Wednesday, 31 August 2016

WAAR IS DIE LIG?

Petrus die ingenieur-dissipel is die lig by sy werk.  Martha die huisvrou-dissipel is die lig in haar huis en buurt.  Jannie die skolier-dissipel is die lig by sy skool.  Die lig is nie iets daar buite iewers of iets wat deur een of ander kerklike institusie aangeskakel kan word nie.

"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie." Mattheüs 5:14

Die lig van God op hierdie aarde is die lewe van Christus in elke ware dissipel. Die dominee, pastoor of apostel ís nie die lig nie.  Hulle hét ook net die lig as hulle werklik wedergebore is.  Die kerkgebou is nie die lig nie.  Die kerkraad is nie die lig nie.  Die byeenkoms van gelowiges gee lig vir die wat dit bywoon, maar dit ís nie die enigste lig nie. Die Bybel bevat die lig, maar daardie lig moet in ons lewens neerslag vind. 

Jesus was die lig op hierdie aarde tydens sy lewe hier twee duisend jaar gelede, maar nou is die lig in die gemeente omdat ons Jesus in ons het.  Nou bring God lig op aarde deur miljoene lede van die liggaam van Jesus.

"En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul."  Efes. 1:22


Die Lig het in jou kom woon die dag wat jy wederbaar is deur die Gees van God.  Die Lig skyn deur jou soos wat jy in geloof oorgee aan die Lewe van Jesus in jou sodat Hy gevorm kan word in jou (Gal. 4:19).

Monday, 29 August 2016

GOD SOEK DAAI WIL

Jesus het Sy lewe op aarde in totale oorgawe aan die Vader geleef en dit is vir altyd en vir almal 'n onfeilbare spieël van wat God verlang van die mens.

"En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil." Markus 14:36   

Om in Jesus se voetspore te volg is meer as net om Sy naam in sekere kontekste te gebruik en om 'n hoop godsdienstige dinge te doen.  Vormgodsdiens het nog altyd deur al die eeue probeer om te onderhandel met God.  Ons bied aan om sekere godsdienstige dinge te doen en om 'n kortlys van verkeerde dinge op te gee, volgens ons eie oordeel, en dan soek ons al die voordele van verlossing.  Jesus sny met 'n vlymskerp mes deur hierdie illusie van die gevalle hart.

"Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Matt. 16:24-25 


Verlossing is per definisie die oorwinning van my wil sodat God die beheer kan hê wat Hom alleen toekom.  Hoe kan ons vergifnis wil hê vir die verwoesting wat ons rebelse wil veroorsaak het sonder om daardie selfde wil oor te gee in die hande van die Vader sodat die verwoesting kan stop?  'n Verloste lewe is nie die illusie van vormgodsdiens of om soos 'n willose robot te probeer funksioneer nie.  Dit is die gedurige, vreugdevolle oorgawe van my wil sodat God in elke area van my lewe Sý wil kan laat geld in en deur Christus.

Wednesday, 24 August 2016

GEHOORSAAMHEID TROEF KENNIS IN ONS DAAGLIKSE LEWE

Ons moet versigtig wees om nie gehoorsaamheid en kennis teenoor mekaar te stel nie, want ons kennis van die Woord is bedoel om groter gehoorsaamheid te bring en onwilligheid om te groei in kennis is op sigself ongehoorsaamheid.  Maar dit is tog ook so dat ons soms so 'n soeke het na kopkennis, of 'n nuuskierigheid oor wat ons nie verstaan in die Bybel nie, dat ons nalaat om dit wat reeds vir ons duidelik is te gehoorsaam.  In ons daaglikse lewe in die gesin en by die werk is daar baie situasies wat net kinderlike gehoorsaamheid in die krag van die Gees verg om groot deurbrake van God te bring.  Moenie dat jou frustrasie oor dinge wat jy nog nie verstaan nie jou beroof van die oorvloedige geestelike lewe wat hier en nou in Christus beskikbaar is nie.  Romeine 10 vers 8 sê die Woord is naby jou "in jou mond en in jou hart".  Christus leef in die ware dissipel.  Hy is teenwoordig in elke situasie!

Gehoorsaam dit wat jy klaar verstaan in terme van God se wil vir 'n situasie en vertrou die Here om jou met verloop van tyd insig te gee oor die res, soos wat jy geestelik groei.  Kennis, insig en begrip is iets wat die Here bonatuurlik vir ons skenk soos wat ons getrou die Bybel lees en bestudeer en dit gehoorsaam wat ons reeds verstaan. 


"Want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand."  Spreuke 2:6  

Tuesday, 23 August 2016

WANNEER VORMGODSDIENS GEHOORSAAMHEID VERVANG

Om God se stem self te hoor in die Woord en dan te gehoorsaam in die krag van die Gees is van baie meer waarde as duisende halfhartige godsdiensaktiwiteite, selfs al doen jy dit vir dekades lank.

"Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme." 1 Samuel 15:22

Koning Saul het halfhartig gehoorsaam en toe nog boonop die fatale fout gemaak om eiesinnige godsdiens vir die Here aan te bied. Die Here is geensins beïndruk met enige van ons godsdiensaktiwiteite, hetsy persoonlik of in die gemeente, as dit nie vloei vanuit 'n gehoorsame hart en in lyn met Sy spesifieke opdragte vir elke situasie nie. Ons God is 'n lewende God wat 'n persoonlike verhouding van kinderlike gehoorsaamheid met elkeen van ons eis.


As ons byvoorbeld net uit gewoonte ons gemeente se dienste bywoon en nie ingestel is om persoonlik die Here se stem te hoor en gehoorsaam nie is dit niks beter as om na 'n Hindoe tempel gaan nie. Hoekom nie? Want dit is dan maar net 'n ander vorm van godsdiens op hierdie aarde en dit het géén waarde in God se oë nie. Inteendeel, dit dien om ons te verblind vir ons eie geestelike doodsheid en die einde van daardie pad is rampspoedig. Mag ons almal sonder versuim ons rug keer op vormgodsdiens en met ons hele hart glo dat God met ons wil en kan praat in Sy Woord deur Sy Gees. Dit is God se uitgesproke wil vir elkeen van ons.

Wednesday, 17 August 2016

VORMING EN VRUG

“My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.”  Galasiërs 4:19

Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”  Galasiërs 5:22

Die vorming van Christus in ons in Galasiërs 4:19 stem ooreen met die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22.  Vrug is iets wat groei en vorm aanneem.  Die vorming van Christus in ons is die “vrug van die Gees” wat groei in ons.  Hierdie vrug is die bonatuurlike liefde met al sy “vertakkinge” wat hier in Gal. 5:22, in 1 Kor. 13, en op vele ander plekke in die Nuwe Testament in detail beskryf word sodat ons kan verstaan wat die Heilige Gees besig is om te doen in ons.  Dit is die hele doel van die evangelie (1 Tim. 1:5); om die karakter van Christus ‘n werklikheid te maak in ons daaglikse lewe. 


Dit is so maklik om hierdie punt te mis.  Die manier wat God se heerlikheid bekend word op aarde is deur dissipels van Jesus wat soos Hy begin leef en optree. Dit kan nooit gebeur deur blote vasberadenheid en dissipline nie.  Dit is Christus self wat deur die Gees in ons gevorm moet word soos wat ons wegkyk van onsself en Hom erken as die middelpunt van ons lewens.  Hy is ons wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing (1 Kor. 1:30).  Kortweg, Hy is ons alles en wanneer ons dit in geloof erken en omhels vind die wonderwerk van transformasie binne-in ons plaas met uiterlike effek in ons karakter en optrede.  Dit was God se meesterplan van die begin af.

Monday, 15 August 2016

VERVOLGING IS NIE OPSIONEEL VIR DISSIPELS VAN JESUS NIE

"Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het." Mattheüs 5:11-12

Jesus maak dit van die begin van Sy bediening af baie duidelik dat belediging en vervolging wag op die wat Hom getrou volg en Sy Woord vreesloos spreek. Ons moet geensins verbaas wees of moedeloos word oor sulke vervolging nie. inteendeel, Jesus sê ons moet ons verbly, want dit wys vir ons dat ons op die regte pad is en aan die einde van hierdie pad wag daar groot heerlikheid en beloning.


Ons hoef nie te gaan soek vir vervolging nie, dit kom saam met die ongeveinsde spreek van die waarheid. Ons moet ook nie probeer om met opset aanstoot te gee nie. Ons opdrag is om die waarheid in liefde te spreek (Efes. 4:15), maar ook om lief te hê in waarheid (2 Johannes vers 1). Nie waarheid óf liefde nie, maar waarheid in liefde en liefhê in waarheid. Belediging en vervolging sal altyd sy verskyning maak op daai pad, maar ook groot vreugde en beloning.

Wednesday, 10 August 2016

DIE KRAG VAN GELOOF EN HOOP

"En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!" Romeine 15:13

Hierdie vers in Romeine gee vir ons die sleutel tot 'n oorwinnende lewe in Christus. Hoop is nie iets wat ek in myself kan opwek of wat ek deur positiewe denke uit dun lig kan produseer nie. Hoop is iets wat ek ontvang van Hom wat genoem word "die God van die hoop" wanneer my geloof in Jesus groei en sterker word. En op sy beurt kan geloof net sterker word wanneer ek die Woord ruimte gee in my binneste deur dit te lees en bepeins (Rom. 10:17). 


Dit is net op hierdie punt in my lewe as 'n dissipel wat die wonderlike siklus van heerlikheid as't ware geaktiveer word deur die Vader self. Deur geloof vul die Vader my innerlike mens met blydskap en vrede en dit lei altyd tot 'n oorvloedige en groeiende hoop deur "die krag van die Heilige Gees". Hierdie heerlike hoop lei dan weer onvermydelik tot groter geloof en die hele proses begin van voor af. Ons eenheid met Christus is "die hoop van die heerlikheid" (Kol. 1:27) en hierdie heerlikheid neem toe soos wat ons geloof in ons identifikasie met Christus toeneem (2 Kor. 3:18b) en ons sien dat ons toekoms onlosmaaklik verbind is aan Syne! Om op te som: die openbaring van Christus lei tot geloof wat vrede en blydskap soos 'n fontein in my binneste oopmaak en hierdie fontein se vars waters bring 'n immer-groeiende hoop. G'n wonder dan dat die Bybel leer dat die regverdige se hele lewe op hierdie aarde gebaseer is op geloof nie (Rom. 1:17b)!

Wednesday, 3 August 2016

'N WOORDREWOLUSIE BEGIN BY JOU

Dit is tyd vir ons om 'n radikale breuk te maak met die middeleeue waar net die priesters die Bybel gehad het en dit met opset moeilik gemaak het sodat mense nie geestelik ingelig kon wees om uit die greep van die Rooms Katolieke kerk te ontsnap nie.  Geen wonder dat dit die donker eeue genoem is nie. Het dit egter nog enigiets te doen met ons hier in die 21ste eeu? 

'n Paar eenvoudige vrae kan dalk help om ten minste vir jou as indiwidu lig te gee daaroor, ongeag wat in jou gemeente aangaan.  Het jy al ooit werklik eienaarskap geneem van al 66 boeke van die Bybel? Glo jy dat God jou persoonlik kan, en wil, bedien uit elkeen van daardie boeke? Het jy al ten minste die Nuwe Testament selfs net een keer deurgelees? Het jy 'n gunsteling boek of twee uit die Ou en Nuwe Testament? Lees jy ooit die Bybel vir jou familie? Bespreek jy die Bybel met jou gesin? Pas julle dit prakties toe as 'n daaglikse realiteit in woord (gesprekke) en daad as 'n spontane leefstyl sonder om te verval in vormgodsdiens of om mekaar te beskuldig van prekerigheid? Is jy oop en toeganklik vir 'n radikale Woordkultuur onder gewone mense of is dit vir jou gerieflik en gemaklik om aan te hou glo dit is die domein van die "professionele mense"? 


Wat is jou antwoord? Leef jý nog in die donker eeue? God sal jou beide die begeerte en vermoë gee om uit daardie historiese tronk te breek, want dit ís Sy wil vir jou! Hy wil hê jy moet in die krag van die Gees sy Woord liefhê, bedink, bespreek, en prakties toepas in jou gesin en gemeente elke dag van die week. Moenie wag vir ander mense nie. Begin jý die rewolusie in jou gesin en gemeente. God self sál jou toerus en bekragtig vir hierdie taak. Begin net te lees!

Monday, 1 August 2016

STAP SAAM

“Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Johannes 14:18 

Wat ‘n kosbare belofte gee Jesus hier in Johannes 14 vir Sy dissipels!  Net soos hulle vir drie en ‘n half jaar saam met Hom gestap het in Sy bediening op aarde was dit vir hulle (en vir ons) beskore om die reis voort te sit saam met Hom die oomblik wat hulle die Heilige Gees ontvang het. 

Jesus is in ons en by ons deur die Gees en Hy vra maar net dat ons saam met Hom sal stap sodat Hy ‘n gevalle wêreld kan bedien deur ons as Sy liggaam. Dit is in eenvoudige terme wat dit beteken om “deur die Gees gelei” te word.  Ons probleem is egter dat ons generasie dink (en dikwels geleer word) dat die geseënde lewe daaroor gaan dat Jesus saam met óns stap.  Dit is verkeerde kant om en is ‘n fatale oordeelsfout.  Hy is die Here en ons die dissipels.  Ons moet Hom volg waar Hý lei. Dit is absurd om te verwag dat Hy óns moet volg.  Soos met die Émmaüsgangers in Lukas 24 sal Jesus wel met tye Homself op ‘n besonderse manier openbaar aan ons op ons lewenspad, maar die doel daarmee is altyd dat ons Hóm dan meer toegewyd moet begin volg.


Die kragtige werking van God in die boek Handelinge is maar net die gevolg van dissipels en gemeentes wat hierdie waarheid verstaan het.  Hulle het geweet dat die absolute prioriteit van hulle lewens was om deur die Woord, gebed en gemeenskap die rigting waarin Jesus stap te onderskei en dan te volg in kinderlike gehoorsaamheid.  Verstaan ons dit?