Thursday, 28 April 2016

GENADE VIR MY, VEROORDELING VIR JOU

Ons is geneig om instinktief vir onsself barmhartigheid te gee en regverdigheid van ander mense te verwag. Miga 6 vers 8 leer ons dat ons van onsself geregtigheid moet verwag en vir ander mense barmhartigheid moet gee.

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” Miga 6:8

“He has told you, O man, what is good; and what does the LORD require of you but to do justice, and to love kindness, and to walk humbly with your God?”  Micah 6:8  (ESV)

Ons mag die vergifnis wat Jesus vir ons met Sy kruisdood bewerkstellig het omhels met alles wat in ons is en met dankbare harte ons daagliks verheug daarin.  Die vraag is net, gun ek vergifnis in Jesus vir die mense met wie ek saamleef en skouers skuur in ‘n gebroke wêreld of verwag ek van hulle om altyd reg op te tree teenoor my terwyl ek my eie ongeregtigheid baie gemaklik vee onder die mat van “vergifnis”?  Die “liefde” wat Miga 6 my vra om te “betrag” is liefde vir ander mense.  Hoe kan ek God se liefde bewys aan ander deur die barmhartigheid van God so te spieël dat hulle in Jesus beide barmhartigheid en geregtigheid sien en sodoende getrek word na ‘n lewe van vergifnis, maar ook integriteit en regverdigheid?

Ons kan tog so maklik vir dae lank tob oor wat ander aan ons gedoen het en dan vergeet ons blitsvinnig van die onreg wat ons ander aangedoen het.  ‘n Vinnige “ag jammer jong”, of dalk glad nie!, en dan gaan ons aan met ons lewens asof niks gebeur het nie.  As hulle ons onreg aangedoen het, verwag ons daarenteen ‘n lang en ernstige belydenis…met nabetragting vir so ‘n week of wat, asseblief. Kom ons erken maar liewer dat die sondeval ons skaal van reg en geregtigheid geheel en al gebreek het.  Die goeie nuus van vergifnis in Jesus was nooit bedoel om van ons genadevrate vir onsself en genade-onthouers vir ander te maak nie.  Dit was bedoel om ons in te lei in ‘n teen-kulturele lewe wat barmhartigheid uitstraal en terselfdertyd myself hou aan ‘n Skrifgebaseerde geregtigheid en regverdigheid, in die krag van die Heilige Gees natuurlik.  En as ek faal dan weet ek daar is vir my ook vergifnis in Jesus. Let op hoe Jesus hierdie twee dinge langs mekaar stel.


“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.  Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Mattheüs 5:6-7  

Tuesday, 26 April 2016

EK HET JOU NIE NODIG NIE, HET EK?

Die volgende verse in 1 Korinthiërs het die potensiaal om hele gemeentes om te keer en 'n onomkeerbare gemeenskapsrewolusie te begin.

"As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie." 1 Korinthiërs 12:19-21

Ons soek dikwels naarstigtelik na antwoorde vir ons onvermoë om betekenisvolle en groeiende verhoudings binne-in gemeentes te sien realiseer, maar dalk lê die werklike antwoord niks verder of dieper as ons onafhanklike gesindheid a.g.v. ons Westerse verbruikersleefstyl nie.  Dit is so maklik om gedurig besig te wees met die Bybel en steeds nie losgeskud te word van ons diepgewortelde kulturele vooroordele nie.  Die prentjie van gemeentelewe wat die Nuwe Testament vir ons skets, is in baie opsigte radikaal anders as waaraan ons gewoond is.  Ons het nodig om al ons gebruike en gewoontes, en veral ons gesindhede, in die lig van die Nuwe Testament te bevraagteken. Jy kan ‘n doktorsgraad in ekklesiologie hê en die vermoë om al die Bybelse data oor gemeentelewe 100% weer te gee, maar as jy ‘n gemeente benader asof jy die een is wat vir ander gee, óf net ontvang van ander terloops, dan weet jy eintlik niks of baie min van die bruisende lewe van Christus in en deur ‘n ware gemeente.  Luister hoe stel Paulus dit; ‘n man wat apostoliese gesag gehad het en ‘n groot deel van die Nuwe Testament geskryf het. 

"Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my." Romeine 1:11-12

Sjoe! Dit is radikaal.  Paulus sê hy wil bemoedig word deur die gemeente in Rome via húlle geloof in Jesus net soos hy hulle bemoedig deur sy geloof!  Is dit hoe bediening vandag funksioneer in gemeentes?  Is dit die gesindheid van hedendaagse bedienaars en predikante?


Dalk is jy nie in “voltydse bediening” nie, maar iemand wat al vir dekades lank die mooi en die lelik gesien het in ‘n verskeidenheid van gemeentes.  Dalk het jy baie kennis opgedoen in al jou wedervaringe met gemeentes.  Gevolglik is jou hele benadering tot gemeentes: “ek het iets wat julle nodig het, maar julle het nie regtig iets wat ek nodig het nie”.  Dit is baie hartseer as dit so is, want ek kan jou verseker jy gaan grootliks uitmis op die lewe van Christus via gemeentelewe as dit jou gesindheid is.  So ‘n gesindheid gaan jou effektief op die kantlyn los as iemand wat net ander met data wil bedien in plaas daarvan om jou léwe te deel met mense wat ook Christus in hulle het en daarom ‘n “gemeenskaplike geloof” besit wat jy dringend nodig het!  Ons het mekaar nodig.  Mag die Heilige Gees ons op hartsvlak bedien sodat ons waar nodig ‘n radikale verandering van gesindheid kan beleef.

Thursday, 21 April 2016

FIGHTING EFFECTIVELY AGAINST SIN

Fighting effectively against sin requires a profound diligence with dedicated use of the means of the Word, the Spirit, the Church and the Cross.

INTELLECTUAL OR SANCTIFICATIONAL

Sanctificational is my own word and it refers to anything that directly promotes sanctification. Intellectual refers to that which can at most indirectly promote sanctification. We nèed a sanctificational approach to the Christian life. It is imperative, literally a matter of life and death. Even when we approach something intellectually it must be with a view to a greater understanding for the purpose of greater holiness of life.

DIE PADDA IN DIE POT

 “…sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.”  2 Korinthiërs 2:10b-11 

‘n Padda sal dadelik spring uit ‘n pot kookwater, maar as jy hom in koue water sit en geleidelik die water verhit, kan jy hom doodkook sonder dat hy sal uitspring.  Hierdie bekende en eenvoudige ilustrasie gee ‘n les deur wat die kerk in ons tyd dringend nodig het om op ag te slaan.  Dit is presies hoe die satan regdeur die eeue gemeentes en denominasies kaap en uiteindelik transformeer tot valse institusies wat grootskaalse misleiding van die massas tot gevolg het. Ware dissipels van Jesus wat hulleself bevind in sulke gekompromitteerde gemeentes en denominasies het nodig om wakker te word en te sien wat besig is om reg voor hulle oë te gebeur. 


Valse leringe en misleiding wat nooit deur vorige generasies aanvaar sou word nie, word onder die invloed van die tydgees aanvaar en dan aanvaarbaar gemaak deur kerklike kommissies en sinodes wat in baie gevalle lankal wegbeweeg het van die Woord van God.  Wanneer daar dan ‘n protes opgaan van ware dissipels van Jesus in hierdie denominasies word die bose besluite as’t ware uitgestel vir ‘n tyd.  Twee treë vorentoe, maar net een tree terug.  Dit is hoe die satan werk. So raak mense mos al hoe meer familiêr met dwaling, totdat hulle dit heeltemal aanvaar.  Moenie doodkook in die pot nie.  Spring uit.  Die temperatuur in daai pot gaan nooit weer daal nie.

Wednesday, 20 April 2016

KOM KNIEL BY DIE KRUIS

“Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” Mattheüs 11:27 

Die verhouding tussen die Vader en die Seun is absoluut uniek, maar dit is nie geslote nie.  Dit is wel net toeganklik deur een enkele kanaal, die Seun.  Jesus maak dit baie duidelik dat Hy nie in kompetisie is met enige ander gesag op aarde nie.  Daar is maar net een gesag en dit is die gesag wat die Vader vir die Seun gegee het.  Daarom kan niemand wat weier om die knie te buig vir Jesus Christus ooit aanspraak maak daarop dat hulle God ken nie en niemand kan die ewige lewe verkry as hulle nie die Vader ken nie.

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”  Johannes 17:3 


Deur die eeue eggo die stem van die Seun en roep die mensdom om te kom kniel by die kruis.  Slegs daar gaan die hemele oop en begin die aangesig van die Vader herkenbaar word.  Slegs daar wink ‘n nuwe lewe en kry gebroke mense vergifnis, genesing en ‘n hoop wat nooit sal beskaam nie.

Wednesday, 13 April 2016

JY WORD GENOOI

Het jy al geantwoord op God se uitnodiging?  Hier is dit:

“O Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!”  Jesaja 55:1

“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”  Openbaring 22:17 

Daar is geen plaasvervanger vir geestelike dors nie.  Net die wat werklik dors na God sal wegdraai van die besoedelde fonteine van die wêreld en drink uit die onuitputlike fontein van verlossing.  Tog staan die uitnodiging regdeur die Bybel en nooi God die gevalle mensdom om hulle dorstige siele te kom verkwik by die heerlike waters wat Hy beskikbaar maak.  Hierdie waters is natuurlik niks anders nie as verlossing en versadiging in Jesus. 


Die “kinders van Korag” roep uit in Psalm 42 vers 2 “soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”  Dit is so betekenisvol dat hierdie Goddelike uitnodiging ook reg aan die einde van die Bybel weer gerig word tot die “wat dors het” en die “wat wil”.  Daar is vandag soveel “fonteine” in die wêreld wat belowe om die mens se dors te les, maar niks en niemand anders as Jesus kan ons geestelike dors les nie.  Dissipels van Jesus is per definisie mense wat “water skep met vreugde uit die fonteine van heil” (Jes. 12:3).  Maar is ons nog dors vir die teenwoordigheid en die Persoon van Jesus, of het ons tevrede geraak met die leë beloftes van alternatiewe bronne van bevrediging?

Monday, 11 April 2016

VREDE IN DIE STORM

Alle wedergebore mense het reeds vrede met God op grond van regverdigmaking deur die geloof (Rom. 5:1).  Nie almal leef egter met die vrede van God in hulle binneste as ‘n daaglikse werklikheid nie. 

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”  Jesaja 9:5-6 

Die “gawe van geregtigheid” (Rom. 5:17) is bedoel om ‘n heerskappy van vrede in ons lewens te vestig wat radikale implikasies het vir alle aspekte van ons bestaan op aarde.  Hierdie vrede vorm die basis van ‘n lewe van oorwinning.  Hierdie vrede maak dit moontlik vir jou om God se stem binne-in die storms van die lewe te hoor.  Hierdie vrede maak dit ook moontlik om vrede te hou met ander gelowiges.  Hierdie vrede is anders as die wêreld se vrede, want dit is geensins afhanklik van omstandighede nie (Joh. 14:27). 

Hierdie vrede is baie dieper as enigiets wat vandag beskikbaar is by die apteek of die drankwinkel.  Hierdie vrede is ten volle toeganklik vir jou, want dit is joune “in Christus”.  Om die waarheid te sê dit is Jesus se eie vrede wat Hy vir jou beskikbaar stel.  Hy begeer om dit vandag nog vir jou te laat ervaar as ‘n blywende werklikheid.  Rus net in Hom.  Gee net oor.  Jy is in elk geval nie in beheer nie, God is.  Klink dit te eenvoudig?  Dit is nie, dit is ingesluit in die goeie nuus van die evangelie en dit is jou erfdeel in Christus!


“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Johannes 14:27  

Tuesday, 5 April 2016

SPONTANE EN KINDERLIKE LOF HERWIN

Hoe moet ons dink oor die uitbundige en spontane lof aan die Here waarvan die Psalms en ander dele van die Bybel propvol is?

‘’ ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” Ps. 103:1 

“Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.”  Psalms 105:1 

“Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.”  Ps. 106:1 

“Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!”  Ps. 117:1 

“Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE!”  Ps. 134:2 

“Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!”  Ps. 106:48 

 ‘n Eerlike omgang met die Skrif moet ons sekerlik laat stilstaan en vra of ons lewens ook gekenmerk word deur hierdie soort lof wat vrylik vloei uit ‘n gelowige hart.  Nie net moet ons hierdie vrae vra m.b.t. ons persoonlike lewens nie, maar ook in terme van ons gesinne en gemeentes.  Ongelukkig is ons dikwels hopeloos te bewus van hoe ander mense dink oor lof en dit bring ‘n berekendheid by ons wat spontane lof en danksegging onderdruk, inhibeer en in baie gevalle heeltemal laat verdwyn. 


Is dit moontlik vir ons om uit te styg bo ons dikwels versmorende godsdienstradisies en om so bewus te raak van God dat ons die spontaneïteit van ‘n kind kan herwin voor Sy aangesig?  Kan ons nie ‘n slag vergeet van ander mense en net ons eie harte ondersoek nie?  Is dit moontlik om die kompleksiteit en doodloopstrate van die hele debat oor lof en aanbidding in ons tyd eenkant toe te skuif en net weer spontaan uiting te gee aan my liefde vir die Here as ‘n eenvoudige dissipel van Jesus?  En kan ek dit doen sonder om ander mense te probeer beïndruk deur my uitbundigheid of vir hulle aan die ander kant ‘n punt te probeer bewys deur my stoere onbetrokkenheid? Vra die Here self of Hy tevrede is met jou lof aan Hom in jou persoonlike lewe, jou gesin en jou gemeente.