Monday, 27 April 2020

GOD SE ENIGSTE PLAN WAS NOG ALTYD VIR CHRISTUS OM JOU HORISON TE VUL


"...maar Christus is alles..." Kolossense 3:11

Soos wanneer 'n mens by die see staan vroeg in die oggend op 'n wolklose dag en jy kyk na die son wat opkom oor die waters en stadig maar seker die hele horison verower, so is dit bedoel om te wees in ons aanskoue van Christus in die innerlike mens. Dit is die hoofdoel van die hele Bybel, van die evangelie, van ons verlossing, van al ons gebede en al ons gemeente aktiwiteite.

As Christus nie jou horison meer en meer vul nie mors jy net jou tyd, al doen jy elke dag op jou eie of saam met ander Bybelstudie, bid vir ure en evangeliseer so dikwels as moontlik. Die wese en karakter van Christus kan nooit verander nie en dit is om almal te vul met Homself. Christus is nie net die instrument van ons verlossing en die sentrale persoon daarvan nie, Hy ís die begin en die einde van die evangelie en alles tussenin. Lees Kolossense 1 verse 15 tot 20 met aandag as hierdie stelling vir jou vergesog klink.

Daarom is énige ander kriterium as 'n lewe gevul met Christus en wat dan oorloop van Christus totaal onvoldoende om die waarde van 'n mens se tyd op aarde aan die einde van sy lewenspad te beoordeel. Is jou lewe hier-en-nou in die proses om toenemend gevul te word met Christus? Indien nie, draai weg van alles en almal en kyk op na waar "die son van geregtigheid" besig is op te kom oor die waters van jou hart en ook onverpoosd in die geskiedenis van die mensdom.

"Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal." Maleági 4:2

Daar is honderde dinge wat vandag nog gaan eis dat hulle belangriker is as Christus op die horison van jou hart. Die uurglas loop leeg. Kyk op.

Wednesday, 22 April 2020

JESUS STAAN NIE OP DIE WAL NIE, HY IS IN DIE BOOT


Dieselfde Jesus wat die storm stilgemaak het leef in jou en Hy is ook teenwoordig in die midde van Sy mense in families en gemeentes. 

Wanneer die golwe van omstandighede breek oor jou lewe en jou gesin is dit krities belangrik om die vaste versekering te hê dat Jesus nie apaties eenkant staan en maar net probeer om jou van 'n afstand af te bemoedig nie. 

Die innerlike stilte wat Hy bring stel jou in staat om vanuit Sý vrede op te tree en in geloof Sý leiding te volg vir die beste moontlike uitkoms.  Jesus is teenwoordig! Glo dit en verwag altyd dat Sy bonatuurlike vrede stabiliteit en rigting sal gee in elke situasie.

"En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ‘n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ‘n stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!" Lukas 8:23-25


Wednesday, 15 April 2020

STEL JY WERKLIK BELANG IN JOU EWIGE ERFENIS?


As mense 'n aardse testament sorgvuldig deurwerk om te sien wat hulle alles geërf het en aardse testamente bring net materiële en tydelike voordele, waarom is so baie dikwels so traag om die ewige testament (die Bybel) te fynkam vir die ewige rykdom wat in Christus vir ons weggelê is?

Miskien het jy nog nooit so daaraan gedink nie en het jy maar nog altyd net die ewigheid gesien as die hemel waar jy in elk geval eendag alles sal ontvang, so hoekom sal jy nou-al daarin belangstel.  Groot fout!  As 'n boer vir sy seun 'n baie waardevolle plaas gaan nalaat, maar die seun toon baie min belangstelling in die plaas of die boerdery, hoe sal dit die boer laat voel en wat sal sy reaksie wees?

Lees biddend die onderstaande tekste en vra jouself of jy werklik belangstel in jou ewige erfenis en waardering het vir die onnaspeurlike geestelike rykdom in Christus Jesus. 

"Want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie." Luke 10:24

"Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien." 1 Petrus 1:12

"Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig." Efesiërs 3:8

"En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32

Monday, 13 April 2020

STAAN VAS IN DIE REEDS GEREALISEERDE FEITE VAN DIE EVANGELIE!


Om terug te draai na die ou dispensasie voor Jesus Sy verskyning gemaak het,  is soos om gefassineer te bly met die sonar van 'n baba wat geneem is voor sy geboorte terwyl jy reeds die lewende baba in jou huis het!

"Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17 Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus." Kolossense 2:16-17  (NAV)

" In view of these tremendous facts, don’t let anyone worry you by criticising what you eat or drink, or what holy days you ought to observe, or bothering you over new moons or sabbaths. All these things have at most only a symbolical value: the solid fact is Christ."  Col. 2:17-18 (J.B. Phillips)

"These things were like a shadow of what was to come. But what is true and real has come and is found in Christ." Col. 2:17 (NCV)

Die vleeswording van Jesus en Sy dood, opstanding en verheerliking aan die regterhand van die Vader is volbragte historiese feite en ons het nodig om vas te staan in die werklikheid van hierdie "groot saligheid" (Heb. 2:3).

Boonop staan ons nou in die realiteit van Christus wat in ons woon na die uitstorting van die Heilige Gees.  Nog 'n afgehandelde historiese feit.  Hoe kan ons so dwaas wees om terug te gryp na die skaduwee wat maar net getuig het van dit wat sou kom. 

Een van die satan se mees effektiewe strategieë is om ons besig te hou met  allerhande godsdiens-aktiwiteite wat, wetend en onwetend, die volmaakte verlossingswerk van Jesus minag en Sy teenwoordigheid in die gelowige as't ware ignoreer.

Die lieflike werklikhede van die evangelie moet soveel gewig dra in jou hart dat geen hoeveelheid "briljante teologiese argumente"  jou ooit sal oortuig om weer 'n fassinering te ontwikkel met die sonar van die ongebore baba nie.

Thursday, 9 April 2020

EERSTE LIEFDE IS NIE OPSIONEEL NIE


Ons is gemaak om te leef met Jesus as die middelpunt van ons wese en die essensie van ons bestaan. Geen mens kan leef en funksioneer soos wat God oorspronklik bedoel het as Jesus nie die liefling van sy of haar hart is nie.

Die "eerste liefde" wat die Bybel van praat in Openbaring 2 vers 4 is nie 'n opsionele ekstra wat jy kan vat of los na willekeur nie. Hierdie liefde is die DNA van ons bestaan en sonder dit val alles uiteindelik uitmekaar; insluitende al ons verhoudinge. Alles disintegreer as Jesus nie die middelpunt daarvan is nie. Dit is hoe die Vader hierdie heelal ontwerp het.

"Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand." Kolossense 1:16-17

Tuesday, 7 April 2020

LEEF JY IN DIE VREUGDE VAN DIE NUWE JERUSALEM?


Die vreugde van die mense van God in die stad van God is 'n kragtige getuienis en uitnodiging vir verlore mense om die tydelike en vlietende vreugdes van "aardse stede" te laat vaar en die alternatief ("volheid van vreugde") in Christus te vind.

"En op dié dag het hulle groot offers gebring en was vrolik; want God het hulle groot vreugde verskaf, en ook die vroue en kinders was vrolik, sodat die vreugde van Jerusalem tot ver weg gehoor is." Nehemia 12:43

Die herstel van die aardse Jerusalem het vir die mense van God in die Ou Testament groot vreugde verskaf.  Die aardse stad is egter net 'n simbool van die hemelse Jerusalem; die ewige stad van God waar ewigdurende vreugde heers in die teenwoordigheid van God.

"Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." Hebreërs 11:10

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

Volgens Hebreërs 12 het die mense van God van die Nuwe Testamentiese era reeds gearriveer in hierdie wonderlike, hemelse stad!

"Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges."  Hebreërs 12:22-23

Hierdie waarheid is so verstommend en rewolusionêr dat 'n mens dit kwalik kan glo wanneer jy dit die eerste keer lees of hoor.  Hoe kan dit wees dat ek nog leef in hierdie gevalle en droewige wêreld van sonde en dood en terselfdertyd in 'n hemelse woning kan wees?  Die antwoord is dat my ware lewe vanuit God se perspektief Christus is (Kol. 3:4) en dat Hy my roep om my hart en gedagtes te rig op hemelse werklikhede in Hom selfs terwyl ek 'n bestaan het in die tydelike wêreld.

Ons is in die wêreld, maar nie meer van die wêreld nie.  Ons het dus nodig om vanuit die ewige in die tydelike te leef.  Dit beteken geensins dat ons ongevoelig is vir die verwoesting, pyn en lyding rondom ons nie, maar wel dat ons bo dit kan leef en juis in daardie vreugde van die "ewigheidsvisie" verlore mense kan wakker maak vir 'n ander wêreld.  God roep ons op om mense wakker te maak vir 'n wêreld wat nie nou met die oog gesien kan word nie, maar wat nietemin 'n onverganklike werklikheid is.

"Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig." 2 Korinthiërs 4:18

"As bedroefdes, maar altyd opgeruimd.."  2 Korinthiërs 6:10

"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" Filippense 4:4

Wednesday, 1 April 2020

KOLOSSENSE DRIE "LOCKDOWN"


"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." Kolossense 3:1-2

Ons moet radikaal onderskei tussen hemel en aarde as ons geestelik wil groei.  Ons moet kyk na die aarde van die hemel af, nie andersom nie.  Ons denke moet as't ware in 'n "lockdown" in die hemel wees sodat die virus van die korrupte denke van die gevalle Adam ons nie kan infekteer nie.  Niks op aarde is meer aansteeklik as hierdie gevalle denkwyse ("mindset") nie en dit is letterlik orals. 

"Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê." 1 Johannes 5:19

Ongelukkig is dit nie net in die wereld nie, maar ook in die meeste kerke want die godsdiens-mentaliteit van Adam is maar net dieselfde virus wat op 'n ander manier presenteer. Dit is onmoontlik om die stukkende, gevalle wêreld met die krag van die evangelie te bedien as ons nie eers self 'n radikale verandering van perspektief kry vanuit "hemelse plekke" (Efes. 2:6) met die "sin van Christus" (the mind of Christ) nie (1 Kor. 2:16).  Lees Kolossense 3 verse 1 tot 4 in hierdie lig. Dit is niks anders as 'n hemelse "lockdown" nie en dit is verfrissend, verlossend en vernuwend.  Op geen ander plek kan ons die geestelike toerusting kry om ons generasie effektief te bedien nie.

"Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie." Jesaja 40:30-31