Thursday, 25 July 2019

DIEN VANUIT VERVULLING


"Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.  Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak.  Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het." Johannes 13:3-5 

In Johannes 13 vers 3 sien ons dat die Heilige Gees spesifiek die innerlike kennis waarin Jesus gerus het voordat Hy sy dissipels se voete gewas het, vir ons toelig.   Jesus was die ewige God in menslike vlees en nogtans het Hy nie weggeskram om neer te buig en die vuil voete van Sy dissipels te was nie.   Waarom nie?  Omdat Hy geweet het waar Hy vandaan gekom het en waarheen Hy sou teruggaan. 

Elkeen van ons het ‘n verskillende taak en in ‘n sekere sin ‘n unieke roeping in die gemeente van Jesus.  Ons kan elkeen op individuele wyses uitdrukking gee aan die lewende Christus in ons vanweë ons onderskeie persoonlikhede en gawes.  Die vraag is egter of ons weet wie ons is.  Indien nie, sal ons altyd probeer om ons waarde te bepaal deur wat ons doen of op grond van ons posisie in 'n gemeente of gemeenskap.  Gevolglik sal ons dan nooit regtig tot die plek van ware nederigheid en diensbaarheid kom waar die Heilige Gees dieper in ons kan werk om Christus in en deur ons te openbaar nie.

Dit is absoluut noodsaaklik vir die getuienis van die gemeente dat ons, ons identiteit slegs in Christus sal vind en begin om vanuit ‘n plek van rus en vervulling te dien in plaas van uit ‘n plek van innerlike onvervuldheid.

Monday, 22 July 2019

VRY OM TE DIEN WANNEER JY JOU NUWE IDENTITEIT VERSTAAN


Die Seun van God wat die ewigheid bewoon en wat nou ín ons woon, behoort onmeetlik swaarder te weeg as die waardigheid van wat enige aardse identiteit ons kan besorg.   Dit is eers wanneer ons deeglik in ons nuwe identiteit gevestig is en begryp dat dit in Jesus alleen geanker is, dat ons kan begin dink aan die uitdrukking wat ons aan hierdie nuwe lewe kan gee.

Skares van gelowiges probeer om iets te word deur wat hulle doen, of om hulle identiteit in hulle spesiale gawes en talente te vind.  Die gemeente van God is ‘n gemeenskap van diegene wat hulle identiteit in Hom alleen gevind het.  Dit is die grootste krag van ons getuienis aan die wêreld.   

Manne en vroue hardloop rond, soekend om ‘n mate van stabiliteit in hulle lewens te vind, besig om hulself aan iets permanent te probeer verbind.  Maar ons het die antwoord, want ons het hierdie permanensie in die ewige God gevind wat ons in sy Seun wederbaar het.  Dit behoort ons standaard getuienis aan die wêreld te wees.   

Wat ons egter dikwels vind, is dat baie gelowiges besef dat hulle wêreldse prestasies nie in die gemeente van die lewende God tel nie, maar hulle bring nogtans hulle prestasie-mentaliteit na hierdie nuwe, geestelike arena.  Die resultaat is dieselfde worsteling om posisies en onafgebroke kompetisie tussen mense wat so oorheersend is in die wêreld.  

Gelowiges wat hulle identiteit in Christus ken, sal nooit met andere in die liggaam van Christus kompeteer om meer geestelik te wees of meer invloed te hê of iets dergeliks nie.   Wanneer ons, ons waarde vind  in wie Jesus in ons is in plaas van in ons gawes, prestasies en projekte sal die natuurlike uitvloeisel daarvan 'n nederige diensbaarheid wees wat Jesus alleen verheerlik. 

Thursday, 18 July 2019

DIE OU EN NUWE IDENTITEIT KAN NIE SAAM BESTAAN NIE


“So ‘n vertroue het ons deur Christus by God.  Nie dat ons uit onself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.” 2 Korinthiërs  3:4-5  

Die saak van vertroue is nou verbonde aan ons identiteit in Christus en daarom is dit van die uiterste belang.  In Filippense 3 wys Paulus dat hy baie redes gehad het om sélf-vertroue te hê op grond van sy herkoms en dit wat hy in sy lewe  behaal het. 

“Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër;  wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik."   Filippense  3:5-6 

Onmiddellik daarna begin hy egter om hierdie prestasies as grondslag van sy self-vertroue af te breek.  Hy het elke moontlike geleentheid gehad om een van die beroemdste Fariseërs van alle tye te word, maar onderweg na Damaskus ontdek hy ‘n groter identiteit.  Hy het sy identiteit in Christus Jesus gevind.

 Hierdie ontdekking het hom genoop om sy natuurlike self-vertroue net daar te laat staan en voortaan al sy vertroue in Christus en Sý verlossingsprestasie te plaas.  Van daardie dag af het Paulus verstaan hy kon nie weer op sy natuurlike herkoms, bekwaamhede of prestasies vertrou of daaroor spog nie.   Wanneer hy nodig gehad het om sy reg te verdedig om die evangelie te verkondig, het hy nie teruggeval op sy opleiding as ‘n Fariseër nie.  In plaas daarvan het hy aanhou verklaar dat hy  in Christus Jesus geroep was om ‘n apostel te wees. Daarom sê hy in 1 Korinthiërs 15 vers 10 "Maar deur die genade van God is ek wat ek is."

En so moet ons hierdie toets ook op ons eie lewens toepas.   Waar is óns vertroue?  Wat is ons spreekwoordelike "claim to fame"?   Dit is selfs as ‘n dissipel moontlik om met ‘n valse vertroue te lewe sonder om daarvan bewus te wees.   Vra jouself af of jy  nog dieselfde mens sou wees as jy alles sou verloor wat jy dalk dink jou identiteit en waarde in die gemeenskap bepaal.    

As hulle al jou grade, prestasies, finansiële sekuriteit en goeie status in die gemeenskap sou wegneem, sou jy nog dieselfde mens innerlik wees, d.w.s. in jou self-beoordeling?   Sou jy nog in die wêreld kon uitgaan en sê:  ‘Ek is ‘n dissipel van Jesus met ‘n blye boodskap’ en ‘Ek is wat ek is deur die genade van God’?    Ons moet vir seker weet dat die ou en die nuwe identiteit nie vermeng kan word nie!  Waar staan jy in hierdie saak? 

Monday, 15 July 2019

DIE DUN LYN TUSSEN 'N WARE EN VALSE VERSTAAN VAN IDENTITEIT



Min dinge is meer belangrik in die lewe van 'n dissipel as die kwessie van identiteit. Daar is amper nie 'n area van jou bestaan op aarde wat nie daardeur geraak word nie.   
Hoe jy dink oor wie jy is, waar jy vandaan kom en wat jou vooruitsigte is, is krities belangrik. 

Juis hier is die Nuwe Testamentiese frase "in Christus" onmisbaar as jy wil verstaan hoe God dink oor jou identiteit.  Die verstommende waarheid oor hierdie saak is dat jou identiteit as dissipel van Jesus onlosmaaklik verbind is aan Jesus se identiteit. 

Net hier raak ons generasie egter die pad byster.  Ons hoor vandag baie oor ons "identiteit in Christus", maar die manier wat dit oorgedra word los ons dikwels met onsself in die middel en Jesus as die blote instrument wat óns lewe betekenis gee.

Die Nuwe Testamentiese prentjie plaas daarenteen vir Jesus in die middel en vereis van ons om ons identiteit dáár te vind.  Die Vader se fokus is Sy geliefde Seun en as ons fokus daar is en ons onderwerping aan Hom absoluut, vind ons in Hóm ons oorsprong en toekoms.  Anders bly ons fokus op onsself en al die belydenisse van "wie ék is in Christus" los my maar weer net met 'n ballon vol warm lug wat geen werklike verskil maak nie.

Dit is 'n fyn lyn, maar as jy aan die verkeerde kant van daardie lyn staan, het jy groot moeilikheid.  Dit is 'n misleiding en 'n gevaarlike een.  Soos met alle misleidings lyk dit aanvanklik of daar baie voordeel in is, maar een of ander tyd bars daai ballon.  Die waarheid oor wie Jesus is, is egter die hart van die evangelie en is vaste grond onder jou voete.

"EK in Christus" of "ek in CHRISTUS".  Waar is jou klem werklik?  Dink mooi voor jy antwoord.

Wednesday, 3 July 2019

DISSIPELS IS MEER AS NET VERGEEFDE MENSE



'n Ware dissipel van Jesus is nie net ‘n vergeefde persoon nie, maar ook ‘n nuwe persoon.  Hoeveel gelowiges leef vir jare met die onvoldoende idee van redding wat dit beperk tot vergifnis van sondes.  Verlossing in Nuwe Testamentiese terme sluit ‘n nuwe geboorte, ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe skepping in.  Dit is die hart van God se ewige raadsplan met ons as gelowiges.  God wou nog altyd "baie kinders tot heerlikheid" bring.  ‘n Christendom wat nie hiervan kennis neem nie, bly in ‘n pasgebore  stadium en mis konstant die planne en doelstellings van God.    

Dit is onmoontlik om ‘n volgehoue, betekenisvolle en diep gemeenskap met God te hê tensy ons begryp dat ons uit God gebore is en dat Christus nou in ons leef.  Ons is met die lewe van God verenig.  Dit is omdat ons nie die realiteit en diepte van hierdie waarhede besef nie, dat ons so maklik bo-oor Nuwe Testamentiese begrippe soos "kinders van God", "in Christus" en "heiliges" lees.  Ons begryp nie die feit dat dit nie net metaforiese taal is nie -  dit is ‘n werklikheid!   

Hoe kan ons heiliges genoem word as ons slegs vergewe is?  As jy slegs vergewe is, bly jy dieselfde persoon en kan jy in alle eerlikheid nie ‘n heilige genoem word nie.   Die briewe in die Nuwe Testament word aan die adres van die "heiliges" gerig omdat ons in Christus Jesus in werklikheid nuwe mense is.  Jy is nie langer die mens wat jy voorheen was nie.  Jy is nie langer die mens wat jy was voordat jy gelowig geword het nie.  Jy is "na God geskape in ware geregtigheid en heiligheid" (Efes. 4:24) en jy is 'n "nuwe skepsel in Christus" (2 Kor. 5:17).

Laasgenoemde vers is aan die meeste van ons bekend, maar ons verstaan nie die implikasies daarvan nie, want ons het so gewoond geraak aan die letter van die Woord en ons is so gebreinspoel deur ‘n Christendom wat na alles kyk vanuit ‘n menslike oogpunt.   Dit is tyd vir ons om na ons lewens te kyk uit God se oogpunt.  In God se waardebepaling is die nuwe geboorte allerbelangrik, want dit bring vereniging met Sy geliefde Seun en buiten Hom is daar geen redding, heiliging of verheerliking nie.

Monday, 1 July 2019

AAN WATTER KANT VAN DIE KRUIS LEEF JY?


'Jy moet sterf aan' is ‘n gewilde frase in gemeentes.  Natuurlik is daar baie dinge waaraan ons moet sterf, maar ons sal nooit  effektief sterf totdat ons verstaan dat ons eintlik alreeds dood is vir daardie dinge nie. 

Slegs die ervaring daarvan is nodig om te volg.   In die Skrif  word dit die geloofslewe genoem en hierdie geloofslewe is die gevolg van openbaring van die Bybelse feite deur die Heilige Gees.  Ons beskou onsself as dood, omdat ons inderwaarheid dood is.  Dit maak nie saak hoe moeilik dit vir jou mag wees om te begryp dat jy dood was nog voordat jy fisies gebore is nie - jy mag onder geen omstandighede die woord van God betwyfel nie.  As die Bybel sê dat jy met Christus gesterf het (verlede tyd), moet jy daardie feit in geloof aanvaar en jou lewe op daardie basis begin lewe terwýl jy die Heilige Gees vertrou vir toenemende openbaring.

" Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:3

Die praktiese implikasie van ons mede-kruisiging met Christus is die opstandingslewe in die krag van Christus.   Ons durf nie meer vertroue plaas in ons eie krag, wysheid of vermoëns nie.   Al die imperatiewe vir die dissipel van Jesus, bv.  die gebedslewe, Bybelstudie, aflegging van sonde, getuienislewering en aktiewe deelname aan gemeentelewe is steeds van toepassing, maar jy moet nooit weer daardie dissiplines sien as aktiwiteite waarin jy betrokke is as geskei van Jesus nie.   Wat jy ookal doen, moet jy doen in die krag van die lewende Christus in jou.  

Dit mag dalk vir jou lyk na ‘n redelik onbelangrike tegniese punt, maar dit is die presiese punt van verskil tussen uiteindelike geestelike uitbranding en ‘n lewe wat aanhou groei en uitbrei.  Begin om jouself  vandag as dood te beskou en terwyl jy in al die aktiwiteite van 'n dissipel betrokke mag wees nes voorheen, sal jy begin besef  dat daar ‘n nuwe krag in jou opbruis wat vloei uit jou innerlike wese. Die uiteindelike vraag is nie of jy die gedissiplineerde lewe  leef nie, maar aan watter kant van die kruis jy staan as jy in hierdie dissiplines betrokke raak.