Thursday, 12 January 2017

DAAGLIKSE AFHANKLIKHEID VAN DIE HEILIGE GEES

"En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder." Handelinge 9:31 

'n Mens kan nie met aandag deur die boek Handelinge lees sonder om diep beïndruk te word deur die antieke gemeentes se kinderlike afhanklikheid van die Heilige Gees nie.  Vir hulle was die werklikheid van Jesus se teenwoordigheid by hulle en in hulle nie net 'n teorie nie.  Die uitstorting van die Heilige Gees was vir hulle die groot gebeurtenis wat alles op hierdie aarde verander het.  Om te "wandel deur die Gees" was nie 'n onderwerp vir die volgende Bybelstudie nie, maar hulle daaglikse belewenis.  Dit was ondenkbaar om nie die Heilige Gees te vertrou vir elke behoefte aan wysheid, krag en oorwinning in die daaglikse lewe nie. 


Is jý bewus van die onmiddellike teenwoordigheid en werking van die Gees in jou lewe?  Dit begin alles met geloof.  Ons moet onwrikbaar glo dat die Trooster en Helper gegee is vir ons om daagliks in die krag en karakter van Jesus te kan leef op hierdie aarde.  Elke belofte wat vir ons gegee is in die Bybel kan net gerealiseer word deur die bediening van die Heilige Gees.  Die Woord en die Gees werk saam om Jesus in die hier-en-nou van ons lewens 'n werklikheid te maak.

Monday, 9 January 2017

REALISTIES OPTIMISTIES

Die wêreld se optimisme is uiterlik, kunsmatig en totaal uit voeling met die gevallenheid van die huidige skepping en die oordeel wat wag vir almal wat nie die knie wil buig vir Jesus Christus nie.

"Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand." 2 Petrus 3:10 

"En aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele  in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8 

As dissipels van Jesus het ons nodig om vir ongelowiges 'n realistiese prentjie te gee van die lewe op 'n gevalle en gebroke planeet.  Daar is byvoorbeeld geen verlossing en vreugde vir enigiemand voordat hulle nie eers treur oor hulle sonde en dan wegdraai daarvan nie.

"Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word." Mattheüs 5:4 

Konsekwent regdeur die Bybel word optimisme net 'n moontlikheid wanneer 'n mens eers God se diagnose van ons gevallenheid aangehoor en aanvaar het en dan Sý verlossingsplan omhels het.  Daarom faal die wêreld se optimisme altyd tragies en bring uiteindelik totale wanhoop en verwoesting.  Ons het 'n verantwoordelikheid voor God om die valse en oppervlakkige optimisme van die wêreld te ontbloot en daarteenoor die egte en ewigdurende optimisme van die Bybel te verkondig. 

God se plan en uitweg staan lynreg teenoor die van die wêreld.  Ons kan nie en durf nie die twee probeer versoen nie.  Ons durf nie die opstandingslewe aanbied sonder 'n kruis nie.  Selfs nadat ons wedergebore is, kom vreugde aan die ander kant van sterf aan myself, liefde eers wanneer ek my eie goedgunstigheid en welwillendheid opgegee het en Christus se liefde in my ontdek het, ware hoop eers wanneer ek geen meer hoop in die natuurlike en tydelike het nie, maar my oë gerig het op die geestelike en ewige werklikheid van die koninkryk wat kom. 


Het ons generasie van gelowiges dalk begin om die wêreld se optimisme te koop en ons kosbare Bybelse optimisme te versaak?  Is ons "positiwiteit" nie maar dikwels die van die wêreld nie?  Is dit nie dalk hoekom ware, diepgaande  vreugde en hoop wat die storms van die lewe in werklikheid kan trotseer so skaars is onder ons nie?  Martyn Lloyd-Jones, 'n groot prediker van die vorige eeu, het in sy tyd al gesê "we are far too bright and breezy today".

Thursday, 5 January 2017

DIE "EVANGELIE" WAT VAN DIE KRUIS 'N VOETNOTA MAAK

Ons generasie se verdraaide siening van God se liefde bring die ware evangelie ernstig in gedrang.  Die manier wat mense vandag praat oor die evangelie en die liefde van God laat mens wonder of ons generasie regtig nog verstaan dat God sonde gestraf het in Christus.  God verander nie.  Hy het nie verander van hierdie Ou Testamentiese God wat net wou straf na die Nuwe Testamentiese God wat net wil liefhê nie.  Die keuse is nie wraak óf liefde nie.  God se wraak teen sonde het gekulmineer in die verbryseling van Sy eie Seun. 

"Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel..."  Jesaja 53:10 

Dit is waar die liefde inkom en dit is baie groter as vandag se vals idee van God se liefde.  God het nie en sal ook nooit Sy heiligheid opgee om ruimte te maak vir Sy liefde nie.  Sy liefde en heiligheid staan nie teenoor mekaar nie.  God het nie sonde oorgesien nie.  Hy het dit gestraf in Christus.  'n "Evangelie" wat mense onder die indruk bring dat God uit 'n nuutgevonde liefde sonde oorgesien het en nou vir die hele wêreld vergifnis aanbied, maak van die kruis 'n blote voetnota.  Dit is 'n "evangelie" wat nie kan red nie.  Dit is ook die soort "evangelie" wat in ons tyd ruimte begin maak vir sonde en 'n hele wêreld van grys skep wat hordes mense verwar omdat hulle nie meer weet wat dan nou reg of verkeerd is nie. 

Die ware evangelie leer dat God die sonde gestraf het in Sy Seun en dat ons "saam met Christus" gesterf het vir die mag van sonde en nou kan leef in 'n opstandingslewe "saam met Christus".  Op grond van hierdie evangelie kan ons dan duidelik onderskei tussen lig en duisternis en begin om lewens van ware heiligheid en geregtigheid te leef.

"En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie." 1 Johannes 1:5 


"So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here." Romeine 6:11  

Sunday, 25 December 2016

RUS IN DIE WETE DAT GOD JÓÚ KEN

Daar is tye in die lewe van 'n dissipel van Jesus wat die gebed van Psalm 22 jou gebed word en die woorde eggo in jou hart asof jy dit self neergepen het.

"My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie." Psalms 22:2-3 

Die eerste woorde van vers 2 is natuurlik die woorde wat Jesus uitroep aan die kruis in volle identifikasie met die mens in sy diepe verlorenheid en onuitspreeklike wanhoop (Matt. 27:46).  Maar al voel dit soms in onverstaanbare omstandighede selfs vir die ware dissipel of God ver van hom is, kan hy rus in 'n opstanding aan die ander kant van die kruis.  Dit is juis hierdie kruis en opstanding wat ons die wete gee dat God wel teenwoordig is en dat Hy ons, en ons omstandighede, ten diepste ken.  Die gebed in 'n ander Psalm verwoord hierdie werklikheid met verstommende insig en helderheid.

"HERE, U deurgrond en ken my.  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend." Psalms 139:1-3 


Gaan lees Psalm 22 en Psalm 139 na mekaar en weet dan dat jy kan rus in die vaste wete dat God jou ken in Christus selfs al voel dit soos 'n stikdonker tyd in jou lewe.  Dit is by uitstek hierdie geloofsvertroue wat weer die vrede van God in jou omstandighede bring.

Tuesday, 20 December 2016

SKAPE EN BOKKE

"En voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit." Mattheüs 25:32-33 

Skape soek geestelike voeding, maar bokke wil net weet wat op die spyskaart is vir hulleself.  Dit is verstommend om te sien hoeveel mense vandag geen belangstelling toon in geestelike lering wat ons wil bring by heiligheid en 'n dieper kennis van God nie.  Maar dieselfde mense se ore spits onmiddellik vir enigiets wat klink of dit hulle eie leefwereld kan verbeter. 

Dit is heeltemal verstaanbaar dat 'n mens die troos van die Heilige Gees en die voorsiening van God sal soek wanneer jy deur moeilike omstandighede gaan, maar oor die algemeen soek skape voeding.  Hulle stel belang in wie God is, om Hom te ken, die uitbreiding van Sy koninkryk, geestelike groei, heiligheid, verlore siele, kennis van genade in Christus, die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde en 'n dieper insig in die heerlike Woord van God.  Bokke het nie werklik 'n aptyt vir hierdie geestelike dinge nie.  Hulle stel net belang in dit wat hulle hier-en-nou kan verander.  Waarna honger en dors jy?


"Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.  Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël." Johannes 6:26-27  

Sunday, 11 December 2016

AL WAT SAAK MAAK IS DIE SEËN VAN DIE KONING

"Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus." Efesiërs 1:3

Om te leef in die seën van die Koning los dosyne vraagstukke op oor sukses, voorspoed, gesondheid, lyding, die betekenis van die lewe, my doelwitte in hierdie lewe,  ensovoorts, ensovoorts.   In die hitte van die stryd op hierdie aarde vra ons dikwels die verkeerde vrae en raak ons soms ingetrek in komplekse teologiese debatte wat ons verward laat en niks prakties oplos in ons lewens nie.  Dit is sekerlik reg om na te speur en te ondersoek wat die Bybel sê oor hierdie sake, maar daar is 'n baie belangrike vraag wat ons eers moet vra: "Het ek die seën van die Koning?"

Paulus sê in Efesiërs 1 vers 3 álle dissipels van Jesus is rééds geseën omdat hulle een is met Hom.  Natuurlik is dit moontlik vir 'n dissipel om die Heilige Gees aanhoudend te bedroef en gevolglik deur die Vader gedissiplineer te word.  Maar dit gebeur die meeste van die tyd in dissipels se lewe as gevolg van die frustrasie van futiele pogings om te soek of te probeer verdien, dit wat hulle reeds besit in Christus; die seën van die Koning!  Erken en bely eerstens dat jy reeds geseën is met alle geestelike seëninge in Christus.  Begin dan leef vanuit hierdie seëninge, nie ná die seëninge nie.  Net dan sal dit vir jou moontlik wees om vrede en blydskap te beleef selfs al werk dinge nie altyd uit in die praktyk nie.  Die seën van die Koning werk baie dieper en meer ingrypend in ons lewens as enige aardse en materiële voorspoed of sukses.  Daar is niks wat daarmee kan vergelyk nie.


Daar gebeur iets wonderlik en dinamies in 'n mens se hart wanneer jy werklik begin glo dat jy reeds geseën is in Christus en dit verander jou perspektief op alles in jou lewe. Dit is 'n baie belangrike sleutel tot die soort oorwinning wat die Nuwe Testament van praat en dit ontsluit 'n lewe van diensbaarheid aan ander vanuit die oorvloed in Christus wat reeds ons eiendom is.

Sunday, 4 December 2016

VERNUWING VAN DENKE IS 'N LEWENSLANGE PROSES

"En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."  Romeine 12:2

As 'n dissipel van Jesus is jy reeds vergewe en gereinig deur die eenmalige offer van Jesus se liggaam aan die kruis (Heb. 10:10), maar Paulus sê hier in Romeine 12 dat ons almal nodig het om gedurige verandering te ondergaan as ons geestelik wil groei.  Hierdie verandering kan net op een manier plaasvind en dit is deur die vernuwing van ons denke.

Die vernuwing van ons denke is nie net formele of geroetineerde Bybelstudies of 'n teoretiese kennis van teologie wat mooi verpak en verseël is in 'n sistematiese kursus nie. Dit is nie net die Bybel in jou hand nie, maar die Woord in jou hart. Dit is die dinamiese lering van die Heilige Gees in jou daaglikse wandel soos wat jy jou denke absoluut onderwerp aan die Woord van God. Die evangelie is rewolusionêr, radikaal en heeltemal anders as enigiets wat ons ooit sou kon uitdink. Daarom moet ons gedurig toelaat dat die Heilige Gees ons leer en ons help om ons eie idees oor dinge te laat vaar sodat ons God se bevrydende siening kan omhels. Dit is 'n daaglikse "oefening" vir die dissipel en dit is onuitspreeklik kosbaar en waarlik lewensveranderend.