Monday, 10 August 2015

SY AKTIWITEIT, ONS BESKIKBAARHEID



"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie..." Joh. 6:63

Dit is net die Gees van God wat lewe kan gee en slegs deur Sy aktiwiteit groei die koninkryk op aarde. Jesus alleen is die deur tot die volheid van die Gees. Ware geloof in Jesus is 'n bevestiging van my oortuiging dat ek nie uit myself die hand van God in beweging kan bring nie. Die Vader stuur Jesus om die weg voor te berei vir die volle aktiwiteit van die Gees. Die Gees verheerlik Jesus en bring sodoende die koninkryk binne die bereik van geloof wat weer die deur oopmaak vir verdere aktiwiteit van die Gees. So groei die koninkryk en op geen ander manier nie. Mag alle ander planne, programme, menslike idees en misplaaste godsdiensywer geheel en al tot niet gaan, want dit staan net in die pad van God se Meersterplan.

Thursday, 6 August 2015

WAT IS JOU GROOTSTE VREUGDE?



"Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi." Psalm 16:5-6

As koning van Israel het Dawid sekerlik alles in die natuurlike gehad wat 'n mens kan begeer op hierdie aarde. Sy materiële "erfdeel" was ongetwyfeld besonders indrukwekkend, maar Dawid se hart was nie gerig op dit wat mens met jou sintuie kan waardeer nie. Hy het baie goed verstaan dat volhoubare vervulling net op een plek te vinde was. Sy erfenis was nie vir hom al die dinge wat mens kan bymekaar maak op aarde nie. Sy erfenis was 'n Persoon. Die Here was sy erfenis, sy vreugde, sy lewe en sy finale bestemming. Waarop is ons harte gerig? As ons Jesus se naam bely, moet ons saam met Dawid kan sê "die Here is die deel van my erfenis". Anders is daar iewers groot fout. 

Tuesday, 4 August 2015

MOENIE VERGEET NIE!



“'Much that once was is lost, for none now live who remember it.”  Hierdie ysingwekkende woorde uit ‘n populêre rolprent van ‘n paar jaar gelede laat ‘n mens diep dink oor die verantwoordelikheid van elke generasie om nie kosbare dinge te laat verlore gaan nie.  

“Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.”  Deuteronomium  4:9  

“Want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” 2 Petrus 1:9  

Dit is verstommend om te sien hoe maklik ons die verlossingswerke van God en die geestelike lesse wat Hy ons geleer het, kan vergeet.  Ons word so maklik ingesluk deur die beelde en klanke van die sintuiglike wêreld en die eise van die onmiddellike.  Dissipels van Jesus is reeds regverdig verklaar in Christus en afgesonder vir God, maar om teen ‘n wêreldse kultuur in te beweeg is nie iets wat sommer net vanself gebeur nie.  Sonder ‘n intense fokus en ‘n diep toewyding van hart dryf ons maar net saam met die korrupsie en vervallenheid  van ons kultuur en tydgees en vergeet ons dat ons gedurig moet rekening hou met die onsigbare geestelike werklikheid.  Dit is een van die redes waarom ons so dringend nodig het om die Bybel op te neem en met aandag te lees en dit wat ons leer sonder versuim oor te dra aan die jonger geslag.  Dit moet veral gebeur terwyl jou kinders nog in jou huis is.  Daarna word dit al hoe moeiliker.  Tensy die jonger generasie by die ouer generasie die heerlikheid van Christus sien en oorneem, gaan dit verlore en word weggewaai deur die winde van tyd en omstandigheid.  Dit gebeur so maklik.  Moenie vergeet nie!

Thursday, 30 July 2015

“ONS VERKONDIG NIE ONSSELF NIE”...OF DOEN ONS?

"Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde." Efesiërs 4:15-16

Elke boek van die Nuwe Testament verkondig helder en duidelik die blye boodskap dat Jesus alleen meer as voldoende is vir alles wat ons ooit sal nodig hê vir tyd en ewigheid.  Dit is die enigste basis vir dissipels van Jesus om in vrede, vreugde, vryheid en oorwinning te leef in 'n gevalle wêreld. Juis daarom is die satan se strategie altyd om op subtiele maniere hierdie boodskap te ondermyn en ons te probeer oortuig dat ons iets moet byvoeg, dat Jesus alleen nie genoeg is nie. Die waarheid is egter dat Jesus plus enigiets altyd lei tot die byvoeging minus Jesus. As ek iets wil byvoeg by Sy volkomenheid sit ek op die ou end nie met meer nie, maar met veel minder, eintlik met niks! Wat dan van Jesus plus die gemeente? Dit is sekerlik 'n legitieme byvoeging?! Net hier stel satan een van sy slimste sette teen die kinders van God in werking.


Die Nuwe Testament leer dat die gemeente uit Jesus en op Jesus, as die Rots, gebou word; nooit dat die gemeente as 'n plus by Hom gevoeg moet word nie. Enige gemeente of federasie van gemeentes wat aanspraak maak op ewige lewe of finale outoriteit asof dit die eksklusiewe domein is van genoemde gemeente of gemeentes is besig om iets by Jesus te voeg en ondermyn in werklikheid die koninkryk van God. Selfs al is dit met die beste motiewe denkbaar. Die gemeente gee nie vir Jesus lewe nie, Jesus gee die gemeente lewe. Die gemeente ondersteun nie vir Jesus nie, Jesus ondersteun die gemeente. Die gemeente gee nie vir Jesus outoriteit nie, Jesus gee die gemeente outoriteit. Dit is nie ons programme, planne en wonderlike organisasie wat Jesus se invloed laat toeneem nie. Dit is Jesus wat deur Sy eie wysheid en krag volgens Sy volmaakte wil rig en bestuur, die gemeente wat Hom alleen gehoorsaam. Die lewe is nie in ons nie, dit is in Jesus. Die salwing is nie ons besitting asof ons in onsself die wonderlike gesalfdes is wat vir almal kan lewe en rigting gee nie. Jesus is die Gesalfde Een en daar is net werklik 'n salwing wat seën bring wanneer ons aan Hom vashou en uit Hom bedien. Ons moet leer om fyn te luister na wat gemeentes regtig probeer sê, want gemeentes wat hulleself en/of hulle leierskap probeer promoveer is gesaai oor die landskap. Daarenteen is gemeentes wat ten doel het om mense aan Jesus alleen te verbind en in Hom by volwassenheid te bring, so skaars soos hoendertande. Die apostel Paulus het die standaard vir leierskap en gemeentes baie duidelik gestel in 2 Korinthiërs 4 vers 5, “Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.”

Tuesday, 28 July 2015

DIE GEBED WAT NIE BAIE GEBID WORD NIE

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:9-10


Die dinge waarvoor ons bid en die manier wat ons daarvoor bid is 'n baie goeie indeks van wat in ons harte aangaan. As God vir Paulus sê 'my krag word in swakheid volbring' en Hy daarmee sy wil vir, en werkswyse met, al sy dissipels vir alle tye bekendmaak, het dit baie bepaalde implikasies vir ons gebedslewe.  Wanneer ek deur 'n moeilike tyd gaan, moet ek net bid dat God asseblief my omstandighede sal verander? Moet ek net bid dat Hy my daardeur sal dra? Miskien lei die Heilige Gees my om so te bid, maar as ons die hele Bybel as maatstaf neem, is dit duidelik dat die belangrikste gebed van ons harte moet wees: "Laat U krag in my swakheid volbring word".  "Verheerlik Uself en openbaar Christus in my swakheid, o Heer".  Dit is die herlewingsgebed! As ons só begin bid vir onsself en vir ander is ons in lyn met die wysheid van God en kan ons die krag van God sien deurbreek in ons omstandighede op verrassende maniere wat dalk heeltemal anders is as wat ons verwag het. Dan eers gaan ons werklik die dieper doel en groter prentjie van God se koninkryk en ons lewens begin raaksien.

Wednesday, 22 July 2015

VOL KRAG EN PLANNE

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:9-10

"EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte." Efes. 6:10


Ons generasie se idee van 'n sterk mens is iemand wat vaardig is; skerp, vindingryk, "positief" en pro-aktief. Dit is iemand wat al die antwoorde het en altyd 'n plan het, soos 'n MacGyver wat homself uit enige moeilike situasie kan wriemel met net 'n stukkie tou, 'n sakdoek en 'n paar vuurhoutjies. Die Bybel se idee van 'n sterk mens is ‘n bietjie anders. As jy reeds aan 'n kruishout vasgenael is, help jou vaardigheid, jou geniale insig en jou briljante kreatiwiteit nie meer nie. En dit is presies wat die Nuwe Testament leer oor dissipels van Jesus. Ons is ten volle geïdentifiseer met die kruisdood van Jesus, tot so 'n mate dat ons natuurlike krag, wysheid, intelligensie en bronne nie eers meer in die prentjie is nie. Dít is die groot uitdaging van dissipelskap en die essensie van die geloofslewe. Sal ons kies om swak en totaal afhanklik te wees sodat Jesus in en deur ons sterk kan wees of gaan ons aanhou om te leun op die 'arm van die vlees' en dan verwag dat God darem net so 'n ekstra handjie moet bysit vir die wis en die onwis? Eersgenoemde is volgens die Bybel die "wandel deur die Gees" en laasgenoemde die "wandel na die vlees".

Monday, 20 July 2015

HARTVERSTERKER

 “…want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…”  Heb. 13:9 


Daar is nie op hierdie aarde so iets soos ‘n hart wat nie soms op afdraaipaadjies wil stap nie. Die mees toegewyde dissipel van Jesus het “versterking van hart” nodig.  Ons teks in Hebreërs 13 sê dat die hart deur “genade” versterk moet word.  Daar is geen ander medisyne vir ons harte nie.  Niks in jou en my lewe is belangriker as die kondisie van ons harte nie, en ek praat nie van daai vier-kamer pomp aan die linkerkant van jou borskas agter jou ribbes nie.  Ons het nodig om gedurig blootgestel te word aan die boodskap van Jesus wat ons wysheid is sodat ons nie hoef te leef uit ons eie insig nie, ons geregtigheid is sodat ons nie hoef te streef om vir God aanvaarbaar te wees nie, ons heiliging is sodat ons nie uit ons eie krag hoef te probeer groei in toenemende heiligheid nie en ons verlossing is sodat ons nie nodig het om moedeloos te raak oor die toekoms nie (1 Kor. 1:30). God het “in Christus” volkome voorsiening gemaak vir alles wat jy ooit sal nodig hê.  Moenie probeer leef uit jou eie wysheid en krag nie, dit gaan jou hart vir seker laat afdwaal.  Leef uit ‘n hart wat gedurig onder die invloed van genade is.  Dit is werklik die énigste manier om ‘n betekenisvolle lewe te leef en ‘n getuienis van Jesus se oorwinning te wees te midde van die vervallenheid en hartseer van ‘n stukkende wêreld met stukkende mense.