Wednesday, 6 September 2017

DIE GEESTELIKE BELANGSTELLING VAN DIE NUWE MENS IN CHRISTUS

Dit is baie duidelik in die blaaie van die Nuwe Testament dat "die mens in Christus" se geestelike sintuie met die wedergeboorte aangeskakel is. Dit is ook dan die primêre rede waarom hierdie nuwe mens in Christus se belangstelling so radikaal verskil van die ou mens in Adam.  Jesus het dit baie duidelik gemaak in Johannes 3 dat slegs mense wat wedergebore is die koninkryk kan "sien".  Hierdie "sien" het vanselfsprekend niks te doen met fisiese sig nie. 

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." Johannes 3:3 

Verder kan slegs hierdie dissipels wat weer gebore is Jesus se stem hoor in die Skrif en Hom dan in alles leer gehoorsaam. 

"Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder." Johannes 10:16 

Die nuwe mens in Christus stel belang in die wese en persoon van God, die koninkryk, die hemelse en ewige werklikhede, geregtigheid, heiligheid, ensovoorts.  Vir die ou mens in Adam is al hierdie geestelike dinge vaag en dit interesseer hom nie werklik nie. Hy stel baie meer belang in dit wat sy lewe op aarde kan verbeter en vir daardie doel is hy dikwels bereid om sekere opofferings te maak, binne perke natuurlik.  Veral as daar nog 'n assuransie vir die ewigheid ook belowe word.


Die "ou mens" kan baie godsdienstig wees en selfs 'n intellektuele of antikwariese belangstelling in die Bybel hê, maar die soeke na verhouding met God en die begeerte om geestelik te groei laat hom in werklikheid koud.  Soms wonder mens oor die soort "geestelike" lektuur en media boodskappe wat ons generasie fassineer.  In so 'n klimaat raak dit juis soveel belangriker om seker te maak dat ons werklik die nuwe lewe in Christus ontvang het wat net in die wedergeboorte aan ons geskenk word.

Monday, 4 September 2017

HORENDE DOOF EN SIENDE BLIND

"... Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie."  Handelinge 28:26 

Dit is regtig skrikwekkend om te dink dat twee mense langs mekaar kan staan en dieselfde geestelike dinge kan hoor en sien, terwyl die boodskap in klank en beeld vir die een 'n seën is en vir die ander 'n oordeel.  Twee mense kan dieselfde Bybel lees, maar die een sien net woorde op papier, terwyl die ander God se stem hoor.  Twee mense kan dieselfde liefdesdade en opoffering van 'n dissipel van Jesus aanskou, maar die een sien net 'n mens wat vir een of ander rede doen wat hy doen, terwyl die ander Jesus geopenbaar sien.  Wat is die verskil?  Die een het net uiterlike sintuie, maar sy innerlike sintuie is nog nooit geaktiveer nie.  Die ander het nie net fisiese ore en oë nie, maar sy geestelike ore en oë is deur God as't ware aangeskakel.  Dit is primêr die kondisie van ons hart wat die bepalende faktor is in hierdie verband.

Ongelukkig kan selfs dissipels van Jesus se harte tot so 'n mate verhard dat hulle nie meer geestelike werklikhede duidelik kan hoor en sien nie.  Alles wat vroeër kosbaar was het vervaag. Vir diesulkes is daar 'n baie kosbare uitnodiging in Openbaring 3.  Jesus sê ons kan na Hom gaan en Hom pertinent en direk vra om ons geestelike oë weer te open.


"Ek raai jou aan om van My te koop...salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien."  Openbaring 3:18  

Wednesday, 30 August 2017

NET VERVULLING IN CHRISTUS KAN MISLEIDING ONTMASKER EN ONTWAPEN

Alles wat ons nodig het, is in Jesus.  Ons is in Hom en Hy is in ons.  In Hom het ons volle toegang tot al die bedieninge van die Heilige Gees.  Deur Sy bloed en geregtigheid het ons vrye gemeenskap met die Vader.  In Hom is ons ook een met alle ander mense wat deur die wedergeboorte in Hom is (1 Kor. 1:30). 

Terwyl ons Sy heerlikheid aanskou groei ons geestelik en word ons meer en meer soos Hy, soos wat Hy in ons gevorm word (2 Kor. 3:18; Gal. 4:19).  Christus is ons fokus en Sy karakter in ons gevorm is die doel.  Ons lees ons Bybel en vertrou die Heilige Gees om Jesus daarin te openbaar. So volg ons Jesus in gehoorsaamheid aan Sy wonderlike werkinge in ons deur Woord en Gees.  Dit is die eenvoud van die lewe van 'n dissipel en ook die eenvoud van gemeentelewe. Tensy ons natuurlik ons fokus en doel uit die oog verloor en op sypaadjies begin stap.  Dan raak gemeentelewe gekompliseerd en beland ons in die doolhof van die self-lewe, dogmatisme, geestelike hoogmoed, kerkisme, dooie tradisie, ritualisme, wettisisme, ensovoorts.

Satan weet baie goed dat ons oorwinning slegs in 'n radikale Christus-fokus is en daarom doen hy alles in sy vermoë om ons te beroof van die eenvoud van 'n totale fokus op Hom en volle vergenoegdheid in Hom (2 Kor. 11:2-3).  Hy pas sy misleidings aan vir maksimum effektiwiteit ooreenkomstig die spesifieke individu, groep of gemeente wat hy wil mislei. Sy doel bly egter altyd dieselfde en dit is om ons subtiel weg te lei van vervulling in Christus en dan vanuit ons onvergenoegdheid aan ons allerhande alternatiewe vervullings te verkoop.


"Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;  maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus." Efesiërs 4:13-15  

Monday, 28 August 2017

DIE DENKFOUT WAT DIKWELS DIE OORSAAK IS VAN DIE MEESTE PROBLEME IN GESINNE EN GEMEENTES

Die gemeente in Korinthe het sekerlik meer praktiese probleme gehad as enige ander gemeente waarvan ons lees in die blaaie van die Nuwe Testament, maar wat absoluut fassinerend is, is die manier wat Paulus hierdie probleme aanspreek.

Hy identifiseer een enkele denkfout as die wortel van al die probleme in die gemeente in Korinthe, naamlik die idee dat mense kennis en wysheid onafhanklik van God kan verkry deur hulle eie intellek en intelligensie en dat hierdie gesogte kennis en wysheid selfs geestelike en morele probleme kan oplos.

Paulus self was 'n baie intelligente en geleerde man in menslike terme, maar hy het nie die probleme in Korinthe probeer oplos deur "oorredende woorde van menslike wysheid" nie (1 Kor. 2:4). Hy het nie die situasie benader as 'n sogenaamde "godsdiens ekspert" nie, maar het in absolute afhanklikheid van God en met vrees en bewing sy briewe aan hulle geskryf. Hy het baie goed verstaan dat net die kennis en wysheid wat van God self kom via gebrokenheid en geloof hierdie gewaande slimmigheid van die Korinthiërs kon ontmasker.

Dit is eers wanneer ons erken dat ons geen kennis en wysheid onafhanklik van God het nie dat die fontein van Goddelike kennis en wysheid oopgaan in ons binneste en ons skielik vind dat daar vir dosyne tameletjies in gemeentelewe (en ook in die gesin) kosbare oplossings is in Christus. Maar dan gaan dit beteken dat ons eers ons eie "kennis en wysheid" sal moet opgee.

"Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word." 1 Kor. 3:18


"As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos 'n mens behoort te weet nie." 1 Kor. 8:2

Wednesday, 9 August 2017

VERLOSSING: 'N REIS OF 'N STOPSTRAAT?

Israel se uittog uit Egipte verteenwoordig die geregtigheid van God wat dissipels van Jesus in Hom ontvang het met ons wedergeboorte.  Hierdie wonderlike "gawe van geregtigheid" (Rom. 5:17) is bedoel om ons vrye toegang tot die troon van genade te gee sodat ons die volgende fase van ons redding (in die woestyn) met 'n vaste fondasie onder ons voete tegemoet kan gaan. Dit is nie net 'n kaartjie hemel toe nie!

Daar is min dinge wat meer skade gedoen het, en steeds doen, aan die getuienis van dissipels as hierdie halwe verlossingsboodskap wat van geregtigheid 'n eindbestemming maak.  Satan wil mense ten alle koste weghou van die kennis van geregtigheid, maar as hy dit nie kan regkry nie maak hy van dit 'n huis op 'n bult met geen uitgang nie, in plaas van 'n trein wat my neem na my bestemming en erfenis in Christus.

Dit is juis in die volgende fase (Israel in die woestyn) waar ons leer om nie net te staan op die geregtigheid van God in Christus nie, maar om te lééf daaruit!  Dit is hier in die woestyn waar ons siel sy plek leer ken as ondergeskik aan ons nuwe gees wat nou verenig is met Christus (1 Kor. 6:17; Gal. 2:20).  Dit is hier waar ons leer om in geloof te leef, totaal afhanklik van die wysheid, krag en lewe van Christus in ons.  Dit is hier waar ons leer om persoonlik (nie net van hoorsê) met die Woord van God om te gaan en te leef "van elke woord wat deur die mond van God uitgaan" (Matt. 4:4).  Dit is net hier waar Christus in ons gevorm word (Gal. 4:19) en ons voorberei word vir die volgende fase, naamlik om grond te begin inneem in Kanaän. 


Oorwinning op oorwinning wag daar, maar net vir die wat geregtigheid verstaan, leef daaruit en dan sodoende die toets in die woestyn deurkom. Waar bevind jy jouself op hierdie geestelike reis, wat geen dissipel van Jesus durf ignoreer of op enige manier kan vryspring nie?

Monday, 7 August 2017

VERLOSSING, BEVRYDING EN OORWINNING: DIE DRIE FASES VAN GOD SE MEESTERPLAN

In 'n breë sin kan 'n mens sê God het ons verlos sodat Hy ons kan bevry om ons dan oorwinning te gee in verskillende situasies en omstandighede "tot lof van die heerlikheid van sy genade" (Efes. 1:6a). 

Streng gesproke vind verlossing en bevryding terselfdertyd plaas, met ons wedergeboorte, maar ek wil graag die term bevryding spesifiek gebruik om ons aandag te fokus op ons bevryding van die wêreld (Egipte) en die vlees. As ons kyk na Israel se reis van Egipte tot in Kanaän as 'n voorbeeld van God se verlossingsplan vir al sy mense (1 Kor. 10:1-13; Heb. 3:5-4:13) sien ons dat die eerste fase van God se plan was om Israel te verlos uit Egipte.  Die tweede fase van Sy plan was om Egipte uit die Israeliete se harte te kry, m.a.w. bevryding ván Egipte.  En die derde fase van Sy plan was om die Israeliete in te neem in Kanaän sodat hulle daar die ander nasies kon oorwin om sodoende hulle erfenis in besit te neem.

In die eerste fase, die trek uit Egipte, deur die Rooi See en tot in die woestyn, is ons veronderstel om ons identifikasie en eenheid met Christus te verstaan. Ons verlossing en geregtigheid is net in Hom.  In die tweede fase, ín die woestyn, word ons getoets en as ons in geloof volhard word ons proefondervindelik bevry van die wêreld en die vlees.  In hierdie fase word Christus in ons gevorm (Gal. 4:19).  In die derde fase, oor die Jordaan en die inneem van Kanaän, wil Christus deur ons oorwinning op oorwinning vir ons skenk oor allerhande praktiese situasies in ons daaglikse lewens. Hierdie oorwinnings het primêr te doen met ons missie in die wêreld, dw.s. om dissipels te maak van die nasies (Matt. 28:18-20).

Van die hele generasie wat uitgetrek het uit Egipte het net Josua en Kaleb die beloofde land binnegegaan. Dit is veronderstel om ons aandag te gryp en te hou sodat ons wakker kan skrik en kan besef dat presies dieselfde met ons kan gebeur as ons nie volhardende geloof het soos Josua en Kaleb gehad het nie.  Laat my asseblief toe om weer jou aandag te vestig op die twee gedeeltes in die Nuwe Testament (1 Kor. 10:1-13; Heb. 3:5-4:13) waar ons gewaarsku word om nie in ons geloof en volharding te faal soos daardie generasie gefaal het nie.

Waar staan ons met gemeentelewe vandag in ons generasie?  Verstaan ons werklik ons identifikasie en eenheid met Christus?  Word ons addisioneel deur predikante en leraars opgeroep om die toetse van heiligmaking in die woestyn in geloof deur te kom sodat ons voorberei kan wees vir oorwinning in Kanaän.  En laastens, probeer ons net oorleef vir "ons vier en ons dier" in die woestyn van hierdie wêreld of het ons aandag al geskuif buite onsself na die verlore mensdom en die werk van die koninkryk van God in en vir ons generasie? 


Oordeel self.  Waar staan ek en jy en waar staan ons gemeentes?  Hierdie is nie ligtelike sake nie, maar die dodelike erns van die Bybelse boodskap oor die verlossing of ondergang van hele generasies van mense op ons planeet.

Wednesday, 2 August 2017

HEMEL BEGIN IN JOU HART

Dawid, die man na God se hart, het die helfte van die 150 Psalms geskryf. Hierdie Psalms maak dit baie duidelik dat hy 'n diep verhouding met God gehad het. Wat was die geheim van sy kosbare en intieme verhouding met God? Ons sien in Psalm 16 dat hy in geloof gedurig in herinnering geroep het dat die Here by hom was.

"Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie." Psalms 16:8

God self sê vir Dawid se seun, Salomo, in 1 Konings 9 dat Dawid "voor sy aangesig" gewandel het.

"En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het..." 1 Konings 9:4a

In die Nuwe Testament sien ons dat Paulus op grond van die verlossingswerklikhede van die evangelie dissipels van Jesus oproep om hulle hart en denke te rig op die Here.

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1


Ons staan onder 'n beter verbond as Dawid en het nog meer verlossingsvoorregte tot ons beskikking. Daarom het ons geen verskoning om nie ook in so 'n intieme verhouding met God te wandel nie. Ons leef in werklikheid voor die aangesig van God, maar ons het nodig om onsself daagliks in geloof te herinner aan hierdie wonderlike waarheid. Op geen ander manier kan ons begin om hemel op aarde te beleef nie. Die hemel (Jesus) het aarde toe gekom om die aarde (gelowiges) hemel toe te neem sodat die mense op aarde nou-al hemel kan begin beleef op aarde. Glo dit. Dis waar.