Wednesday, 26 February 2020

LIEFDESGEHOORSAAMHEID BRING VOLHEID VAN VREUGDE EN MAAK JESUS SIGBAAR


Die lewe van 'n dissipel van Jesus is eenvoudig om Hom te aanskou, te geniet, te deel met ander en te leef (uitdrukking te gee) in al my verhoudings op aarde.

Laasgenoemde van hierdie vier aspekte kan mees akkuraat beskryf word as liefdesgehoorsaamheid. Dit is gehoorsaamheid vanuit die liefde van die Seun in ons en ons reaksie op daardie liefde om 'n kanaal te wees wat weer Sy liefde vir ander demonstreer in ons gesindheid, woorde en dade; hetsy deur ons positiewe inisiatiewe of ons respons op mense wat moontlik teenoor ons sondig en vleeslik optree. Hierdie gehoorsaamheid is in 'n sin radikaal anders as die uiterlike gehoorsaamheid onder die wet. Dit opereer een honderd persent vanuit gemeenskap met die Geliefde soos wat ons Hom aanskou en geniet.  Dit werk altyd van binne af buitentoe.

Volheid van vreugde word nou meer as net 'n moontlikheid, dit word 'n werklikheid!  In ons gemeenskap met Jesus beleef ons onvermydelik liefdesimpulse teenoor mense met wie ons daagliks skouers skuur.  Ons gehoorsaamheid aan hierdie innerlike impulse van Sy liefde kan beskryf word as 'n liefdesgehoorsaamheid en dit sluit natuurlik nou aan by die gedetailleerde moreel-etiese lering van die Nuwe Testament wat deur Jesus begin is en die apostels voortgesit is. 

Hierdie innerlike liefdesgehoorsaamheid  staan dus nooit los van die Bybel nie, maar word eerder bevestig, versterk en gekanaliseer deur die lering van die Bybel.  Terselfdertyd rig die lering ons ook en verseker dat ons nie hierdie liefde misinterpreteer deur allerlei subjektiewe waarnemings en toepassings a.g.v. gedagtepatrone wat nog nie volledig vernuwe is nie (Rom. 12:2).   Die innerlike lering en impulse van die Gees van Christus vind met tyd perfekte harmonie met die uiterlike lering van die Bybel soos wat ons volhard in gemeenskap met die Seun in die Woord en kinderlike gehoorsaamheid as 'n respons op Sy liefde.

Biddende betragting van die volgende gedeelte in Johannes 15 behoort dit vir jou baie duidelik te maak.

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.  Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het." Johannes 15:9-12

Monday, 24 February 2020

HOU JOU DENKE BINNE HIERDIE "IN CHRISTUS" RAAMWERK


Daar is baie maniere om te dink oor jou nuwe lewe as 'n dissipel van Jesus Christus.  Dit bring egter besonderse rus en fokus om daaroor te bly dink vanuit die eenvoud van jou verhouding met die Persoon van Christus. 

"Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus..." 2 Corinthians 11:3a (NAV)

"But I fear, lest somehow, as the serpent deceived Eve by his craftiness, so your minds may be corrupted from the simplicity that is in Christ. " 2 Korinthiërs 11:3  (NKJ)

Die volgende vier werkwoorde som as't ware die Nuwe Testament se leer op m.b.t. ons daaglikse lewe van geloof in eenheid met Christus.

  • ·         AANSKOU CHRISTUS


"En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18

Jou lewe as 'n dissipel het begin toe die Heilige Gees die oë van jou hart geopen het om Jesus te "sien" in sy lieflikheid en heerlikheid.  Van daardie oomblik af het dit die primêre verantwoordelikheid van jou lewe geword om aan te hou om Hom te "aanskou" ongeag die omstandighede van jou lewe op aarde. 

Jy durf nie die oë van jou hart wegdraai van Hom nie, want geloof bly net bestendig solank as wat jy wegkyk van jouself en die "Lam van God" aanskou (Joh. 1:29; Matt. 14:29-31).  Wanneer jy die Bybel optel, onthóú dat dit in die eerste plek gaan daaroor om Jesus te sien en weer 'n vars beeld te kry van Sy heerlikheid.

Alles begin hier.  FOKUS op Christus te midde van die legio afleidings van die moderne lewe!

  • ·         GENIET CHRISTUS


"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1

Hoe meer ek Jesus "aanskou" met onverdeelde aandag hoe meer word ek getrek na die lieflikheid van Sy Persoon deur die lering en krag van die Heilige Gees.  Weens moeilike omstandighede op 'n gevalle planeet word ons egter ook gedurig vermaan en herinner om nie te vergeet nie dat ons, ons moet "verbly in die Here" (Fil. 4:4).

  • ·         DEEL CHRISTUS MET ANDER


"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16

Dit is so belangrik om in die gewoonte te kom om jou vreugde in Jesus spontaan te deel met ander soos wat die Heilige Gees jou lei m.b.t. wie, waar en hoe.  Dit verg egter soms 'n radikale verandering van geestelike klimaat en kultuur in jou huis en gemeente om te verstaan dat dit nie net pastore en dominees is wat die Woord met ons moet deel nie, maar dat ons almal geroep is om dit te doen.  En ook nie net op 'n Sondag nie, maar elke dag!

  • ·         LEEF CHRISTUS


"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my...." Galasiërs 2:20a
"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19

"Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens." Romeine 12:1

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kolossense 3:12

Hierdie aspek van die Christus-lewe verg baie tyd en dikwels baie trane soos wat ons geestelik groei en as't ware leer om uit die pad uit te kom sodat Christus 'n ekspressie kan hê in ons lewens (d.w.s. nie net deur ons woorde nie, maar ons karakter, gesindheid en dade).  Dit is egter die kulminasie van die ander drie werkwoorde en dit is krities belangrik om te onthou dat ons nie net geroep is om die Woord met mekaar deel nie, maar letterlik die lewe en karakter van Jesus. 

Die nuwe lewe in ons het 'n liggaam en 'n verstand (Rom. 12:1-2) nodig om uitdrukking te vind.  Die uiterlike mens moet in lyn kom met die nuwe innerlike. 

Die Vader verwag nie van my om myself te verander nie, maar wel om in geloof te reageer op die evangelie deur Jesus te aanskou, te geniet en te deel met ander sodat die Heilige Gees toenemend ook die karakter van Jesus in my kan vorm met die oog op die ekspressie van Christus in 'n gevalle wêreld.

Thursday, 20 February 2020

ORDINARY PEOPLE LIVING WITH EXTRAORDINARY DEVOTION TO CHRIST


"I say this for your own benefit, not to lay any restraint upon you, but to promote good order and to secure your undivided devotion to the Lord." 1 Corinthians 7:35

 The apostles fully expected ordinary believers to live with an extraordinary devotion to Christ. This was not the norm solely for preachers, pastors and full-time gospel workers, but for every single disciple of Jesus. Why did the apostles have this astounding expectation and how does it work practically even in our day and age?

Monday, 17 February 2020

DIE BEGEERTES EN REAKSIES VAN DIE NUWE MENS IN CHRISTUS


"Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs 5:17

Die nuwe mens in Christus is organies en geestelik een met Christus en daarom het daardie nuwe mens nuwe begeertes en ook nuwe reaksies op letterlik alles in hierdie tydelike, gevalle wêreld.
In Romeine 12 vers 2 leer Paulus ons dat ons uiterlike gedrag verander deur die vernuwing van ons denke. Dit beteken kortliks dat ek moet leer om te dink in lyn met die nuwe skepping in Christus. Ek is reeds 'n totaal nuwe mens in Christus. Wie ek is, is nie in 'n proses van verandering nie. Ek is nie halfpad nuut nie. Maar my gedagtes moet wel vernuwe word en in lyn kom met die nuwe identiteit en nuwe lewe.

Dit beteken byvoorbeeld in die praktyk dat ek gereeld myself sal afvra in verskillende situasies in my lewe: "Is hierdie begeerte of hierdie reaksie wat ek nou beleef uit die nuwe mens of is dit deel van die ou onafhanklike lewe en denkpatroon?" Die antwoord op daardie vraag bepaal dan voortaan my gedrag en optrede. Selfs met hierdie insig verkies ons soms steeds die ou, "bekende" patrone, maar langs die weg van gemoedsvernuwing lei die kosbare Heilige Gees ons stelselmatig na 'n volle ekspressie van die nuwe lewe soos wat ons met geloof volhard in die "woord van Christus" (Kol. 3:16) en die ou weë vir altyd vaarwel toeroep.

"Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie." Romeine 6:11  (NAV)

Monday, 10 February 2020

DIE ONVERANDERLIKE LEWE IN DIE WYNSTOK

"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:4-5

Wat 'n kosbare waarheid om te bedink, dat die lewe in die Wynstok onveranderlik is.  Of ek nou geleef het in die sestiende eeu en of ek leef in die een-en-twintigste eeu onder totaal ander omstandighede in die moderne wêreld die lewe in die Wynstok is nog presies dieselfde.  Of ek sukkel met 'n perd se hoefysters of 'n motor se bande die oorwinning in my binneste kom steeds van dieselfde Persoon wat in my leef.

Deur al die eeue vir alle gelowiges (lote in die wynstok) het die Bron van ons lewens nog nooit verander nie.  Die hemelse lewe en krag van Christus verander nooit nie.  Dit maak nie saak watter krisis jy in die gesig staar of hoe moeilik jou omstandighede is nie, God se antwoord bly steeds die lewe in die Wynstok. 

Ons het nodig om minder beïndruk te wees met die detail van ons probleme en situasies en meer bewus van die onveranderlike hemelse werklikheid in Christus, daar waar ons ware lewe "saam met Hom verborge is in God" (Kolossense 3:3).  Ja vir seker, ons leef steeds óp die aarde, maar die vraag is of ons leef vanuit die aardse of vanuit die hemelse?  Hoe staan die saak in jou geval?

Wednesday, 5 February 2020

DIE PERSOON AGTER DIE WOORDE


Daar is 'n lewende God agter die woorde van die Bybel en ons moet so versigtig wees om nie besig te word met die woorde en dan die Persoon te mis nie.

In elke hantering van die Bybel het ons nodig om te begryp dat ons bedoel is om God self te ontmoet in die bladsye van die Bybel.  Die Bybel openbaar Christus en Christus doop ons met die Gees en bring ons by die Vader.  Daar is 'n Stem agter die woorde.  Daar is 'n Persoon agter die inhoud en die leringe.

Die volgende keer wat jy die Bybel opneem (en elke keer daarna), stop net vir 'n paar sekondes en dink daaraan dat daar 'n lewende Persoon is wat nou gaan praat met jou.  Hierdie eenvoudige gedagte (idee/beginsel) het die potensiaal om jou hele ervaring met die Bybel te verander. 

Skielik word die teks lewend en al is daar kulturele, historiese en taalkundige detail wat in ag geneem moet word, skuif die tegniese aspekte vireers na die agtergrond en die geestelike dimensie word 'n lewende werklikheid in die aangesig van die lewende God.

Tuesday, 4 February 2020

BYBELKENNIS IS NIE NOODWENDIG CHRISTUS-KENNIS NIE


Dit is moontlik om baie besig te wees met die Bybel en studies van die Bybel sonder om werklik te groei in die kennis (hartskennis) van Christus.

"Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie." Johannes 5:39-40

"[Christus] in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is." Kolossense 2:3

"Sodat ek Hom kan ken..."  Filippense 3:10

Hierdie onderskeid mag dalk vir jou klink na 'n bloot akademiese of semantiese vraagstuk wat nie veel praktiese waarde het nie, maar ek wil jou verseker dat min dinge in jou wandel met die Here van meer kritiese belang is as dit.

Hoekom is dit moontlik om die Bybel met ywer en entoesiasme te hanteer en steeds nie werklik geestelik te vorder nie?  Anders gestel, hoekom is Bybelkennis nie gelyk aan Christus-kennis nie?  Kortliks, omdat kennis op sigself as't ware een van die heel belangrikste modules is in "die universiteit van die gevalle Adam". 

Ek mag 'n ware dissipel wees met 'n egte soeke na waarheid, maar wat ons soms nie verstaan nie is dat die gevallenheid in my selfs hierdie soeke kan misbruik om my eie onafhanklike lewe en identiteit te bevorder en versterk.  Ek word 'n slimmer en beter outjie met tonne teologiese kennis wat my laat uitstyg bo ander dissipels.  Kennis word 'n prestasie, en voor ek myself kom kry is ek weer op die self-verbetering baan in plaas van die "Christus in my gevorm" (Gal. 4:19) baan.

Luister bietjie wat het ons eie geliefde Andrew Murray te sê gehad oor hierdie saak:

"The soul satisfies itself with thoughts which are but the forms and images of truth, without receiving the truth itself in its power. God's way is ever first to give us, even though it be but as a seed, the thing itself, the life and the power, and then the knowledge. Man seeks the knowledge first, and often, alas! never gets beyond it. God gives us Christ, and in Him hid the treasures of wisdom and knowledge. O let us be content to possess Christ, to dwell in Him, to make Him our life, and only in a deeper searching into Him, to search and find the knowledge we desire. Such knowledge is life indeed."

N.S. Pasop om aan die ander kant 'n mistiese Christus-kennis te bevorder wat los staan van die Bybel.  Bybel-lees en Bybelstudie is vir seker 'n daaglikse prioriteit vir 'n dissipel, maar die doel moet nooit blote Bybelkennis wees nie, maar altyd 'n organiese en geestelike hartskennis van Jesus.  Ware teologie is dus die vrug van 'n organiese Christologie.  Dit is egter 'n bespreking vir 'n ander keer.