Wednesday, 23 January 2019

VERBORGE WYSHEID VIR 'N VERWARDE GENERASIE

Toe Jesus op aarde was het Hy geleef uit die hart van Sy Vader.  Hy het Sy antwoorde by Sy Vader gevind en gespreek uit 'n Bron van wysheid wat nie vir die natuurlike mens toeganklik is nie (1 Kor. 2:14).

Ons generasie het so baie kennis en amper onbeperkte toegang tot informasie.

"Maar die wysheid—waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?" Job 28:12 

Daar is 'n plek van geloof waar die mens sy rug keer op sy eie intellek en slimmigheid sodat Christus sy Bron van wysheid kan word.  Hierdie wysheid lyk anders as die wêreld se idees en dit opereer net via die kruis.

Dissipels van Jesus in ons generasie het dringend nodig om op te hou drink van die wêreld se besoedelde fonteine en terug te keer na ons ewige Bron van wysheid in Christus.  Dit verg egter vertroue en kinderlike afhanklikheid.  En ook geduldige geloofsvolharding sodat daardie verborge wysheid tyd het om gevorm te word in ons harte.

"Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona." Matt. 12:39 

"Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is." Kolossense 2:3 

"Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid." 1 Kor. 2:7 


"Maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God." 1 Kor. 1:24  

Wednesday, 5 December 2018

TOETS JOU GEESTELIKE GESONDHEID HIERAAN


Bybelse redding en gevolglike geestelike gesondheid en groei gaan nie net oor 'n belydenis (Mt. 7:21) of 'n geloofsoortuiging (Jak. 2:19) nie.  Dit gaan ten diepste oor dit wat vir ons waardevol is en die manier wat ons dan omgaan met hierdie "skat" wat ons ontdek het, relatief tot die skatte van die wêreld.

"Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.” Mattheüs 13:44 


"Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?" Mattheüs 16:26  

Daar is geen aardse skatte wat 'n mens se siel kan loskoop van die ewige verderf nie, maar die manier wat jy aardse skatte hanteer wys wel of jy al die "skat in die saailand" ontdek het. 
Christus is die "skat in die saailand" en as jy hierdie skat werklik ontdek het, is jy bereid om alles op te gee om te groei in kennis van Hom.

"Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry." Filippense 3:7-8 

As Christus werklik vir jou die "skat in die saailand" is, sal jou gesprekke, die manier wat jy omgaan met tyd en geld, en elke aspek van jou lewe getuig van dit wat vir jou bo alles kosbaar is.  Ware dissipels se waardestelsel is radikaal anders as die wêreld s'n.  So radikaal dat dit baie gou sigbaar word vir almal rondom hulle.  Is jou geloof (waardestelsel) so sigbaar?

Jim Elliot het gesê: "He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose."

Monday, 26 November 2018

VERANDER JOU PERSPEKTIEF, VERANDER JOU LEWE


Kyk jy na die hemel van die aarde af of na die aarde van die hemel af?

"En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie." Johannes 8:23 

Jesus verklaar onomwonde vir die Jode van Sy dag dat Hy nie uit hierdie wêreld is nie.  Jesus het nie na die hemel gekyk van die aarde af nie, maar na die aarde van die hemel af. 
Een van die mees verstommende waarhede van die Nuwe Testament is dat alle wedergebore mense nou in 'n sin presies dieselfde kan sê.  Oorweeg net die volgende tekste as 'n voorbeeld hiervan:

"Julle het saam met Christus gesterwe...Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort?" Kolossense 2:20 (NAV)

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

As jy na die hemel kyk van die aarde af is al jou belange en jou "skatte" steeds hier in die tydelike en dan is jou hart ongelukkig ook op die verkeerde plek (sien Lukas 12:33-34).  Dan leef jy maar jou "eie lewe" in die hier-en-nou en vra God om jou planne en projekte te seën; jy *"trek kort op sestig pensioen en raak met God en mens versoen". En dan daar in die ouetehuis het ons mos baie tyd om te begin dink oor die hemel. Of hoe?

Ware dissipelskap is iets totaal anders. Dit begin by 'n radikaal ander perspektief. Gaan kyk maar hoe Jesus in die evangelies mense roep om 'n hemelse identiteit te omhels en aanvaar, soos wat hulle wegdraai van die aardse. Dit gebeur natuurlik eers volledig wanneer 'n mense geestelik weergebore word (Johannes 3).  Daarom word die briewe van die Nuwe Testament geskryf uit die perspektief van die hemelse.  Daar word gekyk na die aarde van die hemel af.  As jy hierdie punt mis, gaan jy regtig nie veel verstaan van die Nuwe Testament nie en jy gaan gevolglik ook nie werklik verstaan wat dit beteken om Jesus te volg nie. 

Die hele Nuwe Testament roep ons op om ons perspektief te verander.  In die proses van bekering sien 'n mens skielik jou lewe uit God se perspektief.  Na wedergeboorte verwag God dan van ons om nooit weer terug te val na 'n aardse perspektief nie.  As jy eers die Nuwe Testament in hierdie lig begin lees, maak dit vir jou al hoe meer sin en raak hierdie "vernuwing van denke" vir jou kosbaar en lewensveranderend.

* Aangehaal uit 'n gedig van S.V. Petersen.

Wednesday, 21 November 2018

GOD SE PLAN VIR SY GEMEENTE: GEREFLEKTEERDE HEERLIKHEID


Die heerlikheid van die Nuwe Verbond is 'n gereflekteerde heerlikheid. 

"Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18  (NAV)

Soos wat ons wegkyk van onsself, wegkyk van ander mense, wegkyk van ons omstandighede, wegkyk van sorge en die verleiding van Mammon, wegkyk van alle afleidings (distractions) en albei ons oë plaas op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof (Heb. 12:2), begin ons om die heerlikheid van hierdie onvergelyklike Jesus toenemend te reflekteer.

"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense." 2 Korinthiërs 3:2 

"En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was." Handelinge 6:15 

Hierdie heerlikheid is nie van ons, uit ons of deur ons eie toedoen nie, maar dit is wel ín ons, omdat Christus in ons leef (Gal. 2:20). 

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie." 2 Korinthiërs 4:7 

Daarom is die groot oproep van die Nuwe Testament, geloof! Die Heilige Gees probeer ons aandag kry sodat Hy daardie aandag eksklusief op Jesus kan fokus. Dit verg onwrikbare en amper hardkoppige geloof om weg te kyk van die honderde dinge wat daagliks skree vir jou aandag.

 Die tyd raak min. Gaan ons generasie van gelowiges die moed van ons oortuiging (geloof) hê om weg te kyk van die antieke vérleidings plus al die moderne áfleidings (bv. elektronika ad infinitum) sodat ons met groter krag die heerlikheid van Jesus kan reflekteer aan 'n bose geslag?

Monday, 19 November 2018

EK SAL GEE WANNEER EK MEER HET OM TE GEE

Ons het verlede keer gesien dat die hemelse ekonomie funksioneer op grond van die beginsel van vrygewigheid; die vryelike vloei uit 'n hart wat oorloop van dankbaarheid en vervulling in Christus.

Net hier is daar egter 'n baie algemene beswaar wat opkom in die menslike hart, naamlik dat sommige dissipels meer as genoeg het en daarom kan bekostig om vrygewig te wees, maar ek sal gee wanneer ek meer hét om te gee.  Eintlik wil ek baie graag gee, maar ek het net nie nou om te gee nie.  Wat is Jesus se respons op hierdie beswaar?

In Lukas 21 verstom Hy weereens Sy dissipels deur vir hulle te demonstreer dat die koninkryk van God anders werk as die wêreld.

"En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.  En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.  En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.  Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe." Lukas 21:1-4 

Weereens sien ons dat God kyk na die kondisie van die menslike hart.  Mense kyk na die uiterlike, maar God wil weet wat in ons harte aangaan. Die arm weduwee het uit haar hart uit gegee en sy het opofferend gegee.  Ons sien presies dieselfde in 2 Korinthiërs 8:

"Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het.  Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid." 2 Korinthiërs 8:1-2  (NAV)


Wanneer ons daai beswaar voel opkom in ons harte is dit tyd om ons oë weg te draai van mense en ons moeilike omstandighede en net vir Jesus, baie eenvoudig te vra of ons wel leef uit 'n dankbare en vrygewige hart.  Leef ons in die hemelse ekonomie?  Leef ons uit "oorvloedige blydskap" en is ons "ryk in oorvloedige vrygewigheid" selfs in die aangesig van "verdrukking" en "armoede"?  Jesus sal vir ons wys waar en hoe ons moet gee, maar die eerste orde van die koninkryk is die hart; vrygewig of ingeperk en self-gerig?

Wednesday, 14 November 2018

DIE HEMELSE EKONOMIE VAN VRYGEWIGHEID


Een van die mees verrassende aspekte van die dissipel se lewe in die koninkryk van God is die feit dat ons nou reeds kan leef uit die hemelse ekonomie m.b.t. ons finansies en die materiële wêreld.
  
"God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer.  Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word." 2 Korinthiërs 9:10-11   (NAV)

Paulus lig 'n absoluut wonderlike geestelike beginsel uit in hierdie gedeelte.  God is nie net die Voorsiener van brood nie, maar ook van saad vir die volgende oes.   'n Koringboer wat al sy saad gebruik om brood te maak om te eet, gaan groot probleme hê wanneer dit weer tyd word om te oes. 

Ons maak ons somme volgens die aardse ekonomie en dit is sekerlik nie verkeerd om verantwoordelik om te gaan met ons finansies en bates, om te begroot, ensovoorts nie.  Solank jou kop net nie vashaak by die aardse ekonomie en jy vergeet dat God van jou verwag om uit die hemelse ekonomie te leef nie.  Die aardse ekonomie werk net met salarisse, debiete, krediete, rentekoerse, groeipotensiaal van 'n produk of besigheid, ensovoorts. 

* Die hemelse ekonomie werk volgens die beginsel van saai en maai.  In die koninkryk is ons in 'n sin almal boere.  Die belangrikste element in die hemelse ekonomie is die vrygewige hart wat onder die invloed van genade net aanhou vergroot.  Wanneer jy leef in hierdie krag van genade en jou hart en hand vrygewig saai word die hemelse ekonomie as't ware geaktiveer!  So begin die beloftes van God realiseer in die lewe van die dissipel en kom hy agter dat hy nodig het om te onderskei wat is brood en wat is saad in terme van dit wat God voorsien.

Vrygewigheid is die bepalende faktor in die hemelse ekonomie.  Daarom is dit moontlik vir ons  om die voorreg te hê om vanuit die hemelse te leef, maar steeds beperk te wees tot 'n aardse ekonomie.  Ons kyk dikwels heel eerste na syfers, somme en bedrae; ons Vader kyk eerstens reguit in die hárt van die dissipel in om te sien of Sy eie vrygewigheid binne-in ons ruimte het om te groei.  Die vraag vir die dissipel moet dus heel eerste wees: "Leef ek in en uit die vrygewigheid van die hemel?"  Dit verander alles.  Uit watter ekonomie leef jy?

* Die Voorspoed teologie het hierdie boodskap ongelukkig so verdraai en die beginsel van vrygewigheid met hebsug (greed) vervang dat die Skrif-gefundeerde dissipel sukkel om te hoor wat die Bybel regtig te sê het oor hierdie sake.

Monday, 12 November 2018

DIE AFDRAAIPAADJIES VAN MAMMON


Die woorde van Jesus oor finansies en materiële dinge pyl soos 'n missiel op ons harte af en konfronteer ons onverbiddelik en onverskrokke met die eis van Sy koninkryk.  Om Jesus te volg beteken in 'n sin heel éérste dat ons die afgod van geld en veral vertroue op geld permanent moet versaak (renounce).  Hoekom?  Want niks toets die hart se ware fokus soos Mammon nie.

"Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;  maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;  want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."  Mattheüs 6:19-21 

"Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!" Mattheüs 6:24 

Jesus draai nie doekies om nie.  Hy is dodelik ernstig oor die gevaar van vertroue op geld.  Omtrent 'n derde van al Sy gelykenisse handel oor hoe geld en materiële dinge die menslike hart beïnvloed en hoe dit mense kan weglei van die koninkryk van God.  Mammon het baie slinkse afdraaipaadjies wat ons harte probeer verlei en Jesus weet dit, want Hy ken ons harte beter as wat ons dit self ken.

As jy jou dissipelskap wil toets is die eerste en beste plek om te begin jou werklike hartsgesindheid oor geld.  En let op, dit is nie net welgestelde mense wat 'n hartsprobleem het met geld nie! 

Is jy bereid om die Heilige Gees te vra om vir jou te wys of jy in hierdie saak heeltemal rein en vry is? Besit jy geld of besit geld jou?  Is jou vertroue werklik op God alleen? God gee vir die dissipel "Mammon-toetse" in teëspoed én voorspoed.   Slaag jy daardie toetse?  Laat elkeen sy eie hart ondersoek.