"Dit
is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou
geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. God het besluit om aan hulle bekend te maak
hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan
is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid." Kolossense
1:26-27 (NAV)
Die boodskap van ons eenheid en identifikasie
met Christus is in ons tyd 'n gekaapte boodskap.
Satan gebruik nie net onderbeklemtoning of
oorbeklemtoning van Bybelse waarhede om die krag daarvan te neutraliseer
nie. Wat hy ook doen is om dit te
kaap. D.w.s hy draai die boodskap op sy
kop. Hy verdraai die lering om dit iets
anders te maak as wat dit werklik is en mense dan te laat glo dat hulle besig
is met die ware Jakob. Hy word nie verniet in 2 Korinthiërs 11 vers 14 beskryf
as iemand wat hom voordoen as 'n "engel van die lig" nie.
In ons tyd is die Nuwe Testamentiese fokus op
ons eenheid met Christus en die implikasies daarvan tot 'n groot mate herstel
in soverre as wat dit 'n belangrike lering is wat vir seker baie lugtyd nodig
het. Dit is egter uiters belangrik dat
ons onsself reg posisioneer t.o.v. hierdie sleutelwaarheid in die Nuwe Testament.
In hierdie verband het ons nodig om drie waarnemings te maak:
Eerstens, die klem word vandag dikwels gelê op
wie EK is in Christus, i.p.v. op wie ons IN CHRISTUS is en wie HY in ons is.
Dit is 'n fatale fout met verreikende implikasies. Dit is om die waarheid te sê meer as net 'n
fout; dit is 'n uiters gevaarlike misleiding en dwaling. Die fokus bly in die Nuwe Testament altyd op
die Persoon en werk van Christus en nie op iets wat ons in onsself is of het
nie. Dit gaan alles oor die
"Geliefde Seun"; Jesus ons Here.
Hoe kan 'n mens eerlik die Nuwe Testament lees en by 'n ander
gevolgtrekking uitkom?
Tweedens, die manier wat die voordele van ons in
Christus-posisie in die praktyk uitwerk in ons lewens, is deur 'n gebroke
afhanklikheid wat swaar leun op die wysheid en krag van CHRISTUS in ons en nie
op MY POSISIE in Christus nie. Ons generasie het tot 'n groot mate die hele in
Christus boodskap rangeer onder 'n meganiese "positiewe denke en
proklamasie" sindroom van wie EK is. Nie net neutraliseer dit die krag van
die ware "in Christus" boodskap nie, maar dit maak ook 'n deur oop na
'n droomwêreld van sataniese illusies wat die potensiaal het om die skippie van
jou lewe (en dalk jou familie s'n) op die rotse te laat beland.
Let op na die element van afhanklikheid en die
implikasie van nederigheid in die volgende tekste:
"Ek
is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5 (OAV)
"Ons
wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat
alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 2 Korinthiërs 4:7 (NAV)
Derdens, by verre die grootste gros van 'in
Christus' stellings in die Nuwe Testament het betrekking op dit wat "ons"
(meervoud) in Christus ontvang het en
nie wat "ek" ontvang het nie. Ons generasie is baie individualisties
en mis hierdie punt amper heeltemal.
Natuurlik is dit wat waar is van "ons"
in Christus ook vir die indiwidu geldig, maar ons het dringend nodig om die
korporatiewe karakter van die Nuwe Testament opnuut raak te sien en die
implikasies daarvan op alle vlakke te gehoorsaam.
"So
is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van
mekaar." Romeine 12:5
"Maar
nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die
hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle
nie nodig nie." 1 Korinthiërs 12:20-21
Leef die ware betekenis van die "in
Christus" boodskap in jou hart of het dit ook vir jou 'n gekaapte waarheid
geword wat jou en jou geliefdes gevange geneem het in 'n tronk van misleiding? Bedink
asseblief weer biddend die drie punte hier bo en wees brutaal eerlik met
jouself. Daar is steeds hoop as jy
bereid is om te bely en erken en weg te draai van die gekaapte boodskap na die
ware boodskap.