Wednesday, 4 October 2017

DIE MITE VAN SPESIALE OUTORITEIT EN GESAG

Ons is terug by Paulus, maar vandag praat ons oor die kontroversiële onderwerp van outoriteit en gesag.  Is daar in ons tyd nog iets soos spesiale outoriteit wat ons noodsaak om ons eksklusief aan sekere apostoliese gesag te onderwerp? Kom ons gebruik weer vir Paulus as voorbeeld en dan werk ons van daar af.  Het Paulus spesiale gesag gehad.  Dis weereens goed om te hoor wat sê hy self.

"Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het." Gal. 1:1 

"Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God, ons Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop." 1 Tim. 1:1 

Ek dink nogal ons kan sê Paulus het spesiale outoriteit en gesag gehad.  Maar hoe het hý dit bestuur?

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Kor. 4:5 

Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." 2 Kor. 11:2 

Hy het nie homself verkondig nie en hy het ook nie mense aan homself probeer verbind nie, maar aan Jesus.  Verder het hy altyd sy gesag uitgeoefen via die Skrif en onder die Hoofskap van Christus, nooit direk asof hy die gesag in sy persoon gehad het nie.  Maak seker jy verstaan die verskil, want dit is krities belangrik. Miskien help dit om te hoor wat Paulus wel van homself as persoon te sê gehad het.

"Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig." Efesiërs 3:8 


So selfs al sou iemand vandag wou aanspraak maak op spesiale outoriteit en gesag móét hulle dit beoefen op die manier wat Paulus dit gedoen het.  Maar is daar nog apostels vandag wat Paulus en die ander apostoliese Bybelskrywers se spesiale en eksklusiewe soort gesag het?  Definitief nie, en as selfs Paulus sy gesag beoefen het via die Skrif en onder Jesus se absolute en direkte Heerskappy oor elke menslike gewete is dit die hoogtepunt van arrogansie en eiewaan vir enigiemand om te dink hulle kan dit op 'n ander manier doen as Paulus.  

Monday, 2 October 2017

DIE MITE VAN SPESIALE EN EKSKLUSIEWE KENNIS

Gestel Paulus het met sy enorme openbaring van al die implikasies wat die vleeswording en die werk van Jesus vir mense inhou, besluit dat hy sy eie denominasie gaan begin. Iets soos "Die Gemeentes van Paulus Internasionaal". As daar een persoon was wat op grond van die openbaring wat hy ontvang het kon voel dat hy die reg gehad het om sy invloed en kennis af te kamp en dit eksklusief te maak, soos ontwerpers klere, dan was dit sekerlik Paulus. Maar was dit wat hy gedoen het? Kom ons laat hom toe om self te antwoord.

"Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God." 1 Kor. 2:9-10

Hy sê eerstens dat God self vir die apostels openbaring gegee het van die verborgenhede van die evangelie. Hierdie stelling kan ons dalk nog laat wonder of Paulus nie miskien tog sy kennis afgekamp en gebottel het nie. Maar kom ons lees verder.

"Dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan." Efesiërs 3:3-4


"As julle dit lees...kan verstaan". Het Paulus "spesiale kennis" ontvang van God? Ja sekerlik. Het hy dit egter vir homself gehou of 'n eksklusiewe Pauliniese denominasie begin op grond daarvan. Nee. Dit is vir ons neergepen en ons kan dit nou lees in ons eie taal. Vandat ons die volledige Bybel het, kan niemand meer aanspraak maak op "spesiale en eksklusiewe kennis" nie. Ons het nie nodig om rang te trek op mekaar of mekaar te probeer beïndruk met ons spesiale openbarings nie. Wat ons wel kan doen is om mekaar gedurig te inspireer om dieper te delf in die "onnaspeurlike rykdom van Christus" wat vryelik beskikbaar is in die Bybel vir almal wat 'n honger het om Jesus werklik te ken.

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly." 1 Joh. 2:27 

Wednesday, 27 September 2017

'N DANKBARE EN VREUGDEVOLLE LEWE

Hoe lyk 'n lewe wat God se goedkeuring wegdra? Nie net die lewe tussen nege en tien op 'n Sondagoggend "in die kerk" nie.  Baie mense dink ongelukkig heimlik dat dit stukkie van ons week is wat redelik eksklusief vir God belangrik is en die res verdra Hy maar net.  Ons praat van oggende, aande, rusdae, vakansiedae, eet, drink, werk, beplan,  ontspan, kuier, gesels, ensovoorts.  Is daar werklik 'n soort lewe wat dag in en dag uit vir God laat glimlag en Sy Vaderhart verbly?

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat 'n dankbare en vreugdevolle lewe God behaag.  Ja, dis waar.  God wil regtig hê ons moet net dankbaar wees en met blydskap leef.  So 'n lewe is natuurlik onmoontlik sonder Jesus.  Maar as ons in geloof deur hierdie gebroke en gevalle wêreld stap saam met Jesus sal die tekens van so 'n saamstap lewe dankbaarheid en blydskap wees.  As dinge soos vormgodsdiens, ongehoorsaamheid of dalk 'n oorgekompliseerde en te besige lewe jou beroof het van die eenvoud van dankbaarheid en blydskap in en saam met Jesus, stop dan.  Kry jou oë weer op Jesus en gehoorsaam Hom soos 'n kind met dankbaarheid en blydskap en die resultaat sal verrassend genoeg meer dankbaarheid en blydskap wees.  Dit is ongetwyfeld God se wil vir almal van ons.


"Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle." 1 Thes. 5:16-18

Wednesday, 20 September 2017

'N GEESTELIKE LEWE BEGIN MET TOEGEWYDE ORE

In sy uitstekende artikel oor geestelike gehoor (Spiritual Hearing) maak Austin Sparks hierdie aangrypende stelling aangaande die priesters in die Ou Testament wat eers bloed en dan olie op die oor ontvang het om hulle geestelike take te kon verrig: "There is the the ear sealed against one world, and there is the ear open to the other world. There is one world closed by the Blood, another world opened by the Spirit; and it all centres in the inner ear, the ear of the heart. It is a very important thing."

Hierdie ietwat vreemde instelling m.b.t. priesterskap kommunikeer nietemin vir ons 'n krities belangrike waarheid, naamlik dat priesters afgesonderde en toegewyde ore nodig gehad het om God waardiglik te kon dien. Aangesien die Nuwe Testament dit baie duidelik maak dat die priesterskap oorgegaan het op al God se mense word hierdie saak van geestelike gehoor iets waaraan ons almal besonderse aandag moet gee. Oorweeg as voorbeeld net die volgende stellings van Jesus oor geestelike gehoor:

"My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My." Johannes 10:27

"En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor." Markus 4:24

"Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het." Lukas 8:18

Jesus sê in Johannes sy skape luister na sy stem. In Markus en Lukas sê Hy ons moet baie versigtig wees met wat ons hoor én hoe ons hoor.  As ons sê ons is in Jesus se kudde beteken dit dus prakties ons kan nie ons ore uitleen vir sommer enigiets nie. Ons moet baie versigtig en selektief luister en leer om sekere dinge te ignoreer en ander heeltemal te vermy waar moontlik. Aan die ander kant moet ons seker maak dat ons ore akuut ingestel is op die geestelike werklikhede van die koninkryk en dat ons altyd luister met die uitsluitlike doel om te gehoorsaam.


Hoe gaan dit met jou geestelike gehoor? Is jy doof vir die wêreld en super-sensitief vir die stem van jou Herder of is dit dalk presies die teenoorgestelde; halfpad doof vir Jesus en aandagtig ingestel op die honderde stemme in die wêreld? Antwoord eerlik. "Laat hom wat ore het hoor".

Thursday, 14 September 2017

'N GENERASIE MET BAIE LIG, MAAR MIN SIG

In die evangelie van Johannes is Jesus se opening van die oë van 'n man wat blind gebore is (Johannes 9) een van sewe wonderwerke (tekens) wat bewys dat Hy die Seun van God is.  Hierdie opening van die oë van 'n blinde man het plaasgevind te midde van mense wat geroem het daarop dat hulle die Tanakh (die letterlike woorde van God) in hulle besit het en dat hulle daarom anders as alle ander mense was.  Jesus gebruik egter die teken van die opening van 'n blinde man se oë om vir hulle in effek te sê "lig is nie gelyk aan sig nie"!  Net die wat na Jesus kom en die knie buig voor Hom ontvang sig om dan dinamies om te gaan met lig.  En terloops, net die wie se knieë gebuig bly, behou hulle sig!

Baie jare na Jesus die man se oë tydens Sy bediening op aarde oopgemaak het, sien Johannes op die eiland Patmos 'n gesig van die verheerlikte Jesus wat tussen sewe van Sy gemeentes deurloop met "oë soos 'n vuurvlam".  Vir een van hierdie gemeentes sê Jesus dan "Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Openbaring 3:17-18). 


Let op dat Jesus hier met een van Sy gemeentes praat. Maar die boodskap is presies dieselfde as wat Hy deur die opening van die oë van die blinde man vir die Jode probeer gee het toe Hy op aarde was, naamlik "lig is nie gelyk aan sig nie"!  Net die "salf" wat Jesus gee, kan geestelike blindheid genees.  Ons generasie het meer toegang (deur die internet en moderne media) tot Bybelkennis (lig) as enige generasie voor ons in die geskiedenis, maar het ons geestelike sig of is ons soos blindes wat met kragtige flitse in ons hande rondloop en roem in die superieure tegnologie van ons flitse?  As ons nie geestelike krag het nie is daar net een werklike oorsaak en dit is dat ons met al ons lig, nie sig het nie.  Kan iets meer tragies wees?  Is dit nie tyd vir ons om uit te roep na God om ons generasie van gelowiges geestelike sig te gee nie?

LIG IS NIE GELYK AAN SIG NIE

Die Bybel is lig.  Die evangelie is lig. God se woorde is lig. Jesus is lig.  Maar sonder die innerlike opening van jou oë deur die Heilige Gees beteken die lig absoluut niks vir jou nie, selfs al is jy dag en nag besig met die lig.  'n Blinde mens kan heeldag in briljante sonlig staan en hy sien net mooi niks nie. Hy is steeds in duisternis al is hy omring deur lig. Hoe weet jy dat jy sig het en nie net lig nie? Sig gee jou krag om heilig te leef.  Sig breek die mag van sonde.  Verder bring sig altyd die gemanifesteerde teenwoordigheid en heerlikheid van God in 'n lewe of in 'n gemeente. 

As jy dus baie Bybelkennis (lig) het, maar sonder geestelike sig is jy eintlik op 'n gevaarlike plek. Die grootste openbaring en gesondste teologie denkbaar kan geen verskil in jou lewe maak as jy nie sig het nie.  Interessant genoeg gaan dit dus in die finale analise nie eers net oor kopkennis versus wat ons noem openbaringskennis nie, want die vraag bly altyd of jy geestelike sig het wat daardie kennis of openbaring kan omsit in krag en heerlikheid en die kennelike teenwoordigheid van God.

Volgens Mattheüs 6:19-34 is ons afhanklikheid van "Mammon" (die geldstelsel van die wêreld) een van die grootste redes hoekom Bybelkennis dikwels geen werklike verskil in ons lewens maak nie.  M.a.w. jou  vertroue het nog nie geskuif van die natuurlike na die geestelike nie.  Besitreg kelder jou.  Jy hou nog vas aan dinge op hierdie aarde en daarom gee God jou nie hemelse sig nie.


Satan kom as 'n "engel van die lig" en solank as wat ons nie sig het nie kan hy ons op allerhande dwaalspore laat beland terwyl ons steeds dink ons is besig met waarheid, met die Bybel, met Jesus.  Daarom is dit krities belangrik dat elkeen van ons na God gaan en Hom pertinent vra of ons onsself flous met al die waarheid en kennis waarmee ons besig is.  Het ek werklik geestelike sig of mislei ek myself omdat ek so seker is dat my greep op die lig gelyk is aan sig?

Monday, 11 September 2017

NET GOD KAN ONS GEESTELIKE OË OPEN

Die volgende teksgedeeltes maak dit baie duidelik dat geestelike sig 'n bonatuurlike werklikheid is.  Net God kan mense se oë oopmaak om die heerlikheid van die evangelie te sien.  Aan die ander kant doen satan alles in sy vermoë om mense blind te hou vir die waarheid van die evangelie.

"Naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie." 2 Kor. 4:4

Hieruit kan mens sekerlik aflei dat God wil hê dat mense se geestelike oë moet oopgaan sodat hulle die vreugdes van verlossing en gevolglik Sy teenwoordigheid kan beleef.  Daarom maak Paulus dit dan ook duidelik dat dit God is wat as't ware die lig in ons binneste aangeskakel het sodat ons die geestelike inhoud van die boodskap aangaande Jesus kan "sien".  Dit is dus baie meer (maar ook nooit minder nie let wel) as net 'n oortuiging en gevolgtrekking wat ons met ons verstand by uitgekom het. 

"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Kor. 4:6

Wat egter ook glashelder duidelik is as 'n mens ander teksgedeeltes oor dieselfde onderwerp ondersoek, is dat God nooit mense se geestelike oë oopmaak langs die weg van ongehoorsaamheid nie.  Daarom is dit ongelukkig ook tragies waar dat 'n mens baie godsdienstig kan wees (soos die Jode van ouds) en gedurig besig met die Bybel, maar as jy nie bereid is om die evangelie te gehoorsaam met 'n totale oorgawe aan Jesus Christus nie bly jy geestelik blind en gevolglik ook verlore.


"En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie." Handelinge 28:25-26