Monday, 21 March 2016

VRUGTELOSE BYBELSTUDIE

"Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie." Hebreërs 4:2  

"Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red." Jakobus 1:21

"Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei," 1 Petrus 2:1-2.

"En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra." Lukas 8:15

Hoekom is ons Bybelstudie met tye vrugteloos? Hoekom is dit so dat 'n mens gereeld met die Bybel kan werk en besig wees sonder dat dit 'n noemenswaardige verskil in jou lewe maak?  Wanneer ons die bostaande vier teksgedeeltes saam beskou en herkou, word dit duidelik dat die Woord van God op 'n baie spesifieke manier ontvang moet word as ons die effek daarvan in ons daaglikse lewens wil sien. Hoekom so spesifiek? Want as ons met die Bybel werk, is ons besig met meer as 'n boek, selfs 'n Goddelik geïnspireerde boek. Ons is besig met 'n Persoon. Daarom bring 'n bloot akademiese, intellektuele of selfs sentimentele benadering nooit die resultate wat die Bybel self belowe nie. Uit die vier teksgedeeltes hierbo kan ons die volgende afleidings maak:   
     
  • ons moet die Persoon wat spreek in die Bybel onvoorwaardelik vertrou en Sy woorde en beloftes met geloof ons eie maak
  • ons kan nie vashou aan die wêreld met die een hand en die Woord met die ander hand en dan verwag die Bybel moet kragtig werk in ons harte nie
  • ons moet die Woord met 'n sagmoedige nederigheid ontvang en dit sodoende toelaat om as't ware ons innerlike meubels te herrangskik soos wat ons dit gehoorsaam
  • ons moet honger en dors wees vir die Woord van God, want dit is soos 'n maaltyd, dus meer as net woorde
  • ons moet die Woord vashou met 'n rein en edel hart en volhard daarin. 

Dit is die basiese gesindheid waarin die Woord ontvang moet word en die effek daarvan sal altyd kragtig wees. God self belowe dit.

Monday, 14 March 2016

DIE HOOFOORSAAK VAN ONGEHOORSAAMHEID

Die hoofoorsaak van ongehoorsaamheid in ‘n ware dissipel se lewe is verkoelde liefde teenoor Jesus. Johannes sê in sy eerste brief, "Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie" (1 Joh. 5:3). Liefde maak 'n las lig, niks anders nie.

"Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad." Genesis 29:20


Moenie die oorsaak vir ‘n ongehoorsame lewe vireers op ander plekke soek nie. Die hoofoorsaak is sonder enige twyfel liefde vir Jesus wat getaan het.  Moenie net die simptome behandel nie, gaan na die oorsaak.  Begin daar. Keer terug na jou “eerste liefde” (Openb. 2:4-5) en daar sal weer sin en orde in jou lewe wees. Ons is herskep om in alles te leef vanuit ons primêre verhouding, ons verhouding met Jesus.

Wednesday, 9 March 2016

VERGEWE EN WEDERGEBORE, MAAR NIE ‘N DISSIPEL NIE?

“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”  Lukas 9:23 

Is dit volgens die Bybel enigsins moontlik om vergewe en wedergebore te wees, maar terselfdertyd nie ‘n dissipel van Jesus te wees nie?  Wat sou jou reaksie wees as iemand vir jou sê “ek is wedergebore, maar ek is nog nie ‘n dissipel van Jesus nie”?  Is dissipelskap soos ‘n selfoon wat jy kan opgradeer met nuwe sagteware?  Is dit ‘n selfoonkontrak wat jou beweeg van vergifnis en wedergeboorte na dissipelskap wanneer jy opgradeer?

Met die wedergeboorte ontvang ons ‘n nuwe lewe in Christus en daardie lewe is per definisie ‘n lewe van dissipelskap en gehoorsaamheid.  Christus self word ons lewe (Kol. 3:4) en Sy lewe is een van gehoorsaamheid aan die Vader.  Die lewe van Christus in ‘n wedergebore persoon draai gedurig sy of haar hart in die rigting van gehoorsaamheid.

“Want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.”  Hebreërs 10:16 


Die geloofslewe is daarom niks minder nie as ‘n “uitwerk” van die heilige impulse van Christus wat die Gees ín ons bewerk (Fil. 2:12-13).  Alles wat Jesus dus in die evangelies oor dissipelskap gesê het word toenemend ‘n werklikheid vir die wedergebore persoon.  Die slotsom is eenvoudig dit:  Daar bestaan nie volgens die Bybel iets soos ‘n vergeefde en wederbaarde persoon wat nie die pad van dissipelskap stap nie.  Al is dit ook klein en geringe verbeterings; die mens wat waarlik wedergebore is, sál altyd ‘n begeerte hê na heiligheid en gehoorsaamheid.  Vir diegene wat vergifnis soek sonder bekering en wegdraai van ‘n ongehoorsame lewe het die Bybel net slegte nuus.  Vir die wat weet hoe verlore hulle is en hoe afhanklik van God (Matt. 5:3) en wat gevolglik vir Jesus aangryp en volg met alles wat in hulle is, is daar heerlike, verlossende en bevrydende goeie nuus!  Nie net skenk God aan hulle vergifnis nie, maar ook die lewe van Christus in die wedergeboorte wat die krag tot heiliging en ware dissipelskap binne-in hulle word.

Monday, 7 March 2016

‘N PERFEKTE GEMEENTE OF ‘N CHRISTUS-GEVULDE GEMEENTE?

“Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.”  Kolossense 3:9-11 

Daar is ‘n gesegde wat lui: “As jy die perfekte gemeente vind, moenie daar aansluit nie, want dan is dit nie meer perfek nie”.  Die punt wat die gesegde probeer oordra is sekerlik geldig, maar as dit as verskoning gebruik word om kompromie, sonde en wêreldsheid te verskoon, is dit ‘n gruwel in die oë van die Here.


Dit is relatief raar vandag (‘n amper totale gebrek aan onderskeiding is baie meer algemeen), maar mens kry steeds die oor-kritiese persone wat selfs met die suiwerste gemeente op aarde fout sal vind.  Hulle het nodig om bogenoemde gesegde dringend ter harte te neem.  Die oorgrote meerderheid van mense wat hulleself beskou as “Christene” vandag het egter nodig om te verstaan dat God die Vader m.b.t. gemeentelewe primêr besorg is oor ‘n rein en suiwer fokus op Jesus.  Jesus is die Here van die gemeente en Hy begeer om in alles sentraal te staan en elke lid van sy Liggaam te vul met sý wysheid, krag, geregtigheid, heiligheid, lewe en liefde.  As jy ‘n gemeente soek, maak seker dat jy een vind waar Jesus absoluut sentraal staan en sy Kruis, sy Opstanding, sy Persoon, sy Gees en sy Woord deurdringend kan werk in elke lid, juis omdat Hy in elke aktiwiteit en in alle voornemens die eerste plek kry.  In werklikheid kan ons níks sonder Hom doen nie (Joh. 15:5).

Wednesday, 2 March 2016

DRINGEND GESOEK: IEMAND WAT DIE BELANGE VAN JESUS CHRISTUS OP DIE HART DRA

“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.  Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.  Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.”  Filippense 2:19-21  (NAV)

Dit is so hartseer om te lees dat Paulus onder dissipels van Jesus iemand moes soek wat die Here se belange op die hart gedra het.  Wat presies ís die Here se belange?  Die gemeente.  Is dit nie kosbaar om te weet dat Jesus werklik besonder besorg is oor elkeen van Sy dissipels nie?  Dit is inderdaad ‘n wonderlike wete wat ‘n mens se gemoed baie goed doen.  Maar die ander kant van die saak is dat Jesus ons bedien en na ons omsien deur mense.  As ons net altyd wag dat ander ons bedien en nie self begin om Jesus se belange op die hart te dra nie word die las te swaar vir die enkeles wat wel wegkyk van hulleself en ander bedien. 

Dan moet daar natuurlik ook ‘n groot kopskuif by ons kom sodat ons kan ophou om die bediening van mense in die gemeente net te sien as die domein van pastore, dominees, ouderlinge en mense in “voltydse bediening”.  Dit is hoog tyd vir ons almal om die radikale onderskeid tussen “professionele bediening” en die bediening van mekaar op grondvlak vir altyd vaarwel toe te roep.  Ons het almal verskillende rolle en funksies en as jy nie begin stap in jou spesifieke en unieke diens aan die liggaam van Christus nie, ly die hele gemeente.  Mag die Gees van God elkeen wat hierdie dagstukkie lees wakker skud en opwek om die gemeente te begin dien. En dit beteken maar net om ander mense werklik te begin raaksien, vir hulle te bid en daar te wees vir hulle met dit wat die Heilige Gees op jou hart lê en waarmee Hy jou toegerus het.  Net so, en op geen ander manier nie kan die gemeente van Jesus versorg en volwasse word om ‘n kragtige getuienis van andersheid en Goddelike liefde in die wêreld te bring.


“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”  Johannes 13:35  

Monday, 29 February 2016

OM CHRISTUS AS WINS TE VERKRY

“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.” Filippense 3:7-8 


Die dag toe Paulus Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het, het hy alles wat hy so hard voor gewerk het tot op daardie oomblik in sy lewe; naamlik roem, eer, erkenning in die akademies-teologiese wêreld en sy ereplek in terme van sy Joodse geslagsregister opgegee.  Hy het dit gedoen omdat hy in ‘n verbysterend-intense oomblik van Goddelike openbaring Jesus in sy heerlikheid gesien het.  Paulus het in die dae en weke daarna besef dat hy nie kon vashou aan ‘n aardse identiteit en al die voordele daaraan verbonde en terselfdertyd groei in die kennis van Christus in sy heerlikheid nie.  Hy het nie wedergeboorte gesien as ‘n blote kaartjie hemel toe nie, maar as die deur na ‘n lewe waar God ons voortdurend dieper wil inlei in die kennis van Sy Seun.  Wat het ek en jy al opgegee en as “drek beskou” om te groei in die kennis van Christus en om Hom “as wins te verkry”?  Mag die Heilige Gees ons harte verlig en ons intrek in die soort toewyding aan Jesus wat Paulus hier van praat.  Dit is nie net bedoel vir spesiale super-geestelikes of apostels nie.  Dit is die roeping en wil van God vir elke dissipel van Jesus. 

Wednesday, 24 February 2016

EVANGELIE-KRAG VIR ELKE DAG

"WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek." Romeine 1:16

Die evangelie van Jesus Christus bring vergifnis, geregtigheid en nuwe lewe vir elkeen wat dit glo en hulle volle vertroue plaas in Jesus en Sy volmaakte werk van verlossing.   Die evangelie is ryk en omvattend, maar vir een of ander rede het ons iewers in die kerk se geskiedenis begin glo dat dit net bedoel is om ons by redding te bring en daarna moet ons aanbeweeg na ander prioriteite en onderwerpe. Dit is 'n fatale denkfout. Die evangelie maak nie net regverdig nie, dit maak ook heilig en dit is ons enigste hoop op die heerlikheid wat vir ons voorlê.


Die evangelie gaan oor die Persoon en Werk van Jesus en dit sluit alles in wat bedoel word met die allesomvattende term "in Christus" in die Nuwe Testament. Daar is geen onderwerp in die Nuwe Testament wat los staan van die evangelie nie. Ons het dringend nodig om terug te keer na 'n  radikale evangelie-gerigtheid. In Jesus is daar evangelie-krag vir elke dag, maar dan moet ons, ons fokus regkry en nie antwoorde soek in allerhande "geestelike" idees wat apart van Jesus definieër en bedink word nie.