Wednesday, 31 January 2018

'N RADIKAAL NUWE BENADERING TOT GEMEENSKAPSVERANDERING

Een van die mees verstommende openbarings van die Nuwe Testament is dat dit 'n radikaal nuwe benadering tot verandering van die samelewing vir ons voorhou.  Hierdie benadering is nie polities, filosofies (dit het wel filosofiese inhoud), organisatories of godsdienstig in die normale sin van die woord nie. Dit is ook nie leier-gedrewe in die eerste plek, d.w.s. dat verandering net kan kom deur die inisiatiewe en projekte wat leiers op die tafel sit, nie.

Dit is verandering wat begin in die hart van die indiwidu en dan van daar af ander harte in verhouding raak. Dit is ten diepste die intimiteit in die Drie-Eenheid wat deur die evangelie as't ware organies en lewend oorgedra word na die harte van die wat glo (sien Johannes 13 tot 17) en dan wyer uitkring.

Dit is so maklik om hierdie punt te mis in die Nuwe Testament en dan terug te val op die ou maniere en metodes tot verandering wat regdeur die geskiedenis van die mens gevolg is; m.a.w. verandering langs die weg van politiese, filosofiese, organisatoriese, leier-gedrewe kanale of deur godsdiens tradisies. Leiers moet wel die toon aangee, maar dan langs die Nuwe Testament se weg tot verandering! In 'n sekere sin word ons almal dan leiers, want alle dissipels van Jesus kan hierdie soort invloed uitoefen.

God se manier van verandering is so radikaal anders as die wêreld s'n.  Sy liefde, geopenbaar in die evangelie, verlos die mens se hart toenemend van selfsug en self-gerigtheid met 'n gevolglike verdieping van ons verhoudings.  Hierdie verdieping en verinniging van verhoudings is die enigste ware groei, want dit alleen strook met die DNA van die Nuwe Testament; hartsverandering met verhouding ten doel!  'n Sinvolle vraag om jouself te vra in hierdie verband is; hoeveel diep, veilige, standvastige, betekenisvolle en groeiende verhoudings het jy in jou lewe?  Sekerlik net 'n baie klein persentasie van jou honderde Facebook, Whatsapp en Instagram vriende!  Hoeveel van hierdie verhoudings is met mense in jou gemeente?  Slegs daardie verhoudings is eintlik jou ware gemeentelewe.

As gevolg van tydsbeperking kan 'n mens nie meer as so tien tot twaalf sulke verhoudings op 'n slag hê nie.  Jesus self het in Sy tyd op aarde nie baie meer as twaalf sulke verhoudings gekultiveer nie, en dan was een nog 'n Judas.  Maar daardie verhoudings het uiteindelik die wêreld verander!  Miskien is dit tyd dat ons ophou probeer om deur die wêreld se metodes die verandering te bring wat net God in ons harte kan bring deur die krag van die evangelie. 

Dink kleiner (dieper in), dink organies, dink verhouding.  Die sleutel tot kragtige transformasie wat dinamies sal uitkring na meer mense lê nie iewers daar buite of in nuwe projekte, planne, leiers of metodiek nie. Dit lê in die verhoudingskapasiteit van jou eie hart.  Begin by die mense wat reeds in jou invloedsfeer is.  Sommer net daar in jou eie gesin en familie. Kultiveer verhoudingsintimiteit vanuit die Wynstok.

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5 

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My." Johannes 15:9 


Dít alleen is die dissipelskap waarvan die Nuwe Testament praat. 

Monday, 29 January 2018

JESUS - ALLES OF NIKS

Hudson Taylor, die bekende sendeling na Sjina, het by geleentheid gesê "Christ is either Lord of all, or He is not Lord at all." 

Maar is dit waar? Leer die Bybel werklik dat Jesus se Heerskappy so absoluut moet wees in ons lewens dat halfhartige toewyding aan Hom gelyk is aan geen toewyding en ook dan geen ware verhouding met Hom nie?  Indien hierdie stelling van Hudson Taylor beteken dat net mense wat perfekte gehoorsaamheid aan Jesus uitleef in elke aspek van hulle bestaan op aarde Jesus werklik ken, sou dit vanselfsprekend vals wees.  Ons almal groei nog geestelik en ons is bedoel om aan te hou groei tot ons sterf.  Maar as dit beteken dat net diegene wat in hulle harte en daaglikse getuienis en belydenis voor mense Jesus as absolute Heer van alles in hulle lewe érken en kies om Hom só te volg; dat net húlle Hom werklik ken, dan is dit waar en 100 persent in lyn met die Bybel.

Is Jesus alles vir jou?  Kan mense aan jou gesindheid en hartsbegeertes sien dat jy Hom bo alles liefhet en kies om onderdanig te wees aan Sy Woord?  Praat jy spontaan van Hom in jou daaglikse gesprekke, of net wanneer jy in "geestelike geselskap" is?  Is Sy Woord regtig die norm van jou lewe waaraan jy alles maar alles in jou denke en besluite onderwerp?  Indien nie, is dit baie moontlik dat Hy in werklikheid niks is vir jou nie en dat jy nog nooit jou knie gebuig het voor Hom as Verlosser en Here van alles nie.  Dan het jy nog nooit werklik gesien dat jy 'n totaal verlore sondaar is en dat Jesus se kruisdood waarlik die enigste manier was wat jou sondes deur God die Vader vergeef kon word nie.

As jy hierdie boodskap lees is daar nog tyd vir jou.  Buig jou knie en erken dat Jesus Here van alles is.  Daar is geen groter innerlike vreugde as 'n lewe onder Sy Heerskappy nie, maar die alternatief is ewige verdoemenis.


'En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." Handelinge 4:12  

Wednesday, 24 January 2018

GEEN WARE GEBED SONDER AFHANKLIKHEID NIE

Gebed en afhanklikheid is sinoniem in die Bybel.  Terwyl Jesus op aarde was het Hy gedurig getuig  en gedemonstreer dat Sy uitmuntende gebedslewe geheel en al gebaseer was op Sy afhanklike verhouding met Sy Vader.

Sonder afhanklikheid is daar geen ware gebed nie.  Bybelse gebed is maar net 'n verlenging van 'n lewe wat eens en vir altyd en in alles oorgegee is aan God.  Om te bid is 'n erkenning van die Godheid van God,  dat Hy alleen in beheer is, en die mensheid van die bidder, dat hy in werklikheid geen ware beheer oor omstandighede op 'n gevalle planeet het nie.

Dit is primêr vir hierdie rede dat baie gebede so oneffektief is.  Ons roep God aan om sekere aspekte van ons lewens te beïnvloed terwyl ons steeds wil leef in die twyfelagtige illusie en pseudo sekuriteit van menslike beheer.  Dit is futiel. Mag die Heilige Gees ons lei in ware gebed deur ons te leer om totaal afhanklik te lewe. Dit is niks anders nie as wat die Nuwe Testament noem die lewe "in Christus". 


"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." Johannes 15:7