergeboorte sonder 'n kruis wat opgeneem moet word nie. Daardie kruis beteken my lewe is nou een met God se plan in Jesus vir versoening en verhouding met Homself en verlossing van verlore mense.  In alles moet ek dus, van my kant af, daardie doel voor oë hê. Dit beteken eenvoudig dat my beroep, my huwelik, my kinders, my toekoms en my daaglikse handel en wandel nooit los kan staan van die soewereine wil van die Koning wat in my leef nie (Gal. 2:20). 

Friday, 3 April 2015

DIE MOEILIKSTE DING IN VERHOUDINGE EN VERAL IN DIE HUWELIK

Die heel moeilikste ding om baas te raak in verhoudinge is om te glo dat daar werklik “geen veroordeling” is “vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1).  Ons hemelse Vader het “die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker” (Kol. 2:14).  Nou verwag Hy van ons om die klagstate wat ons teen mekaar hou ook aan die kruis vasgespyker te sien en om dan sonder veroordeling ons verskille met mekaar in nederigheid en liefde uit te sorteer.  Solank as wat daar egter 'n klagstaat teen jou in my hart en mond is, is daar altyd veroordeling en in daardie atmosfeer word niks ooit uitgesorteer tussen mense nie!   Inteendeel, dit lei net tot agterdog, twis, vyandigheid, verdeeldheid en weerwraak.  Daarom moet ons aanhou hoor wat die evangelie vir ons wil oordra en bo alles gló dat ons sonder veroordeling sake kan uitsorteer deur die oortuiging wat die Heilige Gees bring in ‘n atmosfeer van nederige afhanklikheid van God.