Wednesday, 31 May 2017

EEN FOKUS EN EEN DOEL

Die Nuwe Testament het een enkele fokus en een enkele doel. As jy dit raaksien, sny jy letterlik deur honderde hedendaagse verwarrings en kry antwoorde vir honderde vrae oor kerk, leierskap, teologie, die regte benadering tot die Bybel, en noem maar op. Is dit 'n oorvereenvoudiging? Oordeel self.

Die een fokus van die Nuwe Testament is Jesus. Hy is ons weg tot die Vader, die Doper met die Gees, die Hoof van die gemeente, ons Bruidegom, ons geregtigheid, ons lewe en ons heiligmaking. En dit is maar net enkele van die Bybelse beskrywings van hierdie wonderlike Persoon wat ons alles-in-alles geword het deur Sy dood en opstanding.

Die een doel van die Nuwe Testament is die vorming van ons karakter ín hierdie onvergelyklike Christus sodat ons verhouding met God en mekaar net dieper en meer kosbaar kan word. Die Nuwe Testament praat op dosyne verskillende maniere van die karaktervorming van 'n dissipel van Jesus met die doel om gelykvormig te word aan Sy beeld (Rom. 8:29).


Wat dan van die gemeente wat so prominent is in die Nuwe Testament? Hier is die interessante; die gemeente word gevorm en gebou vanuit die een fokus met die een doel. Ons verhoudings met mekaar is volgens die N.T. in en vanuit Christus en die groei van die ligaam vind net in werklikheid plaas as die individue in die gemeente in hulle karakters meer word soos Jesus. Slegs dan is daar 'n ware organiese en praktiese eenheid onder die gemeentelede. Die satan se strategie is om honderde ander fokusse en doelwitte in te voer en so verwarring te bring in gemeentes. Keer terug na die een fokus en een doel van die N.T. en die ander dinge sal sekerlik in plek begin val. God waarborg dit.

Monday, 29 May 2017

JESUS AFGESNY VAN SY KRUIS EN SY GEESTELIKE LIGGAAM

Jesus het nooit in Sy bediening op aarde toegelaat dat enigiemand op enige ander basis as die kruis (met die uiteindelike vorming van die "liggaam van Christus" ten doel) met Hom 'n assosiasie vorm nie.  Dit is die wese van Bybelse dissipelskap.

"Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg." Mattheüs 16:24 

Dit is onmoontlik om Jesus se missie werklik te verstaan as ons nie insien dat Hy tydens Sy aardse bediening heeltyd Sy kruis en Sy liggaam (die "liggaam van Christus") voor oë gehou het nie.   Net daar aan die kruis kon die "ou mens" met al sy belange en belangstellings (ook godsdienstige belange en belangstellings) getermineer word. En slegs op daardie basis kon die "een nuwe mens" (Efes. 2:15) gevorm word op opstandingsgrond. Hierdie "een nuwe mens" is die liggaam van Christus wat in universele eenheid veronderstel is om die missie van Jesus op hierdie aarde voort te sit.  Dit is wat Jesus ten doel gehad het in Sy hele bediening op aarde en dit is wat Hy steeds ten doel het met Sy intersessie aan die regterhand van die Vader. 

As ons dus praat ván Jesus en Sy naam oor ons lippe neem sonder om te sien wat Hy verwag van ons in al ons gesprekke óór Hom, sny ons Hom as't ware af van Sy kruis en Sy liggaam en skep ons 'n karikatuur van Hom wat vreemd is aan die Skrif.  Dit het ook baie spesifieke betrekking op evangelisasie. 


Kom ek maak dit baie prakties om begrip van wat ek wil oordra te probeer verseker.  Gebruik ons Jesus se naam om ons eie ding te doen en kerk-kerk te speel?  Gebruik ons Sy naam om ons eie institusies, denominasies en mega-gemeentes te bou? Doen ons dit sonder begrip of in agname van Sy alles-insluitende en ou-mens-terminerende kruis en die gevolglike vorming en opbou van Sy universele liggaam?  As ons dít doen is ons steeds besig met die godsdienstige belange en belangstellings van die "ou mens".  Dit sal nooit God se goedkeuring wegdra nie.  Inteendeel...

Monday, 22 May 2017

'N BETER AFTREDE OF 'N BETER OPSTANDING?

Abraham, die vader van ons geloof, het volgens Hebreërs 11 geleef met sy oë op die nuwe Jerusalem (Openb. 21:1-3). 

"Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." Hebreërs 11:10

Sy visie op die Godstad het sy lewe regeer en al sy besluite beïnvloed. Sy oë was gerig op iets aan die ander kant van die tydelike en natuurlike. Ons het vandag 'n baie meer volledige prentjie van God se heilsplan as wat Abraham gehad het, maar waar is ons oë gerig? Sien ons wat hy en die ander geloofshelde in Hebreërs 11 gesien het? Ons is veronderstel om 'n baie helderder visie as hulle te hê, maar het ons? As mens luister na gesprekke vandag klink dit in alle eerlikheid asof baie van ons meer besorg is oor 'n beter aftrede as 'n beter opstanding.

"Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry." Hebreërs 11:35


Iewers het ons generasie 'n verkeerde idee van geloof opgetel en dit beïnvloed ons hele wêreldbeskouing. Mag God ons genadig wees en ons terugbring by Bybelse geloof. 

Wednesday, 17 May 2017

NET DIE NEDERIGES HEERS IN HIERDIE KONINKRYK

Ek kan nie aan die een kant wil staan op my identiteit in Christus en met vrymoedigheid praat daaroor, terwyl ek aan die ander kant steeds vashou aan my eie wysheid, krag, besittings, eer, status, ensovoorts nie.  Volg maar hierdie lyn regdeur die Bybel en dit sal vir jou glashelder duidelik word dat God nooit, maar nooit, enigiemand in enige posisie in Sý koninkryk plaas wat nie eers in nederigheid die knie gebuig het voor Hom nie.

"Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52 

Alle ware dissipels van Jesus het regtens deel aan Sy heerskappy in die hemel met die doel om God se wil te laat geskied op aarde.  Dit is 'n logiese gevolgtrekking op grond van Paulus se groot stelling in Efesiërs 2.

"En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6


Dit is daarom nie verkeerd om in geloof te staan op die uitsprake wat God self oor ons maak in Christus en om dit met vrymoedigheid te bely nie.  Solank ons net onthou dat ons verhoging in Christus plaasgevind het aan die ander kant van 'n erkenning dat ons in onssèlf niks is of het nie.  Hierdie nederige belydenis bly die basis van alles wat ons in Christus het en ontvang het.

Monday, 15 May 2017

DIE SAAM-VERSTAAN VAN 'N WARE HARTSEENHEID

Die boek Efesiërs is die boek in die Bybel met die diepste openbaring van die gemeente en in hierdie boek word daar 'n besondere klem gelê op die eenheid van die liggaam van Christus en die kosbare voordele van hierdie eenheid.  Let wel dat dit die eenheid van 'n liggaam is, 'n organiese eenheid, nie 'n organisatoriese eenheid nie.  Dit is net in hierdie organiese eenheid wat ons die heerlikhede van die evangelie met mekaar kan deel op 'n wyse wat 'n begrip en verdieping bring wat nie andersins moontlik is nie. 

"En julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp..."  Efesiërs 3:18 


Die uiterlike eenheid van 'n godsdiens-institusie is net eenvoudig nie in staat om hierdie geestelike werklikhede te verwesenlik nie.  Leef jy in die heerlike saam-verstaan van 'n ware hartseenheid met ander dissipels van Jesus of bevind jy jou in 'n woestyn van "formele kerk-verhoudings" en verwaarloosde verbintenisse.  Eersgenoemde is jou erfenis in Christus.  Moet dit nie verbeur nie.  Soek dit met jou hele hart!  As jy dit reeds beleef, koester dit soos 'n kosbare skat.

Thursday, 11 May 2017

DIE KRUIS, DIE KERK EN DIE KONINKRYK

Sonder die kruis is die kerk (gemeente) nie meer die kerk nie en sonder die ware kerk kan die koninkryk van God nie floreer nie.  In 'n sin gaan die hele Nuwe Testament oor hierdie drie dinge.  Die kerk bestaan net op opstandingsgrond en niemand kan op daardie grond kom staan wat nie eers die sterwe saam met Christus in geloof omhels het nie.  God bou nie Sy gemeente met die "ou mens" (ou skepping) nie, maar met die nuwe skepping.

"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."  2 Kor. 5:17

Dit is heeltemal reg om te sê die tema van die hele Bybel is die koninkryk van God, maar hoe funksioneer daardie koninkryk op aarde?  Eers die kruis, dan die kerk, dan die koninkryk.  Geen kruis, geen kerk en geen kerk, geen koninkryk.  Die kerk bestaan nie vir haarself nie, maar vir die uitbreiding van die koninkryk van God. 


Die kruis, net die kruis, sny alle ander lojaliteite af en wen ons harte om aan Jesus alleen te behoort. Hierdie toewyding aan Jesus vorm die kerk.  Dit is inderdaad die essensie van die kerk (Openb. 2:4-5).  As ons terugkeer na die volle verkondiging van die kruis sal die essensie van die kerk herleef en so sal die koninkryk van God op aarde sigbaar word.  Lees Mattheüs 16:15-28 en kyk bietjie hoe Jesus hierdie boodskap helder en duidelik aan Sy dissipels oordra.

Monday, 8 May 2017

DIE KONSTANTE FEES VAN INNERLIKE VERVULLING

"En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet." Handelinge 2:46

Wat 'n lieflike prentjie word vir ons hier geskets van die daaglikse lewe van die eerste gemeente. Wat 'n vreugde is dit nie as mense kan saamleef met innerlike vervulling en dankbaarheid. Dan raak selfs 'n eenvoudige ete 'n fees!

Daarteenoor staan die hebsugtige lewe van die wêreld wat net nooit genoeg kan kry nie en selfs met oorvloed nooit werklik vervuld is nie.

"Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie!" Spreuke 30:15


Leef jy in die konstante fees van innerlike vervulling of is jou dae gevul met die nimmereindigende soeke van onvergenoegdheid?