Friday, 3 December 2021

DIE MEES ONONTBEERLIKE INENTING IN DIE GESKIEDENIS, GEWEIER DEUR DIE MASSAS

Die mees dodelike virus in die geskiedenis, 100% infeksiesyfer, 100% sterftes, net EEN entstof beskikbaar!

Dit word al hoe duideliker dat selfs al is daar 'n 100% effektiewe inenting met geen newe-effekte vir meer as 2000 jaar al beskikbaar, slegs 'n klein persentasie van die mensdom bereid is om dit te neem.

"Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind." Matteus 7:14

Hierdie entstof is natuurlik die een wat die mensdom teen “die tweede dood” beskerm.

"Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding! Oor sulkes het die tweede dood geen mag nie ..." Openbaring 20:6a

Die grootste deel van die mensdom se weiering om hierdie entstof te neem is des te meer verwoestend as 'n mens in ag neem dat 100% van die mensdom by verstek blootgestel word aan "die tweede dood" vanaf geboorte.

"Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe." Genesis 2:17

"Kyk, ek is gebore in ongeregtigheid, en in sonde het my moeder my ontvang." Psalm 51:5

"Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God." Romeine 3:23

Daarbenewens is dit van die begin af deur alle mense bekend dat daar geen entstof teen die dood van die liggaam (eerste dood) beskikbaar is nie. Ons kan ingeënt word teen elke moontlike siekte waarvoor daar 'n entstof is, maar hierdie entstowwe gee net 'n mate van beskerming teen daardie siektes. Hulle bied geen beskerming teen die onvermydelike verouderingsproses of die duisende ander maniere waarop mense sterf nie.

"En net soos die mens bestem is om een ​​maal te sterwe, en daarna kom die oordeel." Hebreërs 9:27

Ten spyte daarvan dat dit algemeen bekend is, blyk dit dat die meeste mense verkies om die feit te ignoreer dat hulle nie die dood kan vryspring nie. Die goeie nuus is dat daar 'n entstof is wat die angel uit hierdie eerste dood haal en wat jou een honderd persent beskerming bied teen die veel erger en eweneens onomkeerbare tweede dood!

“O dood, waar is jou oorwinning? O dood, waar is jou angel? ” 1 Korinthiërs 15:55

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Johannes 5:24

"Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood." Romeine 8:2

Daar is geen beskerming vir enige persoon wat nie gewilliglik hierdie universeel beskikbare entstof ontvang het nie.

"... sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis van sondes nie." Hebreërs 9:22

"En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galileërs erger sondaars was as al die ander Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Ek sê vir julle nee, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom." Lukas 13:2-3

Jesus het Sy lewe gegee om hierdie "entstof" aan almal beskikbaar te stel.

“Toe Jesus die suur wyn ontvang het, het Hy gesê: Dit is volbring, en Hy het sy hoof gebuig en sy gees oorgegee.” Johannes 19:30

"So het Jesus ook buite die poort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig." Hebreërs 13:12

"Toe sê Jesus vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die Seun van die mens se vlees eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek op die laaste dag.” Johannes 6:53-54

Hoekom sal enigiemand hierdie entstof weier? Dit is beskikbaar, dit is 100% effektief, dit is gratis, en al wat jy opgee is 'n lewe waaraan jy in elk geval nie kan vashou nie.

"Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Matteus 16:25

"Hy is geen dwaas wat opgee wat hy nie kan behou nie, om te verkry wat hy nie kan verloor nie." Jim Elliot

"Geseënd is die wat hul klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en dat hulle deur die poorte in die stad kan ingaan."

“Die Gees en die Bruid sê,” Kom. "En laat die een wat dit hoor sê: "Kom." En laat die een wat dors het, kom; en laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet." Openbaring 22:14, 17

JESUS LAAT GODSDIENS KOPKRAP

Die geheim van Jesus se lewe op aarde was dat Hy nie geleef het uit Sy eie wysheid of krag nie. Die godsdienstiges het probeer verstaan wie of wat hierdie persoon was wat so anders opgetree het en in nie een van hulle bestaande kategorieë ingepas het nie.  Hy het die godsdiensleiers voorwaar laat kopkrap, maar Sy antwoorde op hulle vrae het altyd verwysing gehad na net een geestelike werklikheid.

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

Die benadering van godsdiens is dat God vêr verwyder is van ons en dat ons dan met krag en ywer moet poog om hierdie God te behaag.  Jesus openbaar egter 'n totaal ander soort lewe.

"Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke." Johannes 14:10

Net so is ons lewe na die kruis en opstanding van Jesus 'n lewe in God en vanuit God.  Dit is juis hierdie lewe wat Jesus met alles wat Hy gesê en gedoen het Sy dissipels by wou inlyf.  Sy hele missie op aarde was om dissipels voor te berei vir 'n lewe wat totaal anders is as die benadering van godsdiens.

"In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle." Johannes 14:20

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

Jare later skryf Paulus:

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

Die groot vraag vir elkeen van ons is natuurlik of ons ook met oortuiging kan sê dat ons nie lewe uit ons eie krag of wysheid nie, maar dat Christus in ons werklik die geheim van ons lewens is , net soos die Vader in Jesus die geheim van Sý lewe was.

"Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing." 1 Korinthiërs 1:30

Die enigste alternatief is menslike godsdiens en dit is leeg en onvrugbaar.

Thursday, 11 November 2021

JESUS IS VEEL MEER AS NET ONS VOORBEELD

Daar is soveel wonderlike voorbeelde in die Bybel van oorwinnende en heilige lewens, maar natuurlik is Jesus self die allerbeste voorbeeld van 'n lewe wat God behaag. 

As ons egter dink dat die lering oor heiligmaking (heiliging) in die Nuwe Testament primêr te doen het met die navolging van die voorbeeld van Jesus maak ons 'n reuse fout. Die sleutelteks in die Bybel oor heiliging en die oorwinnende lewe is Galasiërs 2 vers 20. 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." 

In hierdie vers sien ons baie duidelik dat Jesus veel meer as net ons beste voorbeeld van 'n heilige lewe is. Hy ís die heilige lewe in ons! Dieselfde Jesus wat daardie heilige lewe geleef het in Sy tyd op aarde leef nou ín ons. 

Ons kan dus sê dat die oproep tot navolging van Jesus se voorbeeld goed en reg is. Maar die groot vraag is hóé moet ek Sy voorbeeld volg. Sy voorbeeld wys vir my die wat en waar van oorwinning, maar Sy lewe in my ís die oorwinning. Die hóé van navolging is om op te hou vertrou in my eie vermoë en om dan onwrikbaar te vertrou op Sý vermoë in my. Daardie lewe in my het reeds2 000 jaar gelede al die kragte en magte van duisternis oorwin. 

Tuesday, 9 November 2021

DRAAI WEG VAN DIE IMMER-TEENWOORDIGE HOOGMOED VAN DIE MENSLIKE HART

 "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:4-5

 In werklikheid is alle mense gevalle, broos, swak en onseker en hoe ouer 'n mens word hoe meer besef jy dit. Maar wat is hierdie vreeslike en immerteenwoordige onsigbare ding wat ons laat glo ons is in beheer en dat ons sterk kan wees en teëspoed en die toestande op 'n gevalle aarde met ons eie krag en wysheid kan oorwin?

Dit is 'n trotse en gevaarlike "oormoed" in die menslike hart.  Dit is in ons en om ons. Dit word voortdurend aangevuur deur die magte van die duisternis.  HULLE weet dit is ons ondergang en hulle wil ons onkundig hou oor hierdie feit.

Jesus het die waarheid oor die mens geken en Hy het konsekwent geleer dat ons met ons hele hart moet wegdraai van hierdie eksistensiële "hubris".  Sterkte en sekuriteit is slegs beskikbaar in die Wingerdstok. In homself het die loot geen lewe, geen krag, geen vrug...en geen toekoms nie.

Daarom is 'n lewe van voortdurende afhanklike en nederige waaksaamheid en gebed absoluut onontbeerlik.  Die klimaat en kultuur van ons innerlike mens, ons huise en ons gemeentes moet te alle tye so 'n nederige gebedsafhanklikheid promoveer.  Die profiel van Jesus se afhanklikheid van die Vader in die evangelie van Johannes is die heel beste uiteensetting van hierdie waarheid. 

Thursday, 2 September 2021

MIK HOOG

 Dit is so belangrik om die Woord van God onbevange te lees; sonder ‘n godsdiensbril en ook sonder om ons eie idees na die Skrif te bring.  Wanneer ons die Bybel met 'n onbevange hart lees word ons onvermydelik opgeroep om te beleef wat die Woord van praat en om onder geen omstandighede tevrede te wees met tweede beste nie. 

Derduisende gee hulle heel beste om uit te munt in die wêreld, maar is heeltemal tevrede met ‘n substandaard geestelike lewe.  Geestelike oorlewing is vir diesulkes die hoogste mikpunt, terwyl ons praktiese daaglikse lewe die eintlike realiteit is.  Hierdie benadering het ‘n tragiese geestelike armoede tot gevolg.

Mik hoog t.o.v. jou ervaring van geestelike werklikhede en 'n lewe van gehoorsaamheid, vrede en blydskap sal jou deel wees te midde van al die aardse onsekerhede en veranderlikes.  Die alternatief is 'n voortdurende geestelike onvolwassenheid en 'n aardse lewe van baie spanning, stres en ongelukkigheid selfs al beleef jy sogenaamde "sukses" in die tydelike.

Monday, 16 August 2021

DIE EVANGELIE HET LIEFDE TOT GEVOLG, MAAR VORMGODSDIENS VERWOES VERHOUDINGS

"Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Galasiërs 5:13-14

Die vryheid wat die kruis bring lei tot 'n lewe van liefde en diensbaarheid en vervul sodoende die wet.  Die doel van die wet was dus nie in die eerste plek rituele, spesiale dae en ander godsdienstige aksies en aktiwiteite nie, maar onselfsugtige LIEFDE.  Die rituele en spesiale dae en ander detail was bedoel om skadu's en tipes te wees van die innerlike werking van Christus wat altyd veronderstel is om te lei tot 'n lewe van liefde. 

"Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie."  Galasiërs 5:15

Die gevolg van menslike godsdienstigheid is juis presies die teenoorgestelde van liefde, want dit is self-gerig!  Dit bly net besig met die self en daarom kan mense wat besig is met hierdie "self-godsdiens" nooit in vrede, liefde en diensbaarheid met ander saamleef nie.  Vormgodsdiens is geweldig liefdeloos en dit verwoes verhoudings. 

Dit gebeur so maklik dat ons besig raak met allerhande godsdienstige dinge en leringe wat ons beskou as baie geestelik, maar dan kom ons agter dat ons gesindheid teenoor mense verhard.  Daarteenoor bring die evangelie altyd 'n sagtheid in ons hart teenoor mense, maar sonder om die waarheid van die Woord te kompromitteer.  Die Heilige Gees sal ons altyd dieper inlei in die waarheid van die evangelie, met toenemende onderskeidingsvermoë, maar terselfdertyd met verruiming van hart en groter verhoudingskapasiteit.

"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling." Filippense 1:9 (NAV)

"En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is." 1 Thessalonicense 3:12

Monday, 9 August 2021

NIE MEER

 Nie meer "die hond wat op die strande draf en dom-allenig teen die aandwind blaf"

Nie meer die leë dop van 'n mens wat leë dae probeer vul met sin

Nie meer die "soeker wat nooit vind"

Nie meer "bitterbessie dagbreek, bitterbessie son" sonder einde

Nie meer die geteisterde, windverwaaide swerweling

Nie meer die eindelose drinker wat nooit sy dors kan les nie

Nie meer "die smorende vuur wat swaarkry en tog nie sy werk kan klaarkry"

Nie meer die "ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste"

Nie meer "die seevoël wat verhongerd daal en dooie nagte opdis as 'n maal"

 Nie meer 'n sinnelose verhaal, vertel deur 'n idioot, sonder rym en sonder noot

Nie meer ... nie.


"Almal wat dors het, kom na die waters..."

Begenadig eenmaal in die Seun, dan weer en weer en weer...

..."in Christus Jesus deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen."