Thursday, 6 September 2018

VRY OM DIE DINGE DAARBO TE BEDINK


"En die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar."  Markus 4:19 

Jesus sê dat die alledaagse, aardse dinge waarmee ons elke dag te doen het die verskriklike potensiaal het om die woord van die koninkryk in ons harte te verstik.  En terloops, die beginsel geld ook vir die wat reeds wedergebore is.  Maar hoe is ons dan veronderstel om te leef in die tydelike in 'n gevalle omgewing en met gevallenheid in ons eie harte?  Ons vind die antwoord in tekste soos die volgende:

"Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle."  1 Petrus 5:7 

"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God." Filippense 4:6 

Die interessante is egter dat die doel van hierdie opdragte en beloftes nie is om ons net 'n kommervrye bestaan te gee nie, maar om ons te bevry van aardsdenkenheid.   Sodoende kan ons met ons hele hart en siel die dinge daarbo bedink en 'n koninkrykslewe leef in die tydelike.

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie."  Kolossense 3:2 

Gebruik jy jou vryheid in Christus om die hemelse werklikhede na te jaag en dan uit te leef op aarde of net om 'n kommervrye bestaan te hê?  Dit is 'n vraag wat elkeen van ons vir homself voor die Here moet antwoord.

Friday, 17 August 2018

THE GOLD STANDARD FOR LEADERSHIP


The one who has the bride is the bridegroom. The friend of the bridegroom, who stands and hears him, rejoices greatly at the bridegroom's voice. Therefore this joy of mine is now complete.  He must increase, but I must decrease.  John 3:29-30 

These words of John the Baptist are a beautiful example of the heart of all New Testament leadership.  Pastors, teachers, evangelists or apostles are not the bridegroom and they dare not attach people to themselves as if they were. 

They are at best friends of the bridegroom who rejoice when Hís voice becomes more and more prominent in the lives of those whom they minister to. The same applies to anyone who is involved with any kind of biblical discipleship whatsoever. 

Nothing should cause more joy in the heart of a leader than to see how the influence of Jesus increases and his influence wanes in the heart and life of disciples as Jesus increasingly fills the horizon of the disciples.  In this sense the statement of John the Baptist in John 3 verse 30 is the gold standard of leadership.

One thing is very clear at any rate when we talk about leadership/discipleship; if Jesus "increases" you are going to "decrease" and if you "increase" Jesus is going to "decrease" in the lives of those whom you lead and disciple.  Not many pastors and leaders believe this, however, and this is probably the main reason why we so often see in the church today "the eternal babyhood of the believer", as someone quipped.

To "decrease" does not mean that your relationship with disciples is harmed in any way or that you can no longer be active in the ministry to which the Lord has called you in a congregation. It implies rather that people will notice your gifts and ministry skills less and less as they become more and more overwhelmed and enamoured with the beauty of Jesus and Hís precious and personal ministry to every individual in a congregation.  This is after all the essence of the true ministry of the New Covenant.

"And they shall not teach, each one his neighbor and each one his brother, saying, 'Know the Lord,' for they shall all know me, from the least of them to the greatest." Hebrews 8:11 

"But the anointing that you received from him abides in you, and you have no need that anyone should teach you. But as his anointing teaches you about everything, and is true, and is no lie--just as it has taught you, abide in him." 1 John 2:27 

Monday, 13 August 2018

'N BAIE GEVAARLIKE AANNAME

Dit is 'n baie gevaarlike aanname om te dink dat ons nooit weer geestelik blind kan wees of dat ons nie meer die verligting van die Heilige Gees nodig het nadat ons oë in die wedergeboorte geopen is nie.  Dis ongetwyfeld die aanname wat die meeste onenigheid en struweling in gemeentes regoor die wêreld veroorsaak, want dit is net die natuurlike intellek wat verwaand genoeg is om Goddelike openbaring (die Bybel) te hanteer sonder die innerlike verligting van die Heilige Gees. 

Indien jy twyfel aan hierdie stelling gaan lees asseblief 1 Korinthiers 1 en 2 biddend en let baie mooi op na die argument wat Paulus daar onder inspirasie van die Gees bou.  In hoofstuk 1 verse 10 tot 13 berispe hy die dissipels in Korinte baie ernstig oor hulle onenigheid en dan wys hy vir hulle in die res van die hoofstuk en ook in hoofstuk 2 wat die kernoorsaak is van die onenigheid onder hulle.

Let op wat Jesus vir dissipels sê in die gemeente van Laodisea:

"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie." Openbaring 3:17 

Prakties beteken dit net dat ons elke keer wanneer ons werk met die Bybel seker moet maak dat ons besig is met "die wysheid van bo" (Jakobus 3:13-18) en veral in die areas waar ons van mekaar verskil.  Dit is juis hier waar die arrogansie van die natuurlike intellek met gemak en seepglad inskop en dan van daar af die bootjie (gesprek) probeer stuur. Met kinderlike nederigheid moet ons keer op keer bely "ek kan niks sien of verstaan as U nie my oë ook weer hierdie keer open nie, liewe Heer".  Dit is dan ook in daardie gesindheid wat ons met mekaar moet praat en "redeneer".

Wednesday, 8 August 2018

BLIND GEBORE


"En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af." Johannes 9:1

Ons het almal baie simpatie met mense wat blind gebore is, want dit moet sekerlik 'n verskriklike verlammende stremming wees vir die lewe op aarde. Wat ons egter so maklik vergeet, is dat alle mense geestelik blind gebore word. Paulus se in Efesiërs 5 vers 8 "want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig." Dit help nie om lang redenasies met ongelowiges te hê as ons nie van die begin af reguit vir hulle sê dat hulle oë in die wedergeboorte deur God geopen moet word nie (Joh. 3:3).

Op presies dieselfde beginsel kan ons in gesprekke as dissipels van Jesus soms so besig raak met lang redenasies oor die Bybel vanuit ons eie intellek. As ons liewer van die begin af vir mekaar sê ons moet nooit vergeet dat ons almal blind gebore is nie sal ons dalk makliker by die plek kom waar die Heilige Gees vir albei partye gééstelike insig gee! Om oor teologie te redeneer vanuit die blindheid van die gevalle Adam (selfs met dosyne Bybeltekste) is futiel en totaal vrugteloos. Ons het keer op keer geopende oë nodig in ons omgang met die Bybel en net die Heilige Gees kan dit vir ons gee.

"Verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet..." Efesiërs 1:18a

Monday, 16 April 2018

DIE OPROEP TOT EENHEID IS NIE KINDERSPELETJIES NIE


In die eerste hoofstukke van 1 Korinthiërs waarsku Paulus herhaaldelik die gemeente in Korinthe teen onenigheid in hulle geledere.  Hierdie onenigheid was in die konteks duidelik die gevolg van intellektuele hoogmoed (sien bv. 1 Kor. 3:18-20) en die onvermoë om te dink vanuit die nuwe perspektief  in Christus (1 Kor. 2) wat die evangelie veronderstel was om by hulle tuis te bring.  In hoofstuk 3 sê Paulus reguit vir hulle dat hierdie onenigheid wys dat hulle nog "vleeslik" is en dink soos mense wat nie die Gees van Christus ontvang het nie (sien 1 Kor. 2:9-16). 

"Omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie? "
1 Kor. 3:3-4

Aan die einde van hoofstuk 3 eindig Paulus sy pleidoo vir eenheid met 'n skrikwekkende waarskuwing wat ons almal eintlik regop moet laat sit om met gespitste ore die toepassing te maak in die era van grootskaalse onenigheid waarin ons onsself bevind.

"Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle." 1 Kor. 3:16-17

"As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle." 1 Kor. 3:16-17 (NAV)

Sjoe, Paulus sê in effek hier dat as 'n mens volhard in partydigheid, twis en tweedrag jy skade doen aan die heilige tempel van God wat organies saamgestel is deur alle wedergebore kinders van God.  As jy dit willens en wetens doen, gaan God jou, volgens die apostel Paulus, straf of nog sterker in die OAV, "skend".  Ons Vader het baie genade en geduld met ons almal in ons persoonlike wandel, maar hier sien ons daar is een ding wat baie vinnig die hand van God vir dissipline in beweging kan bring as ons nie die heiligheid van hierdie geestelike tempel (die liggaam van Christus) eer deur "die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede" nie.  Heel waarskynlik sluit dit ook onenigheid, twis en tweedrag in tussen dissipels van Jesus in een huisgesin. 

Thursday, 12 April 2018

EENHEID IS NIE EENVORMIGHEID NIE

"Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening." 1 Korinthiërs 1:10 

Wat op aarde bedoel Paulus hier?  Sou hy steeds daardie stelling gemaak het 2 000 jaar na Christus met die ontwikkeling van honderde fokusse en opinies in die geskiedenis van die kerk?  Moet ons steeds "verenig wees in dieselfde gesindheid en dieselfde mening"?  En hoe strook "dieselfde gesindheid en mening" met die letterlik honderde verskillende denominasionele aksente en klemme?  Kan ek net "dieselfde gesindheid en mening" handhaaf met mense wat in my eie denominasie is?  Ek lê aan jou voor dat dit in Bybelse terme absurd is om te dink dat hierdie teks ooit so geïnterpreteer kan word.

Dit is juis teen hierdie geneigdheid (a.g.v. die gevallenheid in ons) om net te wil assosieer met mense wat oor "alles" met my saamstem waarteen Paulus hier waarsku (sien verse 11 en 12). Ek plaas die "alles" in aanhalingstekens, want dit is in elk geval 'n mite dat mense in dieselfde denominasie oor alles saamstem m.b.t. die Christelike geloof. Die meeste mense weet, in alle eerlikheid, nie eers wat hulle eie denominasies werklik glo of presies hoe die ander glo wat saam met hulle in een denominasie is nie.

Die eenheid wat Paulus van praat is eenheid in die evangelie.  Die boodskap m.b.t. die dood en opstanding van Jesus Christus wat dit moontlik gemaak het vir verlore sondaars uit elke stam en taal en volk en nasie om gered te word deur geloof alleen en om sodoende 'n hoop te hê op "nuwe hemele en 'n  nuwe aarde waarin geregtigheid woon" (1 Kor. 15:1-4 en 2 Pet. 3:13).  Op grond van hierdie boodskap word ons verlos van ons hoogmoed en vooroordele teenoor ander en kan ons 'n liefde teenoor mede-dissipels openbaar wat vir die wêreld wys dat Jesus werklik die Verlosser en Koning is. Veral in die maníer wat ons van mekaar verskil!

"Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het." Johannes 13:35 

"Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het." Johannes 17:21

Daar staan nie "hieraan sal almal weet dat julle denominasie my dissipels is, as julle liefde het vir almal wat in julle denominasie is" nie.  Ook nie, "dat almal in dieselfde denominasie een mag wees..." nie.  Of, "dat hulle ook in terme van hulle perfekte eenvormigheid in teologie en tradisie met almal in hulle denominasie een mag wees" nie, maar "dat hulle ook IN ONS (d.m.v. die evangelie hier geïmpliseer) een mag wees"! 

Die uitdaging vir ons na 2 000 jaar se kerkgeskiedenis en honderde verskillende tradisies, opinies en fokusse is om vanuit die enkele fokus op die Persoon en Verlossingswerk van Jesus (die evangelie) die "eenheid van die Gees" te bewaar en om in liefde en geduld ons verskille (waarvan ek net 'n paar genoem het verlede keer in "Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe") met mekaar m.b.t. ander aspekte van teologie aan te hoor.  Solank ons net op 'n volwasse manier en vanuit die Bybel (op grond van ons eie oortuiging en gewete, nie 'n groep of gunsteling leraar s'n nie) met mekaar gesprek voer en nie met 'n heethoofdige gesindheid of 'n politiese en sektariese gees wat ten alle koste ons eie tradisies, fokusse en voorkeure wil verdedig nie.  Die Nuwe Testament roep ons gedurig op om te dink, te leef en te redeneer vanuit één enkele fokus.


"Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!" Mattheüs 17:5

Monday, 9 April 2018

BEWAAR DIE EENHEID VAN DIE GEES...BEHALWE


"Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,  met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra  en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede." Efesiërs 4:1-3 

Paulus vermaan gelowiges om ernstig te strewe om die eenheid van die Gees te bewaar met alle ander mense wat waarlik wedergebore is en daarom "in Christus" is.  Ek wonder of Paulus hierdie opdrag bietjie sou aanpas as hy vandag geleef het?  Miskien sou dit 'n aansienlike langer inleiding vir Efesiërs hoofstuk 4 gewees het.  Iets soos; bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met mense wat Gereformeerd is en nie glo aan vrye wil nie.  Of bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met "broers" wat nie Calviniste is  nie.  Bewaar die eenheid van die Gees, behalwe as jy glo aan "eenmaal gered, altyd gered" en jou "broer" nie.

Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo aan spreek in tale en jou "broer" glo nie daaraan nie. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy 'n amillenialis is en jou "broer" 'n premillenialis. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy nie na Angus Buchan byeenkomste gaan nie en jou "broer" wel. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy net die King James vertaling lees en jou "broer" lees ander vertalings. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo Jode gaan uiteindelik almal terug gebring word na hulle land en jou "broer" glo dit nie.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe  as jy vernuwingsliedjies sing en jou "broer" net ou Psalms en Gesange.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" in 'n ander denominasie is wat nie so ingelig of andersins so histories gefundeerd is soos joune nie.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" enigsins nog in 'n denominasie is en jy dit lankal vaarwel toegeroep het.

Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe, behalwe, behalwe.  Hmm, miskien moet ons maar hierdie eenheid storie los.  Wat dink jy?