Tuesday, 12 January 2016

DIE GLIMLAG VAN GENADE



“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” Johannes 17:24  

 “…want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…”  Hebreërs 13:9  

Jesus het ons deur Sy verlossingswerk gebring op ‘n plek waar ons kan leef in die glimlag van die Drie-Eenheid (lees die hele Johannes 17) en nou verwag God van ons dat ons met mekaar sal praat en saamleef vanuit die glimlag van genade.  Ons gee maklik vir ons kinders, veral wanneer hulle nog klein is, die glimlag van genade.  Dit is genesend, stigtend, en dit anker jou kind se hart in die tasbare liefde van ‘n ouer wat die Vaderhart van God verteenwoordig.  Natuurlik is daar ook in die lewe van ‘n kind, en ‘n dissipel van Jesus, tug en dissipline (Heb. 12:5-10).  Dit is egter juis in die sonskyn van die Vader se glimlag wat ons die hart agter die tugtiging raaksien en daarom reg reageer op die liefdevolle dissipline van ons Vader.  Hy verwag van ons om nie net vir ons kinders nie, maar ook vir ons mede-dissipels die glimlag van genade te gee.  ‘n Hart vol genade kan selfs met vermaning en teregwysing sonskyn bring.

“You fearful saints, fresh courage take;
The clouds you so much dread
Are big with mercy and shall break
In blessings on your head.

Judge not the Lord by feeble sense,
But trust Him for His grace;
Behind a frowning providence
He hides a smiling face.”  (William Cowper)

Friday, 8 January 2016

STOWWERIGE BYBELS WAT GETUIENIS TEEN ONS BRING



"En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle." Hebreërs 8:11

'n Wedergebore dissipel van Jesus het 'n inwonende leraar wat die Vader se stem vir hom as't ware hoorbaar maak wanneer hy die Bybel lees. Die openbaring van Christus en die gemeente in die Nuwe Testament ontsluit vir ons die plan van God vir ons lewens sodat ons nie nodig het om verward te wees of in die donker rond te tas op soek na waarheid nie. Die bedieninge van Efesiërs 4 vers 11 is deur God geplaas in die liggaam van Christus om die heerlikheid van die nuwe verbond so tasbaar te maak vir dissipels dat die Bybel 'n persoonlike avontuur word vir elkeen van ons. Dit was nooit bedoel om ons eie lees van die Bybel en persoonlike hoor van die Vader se stem te vervang nie!

God wil jou direk en persoonlik lei deur jou eie hantering van die Bybel. Dit is waarvoor Jesus Sy kosbare bloed gestort het. Daai Bybels wat so stof opgaar in ons huise sal 'n getuienis téén ons word as ons dit nie daagliks begin optel en lees met die geloof dat God persoonlik met ons wil praat nie.

Friday, 1 January 2016

DIE UNIVERSELE BANK VAN SEËNINGE


Aan die begin van ‘n nuwe jaar dink almal oor die verloop van hulle lewens en wat dit beteken om ‘n geseënde jaar te beleef.  Dit is ook dan die tyd wat familie en vriende seëninge oor mekaar uitspreek vir die jaar wat voorlê. ‘n Mens wonder soms of daar regtig outoriteit is agter hierdie seëninge wat ons oor mekaar uitspreek?  Beteken dit werklik iets of is dit maar net bedoel om ‘n aangename gevoel van welwillendheid by die ontvanger te skep wat vir so ‘n dag of twee hou?  Die waarheid is dat daar slegs outentieke seëninge kan kom van die Vader van ons Here Jesus Christus, die Koning en soewereine Heerser van die heelal.  Al Sý seëninge is eksklusief en alleenlik te vinde in Sy Seun.  Hy roep almal wat ware seën wil beleef op met die woorde: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” (Markus 9:7)  Die wat deur die wedergeboorte “in Christus” is, is alrééds geseën met “alle geestelike seëninge in die hemele”.  Hierdie seëninge is egter soos onbeperkte fondse wat vir ons beskikbaar is in die “Universele Bank van Seëninge”.  Ons kan slegs die volle voordeel daarvan beleef as ons “die woord van Christus ryklik in ons laat woon” (Kol. 3:16).  Dit is net in die Naam van Jesus wat ek by hierdie wonderlike hemelse “bank” kan trek wat ek nodig het vir seën in hierdie lewe.  En dit is net diegene wat die woord van Christus lees en bewaar wat weet wat vir hulle beskikbaar is in Hom en sodoende die heerlike voordeel van hulle hemelse bankrekening kan beleef.  Hierdie seëninge stel ons nie net in staat om ‘n geseënde lewe van “vrede en blydskap” (Rom. 14:17) te leef nie, maar ook om ‘n seën vir ander te wees. 

So hoe sal ek dan jou en jou geliefdes seën vir 2016?  Miskien kan ek dit doen met ‘n vraag of twee.  Het die “woord van Christus” ruim plek in jou hart soos wat jy volhard in die lees van die Bybel?  Indien nie, is jy van plan om hierdie jaar gedissiplineerd die Bybel te lees met ‘n verwagting om die volle seën van God se koninkryk te sien in jou lewe?  Op geen ander manier kan Jesus nommer Een wees in jou hart en lewe nie (Joh. 8:31) en as dit nie realiseer nie kan jy nie werklik ‘n geseënde jaar beleef nie, selfs al sou elke mens op die planeet persoonlik en spesifiek ‘n seën oor jou uitspreek.  Mag die Heilige Gees jou oprig in ‘n nuwe liefde vir die Woord en ‘n dissipline om dit jou eie te maak deur ‘n heerlike en vrugbare Godgegewe volharding.

Thursday, 24 December 2015

WANNEER GENADE SIGBAAR WORD



Genade is baie meer as net ‘n lekker warm gevoel in my binneste dat God my liefhet.  Genade loop altyd uit in waarneembare vrug! Wat is die “uitloopsels” van genade wat Paulus in Titus 2 vir ons neerpen?

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”  Titus 2:11-14 (OAV)

Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef. Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word. Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.”  Titus 2:11-14 (NLV)

Die gedeelte ontsluit vir ons die ryk inhoud van die evangelie en gee vir ons glashelder instruksies oor die inhoud van ‘n ware oorgawe aan hierdie heerlike evangelie.  Dit wys vir ons dat ‘n ware verstaan van die genade van God áltyd ‘n bepaalde en kenmerkende effek op mense het.  

Hoe lyk ons generasie van gelowiges in die lig van hierdie apostoliese openbaring van genade?  Sien ons die duidelike verband tussen genade en heiligheid, tussen genade en ‘n veranderde leefstyl, tussen genade en die uitsien na Jesus se wederkoms?

Thursday, 17 December 2015

WANNEER GOD MET ONS PRAAT IN DIE NAG



“Verder is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.”  Job 4:12-13

Die manier wat die Bybel die openbaringe en insig beskryf wat 'n mens soms in die nagure kry wanneer alles stil is en jy meer innerlik gefokus is, is aangrypend!  God kommunikeer voortdurend met ons, ons moet net seker maak dat ons luister.  Selfs in die nagure wil Hy ons leer en lei.

“Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.”  Psalm 16:7