Wednesday, 21 November 2018

GOD SE PLAN VIR SY GEMEENTE: GEREFLEKTEERDE HEERLIKHEID


Die heerlikheid van die Nuwe Verbond is 'n gereflekteerde heerlikheid. 

"Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18  (NAV)

Soos wat ons wegkyk van onsself, wegkyk van ander mense, wegkyk van ons omstandighede, wegkyk van sorge en die verleiding van Mammon, wegkyk van alle afleidings (distractions) en albei ons oë plaas op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof (Heb. 12:2), begin ons om die heerlikheid van hierdie onvergelyklike Jesus toenemend te reflekteer.

"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense." 2 Korinthiërs 3:2 

"En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was." Handelinge 6:15 

Hierdie heerlikheid is nie van ons, uit ons of deur ons eie toedoen nie, maar dit is wel ín ons, omdat Christus in ons leef (Gal. 2:20). 

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie." 2 Korinthiërs 4:7 

Daarom is die groot oproep van die Nuwe Testament, geloof! Die Heilige Gees probeer ons aandag kry sodat Hy daardie aandag eksklusief op Jesus kan fokus. Dit verg onwrikbare en amper hardkoppige geloof om weg te kyk van die honderde dinge wat daagliks skree vir jou aandag.

 Die tyd raak min. Gaan ons generasie van gelowiges die moed van ons oortuiging (geloof) hê om weg te kyk van die antieke vérleidings plus al die moderne áfleidings (bv. elektronika ad infinitum) sodat ons met groter krag die heerlikheid van Jesus kan reflekteer aan 'n bose geslag?

Monday, 19 November 2018

EK SAL GEE WANNEER EK MEER HET OM TE GEE

Ons het verlede keer gesien dat die hemelse ekonomie funksioneer op grond van die beginsel van vrygewigheid; die vryelike vloei uit 'n hart wat oorloop van dankbaarheid en vervulling in Christus.

Net hier is daar egter 'n baie algemene beswaar wat opkom in die menslike hart, naamlik dat sommige dissipels meer as genoeg het en daarom kan bekostig om vrygewig te wees, maar ek sal gee wanneer ek meer hét om te gee.  Eintlik wil ek baie graag gee, maar ek het net nie nou om te gee nie.  Wat is Jesus se respons op hierdie beswaar?

In Lukas 21 verstom Hy weereens Sy dissipels deur vir hulle te demonstreer dat die koninkryk van God anders werk as die wêreld.

"En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.  En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.  En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.  Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe." Lukas 21:1-4 

Weereens sien ons dat God kyk na die kondisie van die menslike hart.  Mense kyk na die uiterlike, maar God wil weet wat in ons harte aangaan. Die arm weduwee het uit haar hart uit gegee en sy het opofferend gegee.  Ons sien presies dieselfde in 2 Korinthiërs 8:

"Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het.  Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid." 2 Korinthiërs 8:1-2  (NAV)


Wanneer ons daai beswaar voel opkom in ons harte is dit tyd om ons oë weg te draai van mense en ons moeilike omstandighede en net vir Jesus, baie eenvoudig te vra of ons wel leef uit 'n dankbare en vrygewige hart.  Leef ons in die hemelse ekonomie?  Leef ons uit "oorvloedige blydskap" en is ons "ryk in oorvloedige vrygewigheid" selfs in die aangesig van "verdrukking" en "armoede"?  Jesus sal vir ons wys waar en hoe ons moet gee, maar die eerste orde van die koninkryk is die hart; vrygewig of ingeperk en self-gerig?

Wednesday, 14 November 2018

DIE HEMELSE EKONOMIE VAN VRYGEWIGHEID


Een van die mees verrassende aspekte van die dissipel se lewe in die koninkryk van God is die feit dat ons nou reeds kan leef uit die hemelse ekonomie m.b.t. ons finansies en die materiële wêreld.
  
"God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer.  Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word." 2 Korinthiërs 9:10-11   (NAV)

Paulus lig 'n absoluut wonderlike geestelike beginsel uit in hierdie gedeelte.  God is nie net die Voorsiener van brood nie, maar ook van saad vir die volgende oes.   'n Koringboer wat al sy saad gebruik om brood te maak om te eet, gaan groot probleme hê wanneer dit weer tyd word om te oes. 

Ons maak ons somme volgens die aardse ekonomie en dit is sekerlik nie verkeerd om verantwoordelik om te gaan met ons finansies en bates, om te begroot, ensovoorts nie.  Solank jou kop net nie vashaak by die aardse ekonomie en jy vergeet dat God van jou verwag om uit die hemelse ekonomie te leef nie.  Die aardse ekonomie werk net met salarisse, debiete, krediete, rentekoerse, groeipotensiaal van 'n produk of besigheid, ensovoorts. 

* Die hemelse ekonomie werk volgens die beginsel van saai en maai.  In die koninkryk is ons in 'n sin almal boere.  Die belangrikste element in die hemelse ekonomie is die vrygewige hart wat onder die invloed van genade net aanhou vergroot.  Wanneer jy leef in hierdie krag van genade en jou hart en hand vrygewig saai word die hemelse ekonomie as't ware geaktiveer!  So begin die beloftes van God realiseer in die lewe van die dissipel en kom hy agter dat hy nodig het om te onderskei wat is brood en wat is saad in terme van dit wat God voorsien.

Vrygewigheid is die bepalende faktor in die hemelse ekonomie.  Daarom is dit moontlik vir ons  om die voorreg te hê om vanuit die hemelse te leef, maar steeds beperk te wees tot 'n aardse ekonomie.  Ons kyk dikwels heel eerste na syfers, somme en bedrae; ons Vader kyk eerstens reguit in die hárt van die dissipel in om te sien of Sy eie vrygewigheid binne-in ons ruimte het om te groei.  Die vraag vir die dissipel moet dus heel eerste wees: "Leef ek in en uit die vrygewigheid van die hemel?"  Dit verander alles.  Uit watter ekonomie leef jy?

* Die Voorspoed teologie het hierdie boodskap ongelukkig so verdraai en die beginsel van vrygewigheid met hebsug (greed) vervang dat die Skrif-gefundeerde dissipel sukkel om te hoor wat die Bybel regtig te sê het oor hierdie sake.

Monday, 12 November 2018

DIE AFDRAAIPAADJIES VAN MAMMON


Die woorde van Jesus oor finansies en materiële dinge pyl soos 'n missiel op ons harte af en konfronteer ons onverbiddelik en onverskrokke met die eis van Sy koninkryk.  Om Jesus te volg beteken in 'n sin heel éérste dat ons die afgod van geld en veral vertroue op geld permanent moet versaak (renounce).  Hoekom?  Want niks toets die hart se ware fokus soos Mammon nie.

"Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;  maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;  want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."  Mattheüs 6:19-21 

"Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!" Mattheüs 6:24 

Jesus draai nie doekies om nie.  Hy is dodelik ernstig oor die gevaar van vertroue op geld.  Omtrent 'n derde van al Sy gelykenisse handel oor hoe geld en materiële dinge die menslike hart beïnvloed en hoe dit mense kan weglei van die koninkryk van God.  Mammon het baie slinkse afdraaipaadjies wat ons harte probeer verlei en Jesus weet dit, want Hy ken ons harte beter as wat ons dit self ken.

As jy jou dissipelskap wil toets is die eerste en beste plek om te begin jou werklike hartsgesindheid oor geld.  En let op, dit is nie net welgestelde mense wat 'n hartsprobleem het met geld nie! 

Is jy bereid om die Heilige Gees te vra om vir jou te wys of jy in hierdie saak heeltemal rein en vry is? Besit jy geld of besit geld jou?  Is jou vertroue werklik op God alleen? God gee vir die dissipel "Mammon-toetse" in teëspoed én voorspoed.   Slaag jy daardie toetse?  Laat elkeen sy eie hart ondersoek.

Wednesday, 7 November 2018

GOD IS BO ALLES BESORG OOR DIE KONDISIE VAN ONS HART


Ons is almal baie besorg oor die kondisie van ons fisiese hart, maar is ons ook so besorg oor die kondisie van ons geestelike hart?  Niks is belangriker nie.

"Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die hart nie." 2 Korinthiërs 5:12 

Met die wedergeboorte word "die liefde van God in ons harte uitgestort" deur die Heilige Gees.  Van daardie dag af verwag God dat ons, ons harte sal bewaar (Spreuke 4:23) en versterk deur dit met geloof te hou onder die invloed van die evangelie van genade (Heb. 13:9). 

Hierdie geloofsposisionering van ons harte onder genade dra altyd, maar altyd verhoudingsvrug.  Dit is dan ook die toets of ons harte nog as't ware "op die regte plek" is.  As geestelike groei gemeet word aan enige ander maatstaf as 'n verruimde hart is dit 'n illusie en misleiding!

Kyk 'n bietjie hoe Paulus dissipels aanmoedig om immer-verruimende harte te hê deur die krag van die evangelie.

"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense." 2 Korinthiërs 3:2 

"Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword." 2 Korinthiërs 6:11 

"Maak vir ons ruimte in julle harte..."  2 Korinthiërs 7:2a

"... want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te sterwe en saam te lewe." 2 Korinthiërs 7:3b

"Maar neem jy hom, dit is my eie hart, aan." Filemon 1:12 

"Soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is." Filippense 1:7 

Hoe gaan dit met jou hart?

Wednesday, 31 October 2018

LUISTER!


99% van dissipelskap is net God wat ons AANDAG probeer kry!

"En die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar." Markus 4:19 

"En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!" Lukas 8:8 

"My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig." Spreuke 5:1 

"Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste." Jesaja 48:12 

"Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek!" Jesaja 51:1a
"Want Ek het julle vaders nadruklik gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het tot vandag toe, vroeg en laat, en gesê: Luister na my stem!" Jeremia 11:7 

Thursday, 25 October 2018

IS ONS GEMEENTES VANDAG ADAMVERBETERINGS-SENTRUMS?


Gestel jy neem tien lidmate uit tien verskillende gemeentes  in Suid-Afrika en jy vra hulle om in net 'n klompie sinne die essensie van Christenskap op te som.  Hoeveel van hulle sal op een of ander manier klem lê op die feit dat Christenskap nie gaan oor die verbetering van Adam nie, maar die vorming van die lewe van Christus in die dissipel en dan die ekspressie van Christus deur die dissipel?  M.a.w. dat ons so geïdentifiseer is met die dood (sterf saam met Hom) en opstanding (staan op saam met Hom) van Jesus dat God die Vader niks anders van ons verwag nie as 'n geloof wat wegkyk van onsself sodat Christus alles in en deur ons kan wees (Heb. 12:2; Kol. 3:1-3).

Is die meeste gemeentes vandag nie tragies Adamverbeterings-sentrums in plaas van sentrums wat fokus op die openbaring van Christus in en deur "gewone" dissipels nie?  Daar is net twee moontlike gemeenteprogramme, ongeag die wye verskeidenheid van denominasies en kerkgroepe in Suid-Afrika:

1. Die evangelie skenk vir die gevalle Adam vergifnis van sondes en poog dan om die presiese Adam wat God aan die kruis veroordeel het te verbeter vir die res van sy pad van dissipelskap.

2. Daar is vergifnis van sondes in Christus, maar daarna is die pad van dissipelskap die groei van die nuwe mens in Christus soos wat die gevalle Adam en sy hele selfsugtige leefwêreld as "dood" gereken word (Rom. 6:11).

Indien jy voel dat dit te gekompliseerd is of onnodig tegnies of nie werklik so belangrik nie of nie die dringendste kwessie vir die gemeentes van Jesus Christus nie wil ek net enkele tekste (uit honderde in die Nuwe Testament) aan jou voorhou met die hoop dat dit jou genoegsaam sal stimuleer om jou eie studie van die Nuwe Testament te gaan doen in die lig van hierdie essensiële waarheid.

"Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word." Romeine 5:19 

"Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word." 1 Korinthiërs 15:22 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20 

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19 

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie." 2 Korinthiërs 4:7 

"Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal." Kolossense 3:11