Tuesday, 2 February 2021

'N KOEI WAT STAAR NA 'N NUWE PLAASHEK

 Jy het 'n gees en dit is nie jou siel nie!

Al ooit gewonder hoekom dit so moeilik is vir jou om rus te vind in jou binneste?  Al ooit gewonder hoekom jy kan glo en bely dat die werk van Jesus afgehandel en volmaak is, maar in jou binne-wêreld beleef jy nie veel daarvan nie?  Dit kan wees omdat jy nog nooit 'n openbaring gekry het van die feit dat jou gees iets anders is as jou siel nie.

"Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom."  1 Korinthiërs 6:17

"Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart." Hebreërs 4:12

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 5:23

Dit is 'n glashelder en onaanvegbare leer van die Nuwe Testament dat die objektiewe en uiterlike verlossingswerk van God in Christus bedoel is om vir dissipels 'n subjektiewe en innerlike belewenis te wees.  Een van die grootste redes (nie die enigste rede nie) hoekom die werklikheid van hierdie "groot saligheid" (Heb. 2:3) nie 'n plek kry om as't ware te land in dissipels se ervaring nie is omdat so baie amper geen insig het in die verskil tussen die siel en die gees van die mens nie. 

Ja, ek is deeglik bewus van al die teologiese argumente wat die twee (siel en gees) wil saamgooi asof daar geen verskil is nie.  Daar is net sulke goeie teologiese argumente aan die ander kant, maar natuurlik nie in die hoofstroom van die populêre teologie nie.  As ons egter vir 'n oomblik die saak minder direk benader, d.w.s. nie net m.b.t. die manier wat die woorde "siel" en "gees" gebruik word in die Skrif nie ("paralysis by analysis"), maar die persoonlike toepassing van verlossing in die lewe van elke dissipel sien ons dat dit hier gaan oor meer as net woorde en terminologie.

Ek wil nie onnodig op tone trap nie, maar dit is ongelukkig waar dat in die meeste gevalle mense se reaksie op die lering en belydenis van die waarheid van "ons in Christus" en "Christus in ons" soortgelyk is aan die uitdrukking van 'n koei wat staar na 'n nuwe plaashek (hy weet nie wat dit is of wat om daarmee te maak nie).  Een van die hoofredes hiervoor is omdat mense instinktief weet dat die werk van God in hulle siel (hulle denke, emosies en wil) vir seker nie afgehandel is nie, so hoe kan hulle 'n INNERLIKE BELEWENIS (wat lei tot rus) van die afgehandelde werk van Christus en die diep geestelike waarheid van eenheid met Hom hê.  Hmmm...dit is presies die punt!  Dit is NIE in jou siel nie, dit is in jou gees!

Dit is gewoonlik eers wanneer jy begin besef dat jy 'n gees het (die menslike gees) wat dieper in lê (taal is beperk in die oordrag hiervan) dat die kosbare waarheid van jou eenheid met Christus en Sy werklike (nie simboliese) inwoning diep in jou binneste vir jou openbaring raak.  Kan dit wees dat daar 'n "dimensie" binne in my is wat werklik losstaan van my teologies verwarde denke, my op-en-af emosies en hierdie onbetroubare wil (wilskrag) van my?  Daar is!   Die dag wat jy dit sien en glo verander alles.

Thursday, 28 January 2021

HOE PRESIES WERK DIE OORWINNING IN KANAÄN

Die konings in Kanaän verteenwoordig spesifieke areas in my siel waaroor ek nog nie volkome oorwinning het in die praktyk nie.  Dit is ongetwyfeld God se wil dat ek hierdie "konings" oorwin.  Die vraag is egter: "Hoe kry ek die oorwinning"?

Daar moet sekerlik iets beter wees as om maar te wag tot ons eendag "pappa se humeur" of "mamma se skerp tong" saam met hulle kan begrawe.  Dan wonder mense miskien hoekom die familie na die begrafnis nie net koffie en melktert bedien nie, maar sjampanje ook! Daar is nie net hartseer nie, maar ook iets om te vier; ons hoef nie meer saam te leef met daardie humeur of skerp tong nie!

Maar in alle erns, daar is 'n beter manier.  Soms hoor ons daar word gesê, die Bybel leer nie die uitwissing (eradication) van inwonende sonde nie.  Ja, dit is so, want Romeine 6 vers 1 sê nie die sonde het in ons gesterf nie, maar dat ons in Christus dood is VIR die sonde.  Ons moet dit dan ook so "reken".

"So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie." Romeine 6:11-12

Dit beteken egter geensins dat ons nie in die praktyk (en voor ons uiteindelike begrafnis!) baie spesifieke oorwinning kan kry oor "werke van die vlees" (Gal. 5:19-21) nie.  Soms haal mense Romeine 7 vers 19 aan asof dit in al die areas van my lewe waarmee ek sukkel ad infinitum my ervaring sal bly.

"Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek." 

Diesulkes het nodig om 'n bietjie aan te lees en op te let na die lering van Romeine 8!  En miskien ook bietjie terug in Romeine 6.

"Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade."  Romeine 6:14

"Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe." Romeine 8:12-13

Kyk ook na die "maak dood" en "lê af" opdragte in Kolossense 3:

"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is."  Kolossense 3:5

"Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het." Kolossense 3:8-9

So wat is dan die gebalanseerde Bybelse leer oor oorwinning in Kanaän (d.w.s. oorwinning oor sonde)?   Hier is 'n kort opsomming:

  • ·         Daar is oorwinning in die praktyk beskikbaar in Christus!
  • ·         God verwag van ons om in Christus te heers (soos wat 'n koning heers) oor sonde.
  • ·         Die leer van sondelose volmaaktheid is onskriftuurlik, maar net so is die leer van saamleef met spesifieke sondes in my lewe vir dekades lank.
  • ·         Ek het nodig om baie pertinent die konings te identifiseer (vra die Here spesifiek) wat wederregtelik heers in my siel en dan proefondervindelik deur die oorwinning van Christus (Romeine 5:12-7:6) en die krag van die Gees (Romeine 8; Gal. 5:16) daardie grond in te neem wat reeds vir my gegee is in Christus (Josua 1:3-6).
  • ·         Sondes wat ek oorwin het, kan weer 'n probleem raak in my lewe en daarom moet ek waak.  Maar daar is 'n plek van baie spesifieke oorwinning in my lewe waar ek en almal om my kan sien ek is nou vry van daardie hardnekkige sondes; dikwels temperamentsondes (besetting sin)!
  • ·          Ons het dus meer as net 'n posisie van geregtigheid ontvang in Christus.  Ons het ook "heiliging" in Hom ontvang (1 Kor. 1:30).  Jesus is 'n volkome Verlosser.  Glo dit!
  • ·         Vermy die twee ekstreme posisies: Sondelose volmaaktheid aan die een kant of jou hele lewe lank saamleef met sondes aan die ander kant.
  • ·         Ons mag dus nooit tevrede wees met 'n halwe verlossing nie.  Moet nooit vrede maak met sonde nie. Oorwin daai konings.  Die oorwinning is joune in Christus!

 Moet nooit ander mense se standaard van Christenskap jou maatstaf maak nie. Al leef almal om jou in 'n verslae staat van nederlaag op nederlaag, staan jy op en "wees sterk in Christus".  Glo die Bybel, nie ander mense se ervaring óf jou eie van die verlede nie.  Jy hét gesterf vir die sonde in Christus!

"Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?"  Romeine 6:1-2

OORWIN DIE KONINGS IN KANAÄN D.M.V. OORGAWE AAN CHRISTUS

 "Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het."  Josua 1:3

"Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee."  Josua 1:5-6

Josua het die opdrag gekry om die beloofde land in besit te neem en elke liewe koning in die grondgebied wat God vir Israel gegee het te oorwin.  Dit was grondgebied wat God reeds vir Israel gegee het as hulle eiendom en erfenis, maar om ten volle besit te neem daarvan het beteken dat hulle die vestings van die vyand moes inneem.

Wat beteken hierdie stukkie geskiedenis vir ons vandag?  Net eenvoudig dat ons reeds alles in Christus ontvang het, maar dat daar steeds vestings in ons siel is wat oorwin moet word.  In ons gees het ons die volheid ontvang, maar in ons siel is daar vestings wat ingeneem moet word.

"En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie."  Galasiërs 5:19-21

Let op die gevegstaal in die volgende gedeeltes oor heiliging in die Nuwe Testament:

"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is."  Kolossense 3:5

"Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe."  Romeine 8:12-13

Die goeie nuus is dat Jesus ons Josua is.  Dit beteken ons vyande is eintlik Sy vyande.  Hy het reeds oorwin aan die kruis en daarom is die oorwinning oor die konings in ons sielsarea gewaarborg.  Ons verantwoordelikheid is primêr geloof in die krag van ons Josua wat in ons woon (Gal. 2:20) en dan om Hom te volg in gehoorsaamheid soos wat Hy uittrek teen ons vyande.

"Stry die goeie stryd van die geloof..."  1 Timotheüs 6:12a

'n Baie belangrike faktor wat ons egter nooit uit die oog moet verloor nie, is dat ons net oorwinning kan behaal oor vyande wat ons identifiseer as vyande.  As ek nie die vestings van die vlees in my siel identifiseer en Jesus volg in die oorwinning oor daardie vyande nie sal daar logies ook nie oorwinning wees nie.  Moet nooit vrede maak met daardie konings (bv. Gal. 5:19-21) nie.  Identifiseer hulle en volg Jesus dan in die oorwinning oor hulle.

Wednesday, 20 January 2021

GEREGTIGHEID IN CHRISTUS: MITES EN VALS IDEES VERSUS DIE WAARHEID

 "Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus."  Romeine 5:17

MITE 1:   Die geregtigheid van God het alles te doen met die standaard van lewe wat God van my verwag as 'n dissipel van Jesus.

DIE WAARHEID:   Geregtigheid, soos wat die woord die meeste van die tyd in die Nuwe Testament gebruik word, het te doen met dit wat God vir ons gedoen het in Christus en wat Hy ons skenk as 'n gawe in Christus.  Selfs wanneer die woord geregtigheid in die Nuwe Testament gebruik word as 'n standaard van regverdigheid in ons lewens staan dit nie los van die gawe van geregtigheid nie (Rom. 5:17), maar is dit 'n uitvloeisel van die stand van geregtigheid.  Die Reformasie het begin toe Martin Luther ‘n openbaring gekry het van die ware betekenis van hierdie woord in sy studie van die boek Romeine.

"Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe."  Romeine 1:16-17

MITE 2:  Geregtigheid is ‘n standaard wat ek so mettertyd bereik soos wat ek groei as 'n Christen.

DIE WAARHEID:  Geregtigheid is 'n gawe wat jy ontvang met jou wedergeboorte en dit het absoluut niks te doen met geestelike groei nie, maar alles met jou stand voor God in Christus.  Let wel, jou begrip van geregtigheid het wel baie te doen met jou groei as gelowige.

MITE 3:  Soos wat ek groei in geregtigheid en meer regverdig word, beweeg ek nader aan God.

DIE WAARHEID:  Jy kan nie groei in geregtigheid (hierdie geregtigheid wat ons nou van praat nie) nie, want met jou wedergeboorte het jy God se geregtigheid in Christus ontvang en dit is ‘n volledige (100 persent) geregtigheid.  Hierdie geregtigheid gee jou volkome toegang tot die teenwoordigheid van God en dit beteken jy kan nie in jou stand nader beweeg aan God as wat jy reeds is in Christus nie.

MITE 4:  Party gelowiges is meer regverdig (righteous) as andere voor God a.g.v. hulle standaard van lewe.

DIE WAARHEID:  Daar is wel verskillende grade van geregtigheid in ons daaglikse lewe (dade), maar in soverre as wat dit ons stand van geregtigheid in Christus aangaan, het alle gelowiges presies dieselfde graad van geregtigheid voor God, naamlik 100%. 

MITE 5:  My geregtigheid voor God wissel soos wat ek ook maar wissel in my geestelike lewe.  M.a.w. sekere tye wat ek geestelik sterk is en sterk voel, is my geregtigheid voor God sterk, maar wanneer ek ‘n swakker geestelike kurwe beleef, is my geregtigheid voor God ook minder sterk.

DIE WAARHEID:  Geregtigheid is ‘n gawe van God en dit is so standvastig soos die troon van God self.  Christus het vir ons geregtigheid geword (1 Kor. 1:30) en Hy verander nooit.

MITE 6:  Geregtigheid openbaar die liefde van God en dit is vir ons gegee op grond van die hart van God wat sonde oorsien en daarom spontaan vergewe.

DIE WAARHEID:  Vir seker openbaar die gawe van geregtigheid die liefde van God, maar God het nie die sonde oorgesien nie.  Hy het Jesus in ons plek gestraf.  Die volle prys vir sonde is betaal.  Dit is die basis en krag van geregtigheid.

MITE 7:  Geregtigheid impliseer dat ek nooit weer hoef sondes te bely nie.

DIE WAARHEID:  Dit is nie waar nie.  Geregtigheid het te doen met jou stand en sondebelydenis met jou wandel.  Dit is egter belangrik om te verstaan dat sondebelydenis teenoor 'n Vader en nie teenoor 'n Regter is nie.

"Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was (1 Jn. 1:9) nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie." Johannes 13:10 

MITE 8:  Geregtigheid beteken dat ek nooit weer probleme met die vlees, die wêreld of satan sal hê  nie.

DIE WAARHEID:  Geregtigheid in Christus vrywaar jou nie van probleme of die stryd met die bose nie.  Dit gee jou egter wel die basis waarop jy oorwinning kan behaal in die geloofstryd.

MITE 9: . Hierdie boodskap van geregtigheid beteken dat ek nooit weer lyding in hierdie lewe hoef te ervaar nie, want God het mos nou vir my Sy onvoorwaardelike guns geskenk in Sy Seun.

DIE WAARHEID:  Geregtigheid in Christus vrywaar jou nie van lyding nie, maar dit stel jou wel in staat om vrede en blydskap te beleef te midde van lyding en probleme in hierdie lewe.

"Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees." Romeine 14:17

MITE 10:  Geregtigheid beteken dat ek  nou maar kan leef soos ek wil, want my sondes is mos nou vergewe.  N.S. Die vraag is natuurlik ook wat "wil" jy nou dat jy 'n nuwe mens in Christus is?

DIE WAARHEID:  Geregtigheid bring juis die vryheid om nie meer ‘n slaaf van sonde te wees nie, maar ‘n liefdes-slaaf (love slave) van die Een wat jou geklee het in Sy geregtigheid.

"Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel--soos 'n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele." Jesaja 61:10 

Tuesday, 19 January 2021

IN CHRISTUS: MITES EN VALS IDEES VERSUS DIE WAARHEID

 Let wel dat die term "in Christus" in hierdie kort studie in die breë verwys na meer as net ons regsposisie.  Dit sluit ons hele lewe "in, deur en vanuit Hom" in.  Johannes 14 vers 20 som dit mooi op:

"In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle."


MITE 1:   Die idee dat die term ‘in Christus’ in die briewe van die Nuwe Testament net verwys na 'n simboliese eenheid tussen gelowiges en Christus en nie 'n werklike eenheid nie.

DIE WAARHEID:   Hierdie siening lei tot geweldige verarming en skade en is vêr verwyder van die prentjie in die Nuwe Testament.  Ons eenheid met Christus is eerstens voorbeskik deur die Vader (Efes. 1:4), tweedens is dit 'n regsposisie (legal position) en dan is dit ten diepste 'n eenheid van gees (1 Kor. 6:17) wat beteken dat daar nie 'n meer intieme eenheid moontlik is nie.

MITE 2:  Aan die ander kant die idee dat ons eenheid met Christus beteken dat ons so vervleg word met Christus dat ons nie meer 'n persoonlikheid van ons eie het nie. 

DIE WAARHEID:  Die gelowige verloor nooit in hierdie eenheid met Christus sy eie unieke persoonlikheid nie.  Wat wel gebeur is dat die bron en kern van die gelowige se lewe nie meer die ‘self-vir-self’ (self in die middel) is nie, maar die ‘Christus-in-en-deur-die-self’ (Christus in die middel) lewe - Galasiërs 2:20.

MITE 3:  Die ‘in Christus’ benadering tot die Christelike lewe is maar net een van die moontlike benaderings in die Nuwe Testament wat ons kan volg om God te behaag.

DIE WAARHEID:  Daar is geen plaasvervanger vir die leer van ons eenheid met Christus nie.  Dit is die enigste manier wat God verhouding beskikbaar maak in die Bybel.  Indien jy nie by 'n openbaring en ervaring van hierdie waarheid uitkom nie sal jy ook nooit volwassenheid as 'n gelowige bereik nie.

MITE 4:  Die ‘in Christus’ waarheid is maar een van die sleutels wat ons help om die Skrif te verstaan.

DIE WAARHEID:  Die ‘in Christus’ waarheid (in die breër raamwerk van die pre-eminensie van Christus) is dié sleutel wat die Skrif ontsluit en God se doel met die mens duidelik maak (sien Efes. 1:3-14).  Dit is verder ook die waarheid wat lig werp op al die ander leringe in die Skrif.  As jy nie seker is oor hierdie stelling nie gaan spandeer 'n bietjie tyd met Jesus se verstommende lering in Johannes 13 tot 17 en let op die kernpunte wat Hy vir ons as sy dissipels wil deurgee.

MITE 5:  Ons eenheid met Christus is nie 'n seker/vaste stand (a sure standing) nie, maar dit is iets wat wissel soos wat ons geloof en gehoorsaamheid wissel.

DIE WAARHEID:  Ons eenheid met Christus is ononderbroke en geensins wisselvallig nie.  Dit is ‘n eenheid wat deur die Vader bewerkstellig is en deur Hom gewaarborg en beskerm word (1 Kor. 1:30).  Ons ervaring daarvan is wel afhanklik van ons fokus (Kol. 3:1-3).


Tuesday, 8 December 2020

VERLOS VAN DIE YDELHEID VAN TYD

 "Forever young, I want to be forever young."  Marian Gold

"Tomorrow, and tomorrow, and tomorrow

Creeps in this petty pace from day to day

To the last syllable of recorded time.

And all our yesterdays have lighted fools

The way to dusty death. Out, out, brief candle.

Life’s but a walking shadow, a poor player

That struts and frets his hour upon the stage,

And then is heard no more. It is a tale

Told by an idiot, full of sound and fury,

Signifying nothing."

William Shakespeare (in Macbeth)

 

Shakespeare bring die ware aard van tyd ("the vanity of time") en die mens se belewenis daarvan na vore hier. In die roetine van elke dag is daar heeltyd die vorentoe kyk na môre wat ook maar net weer dieselfde leë en sinlose vorentoe kyk bring wanneer daardie môre aanbreek.

Intussen reflekteer ons op ons gisters wat met dwaasheid die pad verlig na 'n einde wat net die dood en ons terugkeer na stof inhou.  Gevolglik is ons dae dan soos die onophoudelike geraas en gebabbel van 'n idioot wat praat sonder sin of doel. Dít is die "dae" van die mens op aarde wanneer Christus nie in die middelpunt is nie.   Hy alleen kan ons verlos van die ydelheid van tyd om ons daagliks in te lei in die rykdom van die ewigheid in Homself.

Hy alleen vul ons dae met geloof, hoop en liefde.  Dit is so verstommend anders as die wêreld se belewenis van tyd.  Dit is egter ook moontlik vir dissipels van Jesus om visie te verloor op die heerlikheid in Christus en dan geleidelik weer te verval in die ongelowige wêreld se ydele belewenis van tyd.  As dit inderdaad jou ervaring is, vra die Vader om jou nuwe visie te gee op die enigste Een wat jou siel kan verlos van die web van ydele dae.

"Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.  Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?  Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde.  Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.  Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer.  Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het.  Woorde vervaag mettertyd, en 'n mens kry nie klaar met praat nie. Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie; die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie.  Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie.  Kan jy van iets sê dit is nuut? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd.  Wat verby is, word vergeet, en ook wat later kom, sal vergeet word deur dié wat daarna kom.  Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind." Prediker 1:2-11, 14

DAARTEENOOR:

"Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap." 1 Petrus 1:8-9

"Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele."  2 Korinthiërs 5:1

" My tye is in u hand..."  Psalms 31:16

"Omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie."  Kolossense 1:4-5

Thursday, 3 December 2020

DIE EVANGELIE WAT MENSE VERANDER...REGTIG

Glo jy aan 'n evangelie wat mense verander of net aan 'n evangelie wat mense vergewe vir hulle onveranderlike kondisie?  Miskien is jou antwoord: "die evangelie wat my man, vrou, kind of buurman kan verander moet nog ontdek word"!  Of as jy jouself bietjie beter ken..."wat mý werklik en deurgrondelik kan verander".

Miskien is jy reg.  Miskien is daardie evangelie nog nie ten volle ontdek in ons tyd nie.  Hmmm...  Die goeie nuus is egter dat daardie evangelie steeds nêrens anders gevind kan word as in die blaaie van die Nuwe Testament nie.  Ons hoef nie iewers anders te gaan soek nie, ons moet dalk net weer en die keer bietjie dieper gaan kyk. 

Dit is regtig hoog tyd dat ons die verskraalde evangelie wat nét fokus op vergifnis van sondes agterlaat en aanbeweeg na die volle boodskap. 

"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."   2 Korinthiërs 5:17

"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense."  2 Korinthiërs 3:2

Dit is net verstommend hoe daar duisende debatte op die internet is oor elke moontlike teologiese kwessie, maar die reuse olifant in die kamer, naamlik onveranderde lewens, kry bykans geen lugtyd nie!

"Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!"   Galasiërs 6:15-16

Dit is vir seker so dat daar geen mens nog ooit beduidend verander het sonder die bediening van die Heilige Gees nie, maar die Heilige Gees werk áltyd op grond van ons identifikasie met Christus voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4) en die afgehandelde werk van Jesus in tyd (Rom. 5:12-21).

"Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig."  Johannes 16:14

Kom ons staan gou stil by die drie bedieningslyne waarlangs die Heilige Gees volgens die Nuwe Testament altyd beweeg wanneer Hy  verandering bring. 

 

VOLMAAK:  Jesus is volmaak en Sy verlossingswerk was volmaak en dit is vir ewig afgehandel.  Niks kan daar bygevoeg word nie.  Ons kan geen ander plek begin nie.  Die Heilige Gees wil altyd eers ons aandag afkry van ons onvolmaakte kondisie en ons ten volle laat fokus op die volmaakte Jesus en sy volmaakte werk.  Jesus se volmaaktheid help óns egter niks as ons nie ten volle met Hom geïdentifiseer is nie, maar die evangelie verkondig juis dat ons ís!

"En in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid...."  Kolossense 2:10 (NAV)

'n Goeie vraag om dadelik te vra is "waar is daai volmaaktheid"?  Dit is in jou gees, waar jy verenig is met Christus (1 Kor. 6:17).  Jy is gees, siel en liggaam (1 Thes. 5:23) en al voel of beleef jy nie die volmaaktheid nie het jy nodig om te GLO wat die Bybel sê.  Die werklikheid in jou gees kan op geen ander manier deurwerk na jou siel en liggaam nie.

 

AFGESONDER:  Die tweede lyn waarlangs die Heilige Gees ons kosbaar en wonderlik bedien in hierdie proses is die waarheid van volkome afsondering.  Dit is 'n waarheid wat ons generasie amper nog swaarder aan sluk as die eerste een.  Die Heilige Gees neem eerstens ons oë van onsself af en rig dit op Christus.  Dan wys Hy vir ons dat ons nie in die volheid van die nuwe lewe en identiteit kan wandel as ons nie bereid is om te aanvaar dat ons volkome afgesonder is van beide die sekulêre en godsdienstige wêreld en selfs ons eie idees van wie óns is nie.  Kyk na die volgende tekste in hierdie lig.

"En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys."  Genesis 12:1

"Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus." Galasiërs 3:16

"Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het."  Galasiërs 1:15

"Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die SKEIDING VAN SIEL EN GEES [my beklemtoning] en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart."   Hebreërs 4:12

"Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld."  Galasiërs 6:14

Is jy bereid om die Heilige Gees te volg op hierdie pad.  Terloops, Hy word nie verniet die HEILIGE Gees (Gees van afsondering) genoem nie.  Hy sonder jou eers af van alles en almal en wys jou toenemend dat jou lewe IN CHRISTUS alleen gevind word en dan kan Hy eers begin om jou werklik te gebruik in jou omgewing waar Hy jou geplaas het.  Niemand kan ander effektief bedien as hy self verstrengel is in hulle gevalle werklikheid nie.

 

VERVUL MET LIEFDE:  Nou eers begin die volheid van die Goddelike liefde kragtig deur ons bruis soos strome van lewende water en word ons van dag tot dag gedring deur 'n liefde wat nie van onsself kom nie.

"Want die liefde van Christus dring ons."  2 Korinthiërs 5:14

"En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is."  Romeine 5:5

"Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei."  Johannes 7:38

Nou eers kan ons in Bybelse gebrokenheid begin bedien.  Nog iets wat ons vandag nie veel van sien nie.

 

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon." 2 Korinthiërs 12:9

"Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag." 1 Korinthiërs 2:3-4

Die populêre idees van liefde vandag is so vêr verwyder van hierdie bonatuurlike liefde soos wat ons planeet verwyder is van die verste sterrestelsel in ons heelal.  Dit is 'n onbeskryflike liefde en ons generasie het hierdie Goddelike liefde so nodig.  Dit kan egter nooit realiseer in die liggaam van Christus as ons nie eers langs die lyne van volmaaktheid en afsondering IN CHRISTUS bedien word nie.  En verder moet ons sekerlik ook erken dat die boodskap van liefde heeltemal verwronge is vandag en juis so fataal skeefgetrek is omdat dit nie binne die konteks van afsondering (heiligheid) verstaan word nie.

Miskien kan ons dan nog net vir mekaar vra: "Is jy tevrede om aan te gaan soos jy is in die hoop dat God ons growwe verwaarlosing van die volle evangelie op een of ander manier sal oorsien of is jy bereid om oor te gee aan die bediening van die Heilige Gees langs die drie lyne van hierdie kosbare evangelie wat alleen ware verandering kan bring in ons almal se lewens"?