Wednesday, 30 September 2020

KEER TERUG!

 Hoekom word ons keer op keer opgeroep in die Nuwe Testament om weg te kyk van onsself en te fokus op Christus?  Hoekom word ons opgeroep om die boodskap aangaande Hom absolute voorrang in ons harte, denke en lewens te gee?

"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here."  Kolossense 3:16

Die rede hiervoor word op 'n duisend verskillende maniere aan ons oorgedra in die Bybel, maar die konsep is enkelvoudig.  Slegs IN HOM is daar heerskappy oor gevallenheid en slegs IN HOM is daar guns van die Vader; die Heerser van die heelal.  Die guns rus op die Seun en ons het slegs deel daaraan deur geloof.

"Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie."  Lukas 1:32-33

"En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom."  Lukas 2:40

"Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg." Jesaja 9:5-6 (NAV)

Wanneer gaan ons ophou om kwaliteite in onsself en sodoende die guns van die Vader te soek as dit slegs IN CHRISTUS te vinde is?  Die Nuwe Testament is besonders subjektief, maar die subjek is Christus, nie in die eerste plek ons nie!  Alles wat ons nodig het is in Hom en vloei uit Hom na ons wanneer ons, ons vertroue totaal verplaas weg van onsself na Hom.  Dit is die boodskap van identifikasie en eenheid met Christus.

IN HOM, IN HOM, IN HOM, ek wens ek kan dit 'n miljoen keer uitbasuin met 'n megafoon, want die invalshoek van Christenskap vandag het iets heeltemal anders geword en daar is géén groter tragedie nie.  Die enigste sinvolle respons is: bekering!

Wednesday, 23 September 2020

LOOP JY OOR OF SIT JY VAS?

Met al die beskikbare bronne en *toegang tot meer leraars en Bybelkennis as ooit vantevore in die geskiedenis is dit steeds waar dat die meeste dissipels van Jesus vandag vassit in tydelike dilemmas in plaas van om oor te loop van 'n tydlose koninkryksboodskap.

Dit is onmoontlik om die Nuwe Testament onbevange te lees en nie by die gevolgtrekking uit te kom nie dat Jesus van al Sy dissipels verwag het om oor te loop van Sy lewe en liefde.

"Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei." Johannes 7:38 

"Want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie." Handelinge 4:20 

Ons verantwoordelikheid is egter om onsself so bloot te stel aan die lieflike en heerlike boodskap van die evangelie dat ons meer as genoeg sal hê om ook die mense rondom ons te bedien en te bemoedig.

"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16 

"Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul." Efesiërs 5:18 

Is die patroon van jou lewe oorvloed in Christus of het jy so vasgeval in die tydelike dat jy net probeer om geestelik genoeg vir jouself te verkry om te oorleef? 

Jy hoef nie so te leef nie.  Verander jou perspektief, tel jou Bybel met geloof op en begin drink van die lewende waters tot oorlopens toe. Dit ís sonder enige twyfel God se uitgesproke wil vir elke dissipel van Jesus.

* Ook ongelukkig toegang tot meer vals leringe as ooit vantevore.

Monday, 14 September 2020

PERMANENTE INWONING

Asof dit nie genoeg is dat God ons uit genade deur die kruisdood en opstanding van Jesus vergewe en verlos het nie, word 'n dissipel van Jesus soos wat hy geestelik groei toenemend bewus van die heerlikheid van God se permanente inwoning.

"Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê:  Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer." Psalms 132:13-14 

Wat 'n verstommende openbaring dat God sê Hy het die mens gekies as Sy "ewige rusplek"!  Vir ons as gelowiges is dit nou reeds 'n werklikheid waarin ons, ons daagliks kan verheug.

"Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele." Hebreërs 12:22 

God woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie.  Die "tent van samekoms", die "tabernakel" en die "tempels" van die Ou Verbond was almal uitbeeldings van God se oorspronklike plan en begeerte om in ons te woon!  God permanent in en by Sy mense; onbeskryflik heerlik!

"Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie."  Handelinge 17:24 

"Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?" 1 Korinthiërs 3:16 

"God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid." Kolossense 1:27  (NAV)

Wednesday, 9 September 2020

CHRISTUS AAN MY, IN MY EN DEUR MY GEOPENBAAR

In 'n sin kan 'n mens die hele Nuwe Testament opsom aan die hand van die titel van hierdie dagstukkie.  Vir seker gaan die Nuwe Testament oor die aanbreek van die lank verwagte en geprofeteerde koninkryk met die verskyning van die Koning (Mt. 3:2, 14:17), maar hierdie koninkryk word verder uitgebrei deur die Koning se dissipels (Mt. 28:19 en Hand. 1:8).  Daarom is dit so belangrik vir ons om baie mooi te verstaan hoe presies die koninkryk vorder van die dag af dat die Heilige Gees uitgestort is ongeveer twee duisend jaar gelede.

Christus aan my geopenbaar:  Die Heilige Gees openbaar eerstens aan ons die volmaakte verlossingswerk van Jesus en die voorrang (pre-eminensie) wat Hy geniet in God se plan met skepping en herskepping (Kol. 1:15-20).  Ons kan sê hierdie is 'n objektiewe openbaring van wie Jesus is; die onbeskryflike heerlikheid van Sy Persoon en die dringende oproep tot 'n innerlike en totaal eksklusiewe waardering van Hom.

Christus in my geopenbaar: Die openbaring van Christus wat ons hier na verwys is meer as net die leerstellige waarheid dat Hy leef in elke ware dissipel (Rom. 8:9-11).  Die openbaring wat ons hier van praat, is hoogs subjektief en het te doen met die "vorming van Christus" in ons (Gal. 4:19).  Hy is die Môrester wat opgaan ons harte (2 Pet. 1:19) sodat ons proefondervindelik saam met Paulus kan getuig dat Hy lewend en kragtig werk in ons harte (Gal. 2:20; Fil. 1:21).  Christus word egter nooit in ons openbaar voordat ons nie as't ware oorrompel word en intensief begin fokus op Sy pre-eminensie en volmaak afgehandelde verlossingswerk nie; d.w.s. Christus aan ons geopenbaar. 

Christus deur my geopenbaar: Die noodwendige gevolg van Christus in my geopenbaar, is Christus deur my geopenbaar.   Die openbaring van Christus deur ons is niks anders nie as die natuur van Jesus self wat gemanifesteer word in spontane verkondiging van die evangelie (Jn. 7:38) en in bonatuurlike liefde (Gal. 5:22) wat maak dat die wêreld kan hoor en sien dat Hy inderdaad die Here is.

Al drie hierdie openbarings is bedoel om gelyktydig te funksioneer in die lewe van 'n dissipel.  Die Heilige Gees wil toenemend vir ons wys hoe onbeskryflik en onvergelykbaar hierdie Jesus is wat in ons woon en hoe volmaak Sy verlossing is.  Hy wil toenemend die lewe en natuur van Jesus in ons openbaar sodat ons organies en subjektief in ons sielsdimensie verander kan word om gelykvormig te word aan die beeld van Christus (2 Kor. 3:18). 

Maar Hy wil ook Jesus individueel én korporatief deur ons openbaar sodat mense kan getuig dat daar 'n liefde in en deur ons werksaam is wat ver verhewe is bo enige menslike idees van liefde (Jn. 13:35 en 1 Kor. 13).


Sunday, 6 September 2020

OM MET WYSHEID LIEF TE HÊ

 'n Mens sou dink dat 'n oorvloed van liefde in my hart genoegsaam is vir 'n ryk en geseënde lewe, maar omdat ons leef in 'n gevalle wêreld kan liefde nie suksesvol voortleef sonder wysheid nie. 

Sonder Goddelike wysheid kan ons beste pogings om ander lief te hê soms jammerlik misluk.  Dit bring baie keer  hartseer vir die gewer en ontvanger en veroorsaak ook dikwels dat mense terugtrek van 'n lewe van liefde en dit is presies wat die satan wil hê.

Wysheid bepaal waar, wanneer en hoe ek die liefde van Christus betoon aan ander en dit verg voortdurende innerlike leiding deur die Gees van wysheid en liefde in ons.  Liefde en wysheid is maats in die Bybel en waar jy die een sien, is die ander ook teenwoordig.  Maak seker dat hierdie twee ook maats bly in jou hart.  Bid baie spesifiek daarvoor.  Dit is die soort gebed wat ons Vader behaag.

"En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,  om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus." Filippense 1:9-10 

"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,  sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees." Filippense 1:9-10  (NAV)

Wednesday, 2 September 2020

IGNOREER EN KONSENTREER

 Niemand kan vorentoe beweeg saam met Jesus en gevolglik geestelik groei as hulle nie iewers langs die pad leer om die wêreld te ignoreer aan die een kant en op Jesus alleen te konsentreer aan die ander kant nie.

In elkeen  van die volgende tekste is die frase "om ag te gee" 'n vertaling van dieselfde Griekse woord.  Hierdie woord dra die idee van intense konsentrasie; om jou onverdeelde aandag net op een enkele saak te fokus.

"Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie." Hebreërs 2:1 

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte." 2 Petrus 1:19 

"En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen." Handelinge 8:6 

Dit is egter ook waar dat ek nie onverdeeld op een ding kan fokus as ek nie eers al die ander dinge wat my aandag opeis, ignoreer nie.  As daar tien mense in 'n vertrek almal saam my aandag probeer kry, moet ek besluit wie die persoon is wat die meeste verdien om gehoor te word en dan word dit onvermydelik dat ek die ander as't ware sal moet uitdoof ("mute").

In hierdie geval praat ons natuurlik van Jesus en Hy het dit baie duidelik gemaak dat die satan se groot strategie is om ons te "distract" sodat ons nie ag kan slaan op die Outeur van die lewe en Sy woorde van lewe nie.  Daarom lees ons oor en oor in die Nuwe Testament, "laat hom wat ore het hoor"!

Die tyd loop uit en ons generasie bly die mees "distracted" generasie in die geskiedenis met ons oorlading van informasie via die moderne media.  Gaan ons leer om die wêreld (1 Joh. 2:15-17) te ignoreer en dan te konsentreer op die lieflike inhoud van die evangelie of gaan ons aanhou om die werklik belangrike dinge te ignoreer terwyl die wêreld ons met dodelike kleur en geur tot in die afgrond in bly vermaak?