Monday, 31 July 2017

'N VADER EN SY FAMILIE

Deur die wedergeboorte het ons deel geword van God die Vader se familie en in hierdie familie het ons Vader een baie spesifieke oogmerk met sy kinders se lewens. In Romeine 8 maak Paulus dit baie duidelik wat hierdie oogmerk is.

"Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders." Romeine 8:29 

Die Vader se konsekwente oogmerk met alles in ons lewens is om ons te maak soos sy Seun Jesus.  Alles wat ons sien van Jesus se karakter in die vier evangelies is bedoel om vir ons 'n voorbeeld te wees van wat die Vader beoog met ons lewens.  Alles wat ons leer van Jesus se verhouding met sy Vader (sien veral die evangelie van Johannes) is bedoel om ons op te roep tot 'n soortgelyke verhouding met die Vader. 


Wat is die hoë roeping van dissipelskap? Niks anders as om in jou karakter meer en meer soos Jesus te word nie.  Dit gebeur deur ons eenheid met die lewe van Christus in ons en die lering en bediening van die Heilige Gees.  Maar dit kan ook net gebeur as ons begin verstaan wat die Vader se doel en plan met ons is en begin identifiseer met die karakter van Jesus in die Skrif.  Anders mik ons heeltyd vir die verkeerde dinge en met al ons godsdiens en aktiwiteite bly ons karakter basies onveranderd. Lees bietjie 1 Korinthiërs 13 verse 1 tot 3 in hierdie verband.

Wednesday, 26 July 2017

'N ORGANIESE LIGGAAM MET VOLTYDSE LEDE

As 'n ware dissipel van Jesus 1 Korinthiërs 12 lees sonder vooroordeel of agenda gaan die werklikheid van die gemeente as liggaam van Christus vir seker radikale ingrepe maak in enige wanpersepsies oor gemeentelewe.  Die volgende kort uittreksel van tekste is meer as genoeg om hierdie stelling te staaf.

"Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie." 1 Korinthiërs 12:14 

'n Pastoor of dominee kan nie 'n liggaam wees nie, maar is slegs een lid van die liggaam.  Die liggaam bestaan uit baie lede en elkeen het 'n rol om te speel. 'n Mens se liggaam het ook nie "lede" wat net een maal per week funksioneer nie.  Alle "lede" is voltyds in die liggaam.  Daar is dus nie volgens die Bybel iets soos deeltydse lede van die liggaam van Christus of dan deeltydse lidmate van 'n gemeente nie. Daar is ook nie professionele lede wat net funksioneer omdat hulle betaal word om te funksioneer nie.  Pastore en dominees, ongeag of hulle 'n salaris ontvang of nie, moet soos enige ander lid van die liggaam funksioneer uit die lewe van die Gees anders is hulle buite orde in die liggaam.

"Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het." 1 Korinthiërs 12:18    

God bepaal ons elkeen se funksie in die liggaam en daar is nie een lid sonder 'n funksie nie!  Al is dit 'n pinkie.  Daardie pinkie het net so 'n belangrike rol om te vervul as enige ander lid van die liggaam.

"Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik." 1 Korinthiërs 12:27    

Ons almal saam vorm die liggaam van Christus.  Daar is 'n organiese eenheid tussen ons en tog ook 'n diversiteit in gawes, bedieninge en funksies. Organisatoriese eenheid kan nooit vergelyk word met die radikale geestelike werklikheid van ons eenheid in Christus nie.

"Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg." 1 Korinthiërs 12:31 

Elke lid van die liggaam moet die belange van die hele liggaam op die hart dra en streef daarna om die liggaam te bedien met die beste gawes tot daardie lid se beskikking.  Dit is onmoontlik vir een of twee begaafde lede om die hele liggaam se funksies te vervul.  Dit verg 'n liggaam van voltydse lede.


Besef jy dat jy as dissipel van Jesus deel is van 'n geestelike en organiese liggaam, plaaslik en universeel?  Glo jy werklik dat jy 'n funksie en gawes ontvang het wat onontbeerlik is vir die funksionering van die liggaam? Ons het dringend nodig om ons idees oor gemeenskap en gemeentelewe te vorm vanuit die Bybelse openbaring van die liggaam van Christus en nie volgens ander minderwaardige modelle of die wêreld se standaarde nie.

Wednesday, 19 July 2017

HERWIN DIE GEKAAPTE GENADE-BOODSKAP

Genade is per Bybelse definisie net beskikbaar vir die nederiges wat weet hoe afhanklik hulle van God is. 

"Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade." Jakobus 4:6 

Genade is nie meer genade as 'n mens dink jy verdien dit omdat jy intrinsieke waarde of enige kwaliteit in jouself het wat God se genade as't ware aktiveer of Hom onder verpligting plaas om dit vir jou te gee nie.  Genade kan net die onmiskenbare dankbare respons lewer in die hart van mense wat gesien het dat hulle heeltemal verlore en onder God se oordeel is.

Verder bring die Bybelse verstaan van genade ons nie net by gebrokenheid en dan geloof nie, maar dit bly ook deurgaans die bron en impetus van ons lewe en groei as dissipels van Jesus.  Daarom is dit so krities belangrik vir ons om die genade-boodskap wat deur satan gekaap is te herwin.  Ons het nodig om die hele spektrum van die genade-boodskap te heroorweeg en te hersien.  Van die manier wat ons ongelowiges blootstel aan die evangelie van genade tot die volle werk van genade in alle aspekte van die lewe van 'n dissipel. 

In Handelinge 20 sê Paulus vir die ouderlinge in Efese in effek dat dit slegs deur "die woord van sy genade" is wat God alle dissipels opbou en 'n erfenis in die koninkryk gee. 

"En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32 

Ons geestelike groei en oorwinning is volgens hierdie en baie soortgelyke tekste totaal afhanklik van 'n suiwer verstaan van die genade-boodskap van die evangelie.  Kan iets daarom meer dringend wees vir die gemeente van God as om die gekaapte genade-boodskap te herwin?


Tuesday, 18 July 2017

EEN-DIMENSIONELE GENADE

Daar word vandag baie gepraat oor die verkondiging van sogenaamde "hyper-grace".  Dit is 'n boodskap wat klem lê op die genade van God en al die voorregte van verlossing sonder om terselfdertyd ook die verantwoordelikhede van verlostes te beklemtoon.  Dit is inderdaad 'n groot probleem in ons tyd, maar miskien is dit beter om te praat van "een-dimensionele genade". 

Genade is per definisie "hyper". Dit is amper onmoontlik om te veel te maak van die openbaring van God se genade in Christus.  Dit is iets wat ons vir alle ewigheid gaan fassineer en vreugde verskaf.  Die taal van die Nuwe Testamentiese skrywers m.b.t. genade is asemrowend.  Daarom moet ons so versigtig wees dat ons nie opstaan teen sogenaamde "hyper-grace" en dan in die proses die Nuwe Testament se verstommende openbaring van genade misken nie. 

Die probleem met die verkondiging van een-dimensionele genade is dat dit net bly by die eerste aspek van genade, naamlik ons stand in die geregtigheid van Christus en die voorregte van kindskap wat daarmee saamgaan.  Die boodskap van genade is egter bedoel om ons deur hierdie nuwe geregtigheid in Christus in te lei in 'n heilige lewe en 'n konstante geestelike groei wat ons daaglikse lewens wesenlik sal verander.  Dit is dus nie net ons stand in Christus wat afhanklik is van genade nie, maar ook ons wandel.  Hier in Titus 2 maak Paulus dit baie duidelik dat dit juis genade is wat ons leer om heilig te lewe.

"Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe." Titus 2:11-12 


Die antwoord is dus nie 'n wegbeweeg van die boodskap van genade nie, maar liewer die volle prediking van genade met die oog op 'n heilige lewe en geestelike volwassenheid.

Wednesday, 12 July 2017

DIE DRIE WAT SAAMLOOP EN SEËN BRING

Geduld, vriendelikheid, en goedheid; wat 'n wonderlike ketting van die liefde. Geduld hou uit, sien oor, is barmhartig en groothartig, bedek 'n menigte sondes en vergewe gou. Vriendelikheid glimlag, gee drukkies, sagte woorde en tree altyd op met 'n gesindheid wat lafenis bring in die hardheid en koudheid van hierdie gevalle wêreld. Goedheid het 'n brandende begeerte om ander te seën en doen graag dinge vir mense wat hulle lewens makliker maak en hulle tasbaar die sonskyn van God se genade op hulle gesigte laat voel. Wanneer hierdie drie hande gevat het en saamloop in ons verhoudings is daar net seën op seën en heerlikheid op heerlikheid in huwelikke, gesinne en gemeentes.

"Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!" Psalm 133 (NAV)


Hierdie drie vat egter nooit hande in ons binneste as ons nog self-gerig is en vertrou op ons eie vlees nie. Prakties gesproke begin die moeilikheid by daai ongeduld. Hou jou oog op hom! As hy sy hand begin losruk dan val vriendelikheid en goedheid ook van die bus af en daar gaan die verhoudings en die seën van God. Mag ons die liefde van God in ons harte bewaar en die Here vertrou dat hierdie kosbare drie vertakkings van die liefde hand aan hand sal saamloop in ons verhoudings. 

Tuesday, 11 July 2017

DIE GODDELIKE UITNODIGING

Dit is een van die kosbaarste waarhede wat 'n mens ooit kan ontdek om te besef dat God jou gedurig uitnooi om na alles te kyk vanuit Sy perspektief.  God wil ons lewens verander deur vir ons te wys wat Hy sien en ons sodoende in te lei in 'n lewe van oorwinning. 

Ons het almal a.g.v. die sondeval 'n perspektief op die lewe gekry wat deur die nou lens van ons eie-ek beskou word.  So asof dit wat ons sien die enigste werklikheid is.  Ons verabsoluteer so maklik ons eie perspektief en ons doen dit outomaties en instinktief. 


Die Bybel is God se perspektief op die lewe en daarom moet ons dit benader met 'n gedurige neerlê van ons eie perspektief.  Solank as wat ons asemhaal, gaan ons daagliks aanpassings van perspektief nodig hê.  Dit is wat die Bybel so 'n onontbeerlike en rewolusionêre boek maak.  As jy dit reg benader, gaan jy elke slag weer verras word deur God se perspektief en as jy hierdie perspektief omhels met neerlegging van jou eie gaan jy God in aksie sien in jou binnewêreld.  Deur jou binnewêreld te verander, bring God dan ook verandering in jou hele lewenswandel.