Thursday, 17 September 2015

“BROERS” EN “DIENAARS” PROBEER NIE BEÏNDRUK MET TITELS NIE



“Een is julle leermeester…julle is almal broeders.”  Sjoe! Eina!  Jesus sny met die vlymskerp swaard van die Gees deur die godsdienstige hiërargie van Sy tyd en gee vir ons in ‘n paar kort stellings die radikale bloudruk vir leierskap in die koninkryk van God.  Onthou dit is Jesus self aan die woord hier:  “En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges  en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!  Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.”  Mattheüs 23:6-11    

Dit is die gesalfde Koning van God wat vir Sy dissipels met gesag instruksies gee oor hoe outoriteit en leierskap moet funksioneer in die nuwe era wat aangebreek het met Sy koms na die aarde.  Dit is Sy duidelike instruksies aan al Sy dissipels vir alle tye.  Dit is nie voorstelle wat ons maar net kan ignoreer of wegredeneer, omdat ons reeds ‘n ander kultuur in ons gemeentes gevestig het nie.  Nee, ons moet ons kultuur dringend aanpas by wat ons Koning en Meester leer.  Jesus verklaar onomwonde en sonder om woorde te mors dat Hy die een unieke Rabbi en leermeester is aan wie almal verslag moet doen en dat ons status, ongeag ons bediening of rol, altyd net die van ‘n “broer” en ‘n “dienaar” bly.  Ons leef in ‘n tyd waar mense ander probeer beïndruk en poog om ‘n gesagsposisie te vestig deur hulleself “apostel”, “profeet”, “evangelis”, geestelike “vader” of iets dergeliks te noem. Vroeër jare was dit primêr “pastoor” of “dominee” wat die godsdienstige hiërargie in Protestantse gemeentes bepaal het.  Maar of dit nou apostel, profeet, pastoor of leraar is, dit is in wese funksies in die koninkryk, nie titels nie.  In die koninkryk van God is dit nie soos in die wêreld ‘n titel of ‘n formele posisie of aanstelling wat respek vestig en handhaaf nie, maar ons oortuiging dat Jesus ons álmal se Hoof is en dat ons daarom met nederigheid as broers aan mekaar onderdanig moet wees en mekaar se verskillende rolle in die koninkryk moet eer.  Dit is eers wanneer ons oë oopgaan om te sien dat Jesus steeds teenwoordig is deur Sy Gees vandag en nie Sy gemeente in die hande van mense gelos het nie (al gebruik Hy mense as instrumente) dat ons skrifgedeeltes soos Mattheüs 23 werklik ernstig sal begin opneem.

Monday, 14 September 2015

JESUS IS ONS TEENWOORDIGE MENTOR



“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”  Matt. 28:19  

 ‘n Dissipel is ‘n leerder, ‘n lewenslange leerder.  Die oomblik wat ek ophou leer, hou ek op om ‘n dissipel te wees.  Die groot onderwerp waaroor ons voortdurend meer moet leer, is Jesus self!  “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10).  Paulus sê hier in Filippense 3, sodat ek Hom “kan” ken.  Die oomblik wat ek dink ek ken Jesus nou en kan aanbeweeg na ander onderwerpe verras Hy my weer en openbaar iets dieper van Homself.  Elke moontlike teologiese onderwerp kan slegs vanuit Jesus ten volle verstaan word.   Min dinge is belangriker in ‘n dissipel se lewe as om gedurig in gedagte te hou dat jou ware Leermeester Jesus Christus is en dat Hy jou volle aandag te alle tye eis.  Hy wil jou lei en leer.  Hý is die goeie Herder van Psalm 23 en Johannes 10, nie mense nie.  Hy is deur Sy Gees te alle tye teenwoordig in jou en by jou.  Die Gees openbaar Jesus aan ons sodat ons Hóm in alles kan volg.  Menslike mentors en leraars mag nooit Jesus vervang as ons Mentor en Leermeester nie.  Hulle kan hoogstens die weg wys na Hom en ons geloof in Hom versterk deur Hom te verkondig.  Ons is nie dissipels van mense in ‘n absolute sin nie, maar net van Jesus self.  Jesus het nie opgevaar na die hemel en ons in die hande van menslike mentors en leraars gelos, sodat ons van hulle totaal afhanklik moes word nie.  Jesus is nie afwesig nie.  Hy is nou hier by ons en ons is te alle tye Sý dissipels, selfs al het ons die beste moontlike menslike leraars wat ons help om ons geloof in Hom te plaas. 

Monday, 7 September 2015

IS ONS BEKWAAMHEID WERKLIK UIT GOD?



“Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.”  2 Kor. 3:5-6  

“En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.” Hand. 4:13

Een van die belangrikste vrae wat ‘n dissipel van Jesus ooit kan vra is: “Wat gee my vertroue en vrymoedigheid om te getuig van Jesus, mense te bedien wat Hom nodig het en om te kan praat en deel te neem tydens die samekomste van die gemeente?”  Anders gestel, “wat is die basis van my vertroue dat ek bruikbaar kan wees vir die Here in bediening?”  Is dit my welsprekendheid?  Is dit dalk my geleerdheid?  Is dit my titel?  Is dit my legitimering of die vertroue wat ander mense in my stel? Is dit my aansien in die gemeenskap of die statuur van my ouers?  Is dit my sterk of charismatiese persoonlikheid?  Is dit my jarelange ervaring of mensekennis?  Is dit my “people skills”.  Elkeen van bogenoemde benaderings tot bedieningsvertroue sal in Bybelse terme op ‘n bepaalde punt faal en geestelike steriliteit en onvrugbaarheid tot gevolg hê.  Dit is onvermydelik. Paulus was ‘n hoogs geleerde en begaafde man wat in natuurlike terme baie gehad het om op terug te val, maar luister bietjie wat sê hy van sy bediening in Korinthe: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor. 2:3-4). In die finale analise is al wat saak maak my vertroue in Jesus en my gevolglike gehoorsaamheid aan Sy stem.  Wanneer Jesus jou roep vir ‘n spesifieke bediening, wanneer Hý jou dring om te praat, te bedien of te getuig, en jy gehoorsaam Hom in kinderlike afhanklikheid, is Hy verantwoordelik vir die wysheid, die krag en die vrug.  Dit is dus nie soseer jou bediening nie, maar Sý bediening deur jou wat van belang is.  Dit is die enigste soort bediening wat tel in die hemel en egte vrug dra op die aarde.  Ons het gans te veel krukke om op te leun en alternatiewe planne om op terug te val vandag.  Tyd om in geloof alles oor te gee in Jesus se hande en die resultate aan Hom toe te vertrou.  As jy nie slim, begaafd, geleerd, welsprekend, “belangrik” of in menslike terme bekwaam is nie, vertrou Jesus en gehoorsaam Hom net in kinderlike afhanklikheid.  As jy wel slim, begaafd, geleerd, welsprekend en bekwaam is, doen dieselfde, want dit is in elk geval net Jesus in en deur jou wat jukke breek en geestelike deurbrake bring.  God seën gehoorsaamheid aan Jesus!

Thursday, 3 September 2015

'N SKITTERENDE BELOFTE



"En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen." Eseg. 36:27

Esegiël sien vooruit na 'n tyd wat sou kom waarin die Gees van God 'n werk binne-in mense sou doen ver bo wat enige mens uit sy eie krag, vermoë of inspanning kon vermag. Moet ons nog wag vir daardie tyd om aan te breek of leef ons reeds in die era waarin ons met vrymoedigheid hierdie belofte vir onsself kan toe-eien?  Luister wat sê Paulus vir die gelowiges in Filippi:

"Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." Fil. 2:13 (OAV)

"Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer." Fil. 2:13 (NAV)

Beleef jy 'n gewilligheid en bekwaamheid om God se wil te doen? Miskien probeer jy om dit in jouself op te wek in plaas van om te gló dat Christus die gewillige en bekwame Een in jou is. Die nuwe verbond werk van binne af buitentoe. Leun geheel en al op die lewe en krag van Christus in jou en jy sal 'n gewilligheid en bekwaamheid ontdek wat jou sal verras en 'n heerlike vryheid en vreugde in jou lewe sal bring.