Thursday, 12 December 2019

BEMOEDIGING EN MOTIVERING IN CHRISTUS IS ANDERS AS IN DIE WÊRELD


Een van die heel gewildste "gospel" liedjies van ons tyd (die feit dat dit so gewild is spreek boekdele) begin met die volgende woorde:

"I keep fighting voices in my mind that say I'm not enough
Every single lie that tells me I will never measure up"

Dit gaan aan om te sê: 

"You say I am strong when I think I am weak...
And I believe, oh I believe, What you say of me I believe "

'n Mens verstaan dat die liedjie waarskynlik geskryf is vir tieners wat worstel met die geweldige stres van die kompetisie-gees via die moderne media in ons generasie.  Nogtans kan ek nie anders nie as om te vra watter boodskap regtig oorgedra word hier en wat die uiteindelike effek van hierdie boodskap sal wees? 

Die implikasie is dat ons die stemme in ons gedagtes wat ons wil vertel dat ons "nie genoeg is" nie en dit "nooit sal maak" nie, moet weerstaan.  Daarteenoor moet ons glo ons ís genoeg in onsself en ons sál dit maak.  Die vraag is, word ons ooit in die Bybel op hierdie manier bemoedig?

Is God regtig my "groot motiveringspreker" wat Sy "groot motiveringshandleiding" (die Bybel, in hierdie verstaan van die Christelike lewe) gebruik en as't ware langs die kantlyn van my lewenswedloop staan en my dan kragtig aanpor om te glo dat ek "genoeg" is in myself en dat ek moet glo "I will measure up"?  Dat ek eintlik baie sterker is as wat ek dink?  Dat Hy vir my wil sê "jy is sterk" wanneer ek dink "ek is swak"? 


Die Bybel sê onder andere die volgende:

"Eindelik, my broeders, word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY STERKTE [my beklemtoning]." Efesiërs 6:10

"Stry die goeie stryd VAN DIE GELOOF, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is.." 1 Tim. 6:12

"Jy dan, my seun, wees sterk DEUR DIE GENADE WAT IN CHRISTUS JESUS IS." 2 Tim. 2:1

Vir die dissipel van Jesus is bemoediging IN CHRISTUS.  Wanneer die Bybel praat van wie ons is "in Christus" is die idee nie dat ons nou die groot motiveringspreker in ons het wat as't ware buite ons persoon staan en ons aanmoedig om die beste weergawe van onsself te wees op hierdie aarde nie.  Geensins nie! 

Die punt is eerder dat ons geplant is in Sý krag en in Sý wysheid en geregtigheid.  Dit is wat dit beteken om "in Christus" te wees.  Daar is 'n baie fyn lyn hier wat ons mooi moet onderskei, want dit maak uiteindelik 'n reuse verskil aan die manier wat ons leef op aarde en dit het verreikende implikasies vir ons en ons families. 

In onsself is ons steeds niks en bly ons harte bedrieglik.  Ons bly ook steeds geneig om onafhanklik van God te wil leef.  Luister bietjie wat die apostel Paulus hieroor te sê het:

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.  Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, SODAT ONS NIE OP ONSSELF SOU VERTROU NIE, maar op God wat die dode opwek." 2 Korinthiërs 1:8-9

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon." 2 Korinthiërs 12:9

Die ware stryd is dus eerder dat ek daagliks moet veg teen die stemme wat my wil vertel dat ek wél genoeg is in myself en dat ek dit kán maak met genoeg geloof in my eie vermoëns.  Ek het mos nou Jesus as my "groot motiveringspreker" en die Bybel as my wonderlike "motiveringshandleiding"?!


'n Meer Bybelse weergawe van bogenoemde gewilde liedjie sou wees:

"I keep fighting voices in my mind that say I ám enough
Every single lie that tells me I wíll one day measure up"

"You say I am weak when I think I am strong...
And I believe, oh I believe, What you say of me I believe "

Dít is die essensie van ons stryd as dissipels van Jesus.  Die waarheid is letterlik dat ons almal 'n opgeblaasde idee van onsself het en as ons ballon nie afgeblaas (sommer gebars) word nie bly die prognose van ons lewenswandel rampspoedig.  Liewer alle vertroue in myself verloor sodat ek kan leef in en vanuit die "ware wynstok".

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

Tuesday, 26 November 2019

SAL DISSIPELSKAP OOIT FLOREER IN HIERDIE MILIEU?


  • Geestelike dinge gebeur net by die Sondagdienste en nie in die huise van dissipels as 'n spontane lewe in die Gees, wat terloops die uitstaande kenmerk van 'n nuwe verbond is nie.
  • Aktiwiteite en projekte vind grotendeels plaas vanuit  die eksterne "tempel" en nie die innerlike tempel van die dissipel se hart waar Jesus leef nie.
  • Daar word net na die voltydse bedienaars gekyk om die Woord te hanteer. Dissipels is dus nie ingestel om self met die Woord te woeker nie.  (Volgens die Nuwe Testament moet alle dissipels in hulle eie lewensfeer bedienaars van die Woord wees).
  • Gemeenteprogramme is soos ‘n opvoering of konsert. Die liturg, die lofleier en die pastoor is die hoofrolspelers en die gehoor is soos toeskouers wat 'n goeie "opvoering" verwag.
  • Formele verhoudings in die raamwerk van 'n Sondag-godsdiens by die "tempel" is die norm in plaas van ware hart-tot-hart verhoudings oral waar ons leef, werk, ontspan en met mekaar te doen kry.
  • Voltydse bedienaars word gesien as die enigste mense wat gemeentelede kan bedien en beraad met die Woord en in gebed.  Dissipelskap is dan ook hierdie "professionele" persone se eksklusiewe domein.

Wat dink jy?

Tuesday, 19 November 2019

'N GEKAAPTE BOODSKAP IN ONS TYD: "IN CHRISTUS"


"Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort.  God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid." Kolossense 1:26-27  (NAV)

Die boodskap van ons eenheid en identifikasie met Christus is in ons tyd 'n gekaapte boodskap. 

Satan gebruik nie net onderbeklemtoning of oorbeklemtoning van Bybelse waarhede om die krag daarvan te neutraliseer nie.  Wat hy ook doen is om dit te kaap.  D.w.s hy draai die boodskap op sy kop.  Hy verdraai die lering om dit iets anders te maak as wat dit werklik is en mense dan te laat glo dat hulle besig is met die ware Jakob. Hy word nie verniet in 2 Korinthiërs 11 vers 14 beskryf as iemand wat hom voordoen as 'n "engel van die lig" nie.

In ons tyd is die Nuwe Testamentiese fokus op ons eenheid met Christus en die implikasies daarvan tot 'n groot mate herstel in soverre as wat dit 'n belangrike lering is wat vir seker baie lugtyd nodig het.  Dit is egter uiters belangrik dat ons onsself reg posisioneer t.o.v. hierdie sleutelwaarheid in die Nuwe Testament. In hierdie verband het ons nodig om drie waarnemings te maak:

Eerstens, die klem word vandag dikwels gelê op wie EK is in Christus, i.p.v. op wie ons IN CHRISTUS is en wie HY in ons is. Dit is 'n fatale fout met verreikende implikasies.  Dit is om die waarheid te sê meer as net 'n fout; dit is 'n uiters gevaarlike misleiding en dwaling.   Die fokus bly in die Nuwe Testament altyd op die Persoon en werk van Christus en nie op iets wat ons in onsself is of het nie.  Dit gaan alles oor die "Geliefde Seun"; Jesus ons Here.  Hoe kan 'n mens eerlik die Nuwe Testament lees en by 'n ander gevolgtrekking uitkom?

Tweedens, die manier wat die voordele van ons in Christus-posisie in die praktyk uitwerk in ons lewens, is deur 'n gebroke afhanklikheid wat swaar leun op die wysheid en krag van CHRISTUS in ons en nie op MY POSISIE in Christus nie. Ons generasie het tot 'n groot mate die hele in Christus boodskap rangeer onder 'n meganiese "positiewe denke en proklamasie" sindroom van wie EK is. Nie net neutraliseer dit die krag van die ware "in Christus" boodskap nie, maar dit maak ook 'n deur oop na 'n droomwêreld van sataniese illusies wat die potensiaal het om die skippie van jou lewe (en dalk jou familie s'n) op die rotse te laat beland.

Let op na die element van afhanklikheid en die implikasie van nederigheid in die volgende tekste:

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5  (OAV)

"Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.  2 Korinthiërs 4:7  (NAV)

Derdens, by verre die grootste gros van 'in Christus' stellings in die Nuwe Testament het betrekking op dit wat "ons"  (meervoud) in Christus ontvang het en nie wat "ek" ontvang het nie. Ons generasie is baie individualisties en mis hierdie punt amper heeltemal.

Natuurlik is dit wat waar is van "ons" in Christus ook vir die indiwidu geldig, maar ons het dringend nodig om die korporatiewe karakter van die Nuwe Testament opnuut raak te sien en die implikasies daarvan op alle vlakke te gehoorsaam.

"So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar." Romeine 12:5 

"Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie." 1 Korinthiërs 12:20-21


Leef die ware betekenis van die "in Christus" boodskap in jou hart of het dit ook vir jou 'n gekaapte waarheid geword wat jou en jou geliefdes gevange geneem het in 'n tronk van misleiding? Bedink asseblief weer biddend die drie punte hier bo en wees brutaal eerlik met jouself.  Daar is steeds hoop as jy bereid is om te bely en erken en weg te draai van die gekaapte boodskap na die ware boodskap.

Thursday, 7 November 2019

IN CHRISTUS VERLOS VAN DIE GRUWEL EN MAG VAN DIE DOOD


Geen roem, status, of menslike mag en heerlikheid kan die dood keer nie.  Die krag en lewenslus van die jeug kan die dood se onstuitbare voetval nie stop of terughou nie.

"Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af." 1 Peter 1:24 

Dit maak nie saak wie ‘n mens is nie elkeen moet een of ander tyd die dood in die gesig staar.  Die dood is die groot gelymaker wat almal voor dieselfde deur na die ewigheid bring; die grootste leiers, staatsmanne, sportmanne, rykes, armes, sterkes of swakkes. 

Die dood kan skielik kom en in ‘n oomblik ‘n lewe kom uitblus, of dit kan geleidelik die liggaam aftakel totdat daar nog net een asemteug oorbly wat met ‘n onvermydelike finaliteit geneem word.  Die grootste rykdom wat hierdie wêreld ken, kan die verskrikkinge van die dood nie afweer nie.

"Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ‘n steil muur in sy verbeelding." Spreuke 18:11 

Wie kan die pyn van menslike verwydering van familie en vriende beskryf?  Dit is meer as wat enigiemand kan dra in die natuurlike. 

Daar is geen hoop vir die mensdom en geen ontsnapping van die onvermydelike gruwel en afgryse van die dood buite die historiese werklikheid van die opstanding van Jesus Christus nie.  Die Goeie Nuus is nie net dat Hy opgestaan het nie, maar die feit dat almal wat hulleself distansieër van die ou Adamiese lewe en die nuwe lewe in Christus in geloof omhels, kan deel aan hierdie opstanding van Christus.  Sy opstanding waarborg ons s'n!

Jesus het die mag van die dood oorwin.   Hy het daar deurgegaan en triomfantelik anderkant uitgekom.  Slegs wanneer jy met Hom verenig is kan jy ook met hoop daar deurgaan.  Dit is sekerlik hier, in die aangesig van die dood wat die lewe binne-in jou, die opstandingslewe van Christus onontbeerlik kosbaar word. 

Vir die wat agterbly, is die troos dan ook dat almal wat in Christus gesterf het voorwaar verlos is van die mag van die dood.  Dan kan ons saam met Paulus bely:

"Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?  Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.  Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus."  1 Korinthiërs 15:55-57 

Monday, 4 November 2019

NET DIE KRAG VAN DIE EVANGELIE KAN ONS VOORBEREI VIR WARE GEMEENTELEWE


"Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing." Kolossense 3:16  (NAV)

Ware gemeentelewe het volgens hierdie vers alles te doen met die Woord van Christus wat ryklik in alle dissipels woon (nie net in pastore en dominees nie) en dan die spontane en vreugdevolle lering, onderrig en lofprysing wat vloei vanuit vervulde harte.  Ons ontvang die oorwinning van die evangelie met ons hárte in geloof, nie uit wilskrag of menslike inspanning nie.

Jesus het oorwin aan die kruis.  Dit was ‘n absolute sukses en daarom is hy opgewek en verheerlik aan die regterhand van die Vader.  Ons moet ten volle oortuig wees dat hierdie oorwinning ons insluit voor die volheid van die Heilige Gees sal deurbreek in ons lewens.

Wanneer die heerlikheid van die Heilige Gees deurbreek in blydskap is jou fokus nie meer op mense en wat hulle van jou dink nie.  Voortaan kan jy God aanbid vry van vormgodsdiens en ritueel.  Jy het gesterf vir mense se opinies en jou aandag is nou op God alleen.

Vanuit oortuiging en dan blydskap in die Gees kan ons ‘n lewe van diensbaarheid begin leef.  Hierdie lewe is ‘n kruislewe, waar die Heilige Gees ons kan gebruik net soos Hy wil om ander mense te dien en te bedien met Goddelike liefde.  Sonder hierdie bonatuurlike Heilige Gees liefde is is ons niks en is alles wat ons doen op hierdie aarde nutteloos en waardeloos (sien 1 Kor. 13).

Dit is net vanuit oortuiging, uitbundige lof aan God en die krag van God se liefde wat deurbreek in ons harte dat ons op ‘n pad gesit word van bediening aan mense waar ons nie meer so self-gerig en self-bewus sal wees nie.  Slegs dan sal ons vryelik die Woord onder mekaar begin spreek met blydskap en dankbaarheid.

Thursday, 24 October 2019

JESUS VERTROUE EN SELF-VERTROUE STAAN LYNREG TEENOOR MEKAAR


"Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?  En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.  En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.  Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!  En Hy het bedoel Judas Iskáriot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was."  Johannes 6:66-71 

Jesus gaan uit Sy pad uit om alle self-vertroue by Sy dissipels te knak en te verbrysel.  Hoekom?  Want dit is onmoontlik om Hóm werklik te vertrou as ons die siening handhaaf dat ons eie wysheid, wil, krag, intellek en herkoms enige meriete dra. 

Hierdie toets van Jesus vertroue teenoor self-vertroue is immer teenwoordig in Jesus se hele bediening wanneer Hy mense oproep om Hom te volg.  Hoe doen ons generasie met hierdie toets?

Tuesday, 22 October 2019

WANNEER GOD SE LIEFDE HEERS IN ONS


Jesus se heerskappy in ons lewens word duidelik uitgespel in Galasiërs 5 vers 22. 

"Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."

Dit is so eenvoudig dat niemand dit kan mis nie. Wanneer ons onder beheer is van die Heilige Gees heers God se liefde in ons met die volgende duidelike tekens in ons lewens:

  • ·         Die Krag van Blydskap
  • ·         Die Sekuriteit van Vrede
  • ·         Geduldige Verdraagsaamheid wat kwaad kan verdra (2 Tim. 2:24)
  • ·         Goedheid in ons Karakter
  • ·         Vriendelikheid in ons lyftaal en Optrede
  • ·         Die Konsekwente Diensbaarheid van Getrouheid
  • ·         Ware Nederigheid: Sagmoedigheid
  • ·         Oorwinning oor onsself: Self-beheersing


Nie een van hierdie eienskappe is "Adam op sy beste" nie, maar liewer Christus in en deur ons geopenbaar onder die bediening van die Heilige Gees.

Wanneer die liefde nie heers nie lyk dit as volg:

  • ·         'n Afwesigheid van Vrede en Blydskap as 'n konstante werklikheid in my lewe
  • ·         Opgeblasenheid / vol van self / self-gerigtheid / self is die verwysingspunt in plaas van Christus
  • ·         Self-bevoordeling in alles
  • ·         Kritiese veroordeling van ander
  • ·         Bitterheid en Hardheid teenoor ander
  • ·         Onvergewensgesindheid
  • ·         Kwaadwilligheid / Vyandskap
  • ·         Onversoenlikheid
  • ·         Dubbele Standaarde en Onregverdigheid  
  • ·         Onwilligheid om "die Gees van die waarheid" kans te gee om te werk in situasies waar daar verskille is


Hierdie ontleding is bedoel om 'n spieël te wees wat ons in geloof laat draai na die krag van Christus in ons, nie 'n lys wat ons dring om Adam te probeer restoureer nie.

Monday, 14 October 2019

YOU ARE ALREADY CONNECTED


Many believers experience Christ in a wonderful way when they are saved, but then they are religiously indoctrinated along lines that are contrary to the character of the regeneration experience.  By this I mean that the disciplines of the Christian life are often presented in a way that is somehow divorced from the intimacy of relationship that God intends for us in the process of spiritual growth. 

It is of cardinal importance that we never view any aspect of the Christian life apart from our union with Christ and our vital relationship to a loving heavenly Father.  Every religion, including that which goes through as the Christian "religion", inevitably ministers from a position of separation and then the subsequent process to "get connected" as it were.   

The wonderful assurance of the gospel of Jesus Christ, however, is that we have been fully reconciled to our Father God and every discipline and phase of the Christian life is based on the vital union that we have with Him.  Once we discover that this union has been fully and finally consummated our concern is less with all the mechanics of Christianity and more with the Person of Christ and knowing Him intimately. 

Then we discover that many of the things that we so longed for as believers spontaneously begin to manifest as a consequence of our new emphasis.  2 Corinthians 3 verse 18 makes it clear that it is only as we behold Christ that we are being transformed into His image from glory to glory.

"And we all, with unveiled face, beholding the glory of the Lord, are being transformed into the same image from one degree of glory to another. For this comes from the Lord who is the Spirit." 2 Corinthians 3:18

After all is said and done Christianity is in its essence a matter of knowing God in all His splendour.

Wednesday, 9 October 2019

SÓ LYK DIE OORVLOEDIGE LEWE IN CHRISTUS

Die konteks van die hele Nuwe Testament is die openbaring van 'n persoon, Jesus Christus die Here.  Die vier evangelies stel ons bekend aan hierdie persoon, Sy verlossingswerk aan die kruis en Sy opstanding uit die dode.  Die res van die Nuwe Testament gaan oor Sy dissipels wat met wedergeboorte in Hom geplaas word en Sy lewe wat dan in en deur hulle (as "erdekruike") geopenbaar word. 


Neem nou hierdie konteks as 'n lens en gaan dink weer oor die volgende bekende teks. Dit kan interpreteer word as 'n belofte wat Jesus vir Sy dissipels gee:

"Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê."  Johannes 10:10 

Gaan dink dan verder oor die volgende stellings wat Paulus maak oor dissipelskap:
"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie." 2 Korinthiërs 4:7-9 

"...deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig;  as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie;  as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit."  2 Korinthiërs 6:8-10 

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Korinthiërs 12:9-10 

Nie een van ons gaan sekerlik dieselfde gráád van lyding as Paulus beleef nie, maar alle dissipels beleef wel dieselfde sóórt lewe van "vreemde kontraste", tot 'n mindere of meerdere mate.  Maar die punt is, só lyk die oorvloedige lewe in Christus. 

Waarin lê die "lewe en oorvloed" dan? In die heerlike blydskap van Jesus se teenwoordigheid te midde van selfs die moeilikste omstandighede in 'n gebroke en gevalle wêreld.

Monday, 7 October 2019

WARE DISSIPELSKAP IS UIT DIE HEMEL


Ware dissipelskap is nie op 'n afstand nie, dit is nie uit die mens nie en dit is ook nie gebaseer op aardse inisiatief nie. Dit word gegee en onderhou uit die hemel. Dit is uit die Vader, in die Seun en deur die Gees.

"Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is."  Johannes 1:12-13

 "En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie." Johannes 6:65

Tuesday, 1 October 2019

JESUS IS ONS RYKDOM EN VOORSPOED


Is daar in die Nuwe Testament 'n evangelie van rykdom en voorspoed te vinde?  Ja beslis, maar hierdie rykdom en voorspoed het alles te doen met 'n Persoon, Jesus Christus die Here van die heerlikheid.

"Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig." Efesiërs 3:8 

Ons generasie is goed bekend met 'n rykdom-en-voorspoed evangelie, maar ongelukkig is dit nie die een wat in die Nuwe Testament verkondig word nie.  Dit word gebou op tekste uit konteks geneem en vernuftige argumente. 

Die rykdom en voorspoed wat die Nuwe Testament werklik van praat, is egter so duidelik dat selfs 'n kind dit kan verstaan.  Hier is net 'n kort uittreksel:

"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God." 1 Korinthiërs 3:21-23 

"As bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit."  2 Korinthiërs  6:10 

"So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie." Lukas 12:21 

"Dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus." Kolossense 2:2 

"Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk..."  Openbaring 2:9 

En daarteenoor die teenoorgestelde gesindheid van 'n ander gemeente:

"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.  Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Openbaring 3:17-18

En dan natuurlik die bekende vers wat so verdraai word vandag.  Watter voorspoed dink jy word hier van gepraat in die konteks van die hele Nuwe Testament?

"Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê." Johannes 10:10 

Hoe definieër jý “lewe in oorvloed”?  Ons moet met alles in ons die rykdom "in God" najaag.  In ons denke, woorde en dade moet dit duidelik wees dat ons Jesus bo alles beskou as ons ware rykdom en voorspoed.  

Ons het hierdie rykdom reeds ontvang met wedergeboorte, maar ons moet daagliks daarin leef en ons verheug in die "onnaspeurlike rykdom van Christus".

Thursday, 26 September 2019

ONS MEES DRINGENDE BEHOEFTE IS DIE OPENBARING VAN CHRISTUS


As dit waar is, en dit is, dat "die volheid van die Godheid" net in Christus beskikbaar is en dat alle dinge net "in Hom stand hou" dan volg dit logies dat ons mees dringende behoefte in enige moontlike situasie die openbaring van Christus is.

Die Vader het alle dinge onder die voete van Jesus onderwerp en Hom as "Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee" (Efes. 1:22).  Daarom is die gebede van die Nuwe Testament primêr gefokus op die openbaring van Christus, d.w.s. die kennis, wysheid en insig wat die Heilige Gees skenk m.b.t. die teenwoordigheid van Christus in ons.

So baie dinge in die tydelike, natuurlike situasies op aarde trek ons aandag weg van hierdie fokus en eis dat dít die essensie van ons gebede moet wees.  Die Vader het egter 'n ewige voorneme ("eternal purpose") en dit bepaal Sý agenda vir elke gebeurlikheid op aarde.

"Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,  volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here." Efesiërs 3:10-11 

Hoe moet ons dan bid?  Siekte, finansiële probleme, verhoudingsprobleme, probleme by die werk, moeilikheid in die familie, probleme met die kinders, liefdeloosheid en onvergewensgesindheid, probleme in die land, geweld en misdaad; al hierdie dinge en meer kan ons spesifiek voor bid, maar hoe? 

Is die "ewige voorneme" van die Vader in Christus dan die bysaak en iets wat ons later in die hemel op kan fokus terwyl ons liewer hier-en-nou dringend ons aandag moet skenk aan die tydelike dinge?  Nee. Die "goeie stryd van geloof" is om in elke moontlike situasie op aarde ons oë op Christus te vestig en in al ons gebede vir groter openbaring van Hom te bid.  Die versoeking is om te redeneer "ons het reeds vir Christus, nou het ons die ander dinge nodig".  Dit is 'n fatale fout!

"Vader gryp asseblief in en onderneem vir hulle in daardie krisis, maar openbaar in en deur alles U Seun!  Vader voorsien asseblief vir daardie familie die nodige fondse, maar openbaar U Seun.  Vader genees asseblief daardie kind, maar openbaar U Seun in en deur die situasie.  Vader gee asseblief reën in droogte-geteisterde gebiede, maar bring veral die reën van Christus-openbaring in harte wat geestelik "droog" is!  Vader, bring asseblief verandering in mense se harte sodat die golf van geweld en misdaad gestop kan word, maar doen dit deur groter openbaring van U Seun."

Evangelie-gerigte en koninkryksgefokusde gebede gebaseer op die heerskappy van Jesus Christus in die harte van mense is die enigste opsie vir wedergebore dissipels.  Die Vader gaan vir seker nie Sý fokus verander nie.  Miskien is dit tyd dat ons die fokus van ons gebede baie mooi ondersoek om seker te maak dat ons op Sy bladsy is.

Monday, 23 September 2019

JESUS IS ALLES OF HY IS NIKS


Daar bestaan nie iets soos 'n dissipel wat op 'n afstand verhouding met Jesus beleef nie. Luister na Jesus se eie woorde in hierdie verband:

"En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie." Johannes 6:53

Hierdie woorde is bedoel om ons te skok tot in ons sokkies en ons bewus te maak van die absolute eis van dissipelskap.  Jesus is nie 'n ekstra bonus by al die ander voordele van Christenskap of 'n middel tot 'n doel nie. Hy is alles of Hy is niks.  Geestelik is Hy so onontbeerlik vir jou soos kos, water en suurstof. 

Thursday, 19 September 2019

GODDELIKE IMMUUNVERSTERKER


Vals leringe, dwalinge en verkeerde fokusse is vandag soos die plaag.  As jy dit op een plek bekamp, breek dit op tien ander plekke uit en versprei blitsig via die moderne media.  Hoe gemaak met hierdie verspreiding van die valse? 

Solank as wat ons Jesus net sien as die middel (i.p.v. die middelpúnt van alles) tot 'n ander doel of voordeel bly ons in 'n sin in die teoretiese dimensie (histories/dogmaties) of op die self-gerigte en self-gesentreerde baan.  Lewenskragtige geloof begin eers werklik wanneer ons Christenskap Jesus self is en ons fokus wegskuif van ons eie teologiese idees en van onsself na dit wat die Váder dink en sê oor Sy geliefde Seun.

Die hele Bybel wil ons harte bring by een fokus en plek van rus.  Al die profesieë, die beelde en die tipes van die Ou Testament lei na 'n enkele fokuspunt, die Persoon van Jesus Christus.  Dit is so maklik om Jesus self te mis terwyl jy besig is met honderde dinge aangaande Hom.

Dit is nie maklik om hierdie verskil te verwoord tussen 'n "Jesus die middel tot 'n doel" Christenskap en een wat absoluut gefokus is op die ken van "die Persoon van Jesus" as ons lewe en ons alles-in-alles nie.  Jesus is byvoorbeeld nie net die een wat my red van die hel en neem na die hemel nie, Hy ís my hemel hier-en-nou en soveel meer nog in die ewigheid. 

Vir baie sal dit dalk net klink soos 'n betekenislose, semantiese debat.  As dit is hoe jy voel, gaan dink asseblief weer 'n bietjie biddend oor die volgende tekste.

"En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand." Kolossense 1:17 

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun  wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het." Hebreërs 1:1-2 

"Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig." Efesiërs 1:10 


"Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel." Kolossense 1:28  

Ons verkondig nie net feite óór Hom nie.  Natuurlik is die historiese feite die basis van ons geloof (1 Kor. 15:1-8), maar ons verkondiging is in alles die Seun self as die finale antwoord vir alles wat verkeerd en boos is op hierdie aarde. Die enigste regdenkende en logiese respons op hierdie onomstootlike waarheid is gevolglik om voortaan vir niks anders te leef as die persoonlike en intieme ken van hierdie Jesus nie.

"Sodat ek Hom kan ken..."  Filippense 3:10a 

Hierdie kennis is die enigste immuunversterker wat onsself, ons families en ons gemeentes weerbaar maak teen valsheid en dwaling.

Monday, 16 September 2019

CHRISTENSKAP ÍS CHRISTUS


Ware Christenskap is baie meer as net geloof in die regte feite. Dit begin met die bonatuurlike, hemelse aktiwiteit van God die Vader in die menslike hart en dit word na wedergeboorte onderhou deur 'n lewende geloof in Christus en Sý aktiwiteit in die innerlike van die dissipel.

Christenskap ís Christus.  Dit gaan nie net oor Christus nie.  Dit is die organiese deelname aan die lewe van Christus.  Die Vader se fokus is die Seun en Sy enigste plan vir verlossing en vervulling is 'n vereniging met hierdie Seun. Dit is eers wanneer ons begin rus in hierdie waarheid dat ons fokus wegskuif van onsself.

Lees byvoorbeeld die evangelie van Johannes in daardie lig.  Dit is juis geskryf in 'n tyd van afvalligheid toe Christenskap sy ware karakter begin verloor het.  Leef ons nie dalk ook in so 'n era van mens-gerigte Christenskap nie? 

Die uiteindelike doel van Christenskap is nie net Christus vir my nie, maar Christus in my as my alles-in-alles.

"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense." Johannes 1:4 

"Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal." Kolossense 3:11 

Tuesday, 10 September 2019

DIE DRIE VERSOEKINGE VAN DIE WÊRELD


"Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld." 1 Johannes 2:15-16 

Kyk bietjie hoe hierdie drie versoekinge van die wêreld teenwoordig was met die sondeval en duidelik uitgespel word in die Bybel om ons insig te gee in die wese van versoeking.

"Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet." Genesis 3:6 

Die "begeerlikheid van die vlees" is die versoeking om die wêreld te geniet as 'n absolute wat totale satisfaksie kan bied, onafhanklik van 'n dankbare gesindheid vir die goeie gawes van God en vergenoegdheid met dit wat Hy "vandag" vir my bied.

Die "begeerlikheid van die oë" is die versoeking om die wêreld in sy huidige toestand te besit (materiële besittings en besitreg) as iets wat ewigdurend is en dus onafhanklik van die goddelike visie van die "nuwe hemel en aarde" wat nog in die toekoms is.

Die "grootsheid van die lewe" is die versoeking om eer te ontvang in hierdie tydelike wêreld, onafhanklik van God se ewige roeping en skeppingsdoel vir my lewe en die belonings van die toekomstige bestel.

Die "liefde van die Vader" is die Seun.  As 'n mens se lewe gekenmerk word deur 'n onophoudelike gejaag na tydelike en materiële plesier, besittings en eer beteken dit eenvoudig dat jy nie die Seun in sig het nie.  Om die Seun te "sien" met geopende geestelike oë gee vir jou 'n onvermydelike begeerte om Hom te ken en hierdie begeerte is dan ook die oorheersende passie van jou lewe. 

"Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel." Psalms 27:4 

"Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word." Filippense 3:10 

Ware dissipels is nie gevrywaar van die drie versoekinge van hierdie wêreld nie, maar hulle lewens word nie beheer deur die onversadigbare drang na tydelike plesier, besittings en eer wat so kenmerkend is van ongelowiges nie.  Hulle word daarteenoor gekenmerk deur die passie om God toenemend te ken! 

Wat is jou passie?  Waarvoor leef jy?  Wat dryf jou? Waarheen is jy oppad?  Vandag se begeertes is môre se realiteit en daarom het jy nodig om in die hier-en-nou jou hart te toets en eerlik te wees oor jou bevindinge.

Wednesday, 4 September 2019

INTIMITEITSARMOEDE


Alle gelowiges het dieselfde toegang tot God en reg tot intimiteit en gemeenskap.  Alle gelowiges word deur God uitgenooi om met vrymoedigheid in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus (Heb. 10:19).  Alle gelowiges is volgens 1 Korinthiërs 1 vers 9 geroep tot die gemeenskap met (of "van") die Seun.  Waarom is dit dan dat sommiges ‘n verhouding van groeiende intimiteit met God beleef en ander nie? 

Die intimiteitsarmoede begin by 'n verkeerde verstaan van redding.  Ons word nie in die eerste plek gered om hemel toe te gaan nie, maar om God te ken. 

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het”.  Johannes 17:3  

Hierdie ‘ken’ praat van ‘n intieme verhouding met God.  Die intiemste verhouding wat ons op aarde kan hê is slegs ‘n skadubeeld van die verhouding wat God met ons wil hê.  Ons belydenis moet dus nie in die eerste plek wees "ek het die ewige lewe, ek gaan hemel toe" nie, maar "ek het die ewige lewe en dit beteken ek kan en mag die Vader en die Seun ken!"

Ons Vader begeer dat ons nie net uit die Gees gebore sal wees nie, nie net sal weet dat ons wettiglik verenig is met Hom in Sy Seun nie, maar dat ons ‘n intense soeke sal hê na 'n immerverdiepende verhouding met Hom.

Die lewe van 'n dissipel is in daardie sin ‘n paradoks.  Ons is mense wat reeds gevind het, maar tog hou ons nooit op met soek na ‘n nog intiemer verhouding met God nie.  Ons is volkome in Christus, maar ons moet begeer om Hom elke dag beter en meer intiem te ken.

"Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel." Psalms 27:4 

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11 

"Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word." Filippense 3:10 

Praktiese Raad:

·         Jy sal nooit so ‘n groeiende intimiteit met Christus beleef as jy dit nie soek en ‘n absolute prioriteit in jou lewe maak nie. 

·         Pasop vir ‘n selftevredenheid wat stop voordat dit die beloftes van God in besit geneem het.  Dit is baie maklik om jou gebrek aan ervaring te rasionaliseer en weg te redeneer en so jouself te beroof van die seën wat God vir jou begeer.

·         Onthou dat dit nie daaroor gaan om ‘n ervaring te soek nie, maar om Christus werklik te ken, ook in Sy lyde en gelykvormigheid aan Sy dood.  Volg dus gewillig net waar die Gees jou mag lei op hierdie pad saam met Christus, een tree op ‘n slag.

·         Verwág dat God Homself op ‘n heerlike manier aan jou sal openbaar in Christus en moet nooit vergeet dat die heerlikheid van die Nuwe Verbond strek tot verheerliking van God en nie van onsself nie.

Wednesday, 28 August 2019

DIE WOORD VAN SY GENADE WAT MAGTIG IS OM OP TE BOU


"En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32 

Na drie jaar van bediening in Efese en voor sy vertrek na verdere velde van bediening seën die apostel Paulus die ouderlinge in daardie gemeente met hierdie kosbare doksologie.  Hierdie "laaste woorde" van Paulus is egter meer as net 'n doksologie.  Dit is in 'n sin ook 'n opdrag. 

Paulus kon hulle opgedra het aan een of ander apostoliese leier, 'n spesifieke kerkorde of 'n briljante bedieningstrategie, maar in plaas daarvan dra hy hulle op aan God en baie spesifiek aan "die woord van sy genade".  Hy het genoeg vertroue gehad in die meriete van die ewige evangelie om te rus in die feit dat die inhoud van hierdie evangelie in staat was om dissipels nie net te onderhou nie, maar ook op te bou.

Vir drie jaar het hy hulle met goddelike ywer geskool in die boodskap van genade.  Hierdie genade het hulle geroep, gewas, geregverdig, geheilig en verenig met Christus en het derhalwe ook die krag gehad om hulle te onderhou en te bou.  Kyk bietjie wat sê Paulus vir die gelowiges in Kolosse oor hierdie einste genade.

"Wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het." Kolossense 1:6 

Paulus het geen vertroue in die vlees geplaas of in mense se vermoë om ander mense op die lange duur in waarheid te onderhou en te inspireer nie.  Die sukses van sy bediening was direk gekoppel aan die krag van die evangelie d.m.v. die openbaring van genade wat uitsluitlik die harte van manne en vroue standhoudend kon inspireer.  Alhoewel hy die "apostel van die heidene" was, het hy geen vertroue in sy eie gawes of in 'n metodiek of iets dergeliks geplaas nie.  Sy intense fokus was onbeweeglik geanker in die openbaring van genade wat deur die persoon en verlossingswerk van Jesus Christus aan die lig gebring is.

"Maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie." 2 Tim. 1:10 

"Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde." 1 Korinthiërs 2:2 

Is dit nie dalk tyd vir die gemeentes van God om die implikasies van hierdie en soortgelyke tekste in die Nuwe Testament in kinderlike eenvoud en op sigwaarde te omhels nie?  Vertrou ons nie te dikwels op menslike planne, organisasie en dinamiese leierskap om te doen wat slegs die "woord van sy genade" in die indiwidu se hart kan doen nie?  Moet ons nie liewer ons kragte inspan om hierdie kosbare evangelie deur die werk van die Heilige Gees aan elke dissipel te bedien totdat daardie hart geheel en al oorweldig is deur die openbaring van genade nie?  Ek los hierdie vrae by jou vir biddende oorweging.  Daar is geen plaasvervanger in bediening vir die innerlike werking van God se genade in die menslike hart nie.