Thursday, 26 September 2019

ONS MEES DRINGENDE BEHOEFTE IS DIE OPENBARING VAN CHRISTUS


As dit waar is, en dit is, dat "die volheid van die Godheid" net in Christus beskikbaar is en dat alle dinge net "in Hom stand hou" dan volg dit logies dat ons mees dringende behoefte in enige moontlike situasie die openbaring van Christus is.

Die Vader het alle dinge onder die voete van Jesus onderwerp en Hom as "Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee" (Efes. 1:22).  Daarom is die gebede van die Nuwe Testament primêr gefokus op die openbaring van Christus, d.w.s. die kennis, wysheid en insig wat die Heilige Gees skenk m.b.t. die teenwoordigheid van Christus in ons.

So baie dinge in die tydelike, natuurlike situasies op aarde trek ons aandag weg van hierdie fokus en eis dat dít die essensie van ons gebede moet wees.  Die Vader het egter 'n ewige voorneme ("eternal purpose") en dit bepaal Sý agenda vir elke gebeurlikheid op aarde.

"Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,  volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here." Efesiërs 3:10-11 

Hoe moet ons dan bid?  Siekte, finansiële probleme, verhoudingsprobleme, probleme by die werk, moeilikheid in die familie, probleme met die kinders, liefdeloosheid en onvergewensgesindheid, probleme in die land, geweld en misdaad; al hierdie dinge en meer kan ons spesifiek voor bid, maar hoe? 

Is die "ewige voorneme" van die Vader in Christus dan die bysaak en iets wat ons later in die hemel op kan fokus terwyl ons liewer hier-en-nou dringend ons aandag moet skenk aan die tydelike dinge?  Nee. Die "goeie stryd van geloof" is om in elke moontlike situasie op aarde ons oë op Christus te vestig en in al ons gebede vir groter openbaring van Hom te bid.  Die versoeking is om te redeneer "ons het reeds vir Christus, nou het ons die ander dinge nodig".  Dit is 'n fatale fout!

"Vader gryp asseblief in en onderneem vir hulle in daardie krisis, maar openbaar in en deur alles U Seun!  Vader voorsien asseblief vir daardie familie die nodige fondse, maar openbaar U Seun.  Vader genees asseblief daardie kind, maar openbaar U Seun in en deur die situasie.  Vader gee asseblief reën in droogte-geteisterde gebiede, maar bring veral die reën van Christus-openbaring in harte wat geestelik "droog" is!  Vader, bring asseblief verandering in mense se harte sodat die golf van geweld en misdaad gestop kan word, maar doen dit deur groter openbaring van U Seun."

Evangelie-gerigte en koninkryksgefokusde gebede gebaseer op die heerskappy van Jesus Christus in die harte van mense is die enigste opsie vir wedergebore dissipels.  Die Vader gaan vir seker nie Sý fokus verander nie.  Miskien is dit tyd dat ons die fokus van ons gebede baie mooi ondersoek om seker te maak dat ons op Sy bladsy is.

Monday, 23 September 2019

JESUS IS ALLES OF HY IS NIKS


Daar bestaan nie iets soos 'n dissipel wat op 'n afstand verhouding met Jesus beleef nie. Luister na Jesus se eie woorde in hierdie verband:

"En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie." Johannes 6:53

Hierdie woorde is bedoel om ons te skok tot in ons sokkies en ons bewus te maak van die absolute eis van dissipelskap.  Jesus is nie 'n ekstra bonus by al die ander voordele van Christenskap of 'n middel tot 'n doel nie. Hy is alles of Hy is niks.  Geestelik is Hy so onontbeerlik vir jou soos kos, water en suurstof. 

Thursday, 19 September 2019

GODDELIKE IMMUUNVERSTERKER


Vals leringe, dwalinge en verkeerde fokusse is vandag soos die plaag.  As jy dit op een plek bekamp, breek dit op tien ander plekke uit en versprei blitsig via die moderne media.  Hoe gemaak met hierdie verspreiding van die valse? 

Solank as wat ons Jesus net sien as die middel (i.p.v. die middelpúnt van alles) tot 'n ander doel of voordeel bly ons in 'n sin in die teoretiese dimensie (histories/dogmaties) of op die self-gerigte en self-gesentreerde baan.  Lewenskragtige geloof begin eers werklik wanneer ons Christenskap Jesus self is en ons fokus wegskuif van ons eie teologiese idees en van onsself na dit wat die Váder dink en sê oor Sy geliefde Seun.

Die hele Bybel wil ons harte bring by een fokus en plek van rus.  Al die profesieë, die beelde en die tipes van die Ou Testament lei na 'n enkele fokuspunt, die Persoon van Jesus Christus.  Dit is so maklik om Jesus self te mis terwyl jy besig is met honderde dinge aangaande Hom.

Dit is nie maklik om hierdie verskil te verwoord tussen 'n "Jesus die middel tot 'n doel" Christenskap en een wat absoluut gefokus is op die ken van "die Persoon van Jesus" as ons lewe en ons alles-in-alles nie.  Jesus is byvoorbeeld nie net die een wat my red van die hel en neem na die hemel nie, Hy ís my hemel hier-en-nou en soveel meer nog in die ewigheid. 

Vir baie sal dit dalk net klink soos 'n betekenislose, semantiese debat.  As dit is hoe jy voel, gaan dink asseblief weer 'n bietjie biddend oor die volgende tekste.

"En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand." Kolossense 1:17 

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun  wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het." Hebreërs 1:1-2 

"Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig." Efesiërs 1:10 


"Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel." Kolossense 1:28  

Ons verkondig nie net feite óór Hom nie.  Natuurlik is die historiese feite die basis van ons geloof (1 Kor. 15:1-8), maar ons verkondiging is in alles die Seun self as die finale antwoord vir alles wat verkeerd en boos is op hierdie aarde. Die enigste regdenkende en logiese respons op hierdie onomstootlike waarheid is gevolglik om voortaan vir niks anders te leef as die persoonlike en intieme ken van hierdie Jesus nie.

"Sodat ek Hom kan ken..."  Filippense 3:10a 

Hierdie kennis is die enigste immuunversterker wat onsself, ons families en ons gemeentes weerbaar maak teen valsheid en dwaling.

Monday, 16 September 2019

CHRISTENSKAP ÍS CHRISTUS


Ware Christenskap is baie meer as net geloof in die regte feite. Dit begin met die bonatuurlike, hemelse aktiwiteit van God die Vader in die menslike hart en dit word na wedergeboorte onderhou deur 'n lewende geloof in Christus en Sý aktiwiteit in die innerlike van die dissipel.

Christenskap ís Christus.  Dit gaan nie net oor Christus nie.  Dit is die organiese deelname aan die lewe van Christus.  Die Vader se fokus is die Seun en Sy enigste plan vir verlossing en vervulling is 'n vereniging met hierdie Seun. Dit is eers wanneer ons begin rus in hierdie waarheid dat ons fokus wegskuif van onsself.

Lees byvoorbeeld die evangelie van Johannes in daardie lig.  Dit is juis geskryf in 'n tyd van afvalligheid toe Christenskap sy ware karakter begin verloor het.  Leef ons nie dalk ook in so 'n era van mens-gerigte Christenskap nie? 

Die uiteindelike doel van Christenskap is nie net Christus vir my nie, maar Christus in my as my alles-in-alles.

"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense." Johannes 1:4 

"Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal." Kolossense 3:11 

Tuesday, 10 September 2019

DIE DRIE VERSOEKINGE VAN DIE WÊRELD


"Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld." 1 Johannes 2:15-16 

Kyk bietjie hoe hierdie drie versoekinge van die wêreld teenwoordig was met die sondeval en duidelik uitgespel word in die Bybel om ons insig te gee in die wese van versoeking.

"Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet." Genesis 3:6 

Die "begeerlikheid van die vlees" is die versoeking om die wêreld te geniet as 'n absolute wat totale satisfaksie kan bied, onafhanklik van 'n dankbare gesindheid vir die goeie gawes van God en vergenoegdheid met dit wat Hy "vandag" vir my bied.

Die "begeerlikheid van die oë" is die versoeking om die wêreld in sy huidige toestand te besit (materiële besittings en besitreg) as iets wat ewigdurend is en dus onafhanklik van die goddelike visie van die "nuwe hemel en aarde" wat nog in die toekoms is.

Die "grootsheid van die lewe" is die versoeking om eer te ontvang in hierdie tydelike wêreld, onafhanklik van God se ewige roeping en skeppingsdoel vir my lewe en die belonings van die toekomstige bestel.

Die "liefde van die Vader" is die Seun.  As 'n mens se lewe gekenmerk word deur 'n onophoudelike gejaag na tydelike en materiële plesier, besittings en eer beteken dit eenvoudig dat jy nie die Seun in sig het nie.  Om die Seun te "sien" met geopende geestelike oë gee vir jou 'n onvermydelike begeerte om Hom te ken en hierdie begeerte is dan ook die oorheersende passie van jou lewe. 

"Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel." Psalms 27:4 

"Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word." Filippense 3:10 

Ware dissipels is nie gevrywaar van die drie versoekinge van hierdie wêreld nie, maar hulle lewens word nie beheer deur die onversadigbare drang na tydelike plesier, besittings en eer wat so kenmerkend is van ongelowiges nie.  Hulle word daarteenoor gekenmerk deur die passie om God toenemend te ken! 

Wat is jou passie?  Waarvoor leef jy?  Wat dryf jou? Waarheen is jy oppad?  Vandag se begeertes is môre se realiteit en daarom het jy nodig om in die hier-en-nou jou hart te toets en eerlik te wees oor jou bevindinge.

Wednesday, 4 September 2019

INTIMITEITSARMOEDE


Alle gelowiges het dieselfde toegang tot God en reg tot intimiteit en gemeenskap.  Alle gelowiges word deur God uitgenooi om met vrymoedigheid in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus (Heb. 10:19).  Alle gelowiges is volgens 1 Korinthiërs 1 vers 9 geroep tot die gemeenskap met (of "van") die Seun.  Waarom is dit dan dat sommiges ‘n verhouding van groeiende intimiteit met God beleef en ander nie? 

Die intimiteitsarmoede begin by 'n verkeerde verstaan van redding.  Ons word nie in die eerste plek gered om hemel toe te gaan nie, maar om God te ken. 

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het”.  Johannes 17:3  

Hierdie ‘ken’ praat van ‘n intieme verhouding met God.  Die intiemste verhouding wat ons op aarde kan hê is slegs ‘n skadubeeld van die verhouding wat God met ons wil hê.  Ons belydenis moet dus nie in die eerste plek wees "ek het die ewige lewe, ek gaan hemel toe" nie, maar "ek het die ewige lewe en dit beteken ek kan en mag die Vader en die Seun ken!"

Ons Vader begeer dat ons nie net uit die Gees gebore sal wees nie, nie net sal weet dat ons wettiglik verenig is met Hom in Sy Seun nie, maar dat ons ‘n intense soeke sal hê na 'n immerverdiepende verhouding met Hom.

Die lewe van 'n dissipel is in daardie sin ‘n paradoks.  Ons is mense wat reeds gevind het, maar tog hou ons nooit op met soek na ‘n nog intiemer verhouding met God nie.  Ons is volkome in Christus, maar ons moet begeer om Hom elke dag beter en meer intiem te ken.

"Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel." Psalms 27:4 

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11 

"Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word." Filippense 3:10 

Praktiese Raad:

·         Jy sal nooit so ‘n groeiende intimiteit met Christus beleef as jy dit nie soek en ‘n absolute prioriteit in jou lewe maak nie. 

·         Pasop vir ‘n selftevredenheid wat stop voordat dit die beloftes van God in besit geneem het.  Dit is baie maklik om jou gebrek aan ervaring te rasionaliseer en weg te redeneer en so jouself te beroof van die seën wat God vir jou begeer.

·         Onthou dat dit nie daaroor gaan om ‘n ervaring te soek nie, maar om Christus werklik te ken, ook in Sy lyde en gelykvormigheid aan Sy dood.  Volg dus gewillig net waar die Gees jou mag lei op hierdie pad saam met Christus, een tree op ‘n slag.

·         Verwág dat God Homself op ‘n heerlike manier aan jou sal openbaar in Christus en moet nooit vergeet dat die heerlikheid van die Nuwe Verbond strek tot verheerliking van God en nie van onsself nie.