Thursday, 29 October 2015

GLO JY WERKLIK DAT CHRISTUS IN JOU LEEF?




“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon…” Efesiërs 3:17  

As ons Jesus van Nasaret slegs as ‘n historiese figuur sien wat tweeduisend jaar gelede geleef en sekere dinge vir ons gedoen het, sal ons nooit die volheid van ons eenwording met Christus beleef nie.  Die historiese feite oor die lewe, dood en opstanding van Jesus is uiters belangrik (1 Kor. 15:1-4), maar as ons nie die eindresultaat van die werk van Christus raaksien nie, naamlik “Christus in jou”, lewe ons soos wese tussen die eerste en tweede koms van Jesus.  Dit is God se wil vir ons om nou alreeds ons eenheid met Christus wat in ons leef, te ken en te ervaar.  Ons is intiem verenig met Christus en ons moet ons volle aandag skenk aan hierdie onuitspreeklike voorreg.   Die Weymouth vertaling van Efesiërs 3:17 sê: ‘I pray that Christ may make His home in your hearts through your faith’. Tensy ons in geloof die teenwoordigheid van Christus binne-in ons herken, sal Hy nie tuis wees in ons harte en Sy teenwoordigheid begin openbaar in ons nie.  Prakties gesproke beteken dit ook dat ons moet ophou om te leef van die uiterlike na die innerlike.  Daarteenoor moet ons deur geloof lewe op die basis van ‘n nuwe lewe wat diep binne-in ons woon.  Die vraag is nie of jy dit voel nie, maar of jy dit gló! 

Monday, 26 October 2015

INSTRUKTEURS VAN DIE DOOD



“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.”  Psalm 119:9  

“Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,  van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,  daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.”  Spreuke 1:29-31  

Watter soort instrukteur sal jy vertrou om jou kind te leer bestuur en vir hom of haar die padreëls te leer?  Wat van ‘n instrukteur wat al die belangrike padtekens heeltemal verkeerd interpreteer, omdat hy ‘n immigrant is van ‘n land met ‘n totaal verskillende verkeerstelsel?  Sou dit nie krimineel onverantwoordelik wees om jou kind oor te gee in die hande van so ‘n instrukteur nie?  As jy omgee vir jou kind se fisiese welsyn sal jy nooit so iets doen nie.  En wat dan van jou kind se geestelike welsyn?  Aan watter soort instrukteurs vertrou jy jou kinders toe om vir hulle die padtekens van die lewe te leer?  “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Tim. 3:16) en is bedoel om ‘n mens wys te maak om in gesonde verhoudings met die lewende God en Sy skepsels te leef.  Die gemeente is bedoel om ‘n “pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15) te wees wat daardie Skrif suiwer leer.  Wanneer ‘n gemeente of gemeentes egter wegdraai van die Skrif en op sand begin bou, het wedergebore dissipels van Jesus ‘n verantwoordelikheid om hulle rug te keer op sulke gemeentes en wedergebore ouers om hulle kinders te beskerm teen dodelike geestelike dwaling.  Dit is nie eers ‘n persoonlike keuse nie, dit is ‘n opdrag van God.

Wednesday, 21 October 2015

DIE GROOT GAPING IN ONS PREDIKING


‘n Boodskap wat vir ons net vertel dat ons vergewe is in Jesus en dan eis dat ons heilig moet leef is ‘n halwe boodskap. Die krag van heiligmaking lê in die feit dat ons “saam met” Jesus gekruisig is en “saam met” Hom opgestaan het.  As ons dit nie begin verstaan nie, lees ons die boek Romeine selektief en luister ons net met ‘n halwe oor na wat hoofstukke 5 tot 8, wat die sleutel tot oorwinning is, vir ons wil sê. Ja, sekerlik is dit van die moeiliker gedeeltes in die Nuwe Testament om onder die knie te kry, maar die oomblik wat jy in Romeine 5 die kontras sien tussen die eerste en die laaste Adam en besef jy is nou “in Christus” (die laaste Adam), vind jy die sleutel en die res van die boek vou lieflik oop en skenk jou sy skatte:


Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” Rom. 6:6  

So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Rom. 6:11 

Die boek Romeine is nie net ‘n kosbare openbaring van ons regverdigmaking in Jesus nie, maar ook ‘n onverbeterlike handleiding tot ons heiligmaking in Christus. Hierdie wonderlike boek is vryelik beskikbaar in jou Bybel en in jou eie taal. Die probleem is dat die prediking wat ons dikwels hoor ‘n groot gaping los tussen vergifnis van sondes (meervoud) en verlossing van die inwonende sonde (enkelvoud). Ons kan nie spring van ABC na XYZ nie!  Daar is ‘n hele verlossingsalfabet tussenin! Miskien kan ek hier ‘n aanbeveling maak van twee boeke wat jou baie sal help in hierdie verband: “The Normal Christian Life” van Watchman Nee en “Romans Verse-by-Verse” van William Newell. Maak net seker dat jy eers self diep induik in die koel verlossingswaters van die ‘meer’ Romeine.

Monday, 19 October 2015

DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 3: MOENIE OORDEEL NIE



“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.”  Matt. 7:1  

“Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!” 1 Kor. 5:12 (NAV)  

 “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”  1 Kor. 11:32  

“Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.”  1 Kor. 14:29  

“Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.” Rom. 14:10  (NAV)

In ons tyd en generasie is Jesus se opdrag dat ons nie moet oordeel nie heeltemal skeefgetrek en buite alle proporsie verdraai.  Die meeste mense vandag lees dit as ‘n geïsoleerde stelling wat ons inlei in ‘n leefwêreld van universele toleransie waar ons geen onderskeid durf maak tussen dit wat byvoorbeeld rein en onrein of heilig en onheilig is nie.  Daarom het dit uiters belangrik geword vir ons om vas te stel wat Jesus bedoel het met daardie stelling én wat Hy nie bedoel het daarmee nie.  Hy hét bedoel dat ons nie onsself moet opstel oor ander mense as regters asof ons God is nie.  Hy het ook bedoel dat ons nie ander mense se motiewe moet oordeel asof ons in hulle harte kan insien nie.  Hy het nié bedoel dat ons glad nie ‘n oordeel moet fel oor geestelike sake of dat ons nie mag sê wat die Bybel byvoorbeeld duidelik stel oor sonde, gesonde leerstelling en dergelike dinge nie.  Let byvoorbeeld op dat vers 6 van dieselfde paragrafie in Mattheüs 7 (verse 1 tot 6) sekerlik ‘n beoordeling van verskillende mense en situasies verg om te kan doen wat Jesus daar sê ons moet doen.  Wanneer ons dit doen moet ons egter seker maak dat ons eers onsself onder dieselfde Bybel se vergrootglas bring om te toets of ons eie harte rein is voor God (Matt. 7:5a).  

Ons is bevoorreg om in Afrikaans ‘n verskeidenheid woorde te hê wat die woord “oordeel” as’t ware kwalifiseer.  Wanneer ek “oordeel” maak ek ‘n uitspraak oor iets.  Ek moet dit egter so doen dat ek nie “veroordeel” nie, maar ek moet wel ‘n situasie “beoordeel” sodat ek God se “oordeel” oor iets kan onderskei en toepas.  Anders word die Bybel ‘n afgewaterde boek wat geen duidelikheid oor enigiets kan gee nie!  Om op te som, ons moet “oordeel” oor situasies (sien 1 Kor. 5:12 hier bo), maar ons mag dit nie doen met ‘n “veroordelende” hart nie.  Ons mag (moet!) sê wat die Bybel sê oor sake, maar sonder om onsself as regters op te stel oor ander of mense se motiewe te oordeel.  Verder leer gedeeltes soos Romeine 14 pertinent dat ons ook ‘n duidelike onderskeid moet maak tussen randwaarhede soos wat ons mag eet of drink en kernwaarhede soos die evangelie, die wese  en identifisering van sonde volgens die Bybel, ensovoorts.  Mag God ons help om die dinge te “onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil. 1:10) sodat ons nie aan die een kant in die slaggat van “veroordeling” val of aan die ander kant in die slaggat van ‘n sogenaamde “liefde” wat geen onderskeid tref tussen rein en onrein nie.  Laasgenoemde is nié volgens die Bybel ware liefde nie, maar eerder ‘n sekulêr humanistiese idee van liefde wat geen gronde in die geopenbaarde Woord van God het nie.