"En
nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie...." 1 Korinthiiërs
13:13
Regdeur die Nuwe Testament praat Jesus en die apostels op
verskillende maniere van geloof, hoop en liefde; dikwels van geloof en liefde
wat saamwerk in die dissipel se lewe en soms van al drie saam. In Kolossense 1
leer Paulus ons dat die drie onlosmaaklik aan mekaar verbind is en dat al drie
geanker is in Jesus.
"Omdat
ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die
heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan
julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die
evangelie." Kolossense 1:4-5
Ons kan hierdie drieling van die Nuwe Testament die groot
drie in die dissipel se lewe noem. As 'n
mens wil toets of jou belydenis van Jesus eg is, hoef jy nie veel verder
te soek as hierdie drie kwaliteite nie. Is
hulle teenwoordig in jou hart en lewe?
Ware dissipels van Jesus se geloof rus ten volle in wie
Jesus is en wat Hy vir ons gedoen het aan die kruis. Hulle vertrou nie in die
mens of in hulle eie krag en wysheid nie. Hulle geloof vind tweedens
uitdrukking in liefde vir ander gelowiges. Jy hoef hulle nie te probeer oortuig
dat liefde altyd saam met ware geloof stap nie. Laastens is hierdie geloof
en liefde van die ware dissipel geanker in die sekere wete dat Jesus
opgestaan het uit die dood en dat daar daarom ook vir ons 'n heerlike
opstanding beskore is. Hierdie drie geestelike kwaliteite ontvang ons as't ware
in saadvorm by die wedergeboorte en soos wat ons geestelik groei word hulle al
hoe sterker in ons hart. Dit is belangrik dat ek sal groei in geloof, hoop en
liefde, maar eers moet ek seker maak dat die groot drie wel, in watter mate ookal, in
my hart teenwoordig is. Net so kan ek weet dat Christus werklik in my woon
(2 Kor. 13:5).