Thursday, 30 July 2015

“ONS VERKONDIG NIE ONSSELF NIE”...OF DOEN ONS?

"Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde." Efesiërs 4:15-16

Elke boek van die Nuwe Testament verkondig helder en duidelik die blye boodskap dat Jesus alleen meer as voldoende is vir alles wat ons ooit sal nodig hê vir tyd en ewigheid.  Dit is die enigste basis vir dissipels van Jesus om in vrede, vreugde, vryheid en oorwinning te leef in 'n gevalle wêreld. Juis daarom is die satan se strategie altyd om op subtiele maniere hierdie boodskap te ondermyn en ons te probeer oortuig dat ons iets moet byvoeg, dat Jesus alleen nie genoeg is nie. Die waarheid is egter dat Jesus plus enigiets altyd lei tot die byvoeging minus Jesus. As ek iets wil byvoeg by Sy volkomenheid sit ek op die ou end nie met meer nie, maar met veel minder, eintlik met niks! Wat dan van Jesus plus die gemeente? Dit is sekerlik 'n legitieme byvoeging?! Net hier stel satan een van sy slimste sette teen die kinders van God in werking.


Die Nuwe Testament leer dat die gemeente uit Jesus en op Jesus, as die Rots, gebou word; nooit dat die gemeente as 'n plus by Hom gevoeg moet word nie. Enige gemeente of federasie van gemeentes wat aanspraak maak op ewige lewe of finale outoriteit asof dit die eksklusiewe domein is van genoemde gemeente of gemeentes is besig om iets by Jesus te voeg en ondermyn in werklikheid die koninkryk van God. Selfs al is dit met die beste motiewe denkbaar. Die gemeente gee nie vir Jesus lewe nie, Jesus gee die gemeente lewe. Die gemeente ondersteun nie vir Jesus nie, Jesus ondersteun die gemeente. Die gemeente gee nie vir Jesus outoriteit nie, Jesus gee die gemeente outoriteit. Dit is nie ons programme, planne en wonderlike organisasie wat Jesus se invloed laat toeneem nie. Dit is Jesus wat deur Sy eie wysheid en krag volgens Sy volmaakte wil rig en bestuur, die gemeente wat Hom alleen gehoorsaam. Die lewe is nie in ons nie, dit is in Jesus. Die salwing is nie ons besitting asof ons in onsself die wonderlike gesalfdes is wat vir almal kan lewe en rigting gee nie. Jesus is die Gesalfde Een en daar is net werklik 'n salwing wat seën bring wanneer ons aan Hom vashou en uit Hom bedien. Ons moet leer om fyn te luister na wat gemeentes regtig probeer sê, want gemeentes wat hulleself en/of hulle leierskap probeer promoveer is gesaai oor die landskap. Daarenteen is gemeentes wat ten doel het om mense aan Jesus alleen te verbind en in Hom by volwassenheid te bring, so skaars soos hoendertande. Die apostel Paulus het die standaard vir leierskap en gemeentes baie duidelik gestel in 2 Korinthiërs 4 vers 5, “Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.”

Tuesday, 28 July 2015

DIE GEBED WAT NIE BAIE GEBID WORD NIE

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:9-10


Die dinge waarvoor ons bid en die manier wat ons daarvoor bid is 'n baie goeie indeks van wat in ons harte aangaan. As God vir Paulus sê 'my krag word in swakheid volbring' en Hy daarmee sy wil vir, en werkswyse met, al sy dissipels vir alle tye bekendmaak, het dit baie bepaalde implikasies vir ons gebedslewe.  Wanneer ek deur 'n moeilike tyd gaan, moet ek net bid dat God asseblief my omstandighede sal verander? Moet ek net bid dat Hy my daardeur sal dra? Miskien lei die Heilige Gees my om so te bid, maar as ons die hele Bybel as maatstaf neem, is dit duidelik dat die belangrikste gebed van ons harte moet wees: "Laat U krag in my swakheid volbring word".  "Verheerlik Uself en openbaar Christus in my swakheid, o Heer".  Dit is die herlewingsgebed! As ons só begin bid vir onsself en vir ander is ons in lyn met die wysheid van God en kan ons die krag van God sien deurbreek in ons omstandighede op verrassende maniere wat dalk heeltemal anders is as wat ons verwag het. Dan eers gaan ons werklik die dieper doel en groter prentjie van God se koninkryk en ons lewens begin raaksien.

Wednesday, 22 July 2015

VOL KRAG EN PLANNE

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:9-10

"EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte." Efes. 6:10


Ons generasie se idee van 'n sterk mens is iemand wat vaardig is; skerp, vindingryk, "positief" en pro-aktief. Dit is iemand wat al die antwoorde het en altyd 'n plan het, soos 'n MacGyver wat homself uit enige moeilike situasie kan wriemel met net 'n stukkie tou, 'n sakdoek en 'n paar vuurhoutjies. Die Bybel se idee van 'n sterk mens is ‘n bietjie anders. As jy reeds aan 'n kruishout vasgenael is, help jou vaardigheid, jou geniale insig en jou briljante kreatiwiteit nie meer nie. En dit is presies wat die Nuwe Testament leer oor dissipels van Jesus. Ons is ten volle geïdentifiseer met die kruisdood van Jesus, tot so 'n mate dat ons natuurlike krag, wysheid, intelligensie en bronne nie eers meer in die prentjie is nie. Dít is die groot uitdaging van dissipelskap en die essensie van die geloofslewe. Sal ons kies om swak en totaal afhanklik te wees sodat Jesus in en deur ons sterk kan wees of gaan ons aanhou om te leun op die 'arm van die vlees' en dan verwag dat God darem net so 'n ekstra handjie moet bysit vir die wis en die onwis? Eersgenoemde is volgens die Bybel die "wandel deur die Gees" en laasgenoemde die "wandel na die vlees".

Monday, 20 July 2015

HARTVERSTERKER

 “…want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…”  Heb. 13:9 


Daar is nie op hierdie aarde so iets soos ‘n hart wat nie soms op afdraaipaadjies wil stap nie. Die mees toegewyde dissipel van Jesus het “versterking van hart” nodig.  Ons teks in Hebreërs 13 sê dat die hart deur “genade” versterk moet word.  Daar is geen ander medisyne vir ons harte nie.  Niks in jou en my lewe is belangriker as die kondisie van ons harte nie, en ek praat nie van daai vier-kamer pomp aan die linkerkant van jou borskas agter jou ribbes nie.  Ons het nodig om gedurig blootgestel te word aan die boodskap van Jesus wat ons wysheid is sodat ons nie hoef te leef uit ons eie insig nie, ons geregtigheid is sodat ons nie hoef te streef om vir God aanvaarbaar te wees nie, ons heiliging is sodat ons nie uit ons eie krag hoef te probeer groei in toenemende heiligheid nie en ons verlossing is sodat ons nie nodig het om moedeloos te raak oor die toekoms nie (1 Kor. 1:30). God het “in Christus” volkome voorsiening gemaak vir alles wat jy ooit sal nodig hê.  Moenie probeer leef uit jou eie wysheid en krag nie, dit gaan jou hart vir seker laat afdwaal.  Leef uit ‘n hart wat gedurig onder die invloed van genade is.  Dit is werklik die énigste manier om ‘n betekenisvolle lewe te leef en ‘n getuienis van Jesus se oorwinning te wees te midde van die vervallenheid en hartseer van ‘n stukkende wêreld met stukkende mense.

Thursday, 16 July 2015

GROEPSAFSLAG VIR 'N KAARTJIE HEMEL TOE?

"Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen...toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê..." Johannes 8:39-42

Hierdie gedeelte in Johannes 8 bevat 'n profetiese boodskap, nie net vir die Jode van die tyd nie, maar ook vir alle "godsdienstige" mense oral en vir alle tye. Die Jode het gedink omdat hulle deel was van die sogenaamde "verbondsgemeenskap" as gevolg van hulle besnydenis en omdat hulle deur natuurlike afstamming "kinders van Abraham" was dat hulle outomaties oppad was hemel toe en God as Vader gehad het. In vers 44 antwoord Jesus hulle egter met 'n verstommende stelling, "julle het die duiwel as vader". Wat maar net beteken dat hulle nog nie die ware wedergeboorte deur die Gees van God beleef het nie en steeds onlosmaaklik verbind was aan die "wet van die sonde en die dood" via die gevalle Adam.


Dit is net persoonlike bekering tot God en geloof in Jesus wat red. Geen verwantskap met enige groep, gemeente, denominasie, of tradisie het enige krag of vermoë om te red nie. Daar gaan nie kerke of denominasies in die hemel wees nie, net ware dissipels van Jesus. Geen ritueel of sakrament kan red nie en niemand sal God ooit sien op grond van hulle ouers of leiers se geloof nie. "Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God" (Ps. 146:3-5). Net die hart wat draai téén die sonde in bekering en ná Christus in geloof, onder invloed van die Heilige Gees se oortuiging deur verkondiging van die suiwer evangelie kan ooit die reddende genade van God in waarheid beleef. Maak honderd persent seker dat jou geloof in Christus alleen is. "My hope is built on nothing less than Jesus' blood and righteousness; I dare not trust the sweetest frame, but wholly lean on Jesus' name. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand."

Monday, 13 July 2015

VERWORWE IMMUNITEITSGEBREKSINDROOM

"Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.”  Hand. 20:29-31 (NLV)


Kan ons nie net glo soos kindertjies en alles vir soetkoek opeet wat lyk soos 'n geestelike boodskap of wat vir ons van kansels en deur die massamedia opgedis word nie?  Kan ons nie maar net kerktradisies en denominasionele dogma heel insluk sonder om te kou nie?  Die kort antwoord is, 'nee'.   Kinderlike geloof en beoordeling van waarheid staan nooit teenoor mekaar in die Bybel nie.  Hoekom is dit nodig om voortdurend boodskappe te toets en te beoordeel, om te onderskei en te "waak" oor waarheid en ons eie harte soos Jesus en die apostels oor en oor beveel het?   Want net soos daar 'n menigte "goggas" is wat jou liggaam wil aftakel, is daar 'n baie slinkse geestelike vyand wat die boodskap van die evangelie op allerhande maniere verdraai en ons wil voer met sy leuens.  Ons liggame het 'n immuunstelsel wat die "goggas" veg.  Net so het God vir ons 'n immuunstelsel gegee om geestelike "goggas" te veg.  Die Woord van God wat jy in jou hart bewaar en bely met jou mond is die "swaard van die Gees" (Efes. 6:17).  As jou liggaam se immuunstelsel skielik afskakel, het jy groot probleme, my vriend.  Net so is dit fataal om jou geestelike immuunstelsel te verloor of te misken dat jy een nodig het.  Die kerk oor die wêreld ly ongelukkig grotendeels aan geestelike VIGS ("verworwe immuniteitsgebreksindroom") en dit raak al hoe erger.  Ons moet wakker word en reguit loop, in lyn met die duidelike bakens wat vir ons gegee word in die Woord van God.  Glo alles wat in die Bybel staan soos 'n kind, met totale oorgawe en 'n rein gemoed en bly by die eenvoud van die openbaring van Jesus (Heb. 1v1-3).   Maar moenie alles wat geestelik klink of wat van kansels gepredik en geleer word glo soos 'n kind nie.  “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thes. 5:21).

Wednesday, 8 July 2015

RAAD WAT VELE ERGERNIS KAN VOORKOM

“So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” Jakobus 1:19 (OAV)

“My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” Jakobus 1:19 (NAV)


Die wat te gou praat, hoor ook gewoonlik nie mooi wat ander sê nie en dit lei dikwels tot misverstande en kwade gevoelens.  Dis moeilik om na ander te luister terwyl jou ore gebombardeer word met die stringe woorde wat uit jou eie mond kom.  Die persoon wat dink voor hy praat, het al klaar die grootste deel van praktiese wysheid ingewin en die een wat praat voor hy dink, het reeds ingedraai op die pad van die dwaas.  Stadig om te hoor en gou om te praat en kwaad te word, dit som die lewe van die dwaas op en sy pad is gesaai met onnodige ergernis.  As ons daarenteen werklik luister na wat ander mense sê, stadig is om ‘n oordeel te fel met haastige woorde en stadig om op ons perdjie te spring as daar net iets is wat klink of dit nie inpas by ons persoonlike verwysingsraamwerk nie, kan ons vele ergernis in die gang van ons daaglikse lewens vermy.  Boonop gaan ons met hierdie ingesteldheid ‘n vertoonvenster wees van Christus en ‘n voorbeeld stel wat die deur wyd oopmaak vir die goeie nuus van verlossing in Jesus.  Dit is in elk geval mos net in en deur Hóm wat ons die soort ingesteldheid kan kweek waarvan Jakobus hier praat.  Om te praat van Jesus moet ons wees soos Jesus en om te wees soos Jesus moet ons ruimte maak vir Hom om deur ons te leef.