Monday, 24 April 2017

HIERDIE PLEK GAAN BRAND, BOET!

Ons generasie is besig om die seilstoele op die Titanic mooi te rangskik terwyl hy besig is om te sink.  Ons huur vrolik binnenshuise versierders om 'n brandende gebou fraaier en meer "cozy" te maak. Jesus het gesê Sy dissipels is "die lig van die wêreld", maar ons moet dit binne konteks van die hele boodskap van die Nuwe Testament verstaan.  Ons optimisme oor hierdie wêreld en sy toekoms moet 'n nekslag toegedien word sodat ons Bybels kan begin dink oor die koninkryk van God en ons bestaan op aarde. 

Waar dissipels van Jesus betrokke is, sal daar noodwendig opheffing plaasvind, maar wat is ons boodskap aan hierdie wêreld?  Dit is veronderstel om te wees: "Hierdie plek gaan brand, maar daar is 'n uitweg, Sy naam is Jesus".  Die Noag boodskap is steeds van toepassing.  Die einde kom, maar daar is 'n ark deur God berei.  Die wat dit glo kan die komende oordeel ontvlug.  Die wêreld sal nie weer deur water vergaan nie, maar hy gaan beslis deur vuur vergaan.

Waar is jou hoop, my vriend, en wat is jou boodskap?  Lees asseblief die onderstaande tekste biddend en hoor wat die Heilige Gees vir jou sê.

"Waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.  Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense." 2 Petrus 3:6-7 

"Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt." 2 Petrus 3:12 

"En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag." Handelinge 2:40 

"En aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele  in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8 

"En sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos." 1 Thessalonicense 1:10 

En dan...


"En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie." Openbaring 21:1  

Wednesday, 19 April 2017

IS JY TUIS IN JOU EWIGE TUISTE?

Die evangelie van Johannes maak dit baie duidelik dat Jesus selfs terwyl Hy op aarde was 'n hemelse adres gehad het.

"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes 1:18 

Jesus het geleef in Sy Vader en vanuit Sy Vader se liefde en gemeenskap.  Dit word op verskillende maniere vir ons uitgebeeld in die evangelie van Johannes.  Die verstommende is egter dat hierdie bestaanswyse en manier van leef ook van die begin af Jesus se plan was vir Sy dissipels.  Kyk bietjie wat bid Hy daar in Johannes 17.

"Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld." Johannes 17:24 

Sjoe! 'n Verstommende versoek.  Baie jare later skryf Paulus aan die gemeente in Thessalonika en hy bevestig sommer met die intrapslag dat hulle in die Vader en die Seun is.  Dit is hulle ewige tuiste, nou-al!

"Paulus en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense wat in God die Vader en die Here Jesus Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 1:1 


Ons is steeds in ons liggame op hierdie aarde, maar ons geestelike tuiste is vandag reeds die Vader en die Seun.  Is jy tuis in jou ewige tuiste en geniet jy die geestelike voordele in die hier-en-nou?  Baie dissipels leef ongelukkig met 'n baie radikale skeiding in hulle denke tussen die tydelike/sigbare en die ewige.  So asof die geestelike en die ewige eers "eendag in die verskiet" 'n werklikheid gaan word.  Dit is net eenvoudig nie waar nie.  Ons kan nou-al begin leef in die geestelike werklikhede in Christus.

Monday, 17 April 2017

HEERSKAPPY IN DIE HEMEL BRING OORWINNING OP AARDE

Christus het getriomfeer oor al die magte en kragte van die duisternis en gaan sit as Heerser aan die regterhand van die Vader.  Ons is ten volle geïdentifiseer met Sy heerskappy.  Lees die volgende drie verse in Efesiërs saam in hierdie konteks.

"En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee." Efesiërs 1:22 

"En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6

"Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word." Efesiërs 3:10    

Dit is dus baie duidelik dat ons nie nodig het om self oorwinning te bewerkstellig nie. Die probleem lê nie daar nie, maar by ons onkunde en gevolglike patetiese pogings om uit ons eie krag en wysheid deurbrake op aarde te bring vir dosyne situasies en omstandighede wat net God werklik kan verander.  Die Nuwe Testament roep ons daarteenoor op om ons hele perspektief geheel en al te verander en te begin om te kyk na alles op hierdie aarde vanuit die hemelse heerskappy van Jesus Christus. Dit verg egter 'n baie radikale verandering van denke en die geloof en geduld om ons hande af te hou van dinge wat God bonatuurlik wil bestuur volgens Sy eie wil en voorneme.


"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1  

Thursday, 13 April 2017

WAT DRYF MENSE?

Al ooit gewonder wat dryf mense? Soeke na identiteit.

Toe Jesus se bediening begin op dertig, stap Hy die geskiedenis in met 'n totale en absolute begrip van wie Hy is.  Hy is nie in kompetisie met enigiemand nie en Hy hoef niks te bewys nie, want Hy leef uit Sy Vader se opinie.  Sy waarde is nie in die weegskaal nie, want Sy Vader se hart is absoluut stabiel en onveranderlik.  In die evangelies maak Hy bekend wie Hy is, waar Hy vandaan kom en wat Sy roeping is op aarde. 

My identiteit bepaal my fokus en my doel in hierdie lewe.  Dit is duidelik regdeur die Bybel en ook in die geskiedenis.  As ek nie weet wie ek is nie sal ek verward bly oor my roeping en bestemming.  Mense jaag na geld, mag, sukses en invloed omdat hulle identiteit in wording is en hulle sin en waarde soek in dit wat hulle kan verwerf op aarde. Glo dit of nie, dit sluit ook die motivering van die godsdienstige mens en godsdiensleiers in. 

"Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God." Johannes 12:43 


Die wonderlike is dat almal wat waarlik Jesus se dissipels word oombliklik bevry word van die soeke na identiteit.  Hoekom?  Want ons verwantskap met Jesus maak ons onlosmaaklik deel van Sy identiteit en roeping. In Handelinge sien ons hoe dissipels en gemeentes lyk wat leef uit hierdie identiteit in Jesus.  In die briewe van die Nuwe Testament word terme soos "in Christus", "saam met Christus" en "deur Christus" kosbare sleutels om ons op koers te hou in ons roeping en bestemming.  Dit is net mense wat verstaan dat hulle identiteit nie meer in die weegskaal is nie wat werklik ander kan dien en hulle lewe kan uitstort in die hier-en-nou.

Wednesday, 5 April 2017

MAAK DISSIPELS OF MAAK 'N NAAM

Daar is eintlik net twee soorte gemeentes.  Die wat 'n naam probeer maak vir hulleself en die wat dissipels maak van mense.

Vir die eersgenoemde gemeente gaan dit oor getalle, geld en geboue en hulle meet suskes aan die hoeveelheid mense wat hulle in 'n gebou kan bymekaar bring op 'n Sondag.

"En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak..." Genesis 11:4 

Vir die laasgenoemde gemeente gaan dit oor die geestelike groei van die individu, die opbou van die Liggaam van Christus en die gevolglike getuienis aan die wêreld wanneer Jesus sigbaar word deur volwasse dissipels in eenheid.

"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." Mattheüs 28:19 

Dan is daar natuurlik die geestelike leiers wat glo dat dit nie nodig is om die een of die ander te kies nie.  Hoekom kan ons nie dissipels maak én 'n naam vir onsself nie?  Die waarheid is dat dit sonder uitsondering eindig by dissipels maak sódat ons 'n naam vir onsself kan maak.  Daardie benadering sal nooit die goedkeuring van God wegdra nie.  Inteendeel.


Ons moet kies.  Maak ons dissipels of 'n naam vir onsself?  Is ek in 'n gemeente waar ek 'n kop is wat getel word om die sukses van die leier(s) of denominasie te bepaal of is ek in 'n gemeente waar ek geestelik groei en begin om self dissipels te maak van ander?