In die volgende gedeeltes in Handelinge sien ons hoe
afhanklik die apostels en die gemeentes was van die Heilige Gees en hoe hulle in
onmiddellike gehoorsaamheid aan Hom gewandel het.
Hulle het verstaan dat Jesus as Hoof van Sy liggaam Sy
gemeentes bestuur deur die Gees. Dit was
dus asof Jesus deur die Gees steeds fisies by hulle was soos in Sy dae op
aarde. Verstaan ons dit en leef en werk
ons so?
"Maar
hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie."
Handelinge 6:10
Stefanus het nie op sy eie wysheid staat gemaak nie, maar op
die krag en wysheid van die Gees.
"En
terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat
jou soek." Handelinge 10:19
Petrus het die stem van die Gees geken en gehoorsaam.
"En
een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te
kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook
gekom het onder keiser Claudius." Handelinge 11:28
Let op dat die profete "deur die Heilige Gees"
geprofeteer het in absolute afhanklikheid, nie in verwaandheid of arrogansie
nie.
"En
terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê:
Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep
het. En toe hulle gevas en gebid het en
hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees
uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus." Handelinge
13:2-4
Die eerste sending na die heidene is van stapel gestuur deur
die Heilige Gees, nie deur menslike raad of besluitneming nie. Die gemeente was besig om "die Here te
dien en te vas" en in daardie omstandighede en atmosfeer het die Heilige
Gees gespreek.
"En
hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle
verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer
om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie." Handelinge
16:6-7
Selfs al is hulle uitgestuur deur die Heilige Gees het die
apostels ook op hulle reise oomblik-vir-oomblik ag geslaan op die leiding van
die Heilige Gees. Hulle het vertrou op
die onmiddellike werking van die almagtige, alwetende en alomteenwoordige God, nie
op "die arm van die vlees" nie.