Wednesday, 8 February 2017

MOET EK "WORRY"?

Dit is darem vreemd hoe die dinge wat vir ons so belangrik is op aarde heel onder aan die hemel se prioriteitelys is.  Vat nou maar die volgende teks in Filippense:

"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God." Filippense 4:6 

Oor niks?  Regtig oor niks?  Ja sowaar, alles wat jou ontstel en jou bekommer in hierdie lewe moet jy (mag jy!) net so en sonder versuim voor die Vader bring en dit dan by Hom los.   Klink darem baie onverantwoordelik nê?  Mens moet mos "worry"!  Die Bybel leer egter konsekwent dat God ons aandag op Hom soek.  Ons moet ons kragte, energie en fokus op Sy koninkryk kry. 


Ja, natuurlik moet ons werk en 'n tuiste skep vir ons gesinne, maar ons moet dit doen binne die ruimte en waardestelsel van die koninkryk van God wat alreeds vir dissipels van Jesus 'n werklikheid is.  As ons hele lewe en aandag 24/7 ingestel is op tydelike dinge is daar groot fout.  Dan is ons waardestelsel nog nie ordentlik omgedop deur die Heilige Gees nie.  Wat ontstel jou?  Wat bekommer jou?  Wat gee vir jou maagsere?  God se oplossing is eenvoudig maar baie radikaal:  "Wees oor niks besorg nie."  Gee dit oor in God se hande sodat jy besig kan raak met die waardes van die koninkryk.

Monday, 6 February 2017

TRANE WAT GENEES

Die trane van ware berou en die trane van die dissipels van Jesus is baie kosbaar vir die Here en dit kan baie genesing bring .

"U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?" Psalm 56:9

"Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!" Psalm 51:19

Petrus se trane het vryelik geloop toe hy besef dat hy sy Heiland en Meester waarlik drie maal verloën het.

"En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars." Markus 14:72 

Paulus se bediening was gekenmerk deur opregte trane en sorg vir die welsyn van dissipels van Jesus.

"Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie." Handelinge 20:31 

Hier in 2 Timotheüs word trane en blydskap in dieselfde vers gebruik.  Ons weet nie hoekom Timotheüs gehuil het nie, maar dit het waarskynlik te doen gehad met broederlike liefde in Christus.  Dit was vir Paulus kosbaar, soos ook vir die Here.

"Terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word." 2 Timotheüs 1:4 

Behalwe in die geval van werklike smart is die trane van die wêreld gewoonlik die gevolg van self-bejammering en self-gerigtheid.  Andersins is dit bloot oppervlakkige en misplaaste sentimentaliteit of dit is net aansit en aandag trek.  Hierdie trane kan ongelukkig nooit ware genesing of verandering in mense se lewens bring nie al vloei dit soos riviere deur ons gemeenskappe.


Neem jou Bybelkonkordansie en soek die ander plekke op waar die Bybel praat van trane.  Dit is 'n wonderlike studie om te doen.  Vra dan jouself af of ons vandag nog so geroer word deur ons geloof soos die gelowiges in die Bybel.  Het ons geloof nie dalk te koud en klinies of bloot intellektueel geword nie?

Wednesday, 1 February 2017

VERSADIGDE LIGGAME, HONGER SIELE

"Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?Mattheüs 6:25b 

God is die Gewer van reën en voedsel en Hy maak voorsiening in die natuur om fisiese lewe op ons planeet te onderhou. Maar mense het ook 'n siel en gees wat gevoed moet word.

"Want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul." Psalm 107:9 

Jesus is die enigste "voedsel" wat mense se siele kan voed.  Dit is net in 'n lewende verhouding met Hom wat die diep honger van ons siele bevredig kan word.

"En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie." Johannes 6:35 

God het in Christus oorvloedige voorsiening vir ons gemaak om gesonde en versadigde siele te hê sodat ons ook ander kan voed met die brood van die lewe.  Maar waar les ons, ons dors en waar versadig ons, ons honger? Drink ons by die fonteine van die wêreld en eet ons by die wêreld se tafels?  God nooi ons uit om te kom aansit by die geestelike tafel wat Hy voorberei het.


"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11  

Monday, 30 January 2017

BOU MET GOD SE MATERIAAL

"Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen." 1 Thessalonicense 5:11 

Alle mense het van tyd tot tyd bemoediging nodig.  God het ons geskep as interafhanklike wesens wat mekaar moet ophelp, aanspoor en versterk. Jy sal nooit jou skeppingsdoel kan uitleef as jy nie mense rondom jou het wat jou bemoedig wanneer jy dit nodig het nie.  Ons sien egter vandag dat mense toenemend meer venynig raak met mekaar en geoefen is daarin om ander af te breek in plaas daarvan om hulle op te bou.  Dit is werklik tragies.  Maar as ons bemoedig en opbou as dissipels van Jesus moet ons baie seker maak dat dit in waarheid is. 


Ons moet bemoedig in die lig van die evangelie.  Ons moet vir diegene wat ons bemoedig 'n ware prentjie van hulle situasie gee.  Ons moet met die Woord opbou.  Ons moet in Christus bemoedig.  Ons moet mekaar herinner aan die hoop wat die opstanding van Jesus gebring het en wat voltrek gaan word by Sy wederkoms.  Sien 1 Thessalonicense 4 verse 14 tot 18.  Ons moenie bemoedig soos die wêreld met hol motiveringsboodskappies wat eintlik maar net sielkundige "window dressing" is nie.  Dan doen ons meer skade as goed, want een of ander tyd bars dáái ballon.  

Monday, 23 January 2017

GOD SE RADIKALE PLAN VIR GEMEENTELEWE

Die briewe van die Nuwe Testament is hoofsaaklik geskryf aan gewone lidmate, nie leiers per se nie. Nuwe-Testamentiese leierskap is radikaal Christus-gesentreerd en ten volle lidmaat-gerig (Matt 23:8-12). Dit is daarop gerig om konstant en aanhoudend gelowiges vas te maak aan Christus as hul Hoofleier en om elkeen in die gemeente toe te rus om dissipelmakers te wees. Dit is tyd vir ons om op te hou om bloot te praat van die priesterskap van alle gelowiges en om dit werklik te begin toepas in ons gemeentelewe.


Dit verg natuurlik in baie gevalle’n groot paradigmaskuif in die konteks van ons huidige gemeentepraktyke, maar dit is van kardinale belang vir die uitvoering van God se plan vir Sy Gemeente. God se plan is eenvoudig en bedoel om deurdringend te wees: Élke lid van die liggaam toegerus, élke lid in die Woord, élke lid radikaal Christusgesentreerd en geaktiveer deur die evangelie en élke lid ’n dissipelmaker. Totdat ons hierdie spesifieke doelwit het, mis ons die merk heeltemal en mors kosbare tyd, selfs met al ons kerkprogramme, vergaderings, komitees, opleidingskursusse en dies meer.

Wednesday, 18 January 2017

AL DIE PLUSSE WAT WARE EENHEID EN VERHOUDING VERWOES

Dit is al die plusse wat ons by Jesus voeg wat eindelose probleme veroorsaak.  In plaas van om eksklusief te ywer vir die evangelie, die Persoon en Werk van Jesus, ywer ons soms vir soveel ander dinge ook.  Dit is nie moeilik om te toets in praktiese situasies nie.  Dissipels wat ‘n suiwer fokus op Jesus en ‘n onverdeelde lojaliteit aan Hom alleen koester, geniet die ware en universele gemeenskap van die Liggaam van Christus en kan dan rustig gesels oor verskillende goed in die Bybel waaroor hule mag verskil.  Wanneer daar egter ‘n Jesus plus fokus by een of albei dissipels is, vind ons omtrent nooit mekaar se harte nie. 

“Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Johannes 17:21

Jesus was die enigste soenoffer wat kon betaal vir ons sondes om ons verhouding met God te herstel.  Ons het gesterf saam met Hom.  Ons is begrawe saam met Hom.  Ons het opgestaan saam met Hom. Ons het opgevaar saam met Hom.  Ons sit in hemelse plekke saam met Hom.  Hy leef nou in ons as ons wysheid, geregtigheid, vrede, hoop en daaglikse krag.  Hy is die Een wat ons doop met die Heilige Gees en Hy is die Een wat die Vader vir ons openbaar.  “Ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes. 5:30).  Hy is ook ons Bruidegom wat weer kom. 

Kortliks, Hy is ons alles.  Hy is waarlik ons lewe en bedoel om die middelpunt van al ons gesprekke te wees.  Ons toewyding en onverdeelde lojaliteit aan Hom gee vir ons onmiddellike toegang tot die hart van elke ander dissipel op aarde wat ook hierdie lojaliteit aan Jesus alleen koester en daarom Sy Woord liefhet en bewaar.  Ongeag kultuur, ras, kleur, geslag, nasionaliteit; dit is ons onverdeelde lojaliteit aan Hom wat ons harte verbind!  Ons kan verskil oor nie-essensiële dinge in die Bybel, maar as ons lojaliteit en fokus suiwer is, gaan ons by mekaar se harte uitkom.  Waarvoor ywer ons werklik?  Is ons fokus suiwer?  Is die leringe waaraan ons vashou en waarvoor ons ywer ‘n resultaat van ons fokus op Jesus alleen of is dit die vrug van ons eie intellektuele of emosionele voorkeure en afkeure of dalk tradisie en groepsdruk in ons gemeente of denominasie? 


Laat die Heilige Gees toe om jou hart te ondersoek en wees braaf genoeg om die plusse te laat gaan wat dalk subtiel ingesluip het in jou hart.  As dit van die Here was sal Hy dit wel weer onder jou aandag bring.  Maar hierdie keer vanuit ‘n suiwer Jesus fokus en vir die regte redes.

Monday, 16 January 2017

GENEESDE VERHOUDINGS IN DIE AANGESIG VAN JESUS

Ons verhoudingsprobleme ontstaan wanneer ons wegkyk van die "aangesig van Jesus" en op 'n ander basis verhouding probeer bou.  Maar daar is kosbare herstel van verhoudings en verstommende versoeningspotensiaal wanneer ons mekaar begin sien "in die aangesig van Jesus". 

Die woord "aangesig" kom net drie keer voor in die Nuwe Afrikaanse Vertaling, maar meer as 700 keer in die Ou Afrikaanse Vertaling. Alhoewel dit 'n woord is wat ons nie vandag meer gebruik nie is daar tog vir my iets aan hierdie woord wat die idee van verhoudingsintimiteit pragtig uitdruk. 

In die Ou Afrikaanse Vertaling word dit nie net gebruik om ons verhouding met God te beskryf nie, maar ook ons verhouding met mekaar.  Dit spreek van versoening, van nabyheid, van harte wat kontak het met mekaar, van 'n intieme kennis en 'n begeerte om nog beter te ken.  Die hele boodskap van die evangelie gaan daaroor dat ons God slegs kan ken "in die aangesig van Jesus Christus".  Die Heilige Gees openbaar die Persoon en Karakter van Jesus vir ons in die evangelie en dit bring oombliklik 'n verhoudingskennis van God.

"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Korinthiërs 4:6 

In die "aangesig van Jesus" leer ons nie net die Vader ken nie, maar word daar ook op 'n wonderbaarlike wyse 'n weg vir ons oopgemaak om mekaar "in Christus" te ken.

"Maar nadat ons, broeders, ‘n kort tydjie van julle geskeie was—in persoon, nie met die hart nie—het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien." 1 Thessalonicense 2:17 


Ek nooi jou vandag uit om na die mense om jou te begin kyk in die lig van die Persoon en verlossingswerk van Jesus, m.a.w. in die lig van Sy aangesig.