Monday, 31 October 2016

DIE GESKENK VAN DIE EVANGELIE KAN NIE VERDIEN WORD NIE

Daar is niks meer tragies nie as 'n godsdienstige mens wat die heerlikheid van die evangelie mis omdat hy nie verby sy eie-geregtigheid kan sien nie. 

"Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie." Romeine 10:3 

Die "geregtigheid van God" is 'n geskenk wat God ons bied in Sy Seun (Rom. 5:17) en daar is absoluut niks wat ons kan doen om dit te verdien nie. 


Hierdie geregtigheid is die enigste basis waarop ons in die teenwoordigheid van 'n heilige God kan verskyn en in verhouding met Hom kan staan.  Dit is 100 persent gegrond op die verdienste van Jesus.  Een van die grootste redes waarom mense nie die evangelie met blydskap ontvang en gered word nie is omdat hulle 'n bydrae wil maak tot hulle eie redding.  Ons kan nie werk daarvoor nie.  Ons kan dit nie verdien nie.  Ons kan niks daar byvoeg nie.  Ons kan dit net in geloof en met dankbaarheid ontvang en dan begin om daaruit te leef.

Wednesday, 26 October 2016

VERANDER JOU BINNEWÊRELD DEUR DANKBAARHEID

"Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle." 1 Thessalonicense 5:18 

Dit is net verstommend om te beleef hoe 'n hartskuif van murmurering na dankbaarheid 'n mens se hele binnewêreld kan verander.  Die openbaring van God se onverdiende guns in Christus, lei onvermydelik tot 'n opwelling van dankbaarheid in ons harte.  Maar aan die ander kant beleef ons ook wonder bo wonder méér van God se genade wanneer ons 'n atmosfeer van dankbaarheid in ons harte en huise skep. 


Genade lei tot dankbaarheid en dankbaarheid ontsluit genade.  Dit is so 'n eenvoudige sleutel tot 'n lewe van vervulling in Christus en dit is binne bereik van alle dissipels, op alle vlakke van geestelike ontwikkeling.  Praat met jou hart en maak in geloof dankbaarheid wakker daar binne.  Dit is 'n slapende reus wat groot veranderinge in jou lewe kan bring, want dit ontsluit soveel ander verlossingswerklikhede wat in God se genade weggelê is vir ons.  

Monday, 24 October 2016

LEES EERS SELF

God skenk genadiglik leraars, predikers en skrywers vir Sy gemeentes en ons moet ten volle gebruik maak van hierdie gawes en bedieninge wat daar is vir ons seën en verryking in Christus (Efes. 4:11).  Maar aan die ander kant moet ons waak daarteen om kommentare te lees en na leringe te  luister oor 'n onderwerp of 'n spesifieke Skrifgedeelte voordat ons self by die oorsprong van die fontein, die Bybel, gaan drink het. 

Lees eers self die Bybel en laat die Heilige Gees toe om persoonlik met jou eie hart te praat.  Selfs al verstaan jy nie aanvanklik alles wat jy lees nie, moenie te gou gryp na jou Bybelkommentare of gunsteling leraars of outeurs nie.  Die gevaar daarin is dat jy bloot intellektueel met die Bybel begin omgaan en die wonder van God se lieflike innerlike bediening deur Sy Woord verbeur.  Moenie tevrede wees net met ander se insigte nie.  Daar is 'n proses van verstaan in jou eie hart wat baie kosbaar is en wat die Vader self vir jou deur wil neem.


Soms is daar polemiek oor 'n onderwerp in 'n gemeente of tussen twee dissipels van Jesus en dan kry ons vinnig ons kommentare en boeke uit om ons argumente te staaf.  'n Baie beter benadering sou wees om jou konkordansie of soekfunksie vir jou elektroniese Bybel te gebruik en die relevante teksgedeeltes of Bybelboeke sonder vooroordeel te lees en bepeins totdat die Heilige Gees jou persoonlik begin bedien oor die onderwerp.  Dan kan jy jou kommentare en ander boeke nader trek en met nederigheid en onderskeiding ook ontvang wat die Here vir ander dissipels gewys het in die Woord.  Laat ons gaan drink by die oorsprong van die fontein.  God nooi ons almal uit en wil groot dinge in ons harte doen as ons net bereid is om self te lees en bepeins.

Thursday, 20 October 2016

MEER AS OORWINNAARS, MAAR HOE?

"Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Romeine 8:36-37

Die oorwinning wat die evangelie vir dissipels van Jesus bring, moet altyd gesien word in die lig van geloof, hoop en liefde. Hierdie drie kwaliteite word so dikwels in die Nuwe Testament in 'n ryke verskeidenheid van kontekste saamgeflans deur die apostels. As ons dit begin raaksien in die Nuwe Testament gee dit vir ons verstommende insig oor die ware karakter van 'n dissipel se lewe op hierdie aarde.

Ons is geneig om vandag net binne die konteks van geloof aan oorwinning te dink, want ons generasie is so intens gefokus op die hier-en-nou. Wanneer ons egter die rykdom van die apostoliese gebruik van die terme geloof, hoop en liefde m.b.t. 'n oorwinnende lewe vir onsself begin toe-eien, is ons blydskap in die Here gewaarborg om eksponensieel toe te neem. Dan eers sien ons hoe God se werke in die verlede, hede én toekoms sáámwerk om vir ons oorwinning te bewerkstellig.


Paulus praat baie van geloof in die gedeelte van sy brief voor Romeine 8 verse 18 tot 39, maar gaan kyk bietjie hoe hy ook liefde en hoop hier laat saamvloei en dit die basis van ons oorwinning uitbeeld. Mag die Heilige Gees ons almal se oë oopmaak om ons oorwinning in Christus in die Bybelse konteks van geloof, hoop en liefde te sien.

Tuesday, 18 October 2016

VREEMDELINGE MET 'N VERSKIL

Met die vleeswording van Jesus 2 000 jaar gelede het die koninkryk van God kragtig in ons tyd en ruimte 'n verskyning gemaak en van daardie tyd af gaan die oproep uit na alle mense om hulle te bekeer en die goeie nuus van verlossing persoonlik toe te eien. Die boodskap was nooit bedoel om net 'n kaartjie hemel toe te wees wat ek eenmalig ontvang en daarna gaan ek aan met 'n onverloste lewe nie. Ons is nie net gered om hemel toe te gaan nie, maar om in die hier-en-nou van ons lewens die heerlikhede van die hemel te begin beleef.  As dissipels van Jesus is ons lewens ook bedoel om 'n vertoonvenster te wees van die onsigbare werklikheid van die hemel.

"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie." Mattheüs 5:14 


Aan die ander kant maak die Nuwe Testament dit ook baie duidelik dat ons nie moet leef vír die tydelike nie, maar juis vanuit ons hoop op 'n nuwe hemel en aarde heilig moet leef ín die tydelike.  In die boek Handelinge sien ons verstommende wonderwerke en deurbrake in die hier-en-nou, maar dit het nooit die apostels se boodskap verander nie, dat ons uitgered word uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4) om voorberei te word vir 'n nuwe hemel en aarde.  Ons belewenis van die "kragte van die toekomstige wêreld" (Heb 6:5)  is nie bedoel om ons so gemaklik te maak op hierdie aarde dat ons, ons sig op die nuwe hemel en aarde verloor nie.  Maar ons moet ook nie so gefokus wees op die ewigheid dat ons die kragtige werkinge van die Heilige Gees in ons hede misken, of selfs ontken, nie.  Ja, ons bly " bywoners  en vreemdelinge" (1 Pet. 2:11) op hierdie aarde, maar vreemdelinge met 'n verskil. Ons is mense wat kan getuig van 'n verlossing van ons ou sondige lewe en ook van 'n God wat teenwoordig is by ons en in ons in die hier-en-nou van ons lewens.  

Wednesday, 12 October 2016

DIE ARMOEDE VAN DIE VERSIE-LESERS

"Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan." Mattheüs 4:4 

Die Here kan soms baie spesifiek en vrugbaar met ons kommunikeer deur die regte vers op die regte tyd, maar as ons geestelike voeding bestaan uit 'n versie hier en daar sal ons nooit sterk word en volwassenheid bereik nie.  'n Kind wat leef op versnaperinge in plaas van 'n gereelde ordentlike bord kos gaan sieklik en ondervoed wees. 

Die hemelse Vader het 'n lieflike tafel van verlossing vir Sy kinders voorberei in die 66 boeke van die Bybel en verwag van ons om aan te sit en alles te eet wat vir ons voorgesit is.  'n Gasheer wat baie moeite gedoen het om 'n vyfgang maaltyd vir sy gaste voor te sit, sal diep teleurgesteld en beledig voel as hulle net peusel aan 'n lepeltjie sop en 'n happie of twee brood neem sonder om eers die hoofgereg te eet.  Die Bybelskrywers was profete en apostels wat soos briljante sjefs onder leiding van die Hoof van die huis 'n volledige maaltyd voorberei het vir die lesers (gaste).

As jy 'n versie-leser van gewoonte is, gaan jy geestelik skade ly, jy gaan nie volwasse word nie, jy gaan nooit jou potensiaal in Christus bereik nie, jy gaan nie 'n innerlike transformasie beleef wat Christus in jou na vore gaan bring nie (Rom. 12:2 en Gal. 4:19), jy sal nooit in staat wees om ander mense te help om geestelik te groei en sterk te word nie, en jy loop toenemend gevaar om mislei te word en op syspore te beland wat rampspoedig kan wees.  Wat 'n verskriklike prys om te betaal vir geestelike nalatigheid. 

Ek pleit vandag by jou in Jesus naam om jou weë te verander, selfs al is jy vir baie jare al net 'n versie-leser.  Gaan na God, bely jou sonde van nalatigheid en begin dadelik om hele Bybelboeke te lees soos wat die Heilige Gees jou lei.  Koop vir jou 'n studiebybel of maak gebruik van die honderde beskikbare hulpbronne op die internet wat agtergrond gee en jou sal help om 'n greep te kry op spesifieke Bybelboeke.  Maar die belangrikste is net om te lees, lees, lees.  Jy mag maar 'n geestelike vraat wees.  Eet jouself trommeldik aan dit wat God vir jou voorsit.

"Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig." Jesaja 55:2 


Daar wag baie aangename verrassings vir jou as jy jou hart en lewe rig om dit te begin doen.  God belowe oor en oor dat Hy deur Sy Woord groot omwentelinge in en deur ons sal bring wanneer ons ernstig raak oor die Bybel en ons harte instel om te hoor en gehoorsaam.  Mag Hy ons almal 'n diep honger en dors gee om Sy Woord te hoor, te bewaar en te gehoorsaam in die krag van die Gees.  Dit is die enigste pad van oorvloedige seën in Christus Jesus.  Lees Psalm 1, Psalm 19, Psalm 119 en Spreuke 2:1-11 as jy twyfel oor my laaste stelling.

Monday, 10 October 2016

DIE WÊRELD IN DIE KERK

Wat is die groot verskil tussen die wêreld en die kerk en hoe kan ons onderskei of die wêreld gemeentes of denominasies binne gedring het?

"Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?  23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.Johannes 14:22-23 

Ware dissipels bewaar die woord van Jesus.  Dit is so eenvoudig soos dit.  Jesus self het hierdie standaard gestel en die toets vir ons liefde neergelê.  As ons sê ons is lief vir Jesus moet ons ook lief wees vir Sy woord.  Ons kan en mag nooit Jesus skei van Sy woord nie. 


Dit gaan ook nie in die eerste plek oor die verdediging van ons groep of denominasie se leerstellings nie, maar oor absolute lojaliteit aan Jesus en kinderlike gehoorsaamheid aan dit wat die Vader ons self leer uit die Bybel.  Kortliks, as ons bely dat Jesus die Here is, sal absolute onderwerping aan Sy woord die kenmerk van ons lewens wees.  Daar is so 'n grootskaalse vermenging van die kerk en die wêreld in ons generasie dat hierdie stelling van Jesus in vers 23 dringend ons aandag eis.