Wednesday, 28 February 2018

DIE GROOTSTE EN MEES DRINGENDE VERANDERING DENKBAAR


Ons kan die beste leerstelling en organisasie op aarde hê, maar as ons nie dringend ons hele konsep van gemeentefunksionering verander nie gaan ons nie werklik 'n betekenisvolle impak op gemeenskappe hê nie.

Die Nuwe Testament werk konsekwent met die verandering wat begin in die hart van 'n indiwidu en van daar af wyer uitkring in al sy verhoudings.  Dit is die wese van die dissipelskap-proses wat Jesus ons beveel het om te implementeer en na elke stam en taal en nasie te neem.  Die hele korporatiewe konsep van gemeentelewe wat dit in lidmate se verstaan daarvan die domein van leiers maak wat 'n suksesvolle organisasie moet bestuur en uitbrei, is die doodsvonnis vir ware gemeentelewe.  Dit sal nooit in tien duisend jaar lei tot die lewenskragtige, verhoudingsgebaseerde dinamiek van ware Nuwe Testamentiese gemeentes nie. 

Ons het nodig om heeltemal weg te beweeg van daardie prentjie en eerder kleiner te gaan, meer intiem, en meer verhoudings-gefokus. Elkeen moet verstaan dat hy persoonlik verantwoordelik is vir die mense in sy huis en in sy invloedsfeer.  Dit is juis hierdie dinamiek van Bybelse dissipelskap wat deur leiers geleer en gemodeleer moet word.  Dit is die eintlike bedieningswerk van Nuwe Testamentiese leiers; om mense te leer om volle verantwoordelikheid te neem vir hulle eie verhoudings.  Nie om futiele pogings aan te wend om 'n pseudo Christus vir almal te probeer wees nie.  Laasgenoemde metodiek is fataal, verlammend, oneffektief en sieldodend vir die indiwiduele gelowige. Dit is boonop oor honderde jare bewys as die enkele grootste faktor wat ons weerhou daarvan om uit te kom by die opwindende en kreatiewe gemeentelewe van die Nuwe Testament wat die indiwidu dinamies ontsluit in sy unieke funksie met sy unieke gawes in sy bepaalde invloedsfeer van God-gegewe verhoudings. 

Jesus Christus maak 'n persoonlike appél op die hart van die indiwidu en terwyl ons aanhou om korporatief-organisatories-leiergefokus in plaas van indiwidueel-organies-verhoudingsgebaseerd te dink sal ons nooit uitkom by die soort gemeenskap wat die Nuwe Testament 'n "liggaam" (liggaam van Christus) noem nie.  Wat dink jy?  Maak ek te veel van hierdie punt?

Monday, 26 February 2018

WARE DISSIPELS IS LIEF VIR DIE LIG

Die apostel Johannes skryf sy hele eerste brief om baie duidelik te maak dat daar 'n reuse kloof tussen lig en duisternis is en dat die twee nooit kan meng nie. Dit het in al Johannes se geskrifte baie pertinente betrekking op die verskil tussen ware en valse dissipels.

"En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.'  1 Johannes 1:5 

In sy evangelie wys hy uit dat mense wat wil volhard in die duisternis van hulle eie gevallenheid nooit toelaat dat Jesus, die waaragtige lig volgens Johannes 1 vers 9, die duisternis in hulle konfronteer en sodoende redding en genesing bring nie.

"Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie." Johannes 3:20 

Jesus hou egter aan om die uitnodiging te gee vir mense om deur geloof in Hom die kloof tussen duisternis en lig oor te steek.  Slegs Jesus kan mense neem van duisternis na lig.

"So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word..."  Johannes 12:36 

In een van sý briewe verklaar Paulus onomwonde dat al die mense wat Jesus se uitnodiging aanvaar wel nou eksklusief "kinders van die lig" is.

"Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie."  1 Thessalonicense 5:5 

Satan probeer alles in sy vermoë om die skeidslyn tussen lig en duisternis onduidelik te maak, sodat mense nie kan bepaal waar hulle werklik staan nie en ook om ware dissipels te verwar.  Die Nuwe Testament ontmasker sy bose planne en maak dit baie duidelik dat "kinders van die lig", ongeag die worstelinge wat hulle steeds mag hê met die reste van duisternis in hulle harte, die lig liefhet en begeer om te leef in die volle lig van reinheid en heiligheid in Christus.

Wednesday, 14 February 2018

DRIE KANALE VIR DIE GENESING VAN DIE LIEFDE

Daar is drie kanale wat moet oop wees in my hart vir die liefde om 'n volle werk van genesing in my te doen en om sielsgesondheid te verseker. 

Ons spandeer so baie tyd, geld en energie aan so baie dinge wat nie werklik waarde het nie.  Die Bybel maak dit baie duidelik dat dit net die unieke liefde van God is wat uiteindelik betekenisvol is en waarde gee aan die mens se lewe op aarde en ook vir alle ewigheid.  Die vloei van hierdie liefde van God in Christus werk as't ware via drie kanale in die menslike hart. 

·         Eerstens moet ons die liefde van God ontvang.  Dit kan net gebeur as ons God se diagnose van ons verlorenheid en verdorwenheid aanvaar en Hom dan toelaat om Sy unieke kruisliefde aan ons deur-sonde-gebroke harte te bedien. 

·         Tweedens moet ons leer hoe om hierdie liefde wat ons onverdiend ontvang het vir ander te gee in die daaglikse handel, wandel en hartseer van ons eie lewens.  Ons almal weet dat dit 'n bonatuurlike werk van God verg. 

·         In die derde plek moet ons egter leer om ook liefde van ander te ontvang.  Dit is insgelyks nie kinderspeletjies nie. 


As hierdie drie kanale oop is in jou hart sal jy onvermydelik 'n gesonde, volwasse en vrugbare mens word.  Vra God om hierdie kanale wyd oop te maak in jou hart; ontvang-gee-ontvang sonder onderbreking.  Dit is voorwaar 'n wonderlike gebed om spesifiek en intensioneel te bid vir jouself en vir jou gesin, vriende en gemeente. Satan kan niks meer doen aan die liefde van God wat deur die kruisdood van Jesus histories geopenbaar en geanker is nie, maar hy kan die kanale in ons harte verstop om die vloei van kruisliefde te belemmer.  Daarom moet ons bid!

Monday, 12 February 2018

DISSIPELSKAP 101: HEILIGE VERSLAWING

Bybelse dissipelskap kan opgesom word in die volgende drie punte. Toets jou dissipelskap hier.
·     
         dissipels van Jesus is eerstens mense wat so oorweldig is deur die onverdiende liefde wat aan die kruis bewys is dat hulle as't ware leef in verslawing aan Jesus en die Woord van die kruis (1 Kor. 1:18 en 2:2)

·         tweedens is dissipels mense wat as gevolg van hierdie "heilige verslawing" nie meer vir hulleself leef nie, maar vir "Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is" (2 Kor. 5:15) met die doel om ook van ander mense dissipels te maak wat leef vanuit die "heilige verslawing" van die Nuwe Testament

·         in die derde plek is dissipels mense wat deur die liefde van Christus gedring word om almal in hulle invloedsfeer baie spesifiek en intensioneel by die plek te bring waar hulle ook dissipelmakers word.

Dissipelskap is daarom nooit 'n proses wat net stop by my eie toewyding of selfs net by my eie snoesige groepie nie.  Dit is per definisie 'n dinamiese proses wat spring van een hart na 'n ander.  As dit stop by 'n indiwidu of by 'n groep en hulle die liefde wat God in Sy Seun aan hulle bewys het net vir hulleself hou, is die stroombaan gebreek en die dinamiese element geneutraliseer. 


Ons word dus nie net geroep om dissipels te maak nie, maar om dissipelmakers te maak.  Bybelse dissipelskap is die Goddelike proses wat in die hart van die Vader begin het en wat dissipels maak wat weer dissipels maak wat dissipels maak....  Lewe jy in hierdie stroombaan van evangelie-liefde wat doelgerig aangegee word na mense rondom jou of het die proses by jou gestop?  Net jy kan hierdie vraag eerlik antwoord.  Dit is so maklik om besig te raak met dosyne programme en kerkaktiwiteite en steeds dissipelskap heeltemal te mis. Derduisende leef vandag so.  Jy hoef nie.  Raak intensioneel. 

Wednesday, 7 February 2018

"INNIGE TEDERHEID": JY IS SEKER NIE ERNSTIG NIE!?

'As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is." Filippense 2:1 

Die wedergeboorte bring ons in 'n lewende eenheid met Christus en in hierdie eenheid met Hom is daar troos, vertroosting, Heilige Gees gemeenskap, innige tederheid en ontferming. Wow!  Wat 'n wonderlike vers.  Paulus stapel al hierdie verhoudingsvoordele "in Christus" op mekaar voordat hy in vers 2 die appél maak op die dissipels in Filippi om in harmonie en eenheid te leef met mekaar. M.a.w. om die waarheid van ons redding as't ware in geloof te verwerklik in die lief en leed van 'n gevalle wêreld met dikwels baie moelike verhoudingsituasies.

"Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin." Filippense 2:2 

Dink gou vir 'n oomblik oor net een van daardie wonderlike verlossingswerklikhede wat Paulus in vers een noem: "innige tederheid".  As ek nie geweet het daardie frase staan in die Bybel in die konteks van dissipels se verhouding met mekaar nie sou ek dit net in een, hoogstens twee, soort verhoudings op aarde geplaas het; die verhouding tussen 'n moeder en haar kind.  En dan miskien nog ook tussen 'n man en vrou wat lief is vir mekaar, veral in die beginfase van so 'n verhouding.  Paulus gebruik die frase egter onbeskaamd en sonder verduideliking of verskoning as die ononderbroke werklikheid van ons almal se verhouding met mekaar "in Christus".


Hoeveel van jou verhoudings met mede-gelowiges sal jy kan beskryf as dat dit gekenmerk word deur "innige tederheid"?  Ek dink nie ons sien vandag baie van hierdie hoë standaard van liefde in gemeentes, of selfs eers in gelowige families nie.  Mag die Heilige Gees hierdie verstommende waarheid van verhoudingsintimiteit "in Christus" vir ons 'n proefondervindelike werklikheid maak.  

Monday, 5 February 2018

WANNEER DIE WONDERWERK VAN "WAARHEID IN LIEFDE" PLAASVIND

Alle families op aarde beleef konflik van tyd tot tyd.  Dit is "normaal" gegewe die gevallenheid van die mens se hart.  Konflik is nie noodwendig iets negatiefs nie.  Inteendeel, dit is 'n nodige pre-kondisie vir die unieke soort vrede waarvan die Bybel praat. Iemand wat ek ken het by geleentheid iets gesê oor een van Jesus se uitsprake in die Bergpredikasie; "salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word".  Sy stelling sal my altyd bybly:

"Peacemakers are not peacekeepers.  Peacekeepers never confront the issue. Peacemakers do."

Dit sou wonderlik gewees het as Jesus vir my al die duisternis van my eie hart self kon uitwys en nie nodig gehad het om ook van tyd tot tyd ander mense, en veral die wat so naby aan my is (!), te gebruik om dit te doen nie.   Efesiërs 4 vers 15 sê ons moet "in liefde by die waarheid bly en SO in alle opsigte groei na Christus toe.." Eina.  Ek wens daar was 'n ander manier om te groei.  Hierdie "waarheid' is in konteks die waarheid oor wie Jesus is, maar dít is onlosmaaklik verbind aan die waarheid van my en jou hart.  "In U lig sien ons die lig" (Ps. 36:10).

As mense wat steeds gevallenheid met hulle saamdra, kry nie een van ons altyd die balans (nie 50/50 nie, maar 100/100) tussen waarheid en liefde reg nie.  Dit is net in ons gebrokenheid, wederkerige leerbaarheid en ware evangelie-nederigheid wat die wonderwerk van "waarheid in liefde" plaasvind.  En wat 'n kosbare wonderwerk is dit nie.  Hierdie wonderwerk bring altyd verandering as ons bereid is om te luister. (Ek praat nou uit ervaring in terme van die een uit tien keer wat ek wel geluister het.)  Ons moet sekerlik vir mekaar genade gee as ons nie altyd hierdie balans regkry nie, maar een ding wat ons nie kan bekostig om te doen nie is om op te hou om die waarheid te praat en dan in die valse "vrede" van ons generasie aan te ploeter. Dink daaroor:

  • ons wil nie hê mense moet vir ons ongemaklike dinge oor onsself vertel nie
  • maar ons het dit tog broodnodig anders hou ons op om te groei as beste "scenario" en as slegste gaan die Vader baie harder met ons begin praat op verskillende maniere
"Pain insists upon being attended to. God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pain: it is His megaphone to rouse a deaf world." (C.S. Lewis)

  • wie anders as die mense naby aan ons kan vir ons die waarheid oor onsself vertel ? 
  • wie ken ons goed genoeg om dit te kan doen?
  • gaan ons dit ontvang in gebrokenheid en leerbaarheid?
  • of gaan ons aandring op God se alternatiewe spreekbuise?

"Friends mean well, even when they hurt you. But when an enemy puts his arm around your shoulder--watch out!" Proverbs 27:6 (Good News Bible)


Die kanse is baie goed dat die mense na aan jou wel lief is vir jou en dat die waarheid wat hulle met jou praat bedoel is om te herstel en genees en nie te verwoes en vernietig nie.