Wednesday, 21 July 2021

LEWE-STERF-HEMEL OF STERF-HEMEL-LEWE?

 Daar is twee radikaal verskillende perspektiewe op die lewe van 'n dissipel van Jesus en ongelukkig besef die meeste mense nie eers dat dit juis die verkeerde perspektief is wat maak dat hulle nooit heeltemal sin kan maak van die Bybel of hulle lewe op aarde nie. 

Die algemene en populêre siening van Christenskap is dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons nou op grond van God se liefde en die vergifnis van ons sondes 'n beter lewe kan hê op aarde en die hemel wanneer ons sterf.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is lewe-sterf-hemel.  Ek het my lewe op aarde wat as't ware deur God geborg word, dan sterf ek een of ander tyd en ek verloor hierdie aardse lewe, maar gelukkig gaan ek darem hemel toe waar ek nou 'n nuwe lewe gaan ontvang.

Die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap is radikaal anders.  Dit begin by dood, nie by lewe nie. Ek het gesterf "saam met Christus" (Rom. 6:1-10; Gal. 2:20; Kol. 3:3), ek is "saam met hom opgewek" (Kol. 3:1), sit nou saam met hom "in die hemele" (Efes. 2:6) en nou wil Hy Sý lewe deur my leef.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is dus sterf-hemel-lewe.  Ek het klaar gesterf, ek bevind myself reeds "saam met Christus" in die hemel en my lewe is nou Christus (Kol. 3:4).  Ek gaan steeds in 'n sin "hemel toe" wanneer ek sterf, maar dit het te doen met my verheerlikte liggaam wat my "oorklee uit die hemel" (2 Kor. 5:1-2) en nie met 'n nuwe lewe wat ek eers by my sterwe gaan ontvang nie.

Die lewe wat ek nou leef op aarde, moet geleef word vanuit die hemelse perspektief en geloof in die feit dat Christus in my woon en my lewe is (Gal. 2:20).  Die geestelike werklikheid is dat ek klaar gesterf het, dat ek klaar in die hemel is en dat ek hier-en-nou op aarde die krag van die nuwe lewe in Christus kan beleef.  Hierdie nuwe lewe het ek egter in 'n "erdekruik" (2 Kor. 4:7) en die krag van hierdie lewe manifesteer deur en vanuit swakheid en gebrokenheid (2 Kor. 12:9-10).

Christus is jou lewe en dit gaan vir die Vader oor jou vereniging met die lewe van die Seun.  Jy hét nie meer 'n onafhanklike lewe nie!  Hierdie waarheid verander die meeste van ons gebede, want nou bid ons nie meer primêr vir die verbetering van 'n aardse lewe nie, maar vir die manifestasie óp aarde van 'n hemelse lewe, Sý lewe. Dit verander natuurlik ook jou siening van heiligmaking, gemeentelewe, bediening, evangelisasie, die eindtye, ensovoorts, ensovoorts.

Dit is net vanuit hierdie perspektief dat die volgende woorde van die apostel Paulus ooit vir ons sin sal maak en vir ons persoonlike en besonderse betekenis kry:

"Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.  Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word." 2 Korinthiërs 4:7-11

Monday, 12 July 2021

MOENIE TERUGDEINS VIR DIE GEVEINS VAN VORMGODSDIENS NIE

"Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is." Galasiërs 2:11-12

Ons sien in hierdie verse dat die waarheid van die evangelie meer belangrik is as persoonlikhede en dat selfs die apostels nie in hulle persoon verhewe was bo die waarheid van die evangelie nie. 

Ons moet altyd 'n nederige gees van onderdanigheid aan mekaar in Christus handhaaf, maar terselfdertyd moet ons moedig wees en opstaan teen die geveinsdheid van vormgodsdiens sodat die evangelie suiwer kan bly onder ons. 

Hoe meer ons groei in die lieflike waarhede van die suiwer evangelie hoe sterker word ons innerlik en dit stel ons in staat om op te staan teen vormgodsdiens en wettisisme.  Alle dissipels van Jesus kan vegters vir die waarheid van die evangelie wees, nie net sekere spesiale persone en bedieninge nie.  Het jy al aangemeld of gaan jy maar saam met die stroom?  Antwoord eerlik in jou hart.

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie." Galasiërs 5:1

Tuesday, 6 July 2021

ONS WARE KRISIS IS DIE KRISIS VAN SELF-VERTROUE

In 'n sin kan 'n mens sê dat die enigste ware krisis wat ons ooit mee te doen kry in ons lewe op aarde, die krisis van self-vertroue is. D.w.s. die alomteenwoordige, verwoestende instink in die gevallenheid van ons siel om te dink dat ons dit op ons eie kan maak.

Is dit nie bietjie radikaal gestel nie?  Oorbeklemtoon ons nie 'n saak wat wel belangrik is, maar sekerlik nie so sentraal nie!?  Ek dink nie so nie en vir die volgende redes:

As ons werklik glo dat God alwetend en almagtig is en dat Hy ons "aangeneem" het in Christus (Gal. 4:5) dan is daar sekerlik niks in ons lewens wat vir Gód 'n krisis kan wees nie.  As ons egter op onsself vertrou in plaas van op hierdie alwetende, almagtige God wat deur ons vereniging met Christus ons Vader is, dan is hierdie sélf-vertroue noodwendig die groot krisis van ons aardse bestaan.  Hoekom? Want ons plaas onssélf sodoende in 'n sin buite die ruimte waarin God aktief werksaam is om ons deur te dra en ware oorwinning te gee in Sy Seun.

Daarom is dit so belangrik om in elke eksistensiële krisis in my lewe diepsinnig te reflekteer oor die feit dat God ook hierin besig is om my te stroop van self-vertroue sodat ek Sy opstandingskrag in Christus na waarde kan skat (Efes. 1:19-20; Rom. 8:11; 2 Kor. 1:8-9).

Neem ook die volgende in ag vanuit die Bybelse rekord:

Die heel eerste gebod wat God vir Israel gegee het was om geen ander gode te hê (te vertrou) nie en die grootste afgod moontlik is die afgod van die self.  "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie." Exodus 20:3

Jesus se heel eerste stelling in Sy bergpredikasie is, “geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel"  (Mattheüs 5:3).

Johannes die Doper verklaar onbeskaamd, "Hy moet meer word, maar ek minder"  (Johannes 3:30).

Paulus maak dit baie duidelik aan die begin van 2 Korinthiërs dat beproewinge en verdrukkinge in die dissipel se lewe juis bedoel is om vir ons te wys dat die ware krisis van ons aardse bestaan altyd self-vertroue is.

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, SODAT ONS NIE OP ONSSELF SOU VERTROU NIE (my beklemtoning), maar op God wat die dode opwek."  2 Korinthiërs 1:8-9

My krisis is altyd eerstens dat ek op my self vertrou.  Self-vertroue is eie-geregtigheid en eie-geregtigheid is soos 'n baie diep en sterk stroom wat regdeur die middel van die menslike psige loop.  Die groot vraag is nou, "hoe word ek verlos van hierdie alomteenwoordige innerlike probleem?"  Weereens, op geen ander manier nie as deur "Christus in ons".

Die enigste mens wat ooit ononderbroke op God vertrou het was "die mens Christus Jesus" (1 Tim. 2:5).  Kyk net na twee van vele uitsprake van Jesus oor Sy afhanklikheid van die Vader:

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

"Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het." Johannes 5:30

Hierdie Jesus leef nou in ons.  Sy lewe in ons is 'n lewe van vertroue op God alleen.  Dit is hoekom die boodskap van "nie ek nie, maar Christus" (Gal. 2:20) net werklik kosbaar is vir mense wie se oë oopgegaan het om te sien dat hulle ware krisis self-vertroue is.  Dit is dan ook net vir diesulkes lieflik om te hoor dat dit net Christus in ons is wat ons "hoop op heerlikheid" is (Kolossense 1:27).

In hierdie lewe sal ons nooit op 'n plek kom waar ons nie hoef te waak teen self-vertroue nie en daarom is dit amper onmoontlik om dit te oorbeklemtoon.  Erken dus  jou ware krisis en draai in geloof na Christus sodat jy kan rus in die heerlike Godsvertroue van die Seun in jou.

"Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof..."  Hebreërs 12:2