Wednesday, 29 June 2016

‘N PERSOONLIKE WANDEL MET JESUS

Selfs die mees geestelike persoon op aarde kan nie Jesus vir jou wees nie. Die beste leier op aarde kan jou net lei ná Jesus, hy kan nooit Jesus se plek inneem of Jesus in enige sin vervang nie. Jong gelowiges moet uit die staanspoor bemoedig word om in geloof te bou aan hulle eie verhouding met Jesus, totdat hulle volwasse word en sterk kan staan in lojaliteit aan Jesus alleen.  Gemeentes, leiers en bedieninge wat nalaat om dit te doen, is direk verantwoordelik vir die geestelike stagnering en onvolwassenheid van die mense wat deur hulle bedien word.

Die goeie nuus van die evangelie is baie minder goed as ek nie persoonlik en sonder middelaars met Jesus kan wandel nie.  Ons moet ons dringend beywer daarvoor om ‘n gemeentekultuur van leier-afhanklikheid te laat vaar en dit te vervang met die Nuwe Testamentiese kultuur van persoonlike omgang met die lewende Jesus.


“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing.” Filippense 2:12  

Wednesday, 22 June 2016

GEVAARLIKE PLAASVERVANGERS

Die doel van die evangelie is die vorming van Christus in ons (Gal. 4:19) sodat die karakter van God kenmerkend kan word van ons lewe op aarde (Joh. 13:35).  Goddelike, bonatuurlike “liefde uit ‘n rein hart” (1 Tim. 1:5) is bedoel om die eindpunt te wees van alle geestelike lering en instruksie.  Dít is die transformasie (2 Kor. 3:2-3) van individue en gemeenskappe wat die Nuwe Testament oor en oor op soveel verskillende maniere vir ons probeer tuisbring. In hierdie proses is genade die hartklop en geregtigheid in Christus die kragtige brandstof wat volwassenheid bevorder en God se karakter in ons sigbaar begin maak.  Op die pad na volwassenheid is daar egter twee baie gevaarlike plaasvervangers wat ons so maklik bedrieg en die idee gee dat ons volwassenheid bereik het. 

“En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.” 1 Korinthiërs 13:2 


Paulus draai nie doekies om nie.  Hy sê reguit dat gawes van profesie en kragtige geloof leeg en betekenisloos is as dit nie uit ‘n hart van liefde kom nie. Hy sê selfs dat ‘n volledige kennis en insig in alle geheimenisse nie ‘n doel op sigself is nie! Verstommend.  In kontras met dinamiese gawes en ‘n ensiklopediese kennis klink liefde so ordinêr en amper flou, as ons moet eerlik wees.  Maar moenie ‘n fout maak nie, hierdie baie spesifieke evangelie-liefde is die gevolg van die bonatuurlike werk van die Heilige Gees in ons harte en is die mees dinamiese ding in die heelal.  Om kennis te versamel en begaafd te wees sê baie min van my karakter.  Die ware toets vir my greep op die evangelie is of dit my transformeer van ‘n self-gerigte nemer na ‘n God-gefokuste gewer wat ander mense dien met bonatuurlike liefde. Hierdie liefde lyk ook dikwels baie anders as die liefde van die wêreld. Daarom is dit krities belangrik vir dissipels van Jesus om ‘n baie duidelike prentjie te hê van wat die Bybel beskou as geestelike volwassenheid.  Maak dít jou doel, want dit is God s’n met alles wat Hy in jou lewe probeer doen.

Monday, 20 June 2016

DIE WARE DOEL VAN DISSIPELSKAP

Die hele Nuwe Testament is gemik daarop om dissipels van Jesus by geestelike volwassenheid te bring (Efes. 4:13). Die doel is nie net redding of wedergeboorte nie, net soos wat ons nie die geboorte van ‘n baba beskou as die doel nie, maar as die begin van die pad na volwassenheid.

Ons Bybelstudies en baie van ons preke en leringe is dikwels gefokus op kennis in plaas van op die volwassenheid van die dissipel van Jesus. Dissipelskap se hele doel is geestelike volwassenheid, nie net die oordrag van kennis en informasie van een persoon na ‘n ander nie.  Kennis en insig speel vir seker ‘n baie belangrike rol in die proses, maar dit is nie die doel nie.  Volwasse dissipels reflekteer die heerlikheid van God in ‘n toenemende mate en niks is belangriker as dit nie.  Die Vader het ons nie net gered om hemel toe te gaan of om godsdienstig te lyk op ‘n Sondag nie, maar om volwasse te word in Christus sodat ons Sy heerlikheid op hierdie aarde kan bekend maak elke dag van die week.


“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.”  Efesiërs 4:11-13  

Wednesday, 15 June 2016

HOE DEFINIEËR JY OORVLOEDIGE LEWE?

Die oorvloedige lewe waarvan Jesus praat in Johannes 10 vers 10 is Sy eie lewe wat Hy gekom het om in almal te plaas wat in Hom sou glo. Ons het gedurig nodig dat die Heilige Gees ons perspektief op "oorvloedige lewe" aanpas en wysig. Ons is so geneig om ons lewens te meet aan die natuurlike en materiële in plaas van die bonatuurlike werklikheid van ons eenheid met Christus.

Ons kan die beste moontlike omstandighede beleef, maar as die opstandingslewe van Christus nie in en deur ons vloei nie is dit níé oorvloedige lewe nie. Die teendeel is ook waar. Ons kan die swakste en treurigste omstandighede beleef (soos Paulus in die tronk), maar as die opstandingslewe van Christus in en deur ons werk, is ons as't ware omsingel deur “oorvloedige lewe”.   

As daar vrede, blydskap, liefde, hoop en lankmoedigheid in ons binnewêreld heers is ons oorwinnaars selfs in die swakste omstandighede denkbaar. God verander ons omstandighede met tye en ander kere nie. Die belangrike vraag is egter hoe definieër ek en jy “oorvloedige lewe”. Wat is jóú definisie van oorvloedige lewe?

 “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het.” Filippense 1:12


"Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Korinthiërs 12:10

Monday, 13 June 2016

REDDING NOU, KONINKRYK LATER?

 "En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie." Markus 1:14-15

Is dit moontlik om die Nuwe Testament deur te lees en tot die gevolgtrekking te kom dat die koninkryk van God nie nou-al 'n eis op my lewe het nie en dat God eerder in die hier en nou gefokus is op my persoonlike redding? Dít is onmoontlik en so 'n gevolgtrekking sou fataal wees. Maar is dit nie presies die soort evangelie wat ons al vir dekades lank preek nie? "Jesus het my lief net soos ek is, Hy skenk my vergifnis vir my sondes en dan is Hy heel tevrede daarmee as ek aanhou leef asof Sy koninkryk geen eis op my lewe het nie".


Jy kan die Nuwe Testament 'n honderd keer deurlees en jy sal nie so 'n evangelie daar vind nie!  Wat jy wel sal vind is 'n evangelie wat 'n absolute appél op alle mense maak om hulle oë te vestig op Koning Jesus en om ernstig ag te slaan op Sy oproep tot totale oorgawe aan Sy heerskappy hier en nou! Jesus en die apostels het dit baie duidelik gemaak dat ons in alles die koninkryk van God eerste moet stel (Matt. 6:33; Hand. 20:25), nie eendag in die hemel nie (dan is dit te laat), nou, vandag. Staan ons werklik onder die absolute heerskappy van Christus in ons persoonlike lewens, met ons finansies, in al ons besluite, in ons gesinne en in ons gemeentes?  Mag die Heilige Gees ons lei na ‘n eerlike antwoord.

Wednesday, 8 June 2016

HOEKOM WERK DIE WET NIE?

“Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus...” 1 Korinthiërs 9:21

Daar is niks fout met die wet van God nie. Die wet is “heilig en regverdig en goed” (Rom. 7:12). Die probleem lê by ons (Rom. 8:3). Mense is gemaak om te leef vanuit Christus. God se plan was van die begin af om Christus in ons te plaas (Gal. 2:20) en Hom vir ons te gee as ons lewe, wysheid, geregtigheid, krag en hoop.

Wetteloosheid lei altyd tot 'n losbandige en self-gerigte lewe. Dit is nie moeilik om raak te sien en te verstaan nie. So 'n lewe lyk na vryheid, maar is in werklikheid sieldodende slawerny aan sonde en self.

Die vraag is of 'n lewe onder die wet meer vryheid bied. Die antwoord is in hierdie geval nie so ooglopend nie. As ek wegdraai van ‘n wettelose en losbandige lewe is die alternatief sekerlik tog 'n lewe onder die veilige beskerming van wette en reëls wat my selfsug en eiesinnigheid aan bande lê, of hoe? In teorie klink dit goed, maar in die praktyk is dit 'n totale flop. Die sondeval het ons “eie ek” onweerstaanbaar sentraal kom stel in ons binnewêreld. Wat dus gebeur met 'n lewe onder die wet is dat dit áltyd lei tot 'n self-verbetering oefening wat my net weer terugneem presies na die plek waar ek begin het, die self! Wetteloosheid lei tot 'n losbandige self-bevrediging en uiteindelike self-vernietiging. 'n Lewe onder die wet tot 'n fatale self-verbetering oefening wat my weereens los by die verwoestende self-lewe met al sy doodloopstrate en ironies genoeg ook losbandigheid. In hierdie geval net losbandigheid onder die dekmantel van vormgodsdiens en skynheiligheid. Hoe nou gemaak?

God se antwoord is Christus in ons! Om “onder die wet van Christus” te wees is waarlik vryheid, want dit is die enigste omgewing en sfeer waarbinne my oë einde ten laaste wegdraai van myself en op Jesus rus. Hy in my en ek in Hom. Dit is die enigste lewe van vryheid vir mense. Die enigste verlossing van die self is deur die dood! In Christus het ons reeds gesterf vir daardie self-gerigte lewe en die enigste lewe wat nou sin maak,is die een wat Hy binne-in ons leef (Gal. 2:20). ‘n Lewe van vryheid en vreugdevolle gehoorsaamheid aan die Woord is net moontlik “in Christus”.


“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.” Johannes 14:20

Monday, 6 June 2016

VEILIGHEID EN VERVULLING IN CHRISTUS

Ons spandeer die meeste van ons tyd op aarde om sekuriteit en vervulling vir ons en ons geliefdes te verkry. Ons wil almal veilig voel en binne 'n veilige omgewing vervulling beleef. Die werklikheid is egter dat ons leef in 'n gevalle en stukkende wêreld met stukkende en sondige mense. In hierdie wêreld vertrou ons al hoe meer op tegnologie om vir ons veiligheid en vervulling te gee wat "permanent" is. Wat sal gebeur met ons as die tegnologie skielik sou faal en ons nie meer die dosyne krukke het wat ons so swaar op leun nie?

Die voordele van tegnologie is ongetwyfeld gawes van God, maar dit was nooit bedoel om ons vertroue in God self te vervang nie. Daar is net een permanente voorsiening vir sekuriteit en vervulling en dit is nie materiēle dinge nie, maar 'n Persoon. God het sy Seun gegee om beide ons sekuriteit en vervulling te wees nou en vir ewig. Wanneer ons geskape wesens of vervaardigde kommoditeite in Jesus se plek stel is ons besig met afgodery. Ondersoek jou hart en vra jouself waar jy werklik jou sekuriteit en vervulling vind. Is dit in Christus of in die gevalle skepping? Daar is so 'n verstommende vrede en blydskap beskikbaar vir die wat hulle oë van die skepping afhaal en op Jesus plaas.


"Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut. Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ’n steil muur in sy verbeelding." Spreuke 18:10-11

Wednesday, 1 June 2016

NET GENADE

Hoekom sê God in die Ou Testament dat Hy 'n “ewige verbond” wil sluit met mense en dat hierdie verbond alles te doen het met 'n verhouding van genade (Jes. 55:3)? Hoekom begin en eindig Paulus al dertien sy briewe met betekenisvolle verwysings na die genade van God in Christus? Hoekom word beide Jesus en die apostels se bedieninge beskryf as bedieninge van genade (Joh. 1:14; Hand. 4:33)? Hoekom word die evangelie beskryf as 'n getuienis van die “genade van God" (Hand. 20:24)? Hoekom eindig die Bybel met 'n vers wat genade in Christus voorhou as die enigste heil van dissipels van Jesus (Openb. 22:21)?

Want net genade kan 'n verlore mens tot redding bring. Net genade kan 'n mens se lewe verander en toenemend transformasie bewerkstellig. Net genade kan 'n dissipel van Jesus wat die pad byster geraak het, herstel en weer oprig. Net genade gee ons oorwinning oor sonde. Net genade maak van ons mense wat gee en nie net heeltyd wil neem nie. Net genade kan 'n gemeente verander en maak wat God wil hê dit moet wees. Net genade kan twee harte wat in konflik is weer versoen. Net genade kan 'n stukkende huwelik herstel. Net genade lei ons stap vir stap in die weë van die Here. En net genade sal ons lei tot by ons ewige tuiste waar ons vir altyd die bestendige genadebewyse van God in sy Seun sal besing.

Genade is daardie misterieuse kwaliteit in die hart van God wat sy Seun stuur om te sterf vir sondaars en rebelle. Jesus Christus gee nie net genade nie, Hy ís die genade van God. Genade se appél is eenvoudig. Hoor en reageer in bekering en geloof.