Monday, 22 May 2017

'N BETER AFTREDE OF 'N BETER OPSTANDING?

Abraham, die vader van ons geloof, het volgens Hebreërs 11 geleef met sy oë op die nuwe Jerusalem (Openb. 21:1-3). 

"Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." Hebreërs 11:10

Sy visie op die Godstad het sy lewe regeer en al sy besluite beïnvloed. Sy oë was gerig op iets aan die ander kant van die tydelike en natuurlike. Ons het vandag 'n baie meer volledige prentjie van God se heilsplan as wat Abraham gehad het, maar waar is ons oë gerig? Sien ons wat hy en die ander geloofshelde in Hebreërs 11 gesien het? Ons is veronderstel om 'n baie helderder visie as hulle te hê, maar het ons? As mens luister na gesprekke vandag klink dit in alle eerlikheid asof baie van ons meer besorg is oor 'n beter aftrede as 'n beter opstanding.

"Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry." Hebreërs 11:35


Iewers het ons generasie 'n verkeerde idee van geloof opgetel en dit beïnvloed ons hele wêreldbeskouing. Mag God ons genadig wees en ons terugbring by Bybelse geloof. 

Wednesday, 17 May 2017

NET DIE NEDERIGES HEERS IN HIERDIE KONINKRYK

Ek kan nie aan die een kant wil staan op my identiteit in Christus en met vrymoedigheid praat daaroor, terwyl ek aan die ander kant steeds vashou aan my eie wysheid, krag, besittings, eer, status, ensovoorts nie.  Volg maar hierdie lyn regdeur die Bybel en dit sal vir jou glashelder duidelik word dat God nooit, maar nooit, enigiemand in enige posisie in Sý koninkryk plaas wat nie eers in nederigheid die knie gebuig het voor Hom nie.

"Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52 

Alle ware dissipels van Jesus het regtens deel aan Sy heerskappy in die hemel met die doel om God se wil te laat geskied op aarde.  Dit is 'n logiese gevolgtrekking op grond van Paulus se groot stelling in Efesiërs 2.

"En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6


Dit is daarom nie verkeerd om in geloof te staan op die uitsprake wat God self oor ons maak in Christus en om dit met vrymoedigheid te bely nie.  Solank ons net onthou dat ons verhoging in Christus plaasgevind het aan die ander kant van 'n erkenning dat ons in onssèlf niks is of het nie.  Hierdie nederige belydenis bly die basis van alles wat ons in Christus het en ontvang het.

Monday, 15 May 2017

DIE SAAM-VERSTAAN VAN 'N WARE HARTSEENHEID

Die boek Efesiërs is die boek in die Bybel met die diepste openbaring van die gemeente en in hierdie boek word daar 'n besondere klem gelê op die eenheid van die liggaam van Christus en die kosbare voordele van hierdie eenheid.  Let wel dat dit die eenheid van 'n liggaam is, 'n organiese eenheid, nie 'n organisatoriese eenheid nie.  Dit is net in hierdie organiese eenheid wat ons die heerlikhede van die evangelie met mekaar kan deel op 'n wyse wat 'n begrip en verdieping bring wat nie andersins moontlik is nie. 

"En julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp..."  Efesiërs 3:18 


Die uiterlike eenheid van 'n godsdiens-institusie is net eenvoudig nie in staat om hierdie geestelike werklikhede te verwesenlik nie.  Leef jy in die heerlike saam-verstaan van 'n ware hartseenheid met ander dissipels van Jesus of bevind jy jou in 'n woestyn van "formele kerk-verhoudings" en verwaarloosde verbintenisse.  Eersgenoemde is jou erfenis in Christus.  Moet dit nie verbeur nie.  Soek dit met jou hele hart!  As jy dit reeds beleef, koester dit soos 'n kosbare skat.

Thursday, 11 May 2017

DIE KRUIS, DIE KERK EN DIE KONINKRYK

Sonder die kruis is die kerk (gemeente) nie meer die kerk nie en sonder die ware kerk kan die koninkryk van God nie floreer nie.  In 'n sin gaan die hele Nuwe Testament oor hierdie drie dinge.  Die kerk bestaan net op opstandingsgrond en niemand kan op daardie grond kom staan wat nie eers die sterwe saam met Christus in geloof omhels het nie.  God bou nie Sy gemeente met die "ou mens" (ou skepping) nie, maar met die nuwe skepping.

"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."  2 Kor. 5:17

Dit is heeltemal reg om te sê die tema van die hele Bybel is die koninkryk van God, maar hoe funksioneer daardie koninkryk op aarde?  Eers die kruis, dan die kerk, dan die koninkryk.  Geen kruis, geen kerk en geen kerk, geen koninkryk.  Die kerk bestaan nie vir haarself nie, maar vir die uitbreiding van die koninkryk van God. 


Die kruis, net die kruis, sny alle ander lojaliteite af en wen ons harte om aan Jesus alleen te behoort. Hierdie toewyding aan Jesus vorm die kerk.  Dit is inderdaad die essensie van die kerk (Openb. 2:4-5).  As ons terugkeer na die volle verkondiging van die kruis sal die essensie van die kerk herleef en so sal die koninkryk van God op aarde sigbaar word.  Lees Mattheüs 16:15-28 en kyk bietjie hoe Jesus hierdie boodskap helder en duidelik aan Sy dissipels oordra.

Monday, 8 May 2017

DIE KONSTANTE FEES VAN INNERLIKE VERVULLING

"En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet." Handelinge 2:46

Wat 'n lieflike prentjie word vir ons hier geskets van die daaglikse lewe van die eerste gemeente. Wat 'n vreugde is dit nie as mense kan saamleef met innerlike vervulling en dankbaarheid. Dan raak selfs 'n eenvoudige ete 'n fees!

Daarteenoor staan die hebsugtige lewe van die wêreld wat net nooit genoeg kan kry nie en selfs met oorvloed nooit werklik vervuld is nie.

"Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie!" Spreuke 30:15


Leef jy in die konstante fees van innerlike vervulling of is jou dae gevul met die nimmereindigende soeke van onvergenoegdheid?

Wednesday, 3 May 2017

LAAT JY GOD TOE OM TE SKRYF OP DIE TAFELS VAN JOU HART?

Die wedergeboorte gee ons toegang tot die hart en gedagtes van God. Die Bybel is 'n geslote boek vir mense wat nie wederbaar is deur die Gees van God nie.  Vir wedergebore mense word die Bybel daarenteen lewend en so begin die onbeskryflike ontdekkingsreis wat stelselmatig  vir ons "die dieptes van God" ontsluit.

"Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God." 1 Korinthiërs 2:10 

Daar is egter 'n voorwaarde en dit is dat ons, ons eie idees oor dinge moet laat vaar en ons eie voorkeure oor wat ons dink belangrik is in die Bybel.  Dit is onmoontlik om 'n sinvolle gesprek met mekaar te voer oor die inhoud van die Bybel as ons nie die Bybel toelaat om self te praat en die oortuigingswerk te doen in ons harte nie.  Dit verg egter 'n berekende en besliste onderwerping van ons denke aan wat die Bybel noem "die sin van Christus".

"Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus." 1 Korinthiërs 2:16

"For who has understood the mind of the Lord so as to instruct him?" But we have the mind of Christ." 1 Corinthians 2:16  (ESV)


Party van ons het soos die Engelse uitdrukking sê "a padlocked mind".  Dit is bykans onmoontlik om in daai dig-gesluite kluis in te kom, want die persoon laat nie eers die Woord van God toe om verandering te bring daar binne nie.  Intussen is ons dalk baie besig met die Bybel, maar die Bybel is nie besig met ons nie.

Monday, 1 May 2017

ONS IS VRY, MAAR DIE AARDE IS STEEDS ONDER OORDEEL

Baie misverstande en verwarring ontstaan omdat ons nie hierdie belangrike Bybelse waarheid reg verstaan nie.  As jy opgewonde raak wanneer jy hoor van die wonderlike vryspraak en lewe in die evangelie, maar verward raak wanneer jy hoor dat die aarde onder oordeel is, beteken dit jy het nog nie lank genoeg stil gestaan by dit wat die Bybel leer oor hierdie saak nie.  Jesus en die apostels het albei waarhede met dieselfde onwrikbare  oortuiging verkondig.

"Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het." Romeine 8:20 

Ons liggame is ook nog in 'n sin verbind met hierdie gevalle skepping.  Daarom sê Paulus dat dissipels van Jesus "verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word".

"Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.  Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word." 2 Korinthiërs 5:1-2 


Die verwarring ontstaan omdat ons begin dink dat ons vryheid in hierdie wêreld is, maar die Bybel leer konsekwent dat ons "vreemdelinge en bywoners" op aarde is en dat ons die wêreld moet verloën.  Jou vryheid gaan nie ingeperk word as jy dit glo nie, dit gaan eerder bevestig en vergroot word in jou binneste.