Wednesday, 9 September 2020

CHRISTUS AAN MY, IN MY EN DEUR MY GEOPENBAAR

In 'n sin kan 'n mens die hele Nuwe Testament opsom aan die hand van die titel van hierdie dagstukkie.  Vir seker gaan die Nuwe Testament oor die aanbreek van die lank verwagte en geprofeteerde koninkryk met die verskyning van die Koning (Mt. 3:2, 14:17), maar hierdie koninkryk word verder uitgebrei deur die Koning se dissipels (Mt. 28:19 en Hand. 1:8).  Daarom is dit so belangrik vir ons om baie mooi te verstaan hoe presies die koninkryk vorder van die dag af dat die Heilige Gees uitgestort is ongeveer twee duisend jaar gelede.

Christus aan my geopenbaar:  Die Heilige Gees openbaar eerstens aan ons die volmaakte verlossingswerk van Jesus en die voorrang (pre-eminensie) wat Hy geniet in God se plan met skepping en herskepping (Kol. 1:15-20).  Ons kan sê hierdie is 'n objektiewe openbaring van wie Jesus is; die onbeskryflike heerlikheid van Sy Persoon en die dringende oproep tot 'n innerlike en totaal eksklusiewe waardering van Hom.

Christus in my geopenbaar: Die openbaring van Christus wat ons hier na verwys is meer as net die leerstellige waarheid dat Hy leef in elke ware dissipel (Rom. 8:9-11).  Die openbaring wat ons hier van praat, is hoogs subjektief en het te doen met die "vorming van Christus" in ons (Gal. 4:19).  Hy is die Môrester wat opgaan ons harte (2 Pet. 1:19) sodat ons proefondervindelik saam met Paulus kan getuig dat Hy lewend en kragtig werk in ons harte (Gal. 2:20; Fil. 1:21).  Christus word egter nooit in ons openbaar voordat ons nie as't ware oorrompel word en intensief begin fokus op Sy pre-eminensie en volmaak afgehandelde verlossingswerk nie; d.w.s. Christus aan ons geopenbaar. 

Christus deur my geopenbaar: Die noodwendige gevolg van Christus in my geopenbaar, is Christus deur my geopenbaar.   Die openbaring van Christus deur ons is niks anders nie as die natuur van Jesus self wat gemanifesteer word in spontane verkondiging van die evangelie (Jn. 7:38) en in bonatuurlike liefde (Gal. 5:22) wat maak dat die wêreld kan hoor en sien dat Hy inderdaad die Here is.

Al drie hierdie openbarings is bedoel om gelyktydig te funksioneer in die lewe van 'n dissipel.  Die Heilige Gees wil toenemend vir ons wys hoe onbeskryflik en onvergelykbaar hierdie Jesus is wat in ons woon en hoe volmaak Sy verlossing is.  Hy wil toenemend die lewe en natuur van Jesus in ons openbaar sodat ons organies en subjektief in ons sielsdimensie verander kan word om gelykvormig te word aan die beeld van Christus (2 Kor. 3:18). 

Maar Hy wil ook Jesus individueel én korporatief deur ons openbaar sodat mense kan getuig dat daar 'n liefde in en deur ons werksaam is wat ver verhewe is bo enige menslike idees van liefde (Jn. 13:35 en 1 Kor. 13).


Sunday, 6 September 2020

OM MET WYSHEID LIEF TE HÊ

 'n Mens sou dink dat 'n oorvloed van liefde in my hart genoegsaam is vir 'n ryk en geseënde lewe, maar omdat ons leef in 'n gevalle wêreld kan liefde nie suksesvol voortleef sonder wysheid nie. 

Sonder Goddelike wysheid kan ons beste pogings om ander lief te hê soms jammerlik misluk.  Dit bring baie keer  hartseer vir die gewer en ontvanger en veroorsaak ook dikwels dat mense terugtrek van 'n lewe van liefde en dit is presies wat die satan wil hê.

Wysheid bepaal waar, wanneer en hoe ek die liefde van Christus betoon aan ander en dit verg voortdurende innerlike leiding deur die Gees van wysheid en liefde in ons.  Liefde en wysheid is maats in die Bybel en waar jy die een sien, is die ander ook teenwoordig.  Maak seker dat hierdie twee ook maats bly in jou hart.  Bid baie spesifiek daarvoor.  Dit is die soort gebed wat ons Vader behaag.

"En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,  om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus." Filippense 1:9-10 

"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,  sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees." Filippense 1:9-10  (NAV)

Wednesday, 2 September 2020

IGNOREER EN KONSENTREER

 Niemand kan vorentoe beweeg saam met Jesus en gevolglik geestelik groei as hulle nie iewers langs die pad leer om die wêreld te ignoreer aan die een kant en op Jesus alleen te konsentreer aan die ander kant nie.

In elkeen  van die volgende tekste is die frase "om ag te gee" 'n vertaling van dieselfde Griekse woord.  Hierdie woord dra die idee van intense konsentrasie; om jou onverdeelde aandag net op een enkele saak te fokus.

"Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie." Hebreërs 2:1 

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte." 2 Petrus 1:19 

"En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen." Handelinge 8:6 

Dit is egter ook waar dat ek nie onverdeeld op een ding kan fokus as ek nie eers al die ander dinge wat my aandag opeis, ignoreer nie.  As daar tien mense in 'n vertrek almal saam my aandag probeer kry, moet ek besluit wie die persoon is wat die meeste verdien om gehoor te word en dan word dit onvermydelik dat ek die ander as't ware sal moet uitdoof ("mute").

In hierdie geval praat ons natuurlik van Jesus en Hy het dit baie duidelik gemaak dat die satan se groot strategie is om ons te "distract" sodat ons nie ag kan slaan op die Outeur van die lewe en Sy woorde van lewe nie.  Daarom lees ons oor en oor in die Nuwe Testament, "laat hom wat ore het hoor"!

Die tyd loop uit en ons generasie bly die mees "distracted" generasie in die geskiedenis met ons oorlading van informasie via die moderne media.  Gaan ons leer om die wêreld (1 Joh. 2:15-17) te ignoreer en dan te konsentreer op die lieflike inhoud van die evangelie of gaan ons aanhou om die werklik belangrike dinge te ignoreer terwyl die wêreld ons met dodelike kleur en geur tot in die afgrond in bly vermaak?


Thursday, 27 August 2020

DIE EENVOUD VAN 'N LEWE VAN LIEFDE SELFS IN 'N WÊRELDWYE KRISIS

 Die wêreld leef en werk in en vir eie-belang en so 'n lewe word altyd 'n komplekse spel waarin ek probeer om alles en almal om my te manipuleer sodat ek die maksimum voordeel vir myself kan bekom.

Daarteenoor is die lewe in die koninkryk van God 'n lewe van eenvoud, omdat daar 'n enkelvoudige liefdesmotief is wat alles bepaal.  

"Laat alles by julle in liefde geskied." 1 Korinthiërs 16:14 

"Let all that you do be done in love." 1 Corinthians 16:14  (ESV)

Boonop het ons 'n onuitputlike Bron (Christus) in ons vir hierdie doel waarvoor ons geskape is. 

"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof."  1 Timotheüs  1:5 

"As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart." 1 Petrus 1:22 

Ons is nie net vir liefde gebore (wederbaar) nie, ons is ook uit liefde gebore.

"Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde." 1 Johannes 4:7-8 

Wanneer jou lewe as 'n dissipel genadiglik gereduseer is tot hierdie eenvoud kan nie eers 'n wêreldwye gesondheids-en-ekonomiese krisis jou ekwilibrium versteur nie.  Die Bron van Liefde in my word nie bedreig deur enigiets wat op aarde gebeur nie en Hy het gesê dat as ek Sy koninkryk van liefde eerste stel, sal Hy verantwoordelikheid neem vir die "ander dinge" (Mt. 6:33).

Vir die wat hulle steeds bevind in die komplekse spel van nimmereindigende en onversadigbare self-bevoordeling is dit inderdaad 'n wêreldwye krisis, maar dissipels van Jesus leef uit en vir 'n ander koninkryk. Hulle "huis" is op 'n rots gebou (Mt. 7:24-25).

'n Krisis vanuit God se perspektief is wanneer ons ophou om uit en vir die liefde te leef.  Miskien bevind jy jou in besonderse moeilike omstandighede in die tydelike en ek wil dit nie ligtelik afmaak nie.  As jy egter die eenvoud van die liefde bly bewaar in jou hart is daar geen krisis op aarde wat jou werklik kan bedreig nie.  Selfs om te sterf word dan "wins".

"Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins." Filippense 1:21 

‘N NUWE BEGIN

 Vir die persoon wat wegdraai van ‘n onafhanklike en ‘n self-gerigte lewe en sy volle vertroue in Christus plaas, is daar nie net vergifnis nie, maar ‘n nuwe lewe; ‘n totaal nuwe begin.

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” Efesiërs 1:7 

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Korinthiërs 5:17 

 In Christus het ons volkome kwytskelding van die straf en skuld van sonde ontvang.  Dit op sigself is verstommende goeie nuus, maar  in Hom het ons ook meer as net vergifnis ontvang.  Ons het ‘n nuwe lewe ontvang deur die wedergeboorte. 

Die grootste uitdaging van ons nuwe lewe in Christus is om te leer om die verlede agter te laat, insluitende ons ou manier van dink!  God verwag van ons om as "nuwe mense" te dink oor ons lewe, identiteit en bestemming.  Ons moet leer om in geloof die veroudering van die gevalle skepping af te skud en ons te beklee met die nuutheid en die voortdurende vernuwing wat eie is aan die nuwe skepping in Christus. 

Voel jy of jy ‘n nuwe begin nodig het?  Dit is reeds ‘n werklikheid “in Christus”.  Glo dit net.

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” 2 Korinthiërs 4:16 

"Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees." Titus 3:5 

Wednesday, 19 August 2020

NET JOU POSISIE IN GENADE KAN JOU BRING BY DIE KONDISIE VAN GENADE

Ons kan 'n kondisie van genade ("a state of grace") beskryf as 'n konstante innerlike vloei van die lewe en liefde van Christus wat my eie ywer as 'n dissipel as't ware oortref en keer op keer verbysteek soos wat ek God se kragtige werking binne-in my ervaar (Fil. 2:13).   Dit kan ook beskryf word as 'n innerlike heerskappy wat 'n bepaalde uiterlike effek en manifestasie het.

"Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus." Romeine 5:17 

Slegs hierdie kondisie van genade bring die onbeskryflike verruiming van hart en onkeerbare, bo-menslike liefdesinisiatiewe wat ons in die blaaie van die Nuwe Testament sien.

Die vraag is egter hoe kan ons uitkom by hierdie kondisie van genade?  Die antwoord wat die Nuwe Testament gee op hierdie vraag is werklik verstommend.  Dit is slegs deur ons geloofsgreep op ons posisie van genade in Christus wat ons ooit sal uitkom by hierdie kondisie.

"Tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde." Efesiërs 1:6 

"Deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God." Romeine 5:2 

Ons is "begenadig in die Geliefde" en ons het 'n stand in genade, maar ons het nodig om ons tot so 'n mate te verlustig in hierdie posisie van genade in die teenwoordigheid van God (dit is die geloofslewe) dat die kondisie van genade 'n onvermydelike werklikheid kan word.  Dit is ongetwyfeld God se wil vir elkeen wat reeds "staan in genade", m.a.w. alle dissipels van Jesus.

So waarom sien ons nie vandag meer van die kondisie van genade en die lieflike vrug wat dit bring nie?  Miskien omdat ons in ons eie krag en ywer probeer om dit te bewerkstellig wat slegs kan realiseer vanuit 'n posisie wat ons reeds as 'n geskenk ontvang het.

"Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?" Galasiërs 3:5 


Monday, 3 August 2020

RADIKALE VERWERPING VAN DIE OUE EN OMHELSING VAN DIE NUWE


Die enigste manier wat ons sin kan maak van die radikale dissipelskapterme in die vier evangelies is wanneer ons dit sien in die lig van die absolute en finale onderskeid tussen ons ou en nuwe identiteit.

"As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie." Lukas 14:26 

"En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg." Lukas9:23 

"Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Mattheüs 16:25 

Ons sien aan die begin van die evangelies en ook in die boek Handelinge dat die evangelie van die koninryk aangekondig word as verstommende goeie nuus en dat daar 'n onmiddellike oproep is om ons te bekeer (weg te draai van die ou identiteit in onsself) en te glo (die nuwe identiteit in Christus te omhels).

Voordat jy nie met bonatuurlike insig begin sien wat hierdie nuwe identiteit en nuwe lewe in Christus werklik behels nie, sal die radikale karakter van die oproep om die ou identiteit en die hele ou skepping vaarwel toe te roep altyd vir jou iets vaag, vreemd en selfs verbysterend wees.

"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs 5:17 

Histories het die kruisdood van Jesus Christus absolute skeiding tussen die ou en nuwe skepping gebring.  Vanuit God se perspektief was dit finaal en onomkeerbaar.  Die vraag is egter of ek en jy al die finaliteit van die kruis as 'n werklikheid omhels het. 

Dit beteken prakties dat ons hele hartsfokus en waardestelsel van die aardse na die hemelse skuif (Kol. 3:1-4) en dat ons voortaan leef as "bywoners en vreemdelinge" op die aarde (1 Pet. 2:11).  Maar "vreemdelinge" wat voortdurend ander mense oproep om ook die oorgang te maak van die oue na die nuwe.