Monday, 16 April 2018

DIE OPROEP TOT EENHEID IS NIE KINDERSPELETJIES NIE


In die eerste hoofstukke van 1 Korinthiërs waarsku Paulus herhaaldelik die gemeente in Korinthe teen onenigheid in hulle geledere.  Hierdie onenigheid was in die konteks duidelik die gevolg van intellektuele hoogmoed (sien bv. 1 Kor. 3:18-20) en die onvermoë om te dink vanuit die nuwe perspektief  in Christus (1 Kor. 2) wat die evangelie veronderstel was om by hulle tuis te bring.  In hoofstuk 3 sê Paulus reguit vir hulle dat hierdie onenigheid wys dat hulle nog "vleeslik" is en dink soos mense wat nie die Gees van Christus ontvang het nie (sien 1 Kor. 2:9-16). 

"Omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie? "
1 Kor. 3:3-4

Aan die einde van hoofstuk 3 eindig Paulus sy pleidoo vir eenheid met 'n skrikwekkende waarskuwing wat ons almal eintlik regop moet laat sit om met gespitste ore die toepassing te maak in die era van grootskaalse onenigheid waarin ons onsself bevind.

"Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle." 1 Kor. 3:16-17

"As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle." 1 Kor. 3:16-17 (NAV)

Sjoe, Paulus sê in effek hier dat as 'n mens volhard in partydigheid, twis en tweedrag jy skade doen aan die heilige tempel van God wat organies saamgestel is deur alle wedergebore kinders van God.  As jy dit willens en wetens doen, gaan God jou, volgens die apostel Paulus, straf of nog sterker in die OAV, "skend".  Ons Vader het baie genade en geduld met ons almal in ons persoonlike wandel, maar hier sien ons daar is een ding wat baie vinnig die hand van God vir dissipline in beweging kan bring as ons nie die heiligheid van hierdie geestelike tempel (die liggaam van Christus) eer deur "die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede" nie.  Heel waarskynlik sluit dit ook onenigheid, twis en tweedrag in tussen dissipels van Jesus in een huisgesin. 

Thursday, 12 April 2018

EENHEID IS NIE EENVORMIGHEID NIE

"Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening." 1 Korinthiërs 1:10 

Wat op aarde bedoel Paulus hier?  Sou hy steeds daardie stelling gemaak het 2 000 jaar na Christus met die ontwikkeling van honderde fokusse en opinies in die geskiedenis van die kerk?  Moet ons steeds "verenig wees in dieselfde gesindheid en dieselfde mening"?  En hoe strook "dieselfde gesindheid en mening" met die letterlik honderde verskillende denominasionele aksente en klemme?  Kan ek net "dieselfde gesindheid en mening" handhaaf met mense wat in my eie denominasie is?  Ek lê aan jou voor dat dit in Bybelse terme absurd is om te dink dat hierdie teks ooit so geïnterpreteer kan word.

Dit is juis teen hierdie geneigdheid (a.g.v. die gevallenheid in ons) om net te wil assosieer met mense wat oor "alles" met my saamstem waarteen Paulus hier waarsku (sien verse 11 en 12). Ek plaas die "alles" in aanhalingstekens, want dit is in elk geval 'n mite dat mense in dieselfde denominasie oor alles saamstem m.b.t. die Christelike geloof. Die meeste mense weet, in alle eerlikheid, nie eers wat hulle eie denominasies werklik glo of presies hoe die ander glo wat saam met hulle in een denominasie is nie.

Die eenheid wat Paulus van praat is eenheid in die evangelie.  Die boodskap m.b.t. die dood en opstanding van Jesus Christus wat dit moontlik gemaak het vir verlore sondaars uit elke stam en taal en volk en nasie om gered te word deur geloof alleen en om sodoende 'n hoop te hê op "nuwe hemele en 'n  nuwe aarde waarin geregtigheid woon" (1 Kor. 15:1-4 en 2 Pet. 3:13).  Op grond van hierdie boodskap word ons verlos van ons hoogmoed en vooroordele teenoor ander en kan ons 'n liefde teenoor mede-dissipels openbaar wat vir die wêreld wys dat Jesus werklik die Verlosser en Koning is. Veral in die maníer wat ons van mekaar verskil!

"Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het." Johannes 13:35 

"Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het." Johannes 17:21

Daar staan nie "hieraan sal almal weet dat julle denominasie my dissipels is, as julle liefde het vir almal wat in julle denominasie is" nie.  Ook nie, "dat almal in dieselfde denominasie een mag wees..." nie.  Of, "dat hulle ook in terme van hulle perfekte eenvormigheid in teologie en tradisie met almal in hulle denominasie een mag wees" nie, maar "dat hulle ook IN ONS (d.m.v. die evangelie hier geïmpliseer) een mag wees"! 

Die uitdaging vir ons na 2 000 jaar se kerkgeskiedenis en honderde verskillende tradisies, opinies en fokusse is om vanuit die enkele fokus op die Persoon en Verlossingswerk van Jesus (die evangelie) die "eenheid van die Gees" te bewaar en om in liefde en geduld ons verskille (waarvan ek net 'n paar genoem het verlede keer in "Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe") met mekaar m.b.t. ander aspekte van teologie aan te hoor.  Solank ons net op 'n volwasse manier en vanuit die Bybel (op grond van ons eie oortuiging en gewete, nie 'n groep of gunsteling leraar s'n nie) met mekaar gesprek voer en nie met 'n heethoofdige gesindheid of 'n politiese en sektariese gees wat ten alle koste ons eie tradisies, fokusse en voorkeure wil verdedig nie.  Die Nuwe Testament roep ons gedurig op om te dink, te leef en te redeneer vanuit één enkele fokus.


"Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!" Mattheüs 17:5

Monday, 9 April 2018

BEWAAR DIE EENHEID VAN DIE GEES...BEHALWE


"Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,  met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra  en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede." Efesiërs 4:1-3 

Paulus vermaan gelowiges om ernstig te strewe om die eenheid van die Gees te bewaar met alle ander mense wat waarlik wedergebore is en daarom "in Christus" is.  Ek wonder of Paulus hierdie opdrag bietjie sou aanpas as hy vandag geleef het?  Miskien sou dit 'n aansienlike langer inleiding vir Efesiërs hoofstuk 4 gewees het.  Iets soos; bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met mense wat Gereformeerd is en nie glo aan vrye wil nie.  Of bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met "broers" wat nie Calviniste is  nie.  Bewaar die eenheid van die Gees, behalwe as jy glo aan "eenmaal gered, altyd gered" en jou "broer" nie.

Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo aan spreek in tale en jou "broer" glo nie daaraan nie. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy 'n amillenialis is en jou "broer" 'n premillenialis. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy nie na Angus Buchan byeenkomste gaan nie en jou "broer" wel. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy net die King James vertaling lees en jou "broer" lees ander vertalings. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo Jode gaan uiteindelik almal terug gebring word na hulle land en jou "broer" glo dit nie.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe  as jy vernuwingsliedjies sing en jou "broer" net ou Psalms en Gesange.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" in 'n ander denominasie is wat nie so ingelig of andersins so histories gefundeerd is soos joune nie.  Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" enigsins nog in 'n denominasie is en jy dit lankal vaarwel toegeroep het.

Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe, behalwe, behalwe.  Hmm, miskien moet ons maar hierdie eenheid storie los.  Wat dink jy?

Wednesday, 28 March 2018

GEESTELIKE ONVERGENOEGDHEID



In Christus het ons reeds alles ontvang wat ons ooit sal nodig hê.  Ons is volkome in Hom.  Hy is ons wysheid, geregtigheid, heiliging en verlossing.  Ons is voor ons nog 'n enkele ding gedoen het reeds "sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul".  Ons is klaar geseën met álle geestelike seëninge in die hemele in Christus.  Ons het reeds die diepste moontlike eenheid met alle mense wat in Christus is deur die wedergeboorte.  Ons moet net hierdie "eenheid van die Gees" bewaar "deur die band van die vrede" (Efes. 4:3).

Op grond van hierdie en honderde soortgelyke nuwe skeppingsrealiteite in Christus word ons opgeroep om 'n geesvervulde lewe van oorwinning en diensbaarheid te lei ongeag ons omstandighede op hierdie aarde.  Ons staan onder opdrag om die "dinge wat daarbo is te bedink", omdat ons lewens reeds nou-al "saam met Christus verborge is in God"(Kolossense 3:2-3).  Ons is dus reeds vervuld in Christus, maar ons moet aanhou om die volle manifestasie van hierdie volheid uit te leef op aarde.

In ons begeerte om hierdie lewe van oorwinning in Christus in geloof te realiseer gebeur dit egter soms dat ons geestelik onvergenoegd raak en as't ware vergeet wat ons reeds in Christus ontvang het.  Veral as ons nie in die rus van die Here ingaan en ons oë op Hom kry nie.  Hierdie onvergenoegdheid bly ongelukkig nie net by onsself nie, maar dit spoel gewoonlik oor na ons gemeente en ons belewenis van ons gemeente.  Dan is dit nie lank nie of ons begin ly aan wat ons kan noem die Elia Sindroom.

"Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie."  Romeine 11:3-4

Elia het gedink almal in Israel het teruggeval en hy was die enigste een wat God nog werklik gesoek het.  Vir seker het ons nodig om die ware situasie van ons lewens en ons gemeentes akkuraat te assesseer.  Maar laat ons nie verval in geestelike onvergenoegdheid nie.  Dit het die potensiaal om baie mense om ons negatief en krities te maak.  Kom ons begin waar God begin; by die oorwinning van Sy Seun, m.a.w. by die evangelie.  Vanuit daardie hemelse posisie kan ons die probleme hier op aarde aanspreek sonder om in 'n slaggat van onvergenoegdheid te beland.

Wednesday, 21 March 2018

NIEMAND ANDERS KAN DIE PAD VIR JOU STAP NIE


"Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing." Filippense 2:12

Die doel van mentors,  preke,  leringe en boeke is om jou op jou voete te plaas sodat jy jou eie pad van geloof kan stap.  Daar is duisende wat so afhanklik is van ander se geloof dat hulle nooit op hulle eie voete kom en die pad self begin stap nie.

Ongelukkig is daar ook honderde bedieninge vandag wat mense hou op 'n plek van onvolwassenheid en gedurige afhanklikheid van ander.  Daardie bedieninge sou nooit kon floreer as daar nie so baie was wat ander soek om die pad vir hulle te stap nie. Staan op in geloof en begin om jou eie pad te stap. Hierdie opstaan kan net gebeur as jy begin om self die Bybel te lees, glo en gehoorsaam. Net mense wat hulle eie Bybel lees en verslind, stap hulle eie pad in geloof. 

Monday, 19 March 2018

NEDERIGHEID, GEBROKENHEID EN SWAKHEID MET 'N DOEL


"Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God." 2 Korinthiërs 13:4 

Die kruisdood van Jesus Christus is die sentrale gebeurtenis van die Nuwe Testament en van die hele Bybel.  Net aan daardie kruis demonstreer God vir alle mense in alle tye dat Sy krag radikaal anders werk as die bose magte van die duisternis en die modus operandi van die gevalle mensdom.  Sy krag "word in swakheid volbring" (2 Kor. 12:9).

Die hele Nuwe Testament getuig deurlopend van die andersom manier wat God dinge gedoen kry op hierdie aarde.  God werk deur nederigheid, gebrokenheid en swakheid.  Hy stel nie belang in menslike mag en posisie nie.  Hy keer die wêreld om deur eenvoudige vissermanne en wanneer hy 'n hoog-geleerde man soos Paulus aanraak en uitstuur, stroop Hy hom eers geheel en al van sy eie wysheid en geregtigheid (sien 1 Korinthiërs 1 en 2). 

God sal ons ook op geen ander manier gebruik in Sy diens nie.  Wanneer 'n mens dit begin verstaan val daar soveel menslike planne, organisasie en slimmigheid weg, maar daar is 'n ander gevaar wat dan na vore tree.  Ons kan so begin fokus op die nederigheid, gebrokenheid en swakheid dat ons vergeet die doel van God met hierdie gebroke voorwerpe/kruike is om Sý heerlikheid en krag bekend te maak.  Laat ons die volle werking van die kruis in ons lewens omhels, sonder om egter te vergeet dat ons in geloof moet verwag dat die krag van die Heilige Gees ín hierdie proses na vore sal tree in ons lewens.  Gaan bietjie terug na die Nuwe Testament en let op hoe swakheid en Goddelike krag altyd saam geloop het en 'n wonderlike manifestasie van Jesus in allerlei omstandighede teweeg gebring het.

Wednesday, 14 March 2018

GEBARSTE REËNBAKKE

"Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie."  Jeremia 2:13 

God alleen is "die fontein van lewende water" en Sy kinders het die voorreg om in gebed van hart tot hart met die lewende God te kommunikeer om sodoende te drink en ontvang van hierdie onuitputlike fontein. Maar dan moet ons verstaan dat ware gebed in sy essensie te doen het met net één wil, God s'n.  Gebed is dan in 'n sin ons vereniging met die wil van God deur ons diepe afhanklikheid van die Heilige Gees in ons nadering tot God op grond van die bloed van Jesus. 

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romans 8:26 

In Handelinge 4 (en baie ander plekke in Handelinge) sien ons dat die gemeente van die Here in absolute afhanklikheid van die Heilige Gees gebid het en dat dit nie net gelei het tot beantwoorde gebed nie, maar ook tot toenemende bekragtiging deur die Gees.  Let ook op dat hulle gebede primêr gerig was op die verkondiging van die evangelie aan 'n verlore mensdom.

"En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,  deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.  En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek." Handelinge 4:29-31 

So wat moet ons dan, in die lig van die Bybelse data, sê van die moderne tendens om via whatsapp en ander kanale standaard/templaat "gebede" uit te stuur wat mense oproep om allerhande "verklarings" te maak oor wat ons eis moet gebeur?  Dit wil voorkom asof die mense wat hierdie "gebede" saamstel werklik glo dat as *duisende Christene  almal saam hierdie "verklarings" maak dit ongetwyfeld 'n werklikheid moet word.  Verklaar ons dan nie "in geloof" al die positiewe dinge en maak dit sodoende deur ons korporatiewe positiewe belydenis 'n realiteit nie?  Die kort antwoord is, nee.  Ongelukkig nie.  Ware gebed is 'n eenwording met God se wil in afhanklikheid van die Heilige Gees sodat ons in die oomblik kan bid wat op Gód se hart is.

Is dit verkeerd om via die moderne media dringende behoeftes bekend te maak en oproepe te maak vir dissipels van Jesus om eendragtig te bid?  Nee, sekerlik nie.  Maar die praktyk om templaat gebede uit te stuur wat primêr bestaan uit "verklarings" en bitter min afhanklikheid en ware petisie voor 'n soewereine God is 'n gebarste reënbak wat nie water kan hou, kan voorsien of kan bring nie.  Miskien moet ons eerder 'n slag die boek Handelinge indringend bestudeer en gaan kyk hoe die vroeë gemeentes gebid het en hoekom hulle so 'n impak gehad het.


* Hoe meer hoe beter; daarom dikwels die opdrag of soms selfs verskuilde dreigement/veroordeling "moenie hierdie ketting breek nie".