Wednesday, 28 June 2017

WANNEER 'N DISSIPEL KIES OM SWAK TE WEES

Die gees van die wêreld is self-handhawing , self-vertroue en onafhanklikheid.  Daarteenoor word dissipels van Jesus geroep om te lewe in absolute afhanklikheid van ons hemelse Vader.  Al ons vertroue moet gedurig as't ware weggeskuif word van die self en op Christus in ons geplaas word.  Sonder Jesus kan ons niks doen nie.  Die opstandingskrag wat Hom uit die dode opgewek het, is aan die werk in ons (Efes. 1:19-20). 

Ons probleem is egter nie net onkunde oor hierdie geestelike werklikheid nie, maar ook die geneigdheid in ons almal om weer en weer terug te val op self-vertroue.  Hoe meer ons leer dat swakheid vir 'n dissipel van Jesus nie noodwendig 'n nadeel is nie, maar 'n geleentheid vir die krag van God om deur ons te werk, hoe meer sal ons die voetspore van die verrese Jesus in die detail van ons lewens sien.  Paulus het dit baie goed verstaan.  Kyk bietjie na hierdie kragtige stelling wat hy maak in 2 Korinthiërs 12.


”Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:10  

Monday, 26 June 2017

PRIESTERSKAP VAN ALLE GELOWIGES - REGTIG?

In 1 Korinthiërs 11 tot 14 reguleer Paulus met die apostoliese gesag wat God vir hom gegee het die samekomste van die gemeente in Korinthe.  Al het ons nie noodwendig dieselfde probleme in ons samekomste as wat hulle gehad het nie geld die beginsels wat hier verwoord is vir die samekomste van alle gemeentes in alle tye en alle kulture.  Ek wil net een vers uit hierdie vier hoofstukke vandag onder jou aandag bring.

"Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied." 1 Korinthiërs 14:26

Hier sien ons dat Paulus die punt wil maak dat alles wat in die gemeente se samekomste gebeur tot stigting moet wees.  Dit moet die gemeente opbou in Christus en geestelike groei bevorder.  Let op dat dit die vierde keer is wat Paulus in hierdie hoofstuk die beginsel van onderlinge "stigting" beklemtoon (sien verse 3, 5 en 12).

Voor hy egter weereens "stigting" beklemtoon, sien ons dat hy 'n aanname maak.  Hy neem aan (beskou dit as die abolute norm) dat al die gelowiges gereed is om deel te neem in die samekoms van die heiliges..."wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging..".  Is dit vandag nog die norm in ons samekomste?  Maak ons enigsins ruimte vir gelowiges om deel te neem in ons dienste en kleingroepe met woord én lied? 


Ons bely dat ons glo aan die priesterskap van alle gelowiges onder 'n nuwe verbond (1 Pet. 2:9).  Daardie belydenis beteken absoluut niks as ons dit nie in die praktyk toepas nie.  Dan sou dit veel beter wees om liewer net te sê ons glo steeds dat 'n spesiale, professionele priesterklas (pastore en dominees) verantwoordelik is vir al die "stigting" wat plaasvind in ons samekomste.  Ten minste is ons belydenis en praktyk dan in ooreenstemming.

Thursday, 22 June 2017

TWEE GESLAGTE SE INSPRAAK IN 'N KIND SE LEWE

God het die Israeliete van ouds beveel om die Woord vir hulle kinders te leer (let op dat dit eers in hulle eie harte moes wees) en dit by hulle in te skerp van kleins af.

"En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan." Deut. 6:6-7 

In Paulus se laaste brief skryf hy aan Timotheüs en roep hom op om getrou te bly aan die Woord soos wat hy van kindsbeen af geleer is deur sy ma en sy ouma. Twee geslagte het die Woord belê in hierdie jong man se hart en dit het later kosbare en blywende vrug gedra.

"En as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Euníce, en wat—daarvan is ek oortuig—ook in jou is.2 Tim. 1:5 

"En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." 2 Tim. 3:15 

Dit is nie Sondagskoolonderwysers se verantwoordelikheid om die Woord vir ons kinders te leer nie.  Dit is primêr ons verantwoordelikheid.  Dit moet in ons huise gebeur en van geslag tot geslag deurgegee word. Verder kan predikers en leraars die Bybel vir ons leer, maar hulle kan nie die Bybel vir ons lees, memoriseer en mediteer nie.  Dit is ons eie verantwoordelikheid.  Miskien is dit waar ons eerstens die fout moet gaan soek met die swak toestand van gemeentes vandag.  Ons fondamente is deur die vyand omgegooi en ons besef dit nie eers nie.

"As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" Psalm 11:3 


Die Woord word nie meer deur die ouers by die huis aan hulle kinders oorgedra met passie en doelgerigtheid nie.  As ons herstel soek in gemeentelewe moet ons miskien daar begin.  Kom ons kry net eers weer die fondamente in plek. Miskien moet die televisie, die internet en die "smartphones" bietjie eenkant toe staan dat die Woord vastrapplek kan kry in ons kinders se harte.  As dit nie gaan gebeur nie is die toekoms baie donker.  Moenie dat enigiemand vir jou iets anders vertel nie.

Monday, 19 June 2017

MOEG VIR DIE SPOOKASEM, HOE NOU GEMAAK?

Ons sien vandag dat derduisende mense kerke regoor die spektrum van denominasies en diverse groepe verlaat het en nog steeds verlaat.  In baie gevalle kan hierdie "groot uittog" geregverdig word en is dit heeltemal verstaanbaar, want die populêre kultuur het kerke oraloor binnegedring.  Dit beteken kortliks dat gemeentelewe grotendeels nie meer gaan oor die ware aanbidding van God "in gees en waarheid" volgens die ewige en onfeilbare Woord nie, maar oor die vermaak van die massas.  Ware dissipels van Jesus word nie gevoed deur hierdie "geestelike springmielies" en "spookasem" nie en dit raak net eenvoudig ondraaglik vir hulle.  Dan is daar duisende wat sê hulle ken Christus, maar wat omtrent nooit die Bybel lees of regtig belang stel in die inhoud nie. Diesulkes raak ook nie opgewonde oor gesamentlike aanbidding van God en die intersessie van gelowiges of enigsins besorg oor verlore mense en die uitbreiding van God se koninkryk nie.  Maar tog hou hulle vol dat hulle verloste mense is.  Baie van hierdie mense is heel tevrede in hedendaagse gemeentes, want die dienste is juis gerat om húlle te vermaak in plaas van om die skape te voed!  In hierdie tragiese milieu het iemand tereg opgemerk dat baie gelowiges gemeentes verlaat, nie omdat hulle hul geloof verloor het nie, maar omdat hulle hul geloof wil behou.

Maar die gevolg is ongelukkig dat derduisende by hulle huise sit en heel tevrede is met net die elektroniese kerk en bykans geen vorm van lewende gemeenskap met ander dissipels het nie.  Ander sê weer "ek is lief vir Jesus, maar met die kerk wil ek niks te doen hê nie; ek en Jesus is nou genoeg".  'n Groot deel van die probleem is dat ons "kerk" begin sien het as 'n gebou, 'n prediker, musici en 'n diens op 'n bepaalde tyd volgens 'n bepaalde liturgie.  Daar is sekerlik plek vir daardie dinge, maar die wese van "kerk" (die woord "gemeente" is beter) is die gemeenskap van gelowiges in Christus d.m.v. die Woord, gebed en lofprysing.  Ons het almal nodig om te bid vir die herstel van ware gemeentelewe in dorpe en stede regoor ons land, maar wat doen ons intussen?  Sit ons net by ons huise en kla onder mekaar oor die tragiese situasie?

As jy 'n nuwe hart het in Christus, 'n Bybel, 'n sangboek en een of twee mede-gelowiges of gesinne, waarvoor wag jy?  Jy het sekerlik nog steeds jou verhouding met Jesus as jy Sy dissipel is? Maak 'n tyd, kom bymekaar, slaan net daai Bybel oop, deel dit wat God vir jou gewys het, bid, sing, gebruik nagmaal..hoekom nie?  Wat is die verskoning?  Jy het nie 'n gebou, 'n prediker of 'n "spesiale diens" en musici nodig om dit te doen nie.  Wat gaan jy vir God sê wanneer jy voor Hom staan?  "Daar was nie meer 'n gemeente in my dorp wat getrou was aan U nie."  Maar as jy die Bybel het, die Gees binne-in jou en ander gelowiges rondom jou, het jy regtig 'n verskoning om nie net iewers te begin om te lees, te bid en te sing saam met ander nie?  Jesus is mos teenwoordig waar twee of drie in Sy naam vergader?  Waarvoor wag jy?  Gaan lees bietjie Lukas 24 en let op watter geseënde tyd net twee dissipels van Jesus saam met Hom gehad het!


N.S. Daar is ook meer aan gemeentelewe volgens die Nuwe Testament en daarvoor kan en moet ons intree.  Die essensie van gemeentelewe is egter die gemeenskap van dissipels van Jesus en daarvoor het jy reeds alles wat jy nodig het.  

Wednesday, 14 June 2017

DRIE KENMERKE VAN DIE WYSE MENS IN SPREUKE

1. Hy is leerbaar en bereid om raad van ander te ontvang.

"Bestraf ‘n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf ‘n wyse, en hy sal jou liefhê. Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder." Spreuke 9:8-9 

"Die weg van ‘n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad." Spreuke 12:15 

2. Hy dink voor hy praat en sy woorde bring lewe.

"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing." Spreuke 12:18 

"Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe." Spreuke 16:23 

3. Hy het 'n stewige greep op sy emosies en laat nie toe dat woede die oorhand kry in hom nie.

 "‘n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ‘n wyse bring dit eindelik tot bedaring." Spreuke 29:11 

Jakobus vat al drie hierdie kenmerke van die wyse vas in een sin.

"So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word." Jakobus 1:19 


Ongeag ons temperament en persoonlikheid kan ons almal wyse mense wees, of word, in Christus, want Hy het vir ons wysheid geword van God (1 Kor. 1:30).  

Monday, 12 June 2017

DIE KONINKRYK VAN SELF

"Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." 2 Petrus 1:4 

Die verwoestende "begeerlikheid" wat Petrus hier van praat is die tirannie van die self. Ek wil mý sin hê, mý wil moet geskied, die "koninkryk van self" moet in al sy heerlikheid deurbreek in mý lewe. Dit is nie net "wêreldse mense" wat so dink nie.  Die boodskap wat vandag op baie fronte deurgaan as "evangelie" leer subtiel dat dit die wese van verlossing is.  God bestaan om my wil en wens te laat geskied en vir hierdie doel het Hy ook Sy Seun na die aarde gestuur.

Teenoor hierdie valse "evangelie" staan Jesus in lynregte opposisie en Hy verklaar in gebed; "nie my wil nie, maar u wil geskied!" (Lukas 22:42 ).  Hy leer Sy dissipels om te bid; "laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied" (Matt. 6:9-10).


Ware verlossing dan bevry my van die "koninkryk van self".  Dit breek die tirannie van die "ek-lewe" en dit lei my na die plek waar dit alles gaan oor Gód se naam, koninkryk en wil. Dít is niks anders nie as die lewe van "Christus in my" (Gal. 2:20).

Monday, 5 June 2017

KERK-KENNIS OF BYBEL-KENNIS

Alle wedergebore mense het die geestelike kapasiteit ontvang om die Bybel te ken en toenemend beter te verstaan (sien 1 Kor. 2:9-16). Alle wedergebore mense het 'n inwonende Leraar ontvang, naamlik die Heilige Gees (1 Joh. 2:20, 27). Boonop het God in die gemeente menslike leraars gegee (Efes. 4:11) om dissipels van Jesus te help om geestelik volwasse te word. Hierdie leraars was egter nooit bedoel om die Heilige Gees te vervang of die dissipel se eie lees van die Bybel te vervang nie. 

Net hier kry ons die gevaar van kerk-kennis wat Bybel-kennis vervang. Deur die eeue van die kerk se geskiedenis was daar baie briljante leraars wat die Bybel gelees en boodskappe gebring en boeke geskryf het wat vandag nog beskikbaar is. Hele denominasies het onstaan op die basis van hulle werke en baie hedendaagse leraars volg in hulle groepe of denominasies maar net in die voetspore van hierdie leraars. Dis dan ook heeltemal verstaanbaar dat die gewone kerkganger maar net sal volg in die voetspore van die lewende leraars wat die gestorwe leraars volg.


Sekerlik het ons nodig om hierdie menslike leraars deur die eeue en vandag te respekteer en ag te slaan op hulle liefdesarbeid. My vraag is egter of kerk-kennis Bybelkennis mag vervang? As my kennis van die Bybel beperk is tot die "templaat" van my groep wat ek altyd oor die Bybel plaas, gee ek werklik die Heilige Gees kans om my te leer uit die Skrif?  Die vraag is natuurlik ook of ek enigsins die Bybel met erns lees en of ek maar net leef op die dieët wat menslike leraars verskaf. God het genadiglik vir ons menslike leraars gegee, maar hy wil my en jou ook eerstehands bedien uit die Bybel. Wanneer jy jou Bybel lees, verwag dat die Heilige Gees jou persoonlik sal leer en bedien, want Hy wil! Bly terselfdertyd ook nederig en leerbaar in jou omgang met ander dissipels en met leraars, want jy is nie die enigste een wat die Bybel hanteer nie.