Wednesday, 3 July 2019

DISSIPELS IS MEER AS NET VERGEEFDE MENSE



'n Ware dissipel van Jesus is nie net ‘n vergeefde persoon nie, maar ook ‘n nuwe persoon.  Hoeveel gelowiges leef vir jare met die onvoldoende idee van redding wat dit beperk tot vergifnis van sondes.  Verlossing in Nuwe Testamentiese terme sluit ‘n nuwe geboorte, ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe skepping in.  Dit is die hart van God se ewige raadsplan met ons as gelowiges.  God wou nog altyd "baie kinders tot heerlikheid" bring.  ‘n Christendom wat nie hiervan kennis neem nie, bly in ‘n pasgebore  stadium en mis konstant die planne en doelstellings van God.    

Dit is onmoontlik om ‘n volgehoue, betekenisvolle en diep gemeenskap met God te hê tensy ons begryp dat ons uit God gebore is en dat Christus nou in ons leef.  Ons is met die lewe van God verenig.  Dit is omdat ons nie die realiteit en diepte van hierdie waarhede besef nie, dat ons so maklik bo-oor Nuwe Testamentiese begrippe soos "kinders van God", "in Christus" en "heiliges" lees.  Ons begryp nie die feit dat dit nie net metaforiese taal is nie -  dit is ‘n werklikheid!   

Hoe kan ons heiliges genoem word as ons slegs vergewe is?  As jy slegs vergewe is, bly jy dieselfde persoon en kan jy in alle eerlikheid nie ‘n heilige genoem word nie.   Die briewe in die Nuwe Testament word aan die adres van die "heiliges" gerig omdat ons in Christus Jesus in werklikheid nuwe mense is.  Jy is nie langer die mens wat jy voorheen was nie.  Jy is nie langer die mens wat jy was voordat jy gelowig geword het nie.  Jy is "na God geskape in ware geregtigheid en heiligheid" (Efes. 4:24) en jy is 'n "nuwe skepsel in Christus" (2 Kor. 5:17).

Laasgenoemde vers is aan die meeste van ons bekend, maar ons verstaan nie die implikasies daarvan nie, want ons het so gewoond geraak aan die letter van die Woord en ons is so gebreinspoel deur ‘n Christendom wat na alles kyk vanuit ‘n menslike oogpunt.   Dit is tyd vir ons om na ons lewens te kyk uit God se oogpunt.  In God se waardebepaling is die nuwe geboorte allerbelangrik, want dit bring vereniging met Sy geliefde Seun en buiten Hom is daar geen redding, heiliging of verheerliking nie.

Monday, 1 July 2019

AAN WATTER KANT VAN DIE KRUIS LEEF JY?


'Jy moet sterf aan' is ‘n gewilde frase in gemeentes.  Natuurlik is daar baie dinge waaraan ons moet sterf, maar ons sal nooit  effektief sterf totdat ons verstaan dat ons eintlik alreeds dood is vir daardie dinge nie. 

Slegs die ervaring daarvan is nodig om te volg.   In die Skrif  word dit die geloofslewe genoem en hierdie geloofslewe is die gevolg van openbaring van die Bybelse feite deur die Heilige Gees.  Ons beskou onsself as dood, omdat ons inderwaarheid dood is.  Dit maak nie saak hoe moeilik dit vir jou mag wees om te begryp dat jy dood was nog voordat jy fisies gebore is nie - jy mag onder geen omstandighede die woord van God betwyfel nie.  As die Bybel sê dat jy met Christus gesterf het (verlede tyd), moet jy daardie feit in geloof aanvaar en jou lewe op daardie basis begin lewe terwýl jy die Heilige Gees vertrou vir toenemende openbaring.

" Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:3

Die praktiese implikasie van ons mede-kruisiging met Christus is die opstandingslewe in die krag van Christus.   Ons durf nie meer vertroue plaas in ons eie krag, wysheid of vermoëns nie.   Al die imperatiewe vir die dissipel van Jesus, bv.  die gebedslewe, Bybelstudie, aflegging van sonde, getuienislewering en aktiewe deelname aan gemeentelewe is steeds van toepassing, maar jy moet nooit weer daardie dissiplines sien as aktiwiteite waarin jy betrokke is as geskei van Jesus nie.   Wat jy ookal doen, moet jy doen in die krag van die lewende Christus in jou.  

Dit mag dalk vir jou lyk na ‘n redelik onbelangrike tegniese punt, maar dit is die presiese punt van verskil tussen uiteindelike geestelike uitbranding en ‘n lewe wat aanhou groei en uitbrei.  Begin om jouself  vandag as dood te beskou en terwyl jy in al die aktiwiteite van 'n dissipel betrokke mag wees nes voorheen, sal jy begin besef  dat daar ‘n nuwe krag in jou opbruis wat vloei uit jou innerlike wese. Die uiteindelike vraag is nie of jy die gedissiplineerde lewe  leef nie, maar aan watter kant van die kruis jy staan as jy in hierdie dissiplines betrokke raak.

Monday, 24 June 2019

DIE WONDER VAN VERSOENING MET GOD


Ons het almal al die pyn van skeiding en gebroke verhoudings ervaar.  Min dinge is meer ontstellend en in staat om ons emosioneel te verlam as ‘n verhouding wat skipbreuk gely het.  Terselfdertyd ken ons ook die vrede en vreugde wat ons ervaar wanneer daardie verhouding herstel en genees word.  As versoening met ‘n mens soveel vrede en vreugde in ons harte kan meebring, hoeveel te meer bring die realiteit van versoening met God oorvloedige vreugde. Die Woord van God sê dat ons eens op ‘n tyd ver verwyder was van God, sonder hoop en verlore in ‘n betekenislose bestaan. 

"Dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld." Efesiërs  2:12 

God het egter die inisiatief geneem deur sy Seun te stuur na 'n verlore mensdom.  As gevolg van hierdie geseënde evangelie is die vyandskap a.g.v. ons sonde aan die kruis verbreek en is ons met God versoen. 

"Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus." Efesiërs  2:13 

"En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het."  2 Korinthiërs 5:18 

Soos ons harte teerder word onder die bediening  van God se Gees, begin ons die onmeetlike voorreg van hierdie versoening met God toenemend begryp.  Aan die ander kant begin ons ook meer en meer die verskriklike toestand waarin ons was voordat ons met God versoen is, raaksien   Die Heilige Gees doen dit om sodoende ‘n immer-vergrotende dankbaarheid in ons te bewerkstellig vir die verlossingswerk van ons Saligmaker.   

Vir almal wat die soete vrug van ‘n versoende lewe ervaar, word hierdie woordjie "versoening" een van die mooiste woorde in God se hemelse repertoire van reddingsterme.

Wednesday, 19 June 2019

NIE 'N WAARHEID NIE, MAAR DÍE WAARHEID


Die Ou Testamentiese openbaring het tot God se mense gekom in verskillende fragmente en stukke, soos ‘n legkaart wat stadig vorm aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang. 

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”  Hebreërs 1:1-2   

Op hierdie wyse het God verkies om verwagtinge in die mens wakker te maak vir die volheid van Sy openbaring in Christus.   Al die profete en manne van God in die Ou Testament het vooruit gesien na die volledige manifestasie waarvan hulle tot op daardie stadium slegs ‘n skadubeeld gesien het.  En toe, in die volheid van die tyd, het God sy Seun gestuur (Gal. 4:5).

Die Vleeswording van Christus het ‘n nuwe era ingelui.   Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het uiteindelik aangebreek. Die openbaring van God in Christus was nie net nog ‘n diepsinnige waarheid nie.  Dit was nie net ‘n beginsel om ywerig toegepas te word nie.  Dit was meer as ‘n diep profetiese insig.  Dit was eintlik nie iets nie, maar Iemand, naamlik die Seun van God Self.   

"Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon." Kolossense 1:19   

Die Ou Testament was ‘n skadubeeld - hierdie was die realiteit.  God het Homself aan ons openbaar in die Persoon van sy Seun. 

"En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." Johannes 1:16

In die Ou Testament was die openbaring fragmentaries en onvolledig.   In die Nuwe Testament is dit vervul en voltooid.  Daarom moet ons versigtig wees om nie terug te val in ‘n Ou Testamentiese benadering tot die Christelike lewe nie.  Alles wat ons doen, sê, dink of preek moet met Christus begin en met Christus eindig.  As jy voel dis ‘n bietjie radikaal, bedink weer die woorde van die Een wat sy Seun gestuur het: 

"Dit is my geliefde Seun: luister na Hom!" Markus 9:7

Monday, 17 June 2019

OM JESUS NA DIE GEES TE KEN


"Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie." 2 Korinthiërs 5:16 

In 1 Korinthiërs 6:17 sê die Bybel verder: "Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom."   Dit spreek van die mees intieme eenwording.   In Sy verlossingswerk het Jesus as't ware deur ‘n proses gegaan:  vleeswording, dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart.   Op hierdie wyse het Hy ‘n "lewendmakende Gees" geword sodat Hy in ons kon kom woon.  

"So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees."  1 Korinthiërs 15:45

As ons Jesus van Nasaret slegs as ‘n historiese figuur sien wat twee duisend jaar gelede geleef en sekere dinge vir ons gedoen het, sal ons nooit die volheid van ons eenheid met Christus beleef nie.   Die historiese feite oor die dood en opstanding van Jesus is fundamenteel en absoluut essensieël vir verlossing (1 Kor. 15:1-4),  maar as ons nie die eindresultaat van die werk van Christus sien nie (intieme geestelike eenheid) lewe ons soos wese tussen die eerste en tweede koms van Jesus (Joh. 14:18). 

Nou-al reeds kan ons die eenheidsverhouding met Christus wat in ons leef ervaar en geniet.   Ons is intiem verenig met Christus en ons moet ernstige aandag skenk aan hierdie onuitspreeklike voorreg.   Tensy  ons die teenwoordigheid van Christus binne-in ons herken, sal Hy nooit tuis wees in ons harte nie (Efes. 3:17).  Prakties gesproke beteken dit dat ons ophou om die Christelike lewe van die uiterlike na die innerlike te leef, maar dat ons begin om deur geloof te lewe op die basis van ‘n Nuwe Lewe wat diep binne-in ons woon.  Die alternatief is 'n sieldodende godsdienstige soektog na iets onbereikbaar vêr, terwyl die antwoord reeds binne-in ons is (Gal. 2:20).

Saturday, 8 June 2019

MEER AS OORWINNAARS


 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”  Romeine 8:37 

 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.”  2 Korinthiërs 2:14 

Wanneer ons verse soos hierdie in die Nuwe Testament lees, lyk dit met die eerste oogopslag na die lewens van supermense wat in Bybelse tye geleef het en ver weg is van die ervarings van ons gewone mense.  

As ons egter nader kyk na die lewe van die man wat hierdie woorde geskryf het, word dit gou duidelik dat hierdie lewe van oorwinning onder andere baie swaarkry ingesluit het.  Paulus is gestenig, geslaan, vervolg, was met tye haweloos en honger (1 Kor. 4:11), in die gevangenis en het skipbreuk gely.  Hy moes gevare van rowers, gevare in die stad, gevare in die wildernis, op see en gevare onder valse broeders trotseer (2 Kor. 11:26).  Tog sê hy ‘Ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking’  (2 Kor. 7:4).
 
Om ‘n oorwinnaar te wees is dus nie altyd so glansryk as wat dit soms voorgestel word of in die vorm wat ons mag verwag nie en die mense van wie die Bybel praat was gewone mense net soos ons.  In ons vers in 2 Korinthiërs sê dit dat God ons tot triomf lei deur Christus en in Christus.  Dit beteken dat die ware oorwinnaar Christus is en as gelowiges het ons almal gelyke toegang tot die lewe van Christus (2 Pet. 1:1) omdat Hy in ons lewe.  As enigeen nie die Gees van Christus het nie, is hy nie Christus s’n nie (Rom. 8:9).   

Hierdie saak van oorwinning of ‘om ‘n oorwinnaar te wees’, nee, ‘meer as ‘n oorwinnaar’,  het  alles te doen met die lewe van geloof. Galasiërs 2 vers 20 hou die geheim van hierdie lewe van triomf. 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."

SLEGS IN CHRISTUS IS DAAR RUS EN VOLMAAKTE VOORSIENING



"Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing."  1 Korinthiërs 1:30 

Vir die dissipel wat nog nie vir Christus as die somtotaal van al God se seëninge gesien het nie, is hierdie vers amper onmoontlik om korrek te interpreteer.  Ons kan nie waarlik en intelligent die verhewe terme verstaan wat die Nuwe Testament gebruik om Jesus te beskryf en die pre-eminensie wat dit aan Sy Persoon toeskryf, totdat ons ons godsdienstige benadering  tot God en die Bybel afgeskud het en Christus dan omhels het as die essensie van ons bestaan en die rede vir ons volgende asemteug nie.

Ons veelseggende teks openbaar God se prioriteit vir die dissipel; Sy Seun!  Dit is God wat ons in Christus Jesus geplaas het en in hierdie geseënde plek van ewige saamwees vind ons dat elke enkele seën en behoefte vervul is.  Die vier kwaliteite wat hier benadruk word, omsluit ons hele bestaan as dissipels van Jesus.

Wysheid – ons behoefte om God en Sy verlossingsplan te begryp en ook wie ons is en waarheen ons  oppad is: dit is in Christus!

Geregtigheid – ons behoefte om van die ewige implikasies van sonde verlos te word en om ongehinderde toegang tot die teenwoordigheid van God te hê: dit is in Christus!

Heiligmaking – ons behoefte om verlos te word van die mag van sonde en om getransformeer te word tot volwasse kinders van God: dit is in Christus!

Verlossing – ons behoefte om in gees, siel en liggaam bewaar te bly tot die wederkoms van Jesus: dit is in Christus!

Christus is die vrede van God, die vreugde van God, die geduld van God, en wat anders ookal benodig word in die lewe van die gelowige kan slegs gevind word in Hom.  God het slegs een geskenk vir die mensdom en dit is sy Seun.   Godsdiens sonder Christus is soos om sop met ‘n vurk te eet; jy bly besig, maar jy bly ook honger!