Thursday, 28 May 2020

OORWINNING IN GEBROKENHEID


Historiese konteks is krities belangrik vir korrekte interpretasie.  Sonder dit word uitlegkunde inlegkunde en begin ons om allerhande idees uit ons eie moderne verwysingsraamwerk in te lees in die teks.

Kom ons neem die lering oor oorwinning as voorbeeld.  Gestel jy vra twintig mense uit twintig verskillende gemeentes vandag om in 'n paar sinne op te som wat dit beteken vir 'n dissipel van Jesus om 'n oorwinnaar te wees. 

Hoeveel sal die vraag beantwoord in terme van die historiese konteks van die hele Nuwe Testament en spesifieke boeke en dit dán toepas op ons lewens as dissipels in die een-en-twintigste eeu?

As 'n mens die historiese konteks wil kry het jy nodig om 'n hele boek van die Bybel te lees, nie net 'n versie hier en daar nie.  Kom ons neem 'n redelik bekende vers as voorbeeld.

"Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei."  2 Korinthiërs 2:14 

Uit hierdie vers kan jy haal "God laat ons altyd triomfeer in Christus".  Maar dan het jy nog nie eers die hele vers aangehaal nie.  Dalk het jy nog nie eers die paragraaf gelees waarin die vers voorkom nie, om nie te praat van die hoofstuk of die hele boek nie.  Kyk byvoorbeeld na wat Paulus verder aan in die boek sê:

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie." 2 Korinthiërs 4:7-9 

Na ek dit gelees het, kan ek steeds sê "God laat ons altyd triomfeer in Christus", want dit is 'n Bybelse stelling, maar my begrip van wat hierdie oorwinning behels het dramaties verander en verbreed.  Ek begin nou te sien dat dit oorwinning in gebrokenheid is wat die Bybel van praat, en nie noodwendig dat my omstandighede altyd oorwegend positief moet wees nie.

Dalk klink dit nie nou meer vir jou na goeie nuus nie, maar die verskil is dat jy nou te doen het met die werklikheid, die ware leer van die Bybel.  Jy het nou vaste grond onder jou voete.  Jy het iets beet wat die toetse van die lewe kan deurstaan in die werklike, onseker, gevalle en gebroke wêreld. 

Kom ons kyk na net nog een voorbeeld in die Nuwe Testament.

"Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Romeine 8:37 

Wat kry jy uit hierdie teks?  Moenie te vinnig antwoord nie.  Kyk gou eers na die twee verse wat dit voorafgaan.  (Verse 38 en 39 wat daarop volg, kan jy self gaan lees).

"Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?  Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape." Romeine 8:35-36 

Het ek eers oorwinning wanneer die vervolging, honger of gevaar tot 'n einde kom of het ek oorwinning te midde van negatiewe omstandighede?  Ek dink jy weet wat die antwoord is. 

Dit klink vir my na beter nuus as die populêre idee van oorwinning vandag.  As ek in 'n regte oorlog is wil ek nie veg met my seuntjie se waterpistool nie.  Ek soek 'n ordentlike wapen wat getoets is.

Monday, 25 May 2020

DIE EVANGELIE WAT VERVREEMDING TOT 'N EINDE BRING


God het die mens geskep as 'n verhoudingswese en baie spesifiek om Hom intiem te ken as 'n persoon, sy bron van lewe, sy alles-in-alles.

"En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." Genesis 1:27 

Alle mense ken egter a.g.v. die sondeval die gevoel van vervreemding.  Die sondeval het by mense 'n bewussyn gebring dat God 'n vreemdeling is, iemand wat onkenbaar ver en ontoeganklik is.

"Mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart." Efesiërs 4:18 

In Handelinge 17 vers 28 sê Paulus egter iets verstommend vir die mense van Athéne:

"Sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag."

Menslike godsdiens hou ons daarenteen op 'n afstand van God en voed as't ware die gevoel van vervreemding. Dit hou mense besig met allerhande aktiwiteite terwyl hulle min of geen intieme verhouding met God beleef. Hoe onbeskryflik hartseer is dit nie.

Die evangelie begin vir seker by 'n God wat heilig is, die gans andere wat leef in "ontoeganklike lig", maar hierdie selfde God wíl gevalle mense red en met Homself versoen sodat hulle Hom intiem kan ken as Vader.  Vir hierdie rede het hy sy Seun gestuur.

"Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom." 2 Korinthiërs 5:20-21 

Aan almal wat hierdie evangelie in geloof en met dankbaarheid omhels, gee God dan die voorreg om Sy kinders genoem te word, die voorreg om Hom intiem te ken. 

"Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!" 1 Johannes 3:1a

Die doel van ons redding is dus nie net om hemel toe te gaan nie, maar om God werklik te ken.  God red ons van die vervreemding wat die sondeval gebring het.  Leef jy as dissipel van Jesus in die voorreg van intieme Godskennis of het vormgodsdiens jou hart weer versluier? 

"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." Johannes 17:3 

Monday, 18 May 2020

IS JY DEEL VAN DIE WARE JOSUA GENERASIE VANDAG?


Wie is ons Josua en wie is ons Dawid vandag?  Kan hulle asseblief opstaan en die mense van God inlei in die volheid van die evangelie?  Hierdie soort vrae maak baie dissipels opgewonde, maar ongelukkig vir die verkeerde redes.  Skares gelowiges soek steeds 'n menslike leier wat iets spesiaals gaan doen vir ons almal.

Ons kan baie leer uit die lewens van geloofshelde soos Josua en Dawid, maar as ons soek na menslike leiers wat vandag as't ware hulle plek moet vul, misinterpreteer ons die betekenis van hulle lewens.  Hierdie helde is tipes van Christus en dit is die mees belangrike punt wat ons nodig het om raak te sien aangaande hulle.

Wie is ons Josua vandag?  Jesus!  Nie een of ander "nuwe apostel" of televisieprediker nie.  Die ware Josua generasie vandag is die mense wat albei hulle oë op Jesus kry en Hom volg sodat Hý hulle kan inlei in die volheid van die Nuwe Verbond.

Wanneer gaan diegene wat hulleself dissipels van Jesus noem wakker word en ophou om te soek vir menslike leiers om te doen wat Jesus alleen kan doen in die menslike hart!  Menslike leierskap het sy plek, maar dit word in die Nuwe Testament een honderd persent gekwalifiseer deur een enkele beginsel.  Ek haal net twee tekste aan om hierdie beginsel te illustreer.

"Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. DIE MAN IS CHRISTUS [my beklemtoning]." 2 Korinthiërs 11:2  (NAV)

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Korinthiërs 4:5 

As jy leiers soek wat jou werklik kan help, let op die wat jou vasmaak aan Jesus.  Jesus is jou herder, nie die dominee, pastoor, apostel, profeet of televisieprediker nie.  Die duiwel is 'n leuenaar en hy mislei duisende mense in duisende kerke wat so maklik beïndruk word met die uiterlike "sukses" van 'n bediening.

Jy kan 'n gemeente of bediening onderwerp aan twintig verskillende Bybelse kriteria en dit kan elke toets deurkom, maar as dit die een essensiële toets faal, is dit in Bybelse terme 'n totale mislukking. 

Wat is hierdie een onontbeerlike toets?  Verkondig die leierskap die algenoegsaamheid van Jesus in die gelowige sodat mense kan groei tot volwassenheid of verváng hulle Jesus, wetend of onwetend, subtiel of blatant?

Wednesday, 13 May 2020

LEEF JY VIR DIE SKAT IN DIE HEMEL OF VIR DIE SKATTE VAN DIE AARDE?


Die verstommende boodskap van die evangelie bring baie meer as net die goeie nuus van persoonlike redding.  Die evangelie openbaar die hart van 'n Vader wat 'n koninkryk vir Sy kinders voorberei het.

"Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom." Mattheüs 4:17 

"Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;  want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.  Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees." Lukas 12:29-34 

“So don’t be afraid, little flock. For it gives your Father great happiness to give you the Kingdom." Luke 12:32 (NLB)

Iewers in die geskiedenis het die kerk die boodskap van die koninkryk verloor en het die evangelie vir ons net begin gaan oor ons persoonlike redding.  Hoe is dit moontlik dat 'n mens die Bybel kan lees en die boodskap van die koninkryk kan mis?  Maar dit het gebeur! 
Daar is vandag duisende kerke wat 'n boodskap van persoonlike redding verkondig, maar met geen of bykans geen inhoud oor die koninkryk van God nie.  Of nog erger, 'n boodskap wat die koninkryk van die hemele verváng met die koninkryke van hierdie gevalle en veroordeelde tydelike wêreld.

"Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd.  En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil." Lukas 4:5-6 
"En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei." Hebreërs 11:15-16 

"Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.  Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld." 1 Johannes 2:15-16 (NAV)

Daar is 'n erfenis vir die kinders van God en daar is 'n stryd vir ons harte aan die gang of ons nou bewus is daarvan of nie.  Daar is te veel mense vandag wat met groot bravade praat van hulle persoonlike redding terwyl hulle nie eers dink aan die koninkryk van die hemele nie, maar eerder met groot ywer leef vir die tydelike koninkryke en skatte van die wêreld.  Hulle besef nie eers dat daar 'n stryd is in hierdie verband nie.

Leef jy met 'n koninkryksvisie?  Waar is jou skat?  Leef jy vir die "skat in die hemel" en verlang jy na die "beter vaderland"?  Sien jy uit na die heerlikheid van die koninkryk van God waar alles gaan oor die heerskappy en lieflikheid van die Vader en die Seun en die onuitspreeklike voorreg van gemeenskap met hulle (1 Joh. 1:1-4)?  Lees jy die Bybel met die oog op die openbaring van die Koning en die heerlikheid van Sy koninkryk wat die Vader met vreugde vir jou wil gee?  Of lees jy dalk amper nooit die Bybel nie, omdat jy nie eers besef daar is 'n hemelse skat om te soek en te koester nie?!

As hierdie boodskap vir jou nuut is of as dit vervaag het in jou binneste, maar jy wil graag met blydskap reageer op dit, bekeer jou of keer terug!  Die Vader wag vir jou met ope arms.  Hy verwag dat jy sal reageer met onuitspreeklike blydskap en opgewondenheid terwyl jy jou rug keer op die koninkryke van hierdie wêreld.  Geen ander respons is die Koning en die koninkryk waardig nie.


Monday, 11 May 2020

VERVANGINGSTEOLOGIE OF EENHEIDSTEOLOGIE?


Sonder om op te veel detail in te gaan oor die kwessie, sou dit nie akkuraat wees om te sê dat dit gesonder is om te dink vanuit "eenheid" tussen gelowige Jode en gelowige heidene in die liggaam van Christus in plaas van om te sê die kerk "vervang" Israel nie?

"Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het." Efesiërs 2:14-16 

"Wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik  dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie." Efesiërs 3:5-6 

Dit is bietjie moeilik om hierdie skrifgedeeltes anders te interpreteer as sprekende van 'n "onbreekbare organiese eenheid" is dit nie?  Hierdie eenheid is duidelik nie 'n organisatoriese of menslik georkestreerde eenheid nie.  Dit is niks minder nie as die produk van die verlossingswerk van Jesus Christus.

Die beskuldiging teen vervangingsteologie is dat dit leer dat die kerk (lees "heidene") die Jode vervang as die mense van God.  Maar as die universele kerk volgens die Nuwe Testament bestaan uit heidene én Jode organies verenig in een liggaam, hoe op aarde kan dit dan 'n vervanging wees?  Dit kan net 'n vervulling wees van dit wat in die Ou Testament uitgebeeld en geprofeteer is. 

Die vraagstuk of daar nog 'n plek is vir die nasie Israel in die profetiese program van God is baie kompleks en daar is al baie boeke hieroor geskryf.  Al wat ek egter aan jou wil voorlê vandag is dat daar baie lig gewerp word op die saak as ons begin deur te dink vanuit 'n eenheidsteologie in plaas van om vas te val in 'n woordestryd rondom die sogenaamde "vervangingsteologie".

Voor ons verwoed begin veg oor die interpretasie van gedeeltes soos Romeine 9 tot 11 moet ons miskien net eers saam gaan stilstaan by die eenheidsteologie van Efesiërs 2 en 3 waaroor daar sekerlik nie wyd uiteenlopende interpretasies kan wees m.b.t. die basiese boodskap nie.  Of hoe? Die beginsel is dat die moeiliker gedeeltes in die Bybel verklaar moet word in die lig van die meer voor die hand liggende gedeeltes. Laat dit eers goed insink deur biddende refleksie en beweeg dan na die ander gedeeltes.

Een ding is absoluut onaanvegbaar en dit is dat daar nou en vir altyd maar net een manier is vir Jood of heiden om gered te word en dit is deur geloof in die verlossingswaarde van die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.  Hieruit volg dan ook die ander onaanvegbare waarheid dat Jesus Christus, die een unieke Verlosser van Jood en heiden, se liggaam nie verdeel kan word nie en dat daar dus nooit 'n Joodse kerk én 'n heidense kerk kan wees nie.  Nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. 

As ons nie begin by eenheidsteologie in terme van hierdie kwessie nie gaan ons vir seker op allerhande snaakse plekke eindig.  Die lens waardeur ek na iets kyk, maak 'n baie groot verskil aan dit wat ek sien of nie sien nie.