Die heil en verlossing, identiteit en bestemming van alle
nasies en alle mense is slegs in Jesus.
Daar is geen verlossing, geen vrede, geen ware blydskap of vervulling
buite Hom nie. Ons boodskap as dissipels
van Jesus is nie dat mense deur ‘n soort van ‘n algemene geloof in die Bybel geseën kan word as onafhanklike
individue of families nie. Dit is eerder
dat hulle slegs IN CHRISTUS geseën
kan word deur vergifnis, heil, verlossing en identiteit IN HOM te vind! Net so is jou verdere pad na versoening met
Jesus nie ‘n onafhanklike bestaan waar jy probeer om op ‘n manier seën vir jou eie lewe, omstandighede
en familie by God te kry nie. Jou seën kan net gevind word in ‘n
groeiende en lewende kennis van Jesus en jou vereniging met Hom.
“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse
Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel
as in die dag van die ewigheid. Amen.” 2
Pet. 3:18
Dit is nie nodig vir jou om lang ompaaie in ‘n geestelike
woestyn te stap deur iewers hierdie ontwykende geseënde lewe te soek nie.
Fokus liewer jou hele hart op Jesus en verhouding met Hom en selfs al
lyk jou lewe dan uiterlik asof alles nie altyd klopdisselboom is nie, sal jy in
jou binneste weet dat jy weet dat jy ‘n geseënde mens is, ryk in genade!