Monday, 16 August 2021

DIE EVANGELIE HET LIEFDE TOT GEVOLG, MAAR VORMGODSDIENS VERWOES VERHOUDINGS

"Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Galasiërs 5:13-14

Die vryheid wat die kruis bring lei tot 'n lewe van liefde en diensbaarheid en vervul sodoende die wet.  Die doel van die wet was dus nie in die eerste plek rituele, spesiale dae en ander godsdienstige aksies en aktiwiteite nie, maar onselfsugtige LIEFDE.  Die rituele en spesiale dae en ander detail was bedoel om skadu's en tipes te wees van die innerlike werking van Christus wat altyd veronderstel is om te lei tot 'n lewe van liefde. 

"Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie."  Galasiërs 5:15

Die gevolg van menslike godsdienstigheid is juis presies die teenoorgestelde van liefde, want dit is self-gerig!  Dit bly net besig met die self en daarom kan mense wat besig is met hierdie "self-godsdiens" nooit in vrede, liefde en diensbaarheid met ander saamleef nie.  Vormgodsdiens is geweldig liefdeloos en dit verwoes verhoudings. 

Dit gebeur so maklik dat ons besig raak met allerhande godsdienstige dinge en leringe wat ons beskou as baie geestelik, maar dan kom ons agter dat ons gesindheid teenoor mense verhard.  Daarteenoor bring die evangelie altyd 'n sagtheid in ons hart teenoor mense, maar sonder om die waarheid van die Woord te kompromitteer.  Die Heilige Gees sal ons altyd dieper inlei in die waarheid van die evangelie, met toenemende onderskeidingsvermoë, maar terselfdertyd met verruiming van hart en groter verhoudingskapasiteit.

"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling." Filippense 1:9 (NAV)

"En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is." 1 Thessalonicense 3:12

Monday, 9 August 2021

NIE MEER

 Nie meer "die hond wat op die strande draf en dom-allenig teen die aandwind blaf"

Nie meer die leë dop van 'n mens wat leë dae probeer vul met sin

Nie meer die "soeker wat nooit vind"

Nie meer "bitterbessie dagbreek, bitterbessie son" sonder einde

Nie meer die geteisterde, windverwaaide swerweling

Nie meer die eindelose drinker wat nooit sy dors kan les nie

Nie meer "die smorende vuur wat swaarkry en tog nie sy werk kan klaarkry"

Nie meer die "ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste"

Nie meer "die seevoël wat verhongerd daal en dooie nagte opdis as 'n maal"

 Nie meer 'n sinnelose verhaal, vertel deur 'n idioot, sonder rym en sonder noot

Nie meer ... nie.


"Almal wat dors het, kom na die waters..."

Begenadig eenmaal in die Seun, dan weer en weer en weer...

..."in Christus Jesus deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen." 

Wednesday, 21 July 2021

LEWE-STERF-HEMEL OF STERF-HEMEL-LEWE?

 Daar is twee radikaal verskillende perspektiewe op die lewe van 'n dissipel van Jesus en ongelukkig besef die meeste mense nie eers dat dit juis die verkeerde perspektief is wat maak dat hulle nooit heeltemal sin kan maak van die Bybel of hulle lewe op aarde nie. 

Die algemene en populêre siening van Christenskap is dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons nou op grond van God se liefde en die vergifnis van ons sondes 'n beter lewe kan hê op aarde en die hemel wanneer ons sterf.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is lewe-sterf-hemel.  Ek het my lewe op aarde wat as't ware deur God geborg word, dan sterf ek een of ander tyd en ek verloor hierdie aardse lewe, maar gelukkig gaan ek darem hemel toe waar ek nou 'n nuwe lewe gaan ontvang.

Die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap is radikaal anders.  Dit begin by dood, nie by lewe nie. Ek het gesterf "saam met Christus" (Rom. 6:1-10; Gal. 2:20; Kol. 3:3), ek is "saam met hom opgewek" (Kol. 3:1), sit nou saam met hom "in die hemele" (Efes. 2:6) en nou wil Hy Sý lewe deur my leef.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is dus sterf-hemel-lewe.  Ek het klaar gesterf, ek bevind myself reeds "saam met Christus" in die hemel en my lewe is nou Christus (Kol. 3:4).  Ek gaan steeds in 'n sin "hemel toe" wanneer ek sterf, maar dit het te doen met my verheerlikte liggaam wat my "oorklee uit die hemel" (2 Kor. 5:1-2) en nie met 'n nuwe lewe wat ek eers by my sterwe gaan ontvang nie.

Die lewe wat ek nou leef op aarde, moet geleef word vanuit die hemelse perspektief en geloof in die feit dat Christus in my woon en my lewe is (Gal. 2:20).  Die geestelike werklikheid is dat ek klaar gesterf het, dat ek klaar in die hemel is en dat ek hier-en-nou op aarde die krag van die nuwe lewe in Christus kan beleef.  Hierdie nuwe lewe het ek egter in 'n "erdekruik" (2 Kor. 4:7) en die krag van hierdie lewe manifesteer deur en vanuit swakheid en gebrokenheid (2 Kor. 12:9-10).

Christus is jou lewe en dit gaan vir die Vader oor jou vereniging met die lewe van die Seun.  Jy hét nie meer 'n onafhanklike lewe nie!  Hierdie waarheid verander die meeste van ons gebede, want nou bid ons nie meer primêr vir die verbetering van 'n aardse lewe nie, maar vir die manifestasie óp aarde van 'n hemelse lewe, Sý lewe. Dit verander natuurlik ook jou siening van heiligmaking, gemeentelewe, bediening, evangelisasie, die eindtye, ensovoorts, ensovoorts.

Dit is net vanuit hierdie perspektief dat die volgende woorde van die apostel Paulus ooit vir ons sin sal maak en vir ons persoonlike en besonderse betekenis kry:

"Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.  Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word." 2 Korinthiërs 4:7-11

Monday, 12 July 2021

MOENIE TERUGDEINS VIR DIE GEVEINS VAN VORMGODSDIENS NIE

"Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is." Galasiërs 2:11-12

Ons sien in hierdie verse dat die waarheid van die evangelie meer belangrik is as persoonlikhede en dat selfs die apostels nie in hulle persoon verhewe was bo die waarheid van die evangelie nie. 

Ons moet altyd 'n nederige gees van onderdanigheid aan mekaar in Christus handhaaf, maar terselfdertyd moet ons moedig wees en opstaan teen die geveinsdheid van vormgodsdiens sodat die evangelie suiwer kan bly onder ons. 

Hoe meer ons groei in die lieflike waarhede van die suiwer evangelie hoe sterker word ons innerlik en dit stel ons in staat om op te staan teen vormgodsdiens en wettisisme.  Alle dissipels van Jesus kan vegters vir die waarheid van die evangelie wees, nie net sekere spesiale persone en bedieninge nie.  Het jy al aangemeld of gaan jy maar saam met die stroom?  Antwoord eerlik in jou hart.

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie." Galasiërs 5:1

Tuesday, 6 July 2021

ONS WARE KRISIS IS DIE KRISIS VAN SELF-VERTROUE

In 'n sin kan 'n mens sê dat die enigste ware krisis wat ons ooit mee te doen kry in ons lewe op aarde, die krisis van self-vertroue is. D.w.s. die alomteenwoordige, verwoestende instink in die gevallenheid van ons siel om te dink dat ons dit op ons eie kan maak.

Is dit nie bietjie radikaal gestel nie?  Oorbeklemtoon ons nie 'n saak wat wel belangrik is, maar sekerlik nie so sentraal nie!?  Ek dink nie so nie en vir die volgende redes:

As ons werklik glo dat God alwetend en almagtig is en dat Hy ons "aangeneem" het in Christus (Gal. 4:5) dan is daar sekerlik niks in ons lewens wat vir Gód 'n krisis kan wees nie.  As ons egter op onsself vertrou in plaas van op hierdie alwetende, almagtige God wat deur ons vereniging met Christus ons Vader is, dan is hierdie sélf-vertroue noodwendig die groot krisis van ons aardse bestaan.  Hoekom? Want ons plaas onssélf sodoende in 'n sin buite die ruimte waarin God aktief werksaam is om ons deur te dra en ware oorwinning te gee in Sy Seun.

Daarom is dit so belangrik om in elke eksistensiële krisis in my lewe diepsinnig te reflekteer oor die feit dat God ook hierin besig is om my te stroop van self-vertroue sodat ek Sy opstandingskrag in Christus na waarde kan skat (Efes. 1:19-20; Rom. 8:11; 2 Kor. 1:8-9).

Neem ook die volgende in ag vanuit die Bybelse rekord:

Die heel eerste gebod wat God vir Israel gegee het was om geen ander gode te hê (te vertrou) nie en die grootste afgod moontlik is die afgod van die self.  "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie." Exodus 20:3

Jesus se heel eerste stelling in Sy bergpredikasie is, “geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel"  (Mattheüs 5:3).

Johannes die Doper verklaar onbeskaamd, "Hy moet meer word, maar ek minder"  (Johannes 3:30).

Paulus maak dit baie duidelik aan die begin van 2 Korinthiërs dat beproewinge en verdrukkinge in die dissipel se lewe juis bedoel is om vir ons te wys dat die ware krisis van ons aardse bestaan altyd self-vertroue is.

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, SODAT ONS NIE OP ONSSELF SOU VERTROU NIE (my beklemtoning), maar op God wat die dode opwek."  2 Korinthiërs 1:8-9

My krisis is altyd eerstens dat ek op my self vertrou.  Self-vertroue is eie-geregtigheid en eie-geregtigheid is soos 'n baie diep en sterk stroom wat regdeur die middel van die menslike psige loop.  Die groot vraag is nou, "hoe word ek verlos van hierdie alomteenwoordige innerlike probleem?"  Weereens, op geen ander manier nie as deur "Christus in ons".

Die enigste mens wat ooit ononderbroke op God vertrou het was "die mens Christus Jesus" (1 Tim. 2:5).  Kyk net na twee van vele uitsprake van Jesus oor Sy afhanklikheid van die Vader:

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

"Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het." Johannes 5:30

Hierdie Jesus leef nou in ons.  Sy lewe in ons is 'n lewe van vertroue op God alleen.  Dit is hoekom die boodskap van "nie ek nie, maar Christus" (Gal. 2:20) net werklik kosbaar is vir mense wie se oë oopgegaan het om te sien dat hulle ware krisis self-vertroue is.  Dit is dan ook net vir diesulkes lieflik om te hoor dat dit net Christus in ons is wat ons "hoop op heerlikheid" is (Kolossense 1:27).

In hierdie lewe sal ons nooit op 'n plek kom waar ons nie hoef te waak teen self-vertroue nie en daarom is dit amper onmoontlik om dit te oorbeklemtoon.  Erken dus  jou ware krisis en draai in geloof na Christus sodat jy kan rus in die heerlike Godsvertroue van die Seun in jou.

"Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof..."  Hebreërs 12:2

Tuesday, 29 June 2021

DIE AVONTUUR VAN 'N KONSTANTE GEBEDSLEWE IN CHRISTUS

Ware gebed begin by die spontane ekspressie van my hart voor God, maar dit is maar net soos om jou bootjie in die rivier te loods.  Die krag en vloei van die rivier is die gebedslewe van Jesus self en hierdie bonatuurlike gebedslewe is die plan van God vir alle dissipels van Jesus.

Die verstommende waarheid van Galasiërs 2 vers 20 het ook betrekking op ons gebedslewe as dissipels van Jesus.  Ons "leef" nie meer nie maar Christus "leef" in ons.  Net so kan ons sê ek "bid" nie meer vanuit myself nie, maar Christus "bid" in my.

Die oproep tot volharding en waaksaamheid in gebed in die konteks van die primêre boodskap van die Nuwe Testament is 'n oproep om ook in gebed volledige uiting te gee aan die lewe van Christus in ons. 

"Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging." Kolossense 4:2

Die gebedslewe van Jesus is as't ware geïnstalleer in ons gees soos wat 'n sagteware program op 'n rekenaar geïnstalleer word en dan reg is vir gebruik.  Gaan deur die evangelies en let op na Jesus se lewe van gebed en intersessie.  Besef jy dat dit nou jou lewe is, want jy is in Hom en Hy ís jou lewe (Kol. 3:4)!

Alles wat ons in die Bybel lees oor gebed moet in hierdie konteks gesien en verstaan word.  Prakties beteken dit dat ek na die Vader gaan en bely dat ek dikwels nie weet wat en hoe om te bid nie, maar dat ek volle vertroue het dat die Heilige Gees die gebedslewe van Jesus in en deur my sal ontsluit. 

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romeine 8:26

Géé jouself vir so 'n lewe (Rom. 12:1) en aanskou dan hoe God begin om jou te neem na avonture in gebed wat jy nie eers sou kon droom om te realiseer vanuit jouself nie. 

"En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk." Efesiërs 3:20

Wednesday, 2 June 2021

"BEKLEE JOU MET CHRISTUS", NIE "STREEF OM DIE BESTE WEERGAWE VAN JOUSELF TE WEES" NIE!

God probeer nie om Adam te verbeter nie.  Ons is nuwe mense in Christus (2 Kor. 5:17) en daarom is dit belaglik vir ons as dissipels van Jesus om ons te onderwerp aan enige lering wat Adamsverbetering promoveer. 

Die ou mens (Adam) het gesterf "saam met Christus" en die nuwe mens leef vanuit 'n totaal nuwe bron, Christus in ons.  Ons natuurlike instink is om onsself te wil verbeter en juis daarom het ons die "vernuwing van denke" wat die Nuwe Testament van praat (Rom. 12:2) so dringend en voortdurend nodig. 

Ons moderne kultuur is deurdrenk met die sielkunde van die self en dit het die kerk binnegedring.  As ons ware verandering wil sien moet ons hierdie hele wêreld van die self vaarwel toeroep en ons identiteit in Christus met volle oorgawe omhels. Die Nuwe Testament praat van geestelike groei in terme van die "vergestalting van Christus" in ons.

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19

Die enigste manier wat Christus in ons vergestalt kan word, is wanneer ons in geloof ons hemelse posisie in Hom onvoorwaardelik aanvaar.  Vanuit daardie posisie kan ons dan die werke van die vlees "doodmaak" en "aflê" en ons daarna "beklee met" die persoon en karakter van Christus, ons ware identiteit as nuwe mense. 

"Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." Romeine 13:14

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kolossense 3:12

Ons ware identiteit in Christus is lig en liefde en ons word geroep om in die praktyk te wéés wat ons reeds ís in Hom.

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig." Efesiërs 5:8

"En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is." Kolossense 3:14