Monday, 24 June 2019

DIE WONDER VAN VERSOENING MET GOD


Ons het almal al die pyn van skeiding en gebroke verhoudings ervaar.  Min dinge is meer ontstellend en in staat om ons emosioneel te verlam as ‘n verhouding wat skipbreuk gely het.  Terselfdertyd ken ons ook die vrede en vreugde wat ons ervaar wanneer daardie verhouding herstel en genees word.  As versoening met ‘n mens soveel vrede en vreugde in ons harte kan meebring, hoeveel te meer bring die realiteit van versoening met God oorvloedige vreugde. Die Woord van God sê dat ons eens op ‘n tyd ver verwyder was van God, sonder hoop en verlore in ‘n betekenislose bestaan. 

"Dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld." Efesiërs  2:12 

God het egter die inisiatief geneem deur sy Seun te stuur na 'n verlore mensdom.  As gevolg van hierdie geseënde evangelie is die vyandskap a.g.v. ons sonde aan die kruis verbreek en is ons met God versoen. 

"Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus." Efesiërs  2:13 

"En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het."  2 Korinthiërs 5:18 

Soos ons harte teerder word onder die bediening  van God se Gees, begin ons die onmeetlike voorreg van hierdie versoening met God toenemend begryp.  Aan die ander kant begin ons ook meer en meer die verskriklike toestand waarin ons was voordat ons met God versoen is, raaksien   Die Heilige Gees doen dit om sodoende ‘n immer-vergrotende dankbaarheid in ons te bewerkstellig vir die verlossingswerk van ons Saligmaker.   

Vir almal wat die soete vrug van ‘n versoende lewe ervaar, word hierdie woordjie "versoening" een van die mooiste woorde in God se hemelse repertoire van reddingsterme.

Wednesday, 19 June 2019

NIE 'N WAARHEID NIE, MAAR DÍE WAARHEID


Die Ou Testamentiese openbaring het tot God se mense gekom in verskillende fragmente en stukke, soos ‘n legkaart wat stadig vorm aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang. 

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”  Hebreërs 1:1-2   

Op hierdie wyse het God verkies om verwagtinge in die mens wakker te maak vir die volheid van Sy openbaring in Christus.   Al die profete en manne van God in die Ou Testament het vooruit gesien na die volledige manifestasie waarvan hulle tot op daardie stadium slegs ‘n skadubeeld gesien het.  En toe, in die volheid van die tyd, het God sy Seun gestuur (Gal. 4:5).

Die Vleeswording van Christus het ‘n nuwe era ingelui.   Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het uiteindelik aangebreek. Die openbaring van God in Christus was nie net nog ‘n diepsinnige waarheid nie.  Dit was nie net ‘n beginsel om ywerig toegepas te word nie.  Dit was meer as ‘n diep profetiese insig.  Dit was eintlik nie iets nie, maar Iemand, naamlik die Seun van God Self.   

"Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon." Kolossense 1:19   

Die Ou Testament was ‘n skadubeeld - hierdie was die realiteit.  God het Homself aan ons openbaar in die Persoon van sy Seun. 

"En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." Johannes 1:16

In die Ou Testament was die openbaring fragmentaries en onvolledig.   In die Nuwe Testament is dit vervul en voltooid.  Daarom moet ons versigtig wees om nie terug te val in ‘n Ou Testamentiese benadering tot die Christelike lewe nie.  Alles wat ons doen, sê, dink of preek moet met Christus begin en met Christus eindig.  As jy voel dis ‘n bietjie radikaal, bedink weer die woorde van die Een wat sy Seun gestuur het: 

"Dit is my geliefde Seun: luister na Hom!" Markus 9:7

Monday, 17 June 2019

OM JESUS NA DIE GEES TE KEN


"Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie." 2 Korinthiërs 5:16 

In 1 Korinthiërs 6:17 sê die Bybel verder: "Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom."   Dit spreek van die mees intieme eenwording.   In Sy verlossingswerk het Jesus as't ware deur ‘n proses gegaan:  vleeswording, dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart.   Op hierdie wyse het Hy ‘n "lewendmakende Gees" geword sodat Hy in ons kon kom woon.  

"So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees."  1 Korinthiërs 15:45

As ons Jesus van Nasaret slegs as ‘n historiese figuur sien wat twee duisend jaar gelede geleef en sekere dinge vir ons gedoen het, sal ons nooit die volheid van ons eenheid met Christus beleef nie.   Die historiese feite oor die dood en opstanding van Jesus is fundamenteel en absoluut essensieël vir verlossing (1 Kor. 15:1-4),  maar as ons nie die eindresultaat van die werk van Christus sien nie (intieme geestelike eenheid) lewe ons soos wese tussen die eerste en tweede koms van Jesus (Joh. 14:18). 

Nou-al reeds kan ons die eenheidsverhouding met Christus wat in ons leef ervaar en geniet.   Ons is intiem verenig met Christus en ons moet ernstige aandag skenk aan hierdie onuitspreeklike voorreg.   Tensy  ons die teenwoordigheid van Christus binne-in ons herken, sal Hy nooit tuis wees in ons harte nie (Efes. 3:17).  Prakties gesproke beteken dit dat ons ophou om die Christelike lewe van die uiterlike na die innerlike te leef, maar dat ons begin om deur geloof te lewe op die basis van ‘n Nuwe Lewe wat diep binne-in ons woon.  Die alternatief is 'n sieldodende godsdienstige soektog na iets onbereikbaar vêr, terwyl die antwoord reeds binne-in ons is (Gal. 2:20).

Saturday, 8 June 2019

MEER AS OORWINNAARS


 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”  Romeine 8:37 

 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.”  2 Korinthiërs 2:14 

Wanneer ons verse soos hierdie in die Nuwe Testament lees, lyk dit met die eerste oogopslag na die lewens van supermense wat in Bybelse tye geleef het en ver weg is van die ervarings van ons gewone mense.  

As ons egter nader kyk na die lewe van die man wat hierdie woorde geskryf het, word dit gou duidelik dat hierdie lewe van oorwinning onder andere baie swaarkry ingesluit het.  Paulus is gestenig, geslaan, vervolg, was met tye haweloos en honger (1 Kor. 4:11), in die gevangenis en het skipbreuk gely.  Hy moes gevare van rowers, gevare in die stad, gevare in die wildernis, op see en gevare onder valse broeders trotseer (2 Kor. 11:26).  Tog sê hy ‘Ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking’  (2 Kor. 7:4).
 
Om ‘n oorwinnaar te wees is dus nie altyd so glansryk as wat dit soms voorgestel word of in die vorm wat ons mag verwag nie en die mense van wie die Bybel praat was gewone mense net soos ons.  In ons vers in 2 Korinthiërs sê dit dat God ons tot triomf lei deur Christus en in Christus.  Dit beteken dat die ware oorwinnaar Christus is en as gelowiges het ons almal gelyke toegang tot die lewe van Christus (2 Pet. 1:1) omdat Hy in ons lewe.  As enigeen nie die Gees van Christus het nie, is hy nie Christus s’n nie (Rom. 8:9).   

Hierdie saak van oorwinning of ‘om ‘n oorwinnaar te wees’, nee, ‘meer as ‘n oorwinnaar’,  het  alles te doen met die lewe van geloof. Galasiërs 2 vers 20 hou die geheim van hierdie lewe van triomf. 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."

SLEGS IN CHRISTUS IS DAAR RUS EN VOLMAAKTE VOORSIENING



"Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing."  1 Korinthiërs 1:30 

Vir die dissipel wat nog nie vir Christus as die somtotaal van al God se seëninge gesien het nie, is hierdie vers amper onmoontlik om korrek te interpreteer.  Ons kan nie waarlik en intelligent die verhewe terme verstaan wat die Nuwe Testament gebruik om Jesus te beskryf en die pre-eminensie wat dit aan Sy Persoon toeskryf, totdat ons ons godsdienstige benadering  tot God en die Bybel afgeskud het en Christus dan omhels het as die essensie van ons bestaan en die rede vir ons volgende asemteug nie.

Ons veelseggende teks openbaar God se prioriteit vir die dissipel; Sy Seun!  Dit is God wat ons in Christus Jesus geplaas het en in hierdie geseënde plek van ewige saamwees vind ons dat elke enkele seën en behoefte vervul is.  Die vier kwaliteite wat hier benadruk word, omsluit ons hele bestaan as dissipels van Jesus.

Wysheid – ons behoefte om God en Sy verlossingsplan te begryp en ook wie ons is en waarheen ons  oppad is: dit is in Christus!

Geregtigheid – ons behoefte om van die ewige implikasies van sonde verlos te word en om ongehinderde toegang tot die teenwoordigheid van God te hê: dit is in Christus!

Heiligmaking – ons behoefte om verlos te word van die mag van sonde en om getransformeer te word tot volwasse kinders van God: dit is in Christus!

Verlossing – ons behoefte om in gees, siel en liggaam bewaar te bly tot die wederkoms van Jesus: dit is in Christus!

Christus is die vrede van God, die vreugde van God, die geduld van God, en wat anders ookal benodig word in die lewe van die gelowige kan slegs gevind word in Hom.  God het slegs een geskenk vir die mensdom en dit is sy Seun.   Godsdiens sonder Christus is soos om sop met ‘n vurk te eet; jy bly besig, maar jy bly ook honger!

Wednesday, 29 May 2019

DIE KONTEKS VAN DIE BELOFTE: DISSIPELS OP SENDING

Een van die mees kosbare beloftes in die Nuwe Testament is Jesus se belofte aan Sy dissipels om tot die einde met hulle te wees. 

"En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen." Mattheüs 28:20

Ons generasie is baie lief vir beloftes oor God se sorg en teenwoordigheid by ons "deur dik en dun" en vir seker is dit in 'n gevalle wêreld die beste moontlike anker vir die siel.  Maar let asseblief noukeurig op na die konteks van hierdie (en soortgelyke) belofte(s).

"En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."  Mattheüs 28:18-19

Paulus skryf baie jare later oor sy insig in hierdie evangelie wat as dit reg verstaan word áltyd dissípels van mense maak, nie net "godsdienstiges" wat dinge bely wat géén praktiese waarde of betekenis in hulle daaglikse lewe het nie.

Ek weet jy is waarskynlik baie besig, maar weerstaan asseblief die versoeking om die volgende skrifgedeelte net gedeeltelik of halfhartig te lees.  Lees dit met aandag en vra jouself of dit moontlik is vir 'n dissipel van Jesus om hierdie gedeelte werklik te lees en verstaan sonder om self ingetrek te word in die sendinglas van Paulus. 

"Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is—  as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle,  dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het;  waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan,  wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik   dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie  waarvan ek ‘n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag.  Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,  en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus." Efesiërs 3:1-9 

Ervaar jy ook die innerlike dringendheid en begeerte om die kosbare evangelie van Christus aan die nasies te verkondig?  As jy niks van hierdie aard beleef nie, het jy óf heeltemal sig verloor op die kóninkryksinhoud van die evangelie óf jy het van die begin af nog nooit die evangelie verstaan nie.  Draai dan na God en smeek Hom dringend om jou oë oop te maak. 


Daar is nie een evangelie vir "gewone mense" en 'n ander vir dissipels, predikers, sendelinge en apostels nie.  Daar is net een evangelie, die evangelie van die koninkryk; die evangelie wat alles gee van God, maar ook alles eis van jou en jou dus noodwendig op 'n lewenslange sending na die nasies plaas.  Hierdie sending begin in jou hart en brei uit naby en ver en oral waar jy beweeg tussen mense.  Dit het baie groter en dieper dimensies (Efes. 3:18-19) as bloot die geografiese.

Thursday, 16 May 2019

JESUS ÍS ONS GELOOF, LIEFDE EN HOOP


Ware dissipels leef daagliks in die krag van geloof, liefde en hoop. Elke dag het ek geloof nodig, anders begin leef ek uit die beperkte bronne van my eie wysheid, geregtigheid en krag. Elke dag het ek liefde nodig, anders word.my wêreldjie vinnig baie klein en verloor ek die doel van my lewe op aarde. Elke dag het ek hoop nodig wat my horison verder skuif as die tydelike, anders word ek vir seker oorweldig deur die gebrokenheid binne en rondom my. Hieroor kan ons sekerlik in die breë saamstem.

Die vraag is egter waar kry ek geloof, liefde en hoop. Die Bybel se antwoord is verstommend eenvoudig en kragtig. Jesus self is ons geloof, liefde en hoop. Soos wat ek wegkyk van myself en ander en my oë op Hom vestig word my innerlike mens gevul met bonatuurlike geloof (Rom. 10:17; Heb. 12:2), liefde (Joh. 15:5; 1 John 4:19) en hoop (1 Tim. 1:1). Dit is dan ook niks anders nie as Christus wat in my gevorm word (Gal. 4:19).

Wat is dus die les vir ons as dissipels? Erken dat jy nie een dag kan leef sonder geloof, liefde en hoop nie en maak vrede daarmee dat jy nie hierdie geestelike/hemelse  kwaliteite in jouself kan opwek deur positiewe denke en belydenis of enige ander aardsbeperkte motiveringsfoefie nie. Fokus dan jou hele hart en wese op Jesus en Sy volbragte verlossingswerk en beleef die bruisende en dinamiese werklikheid van 'n lewe in geloof, liefde en hoop. Die lewe van 'n dissipel.