Thursday, 28 March 2019

HOE MOET ONS VANDAG BID VIR DIE VREDE VAN JERUSALEM?


"Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Psalm 122:6 

"Pray for the peace of Jerusalem! May they be secure who love you!" Ps. 122:6   (ESV)

"Pray for the peace of Jerusalem: May they prosper who love you." Ps. 122:6   (ASV)

Die bogenoemde teks in Psalm 122 word dikwels aangehaal en gereeld met die implikasie dat die wat nie bid vir die vrede van Jerusalem nie hulle eie vrede in gevaar stel. 

Die vraag is egter hóe moet ons vandag bid vir die vrede van Jerusalem?  Ons kan ook selfs vra "moet ons nog bid vir die vrede van Jerusalem"?  Oorweeg die volgende tekste (voeg nog by as jy wil) en kyk of jy kan uitkom by 'n paar kort en kragtige stellings wat jou prakties sal help om skriftuurlik te bid vir "die vrede van Jerusalem".  

"Want hy [Abraham] het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." Heb. 11:10 

"Naamlik die profete van Israel wat profeteer aangaande Jerusalem en vir hom gesigte van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie, spreek die Here HERE." Eseg. 13:16 

"Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!  Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!" Matt. 23:37-38 

"Wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik  dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie." Efes. 3:5-6 

"Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand." Jesaja 62:1  

"Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin. En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde." Sagaria 9:9-10 

"Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele." Heb. 12:22 

"Want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal." Gal. 4:25-26 


"En hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is." Openbaring 11:8  

"Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam." Openbaring 3:12 

"En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is." Openbaring 21:2 

Monday, 18 March 2019

NEEM VERANTWOORDELIKHEID VIR JOU EIE GESIN


“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Deuteronomium 6:6-7 

In die moderne wêreld maak ons gebruik van professionele mense in elke sfeer van die lewe.  Ongelukkig het hierdie benadering tot die lewe (wat goed en reg is binne 'n sekere konteks) oorgespoel na die terrein van kinderopvoeding. Nie net verwag ons van pastore en dominees om ons eie geestelike lewe in stand te hou nie, maar ons steun ook op onderwysers en Sondagskoolonderwysers om verantwoordelikheid te neem vir ons kinders se geestelike lewe en ontwikkeling.  Dit is 'n reuse mistasting.

God verwag van elke ouer om persoonlik verantwoordelikheid te neem vir elke kind se geestelike lewe wanneer die kind klein is en om dan ook vir hulle te leer dat hulle sélf verantwoordelik is voor God vir hulle eie geestelike lewe wanneer hulle ouer is.  Om die waarheid te sê moet ouers hulle kinders al van kindsbeen af leer om hulle eie harte reg te bestuur voor die aangesig van God.

"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe." Spreuke 4:23 

Onderwysers en Sondagskoolonderwysers kan hoogstens 'n aanvullende rol speel in hierdie verband. Hierdie is 'n baie ernstige saak en iets waaraan ouers dringend moet aandag gee.  Al hou mense ons nie noodwendig verantwoordelik in vandag se samelewing nie, hou God elke ouer sonder twyfel verantwoordelik vir hulle eie kinders se geestelike ontwikkeling.


Dit is net nodig om ook te sê dat wanneer jy alles gedoen het wat jy moontlik kon doen deur die leiding van die Heilige Gees dit steeds die kind is wat self moet reageer op die evangelie.  Daarvoor kan jy nie verantwoordelikheid dra nie, maar jy kan wel met dodelike erns bid vir jou kinders dat hulle harte reg sal reageer op die evangelie.

Wednesday, 13 March 2019

DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VREUGDE

Verlede keer het ons gesien dat die Israeliete nie die toets van ware vertroue in die woestyn geslaag het nie.  Hulle kon nie hulle sekuriteit in God vind nie.

Vandag kyk ons na die toets van vreugde in die Here.   Nie net verwag God van Sy kinders dat hulle sekuriteit in Hom moet wees nie, maar die wese van God vereis ook dat ons proefondervindelik volheid van vreugde in Hom sal vind.  In die eerste en laaste verse van Psalm 16 sien ons dat Dawid dit baie goed verstaan het.

 " ‘n Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek." Psalm 16:1 

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11 

Ongelukkig kon die Israeliete nie in die woestyn hierdie wonderlike plek van vreugde vind nie.  Hulle het terug verlang na die tydelike en onbevredigende vreugdes van die wêreld.

"En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe." Eksodus 16:3 

"Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel." Numeri 11:5 

Woorde alleen is nie genoeg nie.  Dit is in die woestyn wat ons ontdek of ons werklik glo dat God in beheer is van hierdie heelal en dat Hy die groot Voorsiener is wat alles en almal aan die lewe hou. 

Ons ontdek ook of ons harte werklik vreugde in Hóm vind wanneer daar nie aardse vermaak en bevrediging beskikbaar is nie.  Soms gaan ons deur sulke moeilike tye dat ons aptyt vir die wêreld se plesiere taan.  Dit is 'n goeie plek om te wees, mits ons dan die wonderlike geloofsontdekking maak dat daar totale en onbeskryflike vreugde te vind is in die Persoon van God.

"Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie." Psalm 73:25 


Geen dissipel van Jesus sal hierdie toets vryspring nie en die rede daarvoor is eenvoudig dat God in werklikheid die Algenoegsame Heerser van die heelal is wat volheid van vreugde bied vir almal wat Hom liefhet.  As ons dus sê ons staan in verhouding met Hom, moet dit in die realiteit van ons erváring van Hom bevestig word.  Die alternatief is vormgodsdiens en vormgodsdiens slaag nooit die toetse in die woestyn nie. Mag die Here ons genadig wees dat ons harte nie wanneer die toets kom in die hitte van die stryd wegdraai van die lewende God om sekuriteit en bevrediging in die tydelike en materiële te probeer vind nie. 

Tuesday, 12 March 2019

DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VERTROUE


In ons verhouding met God is daar twee baie spesifieke sake wat getoets word, naamlik waar ons vertroue werklik is en dan in wie ons volkome vreugde vind.

"Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!" Sagaria 13:9 

Geen dissipel van Jesus kan die toetse "in die woestyn" vryspring nie. Ons kan nie vorder met die Here en begin om werklik 'n geestelike impak te hê op mense in ons invloedsfeer as ons nie eers die toetse in die woestyn deurgekom het nie.

Die generasie van Jode wat deur Moses uit Egipte uitgelei is, het die toetse in die woestyn gedop.  Hulle het gevrees en gemurmureer in plaas van om te vertrou op die liefde en sorg van die Here.

"En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?" Numeri 14:3 

Niemand van daardie generasie het die Beloofde Land binne gegaan behalwe Josua en Kaleb nie.

"Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun." Numeri 14:30

"Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het." 1 Kor. 10:11 

Die Here lei dus elke dissipel van Hom as't ware die woestyn in om te sien wat werklik in ons harte aangaan.

"En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie." Deut. 8:2 

Wanneer die natuurlike steunpilare en krukke rondom jou weg geneem word, wie sal jy vertrou?  Is jou vertroue in finansies, mense, stelsels en strukture of stel jy werklik jou vertroue in die lewende God wat beloof het dat Hy jou nie sal begewe of verlaat nie?  Elke dissipel van Jesus kom een of ander tyd voor hierdie vraag te staan en daar is geen pad rondom dit nie. Die vraag moet voor God (Coram Deo) beantwoord word.

Wednesday, 6 March 2019

BLYDSKAP IN DIE HERE ÍS GEHOORSAAMHEID


Ons het soms die idee dat gehoorsaamheid een ding is in 'n dissipel se lewe en blydskap 'n heel ander ding.  As ons egter let op die feit dat ons in die Nuwe Testament beveel word om ons te verbly in die Here ontvou daar vir ons 'n heel ander prentjie.

"Wees altyddeur bly." 1 Thes. 5:16 

"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" Filippense 4:4 

'n Mens kan in 'n sin sê dat blydskap in die Here die dissipel se eerste verantwoordelikheid is.  Hierdie blydskap lei dan tot verdere gehoorsaamheid in ons lewens en dit gee ons ook die krag om versoeking te weerstaan.  'n Dissipel sonder blydskap is 'n maklike teiken vir satan.

Maar hoe kan ons woorde soos beveel, gehoorsaam en verantwoordelikheid in dieselfde sin as blydskap gebruik?!  Evangelie blydskap is anders as blydskap wat omstandigheid-afhanklik is.  Evangelie blydskap is 'n bevel van God, omdat die inhoud van die genade boodskap so oorweldigend ryk is dat  onuitspreeklike blydskap die enigste logiese respons is. 

Kinderlike geloof in die volheid van Christus lei altyd tot hierdie blydskap.  Daarom is 'n gebrek aan blydskap niks anders nie as die ongehoorsaamheid van ongeloof (soos teenoor "geloofsgehoorsaamheid": Romeine 1 vers 5).  In hierdie konteks van die evangelie maak dit dus perfekte sin dat God ons kan beveel om bly te wees in Sy Seun.